Dis lekker om saam met die een wat jy liefhet te droom. Soms is die drome blote lugkastele en met tye is dit drome wat bewaarheid word . . .

Promosie

Jy hou jou eerstejaar-student van ’n kind met ’n knop in die keel vas. Hoe bittersoet is dit nie? Die besef dat sy die huis verlaat, by jou nes uitkruip. Maar ook die wete dat haar lewe voorlê en dat die lekkerste tye nou vir haar gaan begin. En die voorreg, dat jy en manlief met jare se beplanning haar droom om dít te gaan studeer wat sy so graag wou, kon bewaarheid. Jy gee vir jou man ’n betekenisvolle knipoog. Dit was jul doelstelling – om al drie jul kinders goeie onderrig te gee.

Dwarsdeur ’n huwelik stel ’n paartjie doelwitte. Sommige daarvan so naby soos die komende vakansie en ander verder in die toekoms, soos jul aftreeplanne. Sommige van ’n paartjie se doelwitte realiseer en ander (ongeag al die harde werk en beplanning) nie. In plaas daarvan om ’n droom prys te gee as dit lank neem om daar te kom, is dit ’n goeie idee om só ’n doelstelling te herevalueer en te sien wat aangepas moet word sodat jy daardie doelwit kan bereik. Miskien is jul doelwitte te hoog of het julle onrealistiese verwagtinge van mekaar. Dit beteken nie dat julle misluk het nie.

Maak daarvan ’n huweliksherdenking-ritueel!

Promosie

Op die blog A little too jolly skryf die outeur, Brooklyn, dat dit baie voordelig is om as deel van jul huweliksherdenking-vieringe elke jaar saam as ’n paartjie te sit en jul suksesse van die afgelope jaar te bespreek, sowel as jul hoop vir die jaar wat kom. Só het julle ’n vaste datum waarop julle jul doelstellings evalueer. Doelstellings gee julle as paartjie iets om na toe te werk, julle kan optree as accountability partners vir mekaar en dis ’n manier om jul huwelik voortdurend te versterk. Dit verbeter kommunikasie, want elkeen kry die kans om sy/haar persoonlike doelstellings en begeertes te verwoord – só verstaan elkeen hulself en die ander persoon beter. Dit kan die gom wees wat julle bymekaar hou – selfs in die moeilikste tye. En dit gee ’n paartjie ’n rede om fees te vier wanneer ’n doelwit bereik is!

Begin met individuele doelstellings:

  1. Maak ’n lysie met jou doelwitte (elkeen moet dit afsonderlik doen). Maak nou ’n afspraak (date night is ideaal hiervoor) om die doelwitte met mekaar te deel. Sluit praktiese en bykans onmoontlike doelwitte in.
  2. Voel jy dom? Skryf ’n missiestelling vir jou lewe. Wat is jou groter doel op aarde? Só sal die lys vir jou duidelik word. Vra jouself ook af watter waardes vir jou belangrik is in jul huwelik.
  3. Kies drie “groot idee-woorde”. Skrywer Chris Brogan stel voor dat al jou doelstellings hieronder moet val. Jou drie woorde word “ligtorings” of aanwysings en elke doelwit wat jy stel, moet inpas onder een van daardie drie woorde.
  4. Kyk na jou fisieke omgewing, jou pretvlakke, jou liefde, gesondheid, finansies, loopbane, persoonlike ontwikkeling, vriende en familie. Bepaal nou wat jou vlak van tevredenheid is met elk van hierdie dinge op ’n skaal van een tot tien. Só kan jy vasstel watter afdelings fokus nodig het.
  5. Stel jou voor julle loop oor vyf jaar in ou vriende vas. Wat sal jy trots wees om hulle te vertel? Stel jou ook voor jy skryf ’n boek oor jou lewe – watter dele van jou lewe sal aangrypend wees?
  6. Nou kan julle dit met mekaar deel. Dit is ’n geleentheid om met jou maat te bond, so hanteer dit spesiaal. Moenie mekaar oor jul doelwitte kritiseer nie – selfs al klink jou maat se doelwitte hóé verregaande. Nou moet julle mekaar net bemoedig (die reality checks kan later gebeur!).

Stel ’n gesamentlike lys op:

  • Kyk terug in die verlede. Wat het in jul verhouding gewerk en wat nie? Gebruik dít as wegspringplek vir jou doelstellings. Kyk na dít wat julle reg gedoen het en kyk hoe julle dit selfs kan verbeter. Neem dit waarmee julle gestoei het en kyk wat moet gebeur sodat julle vooruitsigte in dié afdeling kan sien.
  • Kyk in die toekoms in. Wat hoop julle om te bereik as ’n paartjie? Kies iets kleins wat julle kan help om nader aan daardie groot drome te kom. Of dit nou iets is wat jy hoop om in die volgende maand, jaar of selfs vyf – of 20 – jaar te bereik, jy kan altyd iets doen om daardie bal aan die rol te sit.
  • Stel kleiner doelwitte. Soms lyk ’n groot droom heeltemal onbereikbaar. Wat kan julle doen om dit minder vreesaanjaend te maak? Breek dit in kleiner stukkies en pak daardie stukkies een op ’n slag aan. Binnekort sal jy sien dat jy nie so oorweldig voel nie.
  • Skryf jul doelstellings neer. Wat help dit as ’n doelwit nie neergeskryf word nie? Pen jul doelstellings neer waar julle dit altyd kan sien. Maak ’n uitdruk en hang dit iewers in die huis sodat julle voortdurend daaraan herinner word. Op jul volgende herdenking kan julle terugkyk na die lys en elke doelwit op sy eie evalueer en daaroor gesels. Wat het gewerk en waarvan het julle vergeet?
  • ’n Doelwit help nie as dit nie werk nie. Julle gaan waarskynlik na julle doelstellings kyk en dit meer as een keer per jaar moet verander. Moenie wag tot jul volgende bespreking om daaroor te gesels nie. Gesels oor hoekom dit nie werk nie en formuleer ’n plan om dit te láát werk. Doelstellings moet jou suksesvol laat voel.

Watter soort doelstellings kan julle stel?

  • Verbeter jul verhouding deur doelstellings soos ’n gereelde date night, beter kommunikasie, meer gehaltetyd, eie tyd en romantiese wegbreek-geleenthede. Besluit watter deel van jul verhouding het meer werk nodig en woeker daarmee.
  • Dis belangrik om ook finansiële doelwitte te bespreek – finansies is iets wat groot rusies in huwelike veroorsaak. Maak een van jul doelwitte om uit die skuld te kom, te spaar, kontant-aankope te maak, ’n begroting op te stel en so meer.
  • Stel doelwitte rakende huisverbeterings. Dit is iets wat paartjies dikwels ewe sterk oor voel – om ’n gedeelte van die huis te verbeter of die uitleg van ’n kamer te verander. Dit is ’n lekker aktiwiteit waaraan julle saam kan beplan.
  • Fiksheid en gesondheid. Om sáám aan jul leefstyl te werk, is lekker. Julle het mekaar as workout buddies en kan saam aan wortels peusel terwyl julle mekaar moed inpraat! Besluit om net een keer per week uit te eet, saam te oefen, ’n groentetuin te skep en dies meer.
  • Die toekoms. Net omdat dit voel asof julle toekomsplanne ver in die verskiet is, beteken dit nie dat julle nie nou iets kan doen om dit te bereik nie. Sit geld opsy vir eendag as daar kinders is, spaar vir julle droom-wegbreek. Dis nooit te vroeg om te begin nie.

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.alittletoojolley.blogspot.com, www.yourtango.com, www.sheknows.com