Maak die Groot M jou sekslewe se batterye pap? Tyd vir ’n recharge! Prop die girls in jou beste bra, trek ’n stukkie satyn oor jou agterstewe en hold on to your hat!

Promosie

Menopouse is vir die meeste vroue ’n doring in die vlees. Ons liggame gaan deur baie veranderinge – en dit is nou nie die tipe wat jou wil laat dans tot die hane kraai nie. Sommige is wel gelukkig en dié fase van hul lewens dartel so tra-la-la verby sonder dat hulle werklik daarvan bewus is. Vir diegene wat wens hulle kon weer die ou When Harry met Sally-oomblikke beleef: Daar is hoop! Sit nuwe batterye in jou menopouse-remote en druk daardie play-knoppie, suster!

Doen iets vir jouself

Nou is die tyd om bietjie op jouself te fokus, veral as jy jou voorkoms en me-time die laaste ruk afgeskeep het. Kry ’n make-over, koop sexy onderklere, maak die kos waarvan JY hou, sit agteroor met ’n glasie sjampanje en celebrate jou vrouwees. Gaan koek-en-tee gereeld saam met jou vriendinne en wees ’n bietjie laf. En voor jy bed toe gaan elke aand, gaan staan voor die spieël, klap jouself op die boud en sê vir daardie vrou in die weerkaatsing: “Jý dame, is darem maar besimpeld sexy!”

Promosie

Hersien jou mediese geskiedenis en medikasie

Het jy geweet daar is sekere medikasie wat jou sekslus se vlammetjie kan blus? Dit sluit algemene antidepressante in soos Prozac en Zoloft, asook bloeddruk-medikasie soos betablokkers. Daarbenewens kan kortikosteroïede en mondelinge estrogeen ook die vlakke van testosteroon in die bloed verminder. Maak dus ’n lysie van al die medikasie wat jy neem en raadpleeg jou dokter oor moontlike newe-effekte en alternatiewe.

Belê in goeie smeermiddels

Wie ook al die woord “seksdroogte” uitgedink het, kon onmoontlik nie geweet hoe spot-on daardie term is as dit kom by menopouse-simptome nie. Tydens menopouse ervaar vroue dikwels dat hulle vagina se humorsin verdamp en dat sy bietjie van ’n grouch kan wees. Vaginale droogheid en ’n verdunning van die vaginale kanaal se wande kom dikwels voor en maak dat jy makliker pyn en ongemak ervaar. Skaf gerus ’n smeermiddel met ’n waterbasis aan sodat jy en manlief kommervry kan slip and slide.

Vra oor testosteroon-behandeling

As jou menopouse jou regtig onderkry, kan jy jou dokter vra oor die moontlikheid van testosteroon-behandeling. Studies het bewys dat testosteroon wel vroue se libido kan aanwakker. Daar is egter nie ’n testosteroon-produk spesiaal vir vroue op die mark nie – diegene wat hierdie roete volg moet tevrede wees met rome, plakkers of medikasie wat vir mans ontwerp is. Wees egter versigtig, want ’n toename in testosteroon in jou liggaam kan aknee en ongewenste haargroei veroorsaak.

Gaan vir terapie

Dié ene kan dalk minder prettig wees as die ander, maar dit is belangrik om vas te stel of daar nie dalk onderliggende probleme is wat jou belangstelling in seks laat kwyn nie. Baie vroue moet gedurende hierdie tyd kyk hoe hulle kuikens die nes verlaat, en dit kan stresvol en emosioneel uitputtend wees. Skielik is dit net jy en manlief in die huis en soms kom ou issues weer na vore – of julle ontdek nuwes. Dalk loop jy met die gedagte rond dat jy nie meer jonk en mooi genoeg is vir jou maat nie. Maak ’n draai by ’n seksterapeut of huweliksberader – jy het niks om te verloor nie!

Hou jou liggaam gesond

’n Gesonde liggaam huisves nie net ’n gesonde gees nie, maar ook ’n op-en-wakker libido. Jy kan nie net wil sexercise nie, jy moet ook so bietjie exercise! Volgens dr Hope Ricciotti, ’n ginekoloog by Harvard Universiteit in Amerika, gaan jou sekslus daaronder lei as jy fisies en emosioneel ongesond is. “Energie vanaf ’n gesonde dieet en gereelde oefening, asook genoeg slaap en geestelike gesondheid, is alles sleutel-bestanddele tot ’n gesonde libido,” sê dr Ricciotti. Wat kan jy dus doen? Gaan stap om die blok elke dag, ry fiets, doen joga of speel tennis. Mik vir 30 minute tot ’n uur, drie dae per week.

Terug na die begin

Soms moet ’n mens heel voor begin om die vlammetjie weer aan te wakker. Haal die druk van julle af om seks te hê en leer mekaar eers weer van vooraf ken. Gaan op date nights, vry soos tieners en lê sommer net in die bed en cuddle. Vang weer bietjie op met mekaar se lewens – jy sal verbaas wees om te ontdek dat julle sienings oor sekere dinge met die tyd saam verander het. Hoe beïnvloed dit julle sekslewe? Dalk is julle nou meer oopkop of avontuurlustig en bereid om dinge te probeer wat julle voorheen nie wou nie. Daar kom byvoorbeeld gereeld nuwe seksprodukte (hulpmiddels/ speelgoed) op die mark en selfs interessante seksuele inligting wat ’n ondersoek werd kan wees.

 

Deur Thalia Brüssow