As jy kyk na die Bybel se rangorde, is jou man tweede op die lysie (ná God), selfs bó jou kinders. Maar jou moederinstink sê dat jou kinders jou nodiger het. Só wat maak jy?
Die dag wanneer jy voor die kansel staan, kies jy jou lewensmaat. Jou belangrikste persoon, verklaar jy hom voor God. En daarna kom die kinders . . . hulpelose bloedjies wat jy moet beskerm teen die aanslae van die wêreld – dis immers jou plig as ma.
Baie vroue is egter in ’n konfliksituasie. Manlief word afgeskeep, want ’n nuwe baba eis al jou aandag. “Natuurlik moet hy begryp,” redeneer jy, “want hier is ’n hulpelose wese wat jou nóú nodig het en nie rede verstaan nie. Manlief kan vir homself ’n toebroodjie maak, maar die baba het jou bors nodig.”
Die kinders word groot en daar is konflik in die huis. Swaar, seer dinge word gedoen en gesê. Sien jy dit oor en bly jy by jou Goddelike belofte om jou man eerste te stel, ly jou kinders hieronder (in uiterste gevalle is daar selfs molestering). Wanneer geld die Bybelse rangorde en wanneer moet jy jou rol as ma bó jou huwelik stel?
Kyk jy na die Bybelse opdrag, lyk dit eenvoudig. In die woorde van Gary en Joy Lundberg op die webtuiste familyshare.com: “Daar is ’n natuurlike orde in die huwelik. Dit begin met twee mense wat verlief raak op mekaar en glo dat hulