Ek en my man is nou ’n paar maande getroud. Ons het besluit om ’n bietjie te wag voordat ons kinders kry, maar toe was ons geboortebeperking nie 100% betroubaar nie en oeps . . . vyf maande later is ons besig om op die kleurskema van die babakamer te besluit! Ons het egter gehoop ons sal in ’n veel beter finansiële posisie wees die dag wat ons eersteling kom. My man is rasend van bekommernis, want die een ná die ander slim pappa vertel hom hoe duur babas is. Enige geldbesparing-idees?

Promosie

Die slim pappas is reg – babas ís duur! Maar daar is wel ’n paar dinge wat jy kan doen om jou kostes báie te besnoei!

  1. Moenie jou neus optrek vir tweedehandse items nie. Wanneer jy jou eerste baba verwag, voel ’n mens dikwels dat net die beste, nuutste en blinkste goed genoeg is vir die bondeltjie in jou lyf, maar as die kleintjie eers daar is, dink jy wat jy alles kon gedoen het met die bababad wat so goed bemark is maar jou pienkvoet níks van wil weet nie! Aanvaar items by sussies/vriendinne wat dit aanbied – hulle sal maar te bly wees dat hulle iets kan doen met die stootwaentjie wat in die stoorkamer lê en stof vergader.
  2. As julle wel beplan om ’n duur item te koop, doen jou huiswerk. Gesels met ouers wat ook daardie item gebruik het om te hoor of dit wel vir hulle gewerk het. Nog beter – léén die item vir ’n week of twee as die baba reeds daar is en kyk of dit vir jóú baba gaan werk.
  3. Borsvoed as jy kan. Dit is véél goedkoper en geriefliker as om te bottelvoed. Moet jouself egter nie ten duurste toerus vir borsvoeding nie. Daar is baie ma’s wat om die een of ander rede net nie kán borsvoed nie en wat maak ’n mens nou met ’n borspomp wat derduisende rande kos?
  4. As jy vooraf besluit op bottelvoeding, moet ook nie tientalle van dieselfde handelsnaam koop nie. Babas is nogal kieskeurig en wat jý gehoor het is ’n oulike handelsnaam, word dalk nie so geneë deur kleinboet ervaar nie.
  5. Ons weet . . . klein leerskoentjies met veters, velcro en strikke is te oulik! Maar voor jy honderde rande spandeer op tekkies waarmee Pappa glo sy kleinding ’n rugbybal oor die huis gaan skop, onthou dat kleintjies vinniger leer loop as hulle tyd kaalvoet deurbring.
  6. Koop babatoerusting wat lank gaan hou en miskien twee doele dien. ’n Karstoeltjie wat later ’n booster seat kan word, is ’n goeie kopie. Só ook wiegies wat later beddens kan word. Só spaar jy baie kostes.
  7. Stel jou radar fyn in vir doek-uitverkopings! Dit is die een ding waarvan jy nooit genoeg kan hê nie. Koop dit op grootmaat of wanneer jou gunsteling handelsmerk afgemerk is, en jy wen baie rande.
  8. Loop verby die speelgoedrakke. Nuwe ma’s spandeer derduisende rande op speelgoed wat liggies het en geluide maak, en uiteindelik sal jy sien hoe jou baba die heel lekkerste speel met leë bokse, lepels en jou Tupperware!
  9. Oorweeg mooi of jy kraamdrag wil koop. Vandag is daar soveel style wat net so mooi lyk aan ’n swanger magie as aan ’n nie-swanger magie. Koop eerder hiervan en jy kan dit ná die tyd ook dra.
  10. Wag vir jou babatee. Vra die persoon wat dit reël om ’n baie spesifieke lys van moontlike geskenke vir jou gaste te gee. Spesifiseer watter kleure jou babakamer is, watter bottels of doeke jy graag wil gebruik en lys die items wat jy nog nodig het.

 

Deur Annelize Steyn

Promosie