Wanneer jy en jou lewensmaat mekaar se liefdestale verstaan, is julle waarskynlik dolgelukkig! As julle egter nie mekaar se taal kan praat nie, is die kans op ‘n Toring van Babel situasie in jul huwelik goed…

Promosie

“Ek karring nou al hóé lank aan Andries om saam met my piekniek in die veld te gaan hou en eindelik gaan dit hierdie naweek gebeur. Ek is só bly…” gesels ‘n vriendin, Ilze Janzen, onlangs opgewonde. “Dit maak my so gelukkig wanneer ons dinge saam doen, soos om ‘n ent in die veld te gaan stap.”

Die boek Vyf tale van die liefde, geskryf deur Gary Chapman, het wêreldwyd reaksie ontlok. Gary glo dat paartjies mekaar se primêre liefdestaal moet aanleer as hulle effektiewe kommunikeerders van die liefde wil wees. Die boek is deurspek met vertellings van hoe dié huweliksberader se benadering mense se huwelike gered het. Volgens hom het elke mens ‘n liefdestenk en wanneer daar aan daardie mens se inherente emosionele behoeftes voldoen word, bly daardie tenk vol. Volgens hom gaan huwelike tot niet omdat mense nie mekaar se liefdestale praat nie en hul liefdestenks gevolglik mettertyd leeg raak.

Die fliek Million Dollar Baby het Lisa de Lange* met deurweekte sneesdoekies by die fliekteater laat uitstap, terwyl haar man, Nick*, onaangeraak grappe gemaak het.
Dit was kort ná hul troue en sy was verslae: “Met watter soort man het ek getrou as ‘n fliek soos dié hom emosioneel koud laat?! Ek verstaan dit nie!”

Promosie

Lisa moes gou leer dat mense verskillende emosionele vlakke het en ook verskillende emosionele tale praat. Daar is egter mense wat al veertig jaar lank getroud is en steeds nie hul huweliksmaat se taal ken nie. Die geheim en sleutel tot huweliksgeluk, meen Gary, is om mekaar se diep emosionele behoeftes te leer ken. “As ons dít kan leer en kies om dit te doen, sal die liefde wat ons deel, opwindender wees as enigiets anders wat ons ooit gevoel het terwyl ons verlief was.”

LIEFDESTAAL#1: “My skattebol, jy het Matthew McConaughey se lyf en Bradley Cooper se oë…”

Die eerste taal van die liefde is opbouende woorde. Amanda van Loggerenberg* meen haar man Jacques* se liefdestaal is ongetwyfeld opbouende woorde. “Iets wat my pa my van jongs af geleer het, is dat ‘n man se ego belangrik is. Daarom vertel ek hom vanaf die dag wat ek hom ontmoet het hoe mooi hy vir my is en hoe lief ek hom het.”
Amanda het per ongeluk die kolskoot getref. Sy het gou agtergekom dat Jacques uitermate positief op woorde reageer. Haar komplimente het ‘n langdurige effek. “Dit maak hom positief en dit laat hom voel ek waardeer en bemin hom. Ek dink hy het juis so ‘n sterk behoefte daaraan omdat hy in ‘n gesin grootgeword het waar daar nie veel
emosie gewys is nie.”
As jy iemand is wat oor die algemeen diep deur woorde geraak word, is dit waarskynlik jou liefdestaal. Gary sê dat emosie ook opgesluit lê in die manier wat woorde oorgedra word en dat woorde met ‘n inspirerende, vriendelike en nederige inslag ‘n dramatiese verskil kan maak. Eise hoort nie in ‘n liefdevolle huwelik nie, maar daar is wel plek vir versoeke, meen Gary. As jy ontdek jou maat se primêre taal is woorde, gaan hy op ‘n wolk sweef as jy gereeld vir hom opregte komplimente gee en gevolglik gaan jý die vrugte pluk.

LIEFDESTAAL#2: “Kom ons gaan kyk daardie show wat jy al so lank wou sien. Ek stick jou!”

Die tweede taal van liefde is kwaliteittyd. Die feit dat Ilze so graag saam met die man in haar lewe dinge wil doen, is ‘n goeie aanduiding dat dít haar liefdestaal is. “Ek hou niks van televisie kyk nie, want al is ons bymekaar, het ons nie mekaar se volle aandag nie,” sê sy. “Vir my is dit die lekkerste om met hom te kan gesels oor die toekoms en wanneer ek sien dat hy ook opgewonde daaroor raak, is dit vir my wonderlik.”

Haar woorde is duidelike leidrade tot haar primêre taal. Wanneer twee mense bymekaar sit en mekaar twintig minute se onverdeelde aandag gee, gee hulle mekaar twintig minute van hul lewens, sê Gary. Jou liefdestaal kan miskien opbouende woorde wees en as jou maat gereeld sy waardering teenoor jou uitspreek, gaan jou liefdestenk vol word. Maar as sý liefdestaal kwaliteittyd is en jy gee hom voortdurend komplimente, gaan sy liefdestenk leeg raak want sy diep emosionele hunkering is dat jy soms, ná jy die televisie afgeskakel het en die kinders in die bed gesit het, by hom gaan sit en gesels.

