Het jy geweet? God het ons nie net verskillend gemaak nie — Hy het ons doelbewus verskillend bedraad. Jou manier van dink, voel en reageer is nie toevallig nie; dis ’n kombinasie van jou temperament, jou lewensverhaal, jou geloofsreis en selfs jou pyn.
Ons dra ál vier temperamente in ons: ’n primêre kleur wat uitstaan, ’n sekondêre wat ondersteun, en dan spatseltjies van die ander twee wat soms onverwags deurbreek. Dis hoekom twee mense met dieselfde temperament steeds só verskillend kan wees, want ons word gevorm deur nege ontwikkelingsfaktore, familie, kultuur, en ja, selfs trauma. Jou storie kleur jou kleur.
Ek gebruik graag die vierkleurmodel, omdat die wetenskaplike name (soos Hippokrates dit eeue gelede beskryf het) vir baie mense moeilik is om te onthou. Daarom het ek dit oor jare vereenvoudig en verpersoonlik:
Gewilde Geel, Rasende Rooi, Geruste Groen en Besliste Blou.
Makliker om te verstaan, makliker om te onthou, en veral, makliker om jouself én ander raak te sien.
Toe ek hierdie ontdekking jare gelede self gemaak het, het dit my lewe verander. Ek het besef: mense is nie dom, eenvoudig of sommer net moeilik nie — ons kyk net deur verskillende vensters. En wanneer jy daardie venster verstaan, sien jy nie meer fout nie; jy sien ontwerp.
Want dis waar die huwelik sy toets kry — waar kleur op kleur bots… of “blend.”
GEEL – DIE SONSKYN VAN DIE HUWELIK
Geel mense bring lewe waar hulle kom. Hulle praat met hul hande, dink in prente en glo dat liefde lekker moet wees. As die lewe ’n partytjie was, was hulle die musiek én die konfetti.
In ’n huwelik is Geel die een wat sê: “Kom ons doen iets snaaks vanaand!” terwyl die ander dalk net die rekeninge wil betaal. Hulle is energiek, optimisties, vol planne, en soms, ja, vol halfklaar projekte ook.
Konflik: Hulle wil dit vinnig oplos; lank stilbly breek hulle.
Frustrasie: Negatiwiteit en kritiek trek lug uit hulle ballon.
Spanwerk: Hulle bring ligtheid, humor en hoop, al is dit soms deurmekaar.
Mariska (’n tipiese Gewilde Geel) vertel hoe sy en haar man (’n Besliste Blou) baklei het oor die kombuiskas wat sy geverf het sonder om te vra. Hy’t gesê: “Jy doen altyd dinge impulsief!” Sy’t geantwoord: “Maar kyk hoe mooi is dit nou!” Ná ’n paar dae moes hy toegee, dis eintlik beter só. Want haar kleur het weer lewe gebring in ’n grys hoek van die huis.
Geel se geskenk: Hulle herinner ons dat liefde speels, vol lag en lewe mag wees, en dat God self die Bron van vreugde is.
ROOI – DIE BESTUURDER VAN DIE LIEFDE
Rooi mense is vasberade, reguit en doelgerig. Hulle wys liefde deur te doen, nie deur te praat nie. Wanneer iets skeef loop, vra hulle nie “Hoe voel jy?” nie, maar “Wat gaan ons daaraan doen?”
Hulle is gebore leiers wat glo in resultate. Dis hoekom hulle dikwels die dryfkrag in die huwelik is — maar soms ook die een wat vergeet om stil te word en te luister.
Konflik: Hulle baklei direk. Nie om seer te maak nie, maar om te wen.
Frustrasie: Wanneer ander stadig, onseker of onduidelik is.
Spanwerk: Hulle neem leiding, skep struktuur, hou die boot op koers.
Retha, ’n Rasende Rooi entrepreneur, sê sy en haar man (’n Geruste Groen) het altyd in die kar baklei, sy oor spoed, hy oor tyd. Sy’t gejaag, hy’t gewonder hoekom sy nooit net rustig ry nie. Eers toe hulle saam besluit om elke oggend te bid voor hulle ry, het sy besef: sy ry nie net vinnig nie, sy leef vinnig. En hy’s daar om haar te help rem, nie om haar terug te hou nie, maar om haar te beskerm.
Rooi se geskenk: Hulle hou die huwelik gefokus, veilig en aan die beweeg. Hulle leer ons dat sterk liefde ook sag kan wees wanneer dit leer luister.
GROEN – DIE HARTKLOP VAN VREDE
Geruste Groen mense is die rus in die storm. Hulle praat sag, beweeg stadig en voel diep. Hulle wys liefde nie deur groot gebare nie, maar deur teenwoordigheid.
Hulle hou nie van konflik nie; hulle verkies vrede bo reg wees. Dis hoekom hulle dikwels stil raak wanneer spanning kom, nie omdat hulle onverskillig is nie, maar omdat hulle besig is om innerlik te kalmeer.
Konflik: Hulle onttrek eerder as baklei.
Frustrasie: Skielike verandering of te veel druk.
Spanwerk: Hulle dra die emosionele stabiliteit van die verhouding.
