Ja, ons weet ’n stoppelbaard en eelte op die hande is sy ding. Hy is ’n man van staal wat nie skrik vir koue pampoen nie en so eg Suid-Afrikaans is soos kan kom. Maar …
… Eintlik is hy net ’n groot ou teddiebeer wat graag saam met jou op die bed wil slaap en so nou en dan ’n bietjie TLC nodig het. Glo dit of nie, maar mans hou nogal daarvan om soms deur hul vroue bederf te word. Dink ’n bietjie mooi wanneer laas jy so iets vir manlief gedoen het (kos kook, klere op die bed uitsit, koffie maak en ’n gunsie met jou hande tel nie – al weet ons hy sal van ons verskil oor laasgenoemde!).
Almal het ’n behoefte aan koestering en ’n gevoel van begeerlikheid.’n Man het nódig om soms gepamperlang te word. Hoekom? Want hy weet nie hoe om dit vir homself te doen nie. Wanneer jy op jou laaste reserwes funksioneer, bespreek jy massering (die dag as jy týd het!). Jy gaan sit eenkant met ’n koppie tee en ’n boek, jy drink jou multivitamiene en jy kyk Big Little Lies.
Wat doen manlief wanneer hý wil ontlaai? Hy reël ’n manne-aand met té veel drank, té veel rooivleis, té veel kompetisie en die een of ander dom toertjie wat hy in flieks soos Jackass gesien het. En wat het hy om die volgende dag te wys? Die oortreffende trap van ’n hangover en baie, baie pyn. Nie dat dit nié sy eie skuld is nie. Maar die meeste mans het nie die verantwoordelikheidsin van hul Evas nie en het ook nie daardie ingebore bewustheid wat vir hom sê: “Dit is nou tyd om dinge rustig te vat en nie meer te maak asof jy twintig is nie!” Wys só vir hom hoe hy dit behoort te doen en dat jy regtig lief is vir hom. Dít is hoe jy manlief kan pamperlang:
Vertroetel sy hande en voete
Ja, ons weet daardie ingroei-toonnael is nou nie juis ’n turn-on nie, maar sterk staan, suster! Suck it up. Kry ’n waslap, seep en baba-olie en gee jou man minstens 30 minute lank jou onverdeelde aandag. Onthou om dit nooit soos ’n taak te laat klink nie. Gaan sit byvoorbeeld by sy voete wanneer hy nuus kyk en gee hom ’n refleksiologie-behandeling soos hy nog nooit gehad het nie (dit maak nie saak wát jy doen nie, dit gaan goed voel). Onthou, tensy hy ’n metroman is, het hy nog nooit ’n refleksioloog besoek nie, so hy het niemand om jou mee te vergelyk nie! Doen dieselfde met sy hande. Min dinge is so sexy soos wanneer growwe hande góéd vertoon.
Onderskep die rekening
Ons Evas is almal skuldig! Ons hou daarvan om moderne vroue te wees wat help om die brood tafel toe te bring, maar wanneer dit by restaurant-rekeninge kom, sit ons ewe adelik agteroor en bekyk die vrou langsaan se kapsel wanneer dit by die betaalslag kom. Hy is die man, hy moet mos betaal! Natuurlik gaan jy nie lus wees om dit te doen as hy dit van jou verwag nie, en natuurlik hou hy daarvan om as hoof van die huis sy beursie uit te haal, maar as jou man altyd gemoedelik die rekening betaal, stick hóm vir ’n slag.
Gee hom ruimte
Ja, ons weet dit is moeilik om te begryp. Wat vir jou ’n straf is, is vir hom ’n plesier! As manlief homself onttrek en in sy studeerkamer sit, dink jy dadelik: “Wat gaan aan? Wat is fout? Hoekom onttrek hy homself?” en ’n miljoen ander dinge. Wanneer jy effens terugstaan, is manlief se eerste en enigste gedagte: “Salig …” Raar, maar waar. Moenie dat dit jou ego krenk nie. Mans kla altyd dat hulle hul vryheid verloor die dag wat hulle trou. So, as jy hom werklik wil bederf, gee hom ’n bietjie ruimte deur hom toe te laat om op daardie visvang-uitstappie te gaan of daardie ding in die garage klaar te bou.
Bederf hom met nie-tasbare geskenke
Dit waarvan ons praat, is daardie dinge wat enige man opbou: Erkenning wanneer hy iets goeds gedoen het – blaas dit sommer uit proporsie voor ander mense (hy sal jou ewig dankbaar wees). Bewondering – laat hom steeds voel asof hy jou hart vinniger laat klop. Baie mans het ook maar bad hair days! En respek – laat hom voel soos die hoof van die huis (al weet ons dat jy die nek is wat daai hoof laat draai!)
Verras hom met ’n bad en ’n massering
As jy weet hy het ’n rowwe dag gehad, tap vir hom ’n warm bad, steek ’n kers aan en speel sy gunsteling musiek (al is dit nou ook Metallica!) Sodra jy weet hy ontspan lekker, was elke deel van sy lyf. Masseer dan sy kop, nek en arms sommer net daar in die bad. Voor hy uitklim, bring vir hom ’n lekker groot handdoek wat jy vooraf in die tuimeldroër warm gemaak het. Neem hom nou kamer toe en laat hom op die bed lê vir ’n vollyf massering met olie. Laat hom op sy maag lê en begin by sy kop, gesig en ore voor jy na sy nek, skouers, rug en arms beweeg. Masseer elke deel van sy lyf – sy vingers en tone ook. Nou kan jy hom laat omdraai – maar wees gewaarsku dat jou klere binnekort gáán waai!
Waardeer ’n aksiefliek
Is jy een van daardie vroue (die meeste ís) wat enige tyd reg is vir ’n goeie drama, kunsfliek of chick flick, maar op jou tande kners by die aanskou van enige fliek wat Jean-Claude van Damme, Arnold Schwarzenegger of Clint Eastwood insluit? Verras hom en neem vir julle ’n régte aksiefliek uit. Een wat jy wéét jy niks van gaan hou nie, maar wat hom soos ’n cowboy (of ’n terminator) sal laat voel. Koop vooraf genoeg springmielies om ’n reuse bak vol te maak (soos wat jy altyd in die Amerikaanse flieks sien), sit die kinders vroeg in die bed en – hier is die catch – geníét die fliek saam met hom. Baie gevra? Beslis. Maar soms wil ’n man net ’n maat hê om saam met hom dinge te waardeer. Daardie blonde kyk wat jy op jou gesig het wanneer hy praat van perdekrag, uitklophoue en ’n rugbyheld uit die tagtigerjare … die waarheid? Soms is dit vir manlief ’n bummer as jy nie kan insien waaroor hy so opgewonde raak nie! So, berei jouself emosioneel voor, maak of jy mal is oor sy aksiefliek en die grootste uitdaging – bly wakker tot die credits wys!
Addisionele bronne: ehow.com; hubpages.com; homelyfamily.com ; associatedcontent.com