Om aan jou maat se liefdestaal te voldoen, sal jy waarskynlik soms dinge moet doen waaraan jy nie veel erg het nie, soos om saam met hom na ‘n rugbywedstryd te gaan kyk. Eindelik gaan dit nie oor die aktiwiteit wat julle saam doen nie, maar oor die emosies wat julle deel wanneer julle dit doen. “Een van die newe-produkte van kwaliteit-aktiwiteite, is dat dit ‘n herinneringsbank skep waaruit julle kan put in die jare wat voorlê.”

LIEFDESTAAL3: “Hier is vir jou ‘n Sweetie Pie om te wys hoe spesiaal jy vir my is.”

Tania Kruger* is in ekstase wanneer Cornè* oudergewoonte by die huis kom met ‘n bos geel affodille, want dit is wanneer sy regtig voel hy het aan haar gedink. Die derde liefdestaal is geskenke. Dit is nie soseer die geskenk self nie maar die aksie van gee wat sommige mense laat voel hul lewensmaats het hulle lief. Dit is visuele simbole van liefde en ‘n goeie voorbeeld hiervan is die gee en ontvang van ringe gedurende ‘n huwelikseremonie.

Cornè vertel: “Ek kan vir Tania vertel hoe stunning sy vir my is van die more tot die aand, maar dit is asof my woorde geen impak het nie. Wanneer ek egter by die huis kom met ‘n bos van haar gunsteling-blomme, is dit asof haar hele houding teenoor my en teenoor haarself verander.” Enige vrou hou van geskenke en dit werk soos ‘n bom wanneer hy in jou goeie boekies wil kom, maar dit beteken nie dat alle vroue dieselfde daarop gaan reageer nie. Die persoon wie se primêre liefdestaal geskenke is, gee boonop nie om wat die prys van die geskenk is nie en daarom hoef jy nie ‘n oliemagnaat te wees om dié liefdestaal te praat nie. So iemand sal bykans ewe sterk reageer op ‘n nuwe horlosie as op ‘n mooi spoelklip.

“As jou maat se primêre taal geskenke is, kan jy ‘n meester word in geskenke gee. Dit is in werklikheid een van die maklikste tale om aan te leer,” meen Gary. As jy van natuurlik maklik geld bestee, gaan dit nie vir jou ‘n probleem wees nie, maar as jy ingestel is op besparing, kan jy dalk emosionele weerstand teen jou maat se taal ervaar. Onthou dan net dat jy hierdie dinge vir jouself ook koop, sê Gary. Jy koop eiewaarde en emosionele sekuriteit.” Een dialek van geskenke as liefdestaal is ook fisieke teenwoordigheid. Gary meen: “Jou liggaam word die simbool van jou liefde. Neem die simbool weg en die ervaring van jou liefde verdamp.”

LIEFDESTAAL#4: “My engel, ek het al die rekeninge klaar gesorteer sodat jy nie vanaand daarmee hoef te sukkel nie. Gaan lê op die bank, dan bring ek vir jou ‘n koppie koffie.”

Die *Jordaan-gesin bestaan uit ses kinders en waar elkeen vandag volwassenes is, doen hulle steeds gunste vir mekaar. Een broer sal sy sussie gaan help met nuwe handvatsels vir haar kombuis, terwyl die broers mekaar sal help om ‘n kombuistafel te bou. *Diaan het dié eienskap ook in sy huwelik ingebring. Wanneer sy vrou die dag baie druk by die werk gehad het, sal sy hom voor die kospotte aantref, waar hy ‘n vyfster-ete voorberei. Hy neem die honde saans uit en maak vir haar die liggie bo haar spieëlkas reg. Hy leef die taal van diensbaarheid uit. Dit is nie noodwendig sy vrou se liefdestaal nie, maar omdat hy liefde aan diensbaarheid meet, is dít hoe hy sy liefde betoon. Diensbaarheid is om dinge te doen wat jy weet jou maat sal waardeer as jy dit doen. Dit is wanneer jy daarna streef om jou maat gelukkig te maak deur hom of haar te dien. Jesus Christus het Sy liefde deur diensbaarheid gewys toe Hy sy dissipels se voete gewas het.

As jou maat se primêre liefdestaal diensbaarheid is, sal dit dalk van jou verg om stereotipering oor geslagsrolle te oorkom. As jy weet hy gaan laat by die huis kom, sal hy dit waardeer as jy vir ‘n slag die tuin natmaak, en wanneer jy sukkel om by alles uit te kom wanneer jy die aand mense kry en dit is jou liefdestaal, sal dit vir jou wonderlik wees as hy jou kan help om die kombuis aan die kant te maak.

