Pretoria het sy eie liefdesbrug gekry gedurende ’n glansgeleentheid in September 2014. Die brug is vandag swaar gelaai met talle simboliese slotte…
’n Slot is ’n simbool van ewigheid, veiligheid, beskerming… en watter beter manier as om iemand te laat verstaan dat jy jou liefde aan hom “sluit” met ’n gegraveerde slot aan ’n liefdesbrug. Ongelukkig is dit nie vir almal beskore om vinnig vir ’n naweek na Parys, Frankryk, te vlieg om jou liefdesslot op die Pont des Arts vas te sluit en die sleutel in die Seine te gooi nie. Dié romantiese gebruik het regdeur die wêreld versprei en danksy die inisiatief van Liezel van der Merwe, INTIEM se besturende redakteur, kan paartjies dit nou ook in Suid-Afrika doen!
Pretoria se eie liefdesbrug is 6 September 2014 in Pretoria bekendgestel in samewerking met Cool Capital en as deel van Internasionale Huweliksweek, wat weer vanaf 1-7 September plaasgevind het. Johan en Grete Wentzel van Wdesign het die brug ontwerp wat by Huckleberry’s in Magnoliadal opgerig is. Dit is ’n permanente struktuur wat gebou is in samewerking met verskeie ingenieurs en boukontrakteurs, wat die brug só moes ontwerp en bou dat dit die gewig van honderde staalslotte sou kon dra.
Die liefdesbrug is vandag vol slotte!
As jy nog nie self die liefdesbrug besoek het nie, pak jou piekniekmandjie, koop en laat graveer jou slot en maak hiervan ’n behoorlike romantiese afspraak tussen jou en jou maat…