Pieter (’n Geruste Groen) vertel dat sy vrou (’n Rasende Rooi) altyd kla dat hy nie met haar argumenteer nie. “Dis nie dat ek nie omgee nie,” sê hy, “ek dink net langer oor my woorde.” ’n Week later skryf hy vir haar ’n brief, rustig, eerlik, vol insig. Sy het gehuil toe sy dit lees. Hy’t nie geskop nie; hy’t geanker.
Groen se geskenk: Hulle wys ons dat sagtheid nie swakheid is nie. Hulle hou die vrede aan die brand in ’n wêreld wat te vinnig raak.
BLOU – DIE BOUER VAN BETROUBAARHEID
Blou mense glo dat liefde getrouheid is, nie flitse van passie nie. Hulle hou van orde, eerlikheid en beloftes wat hou. Hulle is die gewete van die verhouding; die een wat onthou, planne maak en die detail dra.
Konflik: Hulle analiseer elke woord; vergewe stadig maar opreg.
Frustrasie: Onbetroubaarheid, chaos en oppervlakkigheid.
Spanwerk: Hulle bring stabiliteit, struktuur en standaarde.
Annelie (’n Besliste Blou) het ’n Gewilde Geel-man getrou wat altyd vergeet om die alarm aan te sit. Sy’t hom een aand weer gevra: “Het jy die alarm aangesit?” Hy sê: “Nee, maar ek het vir jou blomme gebring!” Sy het gesug, maar toe glimlag sy. Want sy het besef: sy liefde kom in spontane blomme, nie in planne nie. En haar liefde kom in lysies, nie in verrassings nie. Albei is geskenke.
Blou se geskenk: Hulle leer ons dat ware liefde betroubaarheid en reinheid van hart verg. Hulle bou ’n fondament waarop die res kan dans.
WAT GEBEUR WANNEER KLEURE TROU?
Daar is dikwels ’n natuurlike aantrekking tussen Geel en Blou — son en struktuur, spontaniteit en stabiliteit. En tussen Rooi en Groen — krag en vrede, momentum en rustigheid.
Maar dis juis daar waar die vonke spat.
Die Geel voel vasgepen deur die Blou se reëls, en die Blou voel oorweldig deur die Geel se chaos.
Die Rooi dink die Groen is passief, en die Groen voel oorrompel deur die Rooi se intensiteit.
Maar as hulle mekaar begin verstaan, word verskil ’n geskenk.
GEEL & BLOU
Geel bring lewe, lag en avontuur. Blou bring veiligheid, orde en planne.
Wanneer hulle bots, voel Geel vasgevang en Blou uit beheer.
Wanneer hulle groei, leer Geel om op te daag en Blou om soms te dans.
In my werkswinkel vertel ’n man dat sy Geel-vrou hom altyd van plan laat afwyk. “Sy koop iets wat nie op die lys is nie,” sê hy. Sy antwoord: “Maar dis op die hartlys!” En sy sê vir hom: “Jy trou nie met ’n lysie nie, jy trou met ‘n mens.”
En vir haar sê ek: “Jy trou nie met ‘n avontuur nie, jy trou met ‘n anker.”
Wanneer hulle mekaar se waarde raaksien, word hulle huwelik kleurvol én georden.
ROOI & GROEN
Rooi bring rigting, beskerming en doel. Groen bring kalmte, empatie en balans.
Wanneer hulle bots, voel Rooi gefnuik en Groen oorweldig.
Wanneer hulle groei, leer Rooi om sag te wees en Groen om te praat.
In een van my sessies vertel ’n Groen-man dat sy Rooi-vrou altyd sê: “Jy móét net besluit!” Hy glimlag: “Sy besluit vinnig, ek bid stadig.” Maar daar lê wysheid in sy woorde. Hy het haar passie nodig, en sy sy kalmte.
Wanneer hierdie twee leer om mekaar se tempo te eer, word hulle spanwerk ’n dans, nie ’n stoei nie.
WAAROM SUKKEL VERHOUDINGS REGTIG?
Dis nie net omdat ons verskillend is nie – dis omdat die sondeval ons selfsug wakker gemaak het.
Van Eden af wou ons regeer in plaas van dien; wen in plaas van verstaan. Maar God se genade roep ons terug na verhouding soos dit bedoel was: om mekaar te sien soos Hy ons sien.
Elke temperament dra iets van God se karakter:
- Geel weerspieël Sy vreugde,
- Rooi Sy krag,
- Groen Sy vrede,
- Blou Sy waarheid.
Wanneer ons leer om dít in mekaar te eer, word die huwelik weer heilige grond – vol kleur, genade en groei.
SLOTGEDAGTE
Het jy geweet… die doel van die huwelik is nie om dieselfde te wees nie, maar om mekaar aan te vul?
Waar Geel inspireer, bring Blou orde.
Waar Rooi lei, bring Groen vrede.
Liefde is nie altyd maklik nie, maar dit is altyd leerbaar.
En soos ek altyd sê:
“God het nie kleurlose mense gemaak nie, Hy het kleurryke mense geroep om mekaar se wêreld te kleur.”
– Deur Lynette Beer
Verhoudingskenner Lynette Beer kan gekontak word by info@lynettebeer.co.za of 0813191292. www.lynettebeer.co.za