LIEFDESTAAL #5 “Ek masseer met liefde jou skouers want ek weet jy het druk by die werk en ek wil help om dit beter te maak…”

Die vyfde liefdestaal is fisieke aanraking. Toe Liezel van der Merwe Vyf tale van die Liefde met haar man bespreek het, was sy nuuskierig om uit te vind wat sy primêre taal is. Sy is gelukkig in haar huwelik en kon nie agterkom watter een behoefte die ander oorheers nie. Sy het begin deur te vra hoe hy daaroor sal voel as sy vir twee weke lank geensins vir hom ‘n geskenk gee nie. “Ag nee wat, dit sal my nie pla nie,” het hy geantwoord.

Toe vra sy of dit vir hom okay sal wees as hulle vir twee weke lank nie gaan uiteet of iets saam gaan doen nie. “Nee, ek sal nie bekommerd wees nie. Ek sal net dink ons het ‘n besige tyd en dit sal oorwaai.” Sy het dieselfde vraag gevra oor opbouende woorde en diensbaarheid en aan nie een van die twee het hy veel erg gehad nie.

Toe sy egter vra: “En as ek vir twee weke lank nie aan jou raak nie?” het hy geantwoord: “O nee, dít sal nie werk nie!”

Dit was duidelik – Nico se primêre liefdestaal is aanraking. Dit is ook Liezel se primêre liefdestaal en omdat ‘n mens geneig is om dít waaraan jy ‘n behoefte het, vir jou maat te doen, is beide se liefdestenks waarskynlik vol. Tipies voel iemand wie se liefdestaal fisieke aanraking is, veilig in die ander een se liefde wanneer gereelde fisieke aanraking deel is van die verhouding. Wanneer so iemand nie fisieke aanraking kry nie, sal hy dit waarskynlik as verwerping ervaar.

Jy kíés om jou maat se liefdestaal te praat, nie omdat jy moet nie, maar omdat jy jou maat gelukkig wil maak, sê Gary. “Deur dit te doen, maak jy jou maat se liefdestenk vol. En die kans is goed dat jou maat jou liefde sal beantwoord en ook jou taal sal praat. En wanneer jou maat dít doen, keer al jou emosies terug en jou liefdestenk raak al hoe voller.” Dit gaan waarskynlik nie maklik wees nie en kan vereis dat jy uit jou gemaksone klim, maar as jy waarlik in voeling kom met jou maat se emosies, kan dit ‘n wonderwerk in julle huwelik tot gevolg hê…

* Skuilname gebruik

* Saamgestel uit: Vyf tale van die Liefde, deur Gary Chapman en vertaal deur Hester Fourie en uitgegee deur Christelike Uitgewersmaatskappy. Oorspronklik uitgegee deur Moody Press USA onder die titel The five love languages. Te koop by CNA teen R99,95.

Hoe ontdek jy jou en jou maat se liefdestaal?

Vir sommige mense is dit nie ‘n raaisel nie. Hulle weet onmiddellik wat hul eie en hul maat se liefdestaal is. Vir ander is dit moeiliker. So iemand moet byvoorbeeld na die negatiewe gebruik van die liefdestale kry. As jou diepste pyn byvoorbeeld deur die kritiese gebruik van veroordelende woorde veroorsaak word, is jou primêre liefdestaal waarskynlik opbouende woorde.

Dink ook wat jy gereeld van jou maat verwag. As jy voortdurend sy tyd eis, is jou liefdestaal moontlik kwaliteittyd. ‘n Ander manier om dit te ontdek, is om te kyk wat jy gereeld vir jou maat doen. As jy lief is daarvoor om geskenke vir jou maat te koop, kan dit dalk wees dat dit graag is wat jy wil ontvang. As daar twee liefdestale is wat sterk tot jou spreek, is jy dalk tweetalig. In só ‘n geval is dit makliker vir jou maat om sy liefde aan jou oor te dra.

Iemand wie se liefdestenk al lank vol is, mag sukkel om haar liefdestaal te identifiseer omdat haar maat al so lank en op soveel maniere sy liefde wys en sy weet hy het haar lief. Daarteenoor kan iemand wie se liefdestenk al baie lank leeg is, vergeet het wat hom/haar geliefd laat voel. In só ‘n geval moet jy terugdink aan die tyd toe julle verlief was en wat toe vir jou spesiaal was. Jy kan ook ‘n prentjie skep van hoe jou ideale maat sou lyk – dít kan goeie leidrade wees om jou liefdestaal mee te ontdek.

***

Wil jy graag dieper gaan en jou en jou maat se temperamente ondek en hoe dit jul huwelik affekteer? In Marriage Capsule is die LOFS Temperamente toets ingesluit waar jy ondek wat is jou en jou maat se primêre en sekondêre temperament asook jou uniekie kombinasie! Hierdie word beskryf as “die game changer vir elke getroude paartjie”! Indien jy toegand tot die LOFS Temperamente toets wil hê wat deel vorm van Marriage Capsule KLIEK HIER!