Vir ’n man wat sy geluk nie kan glo nie…
Koop ’n groot polistireen-bord en besluit op ’n tema. As hy sy verrassing op Valentynsdag gaan oopmaak, gebruik ’n Valentynsidee. As jy ’n winterbord maak, gebruik jou kreatiwiteit om dit volgens “winter” te versier. Maak nou 16 gate – elk so groot dat die boonste rand van ’n polistireen-bekertjie stewig daar sal inpas. Spasieer dit in vier rye.
- Jou boonste ry is die “wat”-afdeling (met verskillende sexy afspraak-idees).
- Jou tweede ry is die “waar”-afdeling (met interessante plekke waar julle dit kan uitvoer).
- Jou derde ry is die “wanneer”-afdeling (met datums en tye vir die afspraak).
- Jou vierde ry is die “kleredrag”-afdeling (met jou moontlike uitrustings. ’n Oulike idee is om foto’s te neem van jou in jou sexyste uitrustings en ’n foto in elke bekertjie te plaas).
Maak die koppies toe met foelie of enige ander papier. Manlief kan nou een koppie in elke ry kies, ’n gat deurdruk en sy keuse uithaal vir ’n baie lekker stoute date!
Los vir hom ’n boete!
Haal een van jou ou boetes uit die laai en gaan sit voor die rekenaar. Probeer dit so na as moontlik aan die ware Jakob laat lyk. Skryf die datum, tyd en “voertuig-inligting” neer. By die adres skryf jy neer waar jul stomende sessie sal plaasvind (jul eie huisadres sal ook werk). Daarna skryf jy die “oortreding” neer en noem byvoorbeeld dat hy omstanders se aandag aflei deur té sexy te wees en dat hy daarom beboet moet word. “Beskuldig” hom van onproduktiwiteit omdat jy jou oë nie an hom af kan hou nie… By instruksies skryf jy die “boete” neer. Hoe kan hy jou “terugbetaal” in fisieke dade? Wees beskrywend. Wees romanties, speels en kreatief! Nou moet jy die “boete” in sy windskerm gaan los wanneer hy nie kyk nie!
Skryf vir hom ’n geheime kode…
Hou manlief van die nuus? Onderskep die koerant voor hy kans kry om dit te lees. Soek ’n berig of afdeling wat jy weet hy graag sal wil lees – om seker te maak hy mis nie jou geheime boodskap nie! Gebruik verskillende kleurpotlode en omkring sekere letters in die teks om woorde van jou eie boodskap te maak. Elke nuwe woord kan in ’n ander kleur wees.
Maak ’n spesiale dagboek
Begin ’n couples-dagboek van waardering waarin jy en manlief elke dag skryf waaroor julle dankbaar is of wat julle van mekaar waardeer. Om mekaar se inskrywings te lees, sal julle laat glimlag en om boonop oor ’n paar jaar, as jul gesigte vol plooie en jul hande vol ouderdomsvlekke is, weer saam die dagboek te lees, sal kosbaarder wees as enige ander ervaring…
Gee vir hom ’n sjokolade met betekenis!
Maak vir hom ’n spesiale etiket wat pas by die naam van ’n sjokoladestafie. Maak die etiket daaraan vas. Dit sal nou sóveel meer beteken as om bloot die betekenislose stuk sjokolade vir hom te gee. Hier is ’n paar idees:
- Wanneer hy deur ’n moeilike tyd gaan, gee vir hom ’n pakkie Rolo’s en skryf daarby: “Life can be hard. Hopes this helps you ROLO with the punches!”
- Om dankie te sê, gee vir hom ’n pakkie M&M’s en skryf daarby: “M&M (many and many) thanks for all you do!”
- Na ’n lekker prettige afspraak, gee vir hom ’n Snickers en skryf daarby: “Thanks for all the fun and SNICKERS. I had a great time!”
Deur Annelize Steyn