Daar’s iets besonders aan ’n nuwe plek wat die vonke weer laat spat. Weg van die daaglikse gejaag, net julle twee – hand aan hand, hart tot hart. Of julle nou droom van ’n knus kaggel in die berge, ’n stil strandstappie met sonsondergang of ’n luukse lodge in die bos – hier is tien onweerstaanbare plekke in Suid-Afrika wat wag om jul liefdesverhaal verder te skryf. Watter een roep julle naam?
Heartwood Homestead — Oos-Kaap
Asem saligheid in en al jou bekommernisse uit! As jy op soek is na ’n wegbreek wat soos ’n warm drukkie van moeder natuur af voel, roep Heartwood Homestead jou naam. Versteek in ’n welige inheemse woud net buite Oos-Londen, beloof hierdie eko-sjiek toevlugsoord vrede en privaatheid. Die huisie is die perfekte kombinasie tussen rustieke bekoring en styl — buite word jy met plaasdiere, vars plattelandse lug en die strelende geluide van die natuur omring en binne het die oopplan-leefarea en ’n gemaklike rusbank en stapeldeure wat na ’n stoep lei. Kom wandel deur die woud en ontspan op ’n swaaibank met ’n uitsig oor die pragtige Gonubieriviervallei.
Groendraai River Cottages — Limpopo
Mik jy en Liefie dalk Waterberge se kant toe? Groendraai River Cottages net buite Vaalwater bied ’n ontspannende bosveld-ervaring wat ideaal is vir diegene wat vanaf Johannesburg op pad is na Lephalale of Botswana. Daar is drie selfsorgkothuise wat met luukshede soos ’n Nespresso-koffiemasjien, lugversorging, privaat braaigeriewe en houtvuurwarmbaddens toegerus is. Gaste kan ook hul hengelgeluk op ’n vang-en-vrylaat-basis in die riviere of plaasdamme probeer, of ’n kajakavontuur op die rivier geniet.
Sasi Bush Lodge — KwaZulu-Natal
Sasi Bush Lodge is perfek vir ’n romantiese wegbreek in die Drakensberge. Hiér, te midde van klowe en kranse, kan ’n mens verskeie voetslaanroetes en pragtige bergpasse aanpak, goed bewaarde erfenisterreine besigtig en in die winter in die sneeu baljaar. Maar terug by die glanskamptent wag daar ’n rustigheid met geriewe soos ’n kaggel, buitebad en ’n reënstort. Jy en jou geliefde kan ook langs die randvloeiswembad onstpan, aan ’n heerlike ontbyt smul, by die boma kuier of ’n draai by die spa gaan maak.
Sani Valley Lodge — KwaZulu-Natal
Borreldrankies, ’n skouspelagtige uitsig en ’n bietjie berg-betowering! Dié lodge langs die Sani-pas bied vyfster-verblyf op die rand van ’n privaat meer. Dink aan knus kaggels en Jacuzzi’s op die dek terwyl die sterre in die hemelruim dans. Vir die kookkunskenners het elke selfsorglodge ’n volledig toegeruste kombuis, maar plaaslike maaltye kan ook vooraf gereël word. Wees op die uitkyk vir sebras en bokke en geniet aktiwiteite soos visvang, masserings, wildkyk op perde, kanovaart en staptogte na antieke rotstekeninge.
De Ark Mountain Lodge — Vrystaat
Droom jy van ’n berguitsig, vars oggendbriesie en salige natuurklanke wat jou wakker maak? De Ark Mountain Lodge is ’n knus wegkruipplek wat perfek tussen Clarens en die Golden Gate Nasionale Park geleë is. Hier laat julle die stad se gejaag agter en verruil dit vir ’n wegbreek waar dit voel of tyd net so ’n bietjie stadiger verbygaan. Elke chalet spog met sy eie vuurput en ’n privaat stoep of balkon waar jy aan jou oggendkoffie kan teug terwyl jy die uitsig bewonder. Daarna kan jy aan’n behoorlike ontbyt smul om die dag af te skop, want hiér word heerlike maaltye by die hoofhuis bedien. Diegene wat wil benerek kan deur die plaas se landskappe wandel of fietsry en die sebras, wildebeeste en blesbokke wat oor hul pad kom groet.
