Nie gedink só ’n praktiese huishoudelike item kan ingespan word vir romanse nie? Raak kreatief en wýs manlief hy is die lig in jou lewe!

Promosie
  1. Jou beste idee… Jy het seker al van die light bulb moment gehoor? Die Oxford-woordeboek beskryf dit as ’n oomblik van skielike bewuswording of inspirasie. Die begrip het waarskynlik ontstaan ná die skets van ’n karakter in ’n strokiesprent met ’n verligte gloeilamp bo sy kop om te wys hy het skielik aan ’n goeie idee gedink! Teken dus vandag vir manlief ’n eenvoudige skets met ’n dik koki-pen van ’n gloeilamp wat skyn en skryf onderaan: “Jy was my heel beste idee nóg!”
  2. ’n Kersversiering met betekenis. As julle nog jonk getroud is, bêre die gloeilamp van jul heel eerste slaapkamer. Ryg ’n stukkie draad vol kristalletjies in die kleure van jou keuse en draai dit rondom die metaal-nekgedeelte van die gloeilamp. Maak ook ’n draadjie wat van een kant tot die ander kant strek (soos die band van ’n handsak) en hang dit aan jul kersboom vir ’n spesiale herinnering.
  3. Vir ’n vleiende gloed… Vervang die huidige gloeilamp in jul slaapkamer met ’n ligpienk een. In ’n vertrek wat baie lig is (wit of room), kan ’n sagte pienk gloeilamp warmte in ’n vertrek bring. Dit is baie vleiende lig vir daardie tye wat jy effens… eh… ontbloot voel!
  4. ’n DIY-projek vir twee. Is julle nog ’n bietjie skugter vir kinders en selfs vir ’n hond? Kyk of julle gereed is om ’n piepklein tuin aan die lewe te hou deur dié doen-dit-jouself projek te probeer. Maak ’n piepklein terrarium! ’n Terrarium is ’n klein, geslote glashouer waarin sekere plante kan groei. Dit verg nogal ’n fyn hand, so gaan kyk aanlyn vir idees en vir stap-vir-stap instruksies.
  5. Gee hom ’n boost! Moet manlief vir ’n werksonderhoud gaan of staan hy in lyn vir ’n bevordering? Neem ’n ou gloeilamp en hol dit uit. Vir ’n les in hoe om ’n gloeilamp veilig “skoon te maak”, besoek www.teamdroid.com/diy-hollow-out-a-light-bulb. Vul dit nou met sy gunsteling lekkergoed (iets soos jelly beans of Rascals werk goed). Draai ’n lintjie om die “nek” van die gloeilamp en maak ’n etiket daaraan vas waarop staan: “Dis nou jou kans om te skyn!”
  6. Hou die lig romanties. Gebruik 75 watt en 100 watt gloeilampe slegs vir leesliggies en verminder die sterkte van die hoofligte in jou slaapkamer. Jy kan ook gebruik maak van LED-gloeilampe, wat ontwerp is met sagte lig in gedagte en soortgelyk is aan 40W en 60W incandescent. Die lig is helder, maar gee ’n warm gloed en dis boonop energie-besparend!
  7. Maak magic! Onthou jy daardie gevoel wat jy as kind gekry het wanneer jy na ’n sneeu-glasbal gekyk het? Daardie swaar glasballe wat jy skud en dan daal die “vlokkies” neer… Wel, hol ’n gloeilamp uit en vul dit met water. Koop ’n houertjie blinkers by ’n kunsvlyt-winkel en voeg die blinkers by die water. Seël die gloeilamp goed met silikoon en siedaar – jy het ’n sneeu-glasbal. Los dit vir manlief met ’n nota wat sê: “Elke oomblik saam met jou is magic…”
  8. Romantiese piekniek-dekor. Vir ’n piekniek met ’n verskil, hol vyf gloeilampe uit en vul hulle halfpad met water. Bind ’n toutjie rondom die nek van elkeen vas en hang hulle aan ’n tak bo die plek waar jy wil piekniek hou. Hulle sal effens gekantel wees – dit móét so wees. Vul elke potjie met ’n enkele blom of takkie. Dis eenvoudig, maar só treffend!
  9. Iets vir sy lessenaar… Soek jy die wêreld vol vir ’n mooi en treffende geskenk vir sy verjaardag, vir Valentynsdag of sommer net om te sê jy is lief vir hom? As jy die kreatiewe soort is en hou van woeker met jou hande, maak ’n mooi dekor-item wat hy as papiergewig kan gebruik om hom aan jou te herinner. Gaan kyk aanlyn vir idees en instruksies.
  10. Net een vissie… Gaan koop ’n piepklein varswatervissie by ’n troeteldierwinkel (goudvisse is natuurlik heeltemal te groot hiervoor). Dit moet ’n vissie wees wat goed vaar in ’n beperkte spasie. Voeg klein klippies onder in die gloeilamp en vul die gloeilamp driekwart met water. Giet die water van die plastieksak waarin jy die vissie vervoer het, versigtig in die gloeilamp en die vissie behoort daarmee saam in te swem, maar maak seker daar is geen growwe of skerp kante by die opening nie. Indien wel, bedek dit eers met kleefband tot die vis binne-in is. Gebruik ’n “staander” soos ’n Purity-doppie en los die oulike akwarium vir manlief op sy lessenaar of bedkassie met ’n nota wat sê: “Jy is beslis ’n catch!” (Belangrik: Gebruik die gloeilamp liefs net vir presentation en laat die vissie daarna vry in ’n groter bak – dit maak nie saak hóé klein ’n vissie is nie, ’n gloeilamp is te klein vir ’n permanente woning).

 

Deur Annelize Steyn

Promosie