The Stables @ Glenogle Farm — Limpopo
Dié romantiese wegbreek voel (en lyk) soos ’n prentjieblad uit ’n sprokiesboek! Die huis is tussen die betowerende dennewoude van Magoebaskloof versteek en word deur perde, berguitsigte en ’n sprankelende dam vol forel omring. Die dubbelverdiepinghuis beloof kalmte en privaatheid met ’n knus kaggel wat perfek vir koeler aande is, asook ’n stoep met ’n uitsig wat in die lente met ’n welige en vrolike tuin ingekleur word. Hou jy van visvang? Skemerkelkies by die dam? Of net langs die vuur met ’n boek of bordspeletjie opkrul? Hierdie plattelandse juweel bied paartjies ’n wegkruipplek waar hulle hul eie sprokiesverhaal kan uitleef.
Ballots Bay Treehouse — Wes-Kaap
As jou idee van ’n droomwegbreek die natuur met die gedruis van die branders en voëlgesang is, dan is dié houthuis presies waar jy moet wees — hoog tussen melkhoutbome met ’n uitsig oor die klippiestrand en Meulriviermond. Die boomhuis het alles wat jou hart rustiger sal laat klop: Netflix-aande voor die kaggel, ’n sondeurdrenkte dek vir ’n alfresco-feesmaal en ’n houtvuurwarmbad vir totale bederf. Volg die kranspaadjie tot by die rotspoele, hou piekniek onder die woudafdak, verken die skilderagtige staproetes in die nabygeleë Magic Forest, of kies een van die talle visvangplekke en maak ’n bietjie lyn nat.
Dam House Cottage — Wes-Kaap
Is jou liefdestaal wyn, uitsigte en absolute rustigheid? Dan roep Dam House Cottage in die hartjie van Franschhoek jou naam! Dié intieme huis kruip teen die hange van Wildeberg Wines weg, is reg langs ’n dam geleë en word deur fynbos en vars berglug omring — só prentjiemooi dit lyk soos ’n poskaart wat lewe kry! Binne omvou gemak en kalmte jou met stylvolle dekor en die sitarea se kaggel wat perfek is vir boeklees of gehaltetyd saam deurbring, en buite is daar ’n sonnige dek met ’n braai en ’n uitsig oor die dam.
Mbizane Escarpment Retreat — Mpumalanga
Mbizane Escarpment Retreat in die bekoorlike Schoemanskloofvallei is waar luuksheid die wildernis ontmoet. Hiér kan jy dramatiese kranse, welige rivierwoude en die soort stilte wat die siel streel verwag. Hierdie erfenis-toevlugsoord is perfek vir paartjies wat uit die stadsgeraas na die natuur wil ontsnap, sonder om luuksheid of gerief prys te gee. Elke luukse glanskamptent het sy eie privaat houtdek, sagte beddegoed, ’n en suite-badkamer en ’n kombuisie, maar daar is ook ’n restaurant op die perseel wat gereed is om jou te bederf! Paartjies kan skemerkelkies geniet terwyl die skilderagtige bosveldsonsondergang die lug inkleur, by die rivier piekniek hou of luilekker in natuurlike poele afkoel. Ander aktiwiteite sluit voëlkyk, voetslaan en 4×4-avonture in.
Die Krip Gasteplaas — Noordwes
Skop jou skoene uit en geniet die plattelandse bekoring! Die Krip Gasteplaas is ’n vreedsame, plat-op-die-aarde wegbreekplek waar tyd so te sê stilstaan en die lug na veldblomme en vryheid ruik. Met knus eenhede wat elkeen sy eie privaat ingang, stoep en kombuisie het, is dit die perfekte nessie vir paartjies wat wil rus. Begin jou dag met ’n koppie koffie op die stoep, dwaal deur die pragtige tuine, of kuier langs die swembad met ’n lekker boek en jou gunsteling-sonhoed. Wanneer avontuur roep, is Magaliesburg net ’n entjie se ry ver waar lugballonritte, boomtoptoere, voetslaan en selfs bierproe wag!
Redakteur se nota:
Dankie LekkeSlaap dat julle ons help om die vonke te laat spat – een romantiese wegbreek op ’n slag! Julle maak dit maklik om weer verlief te raak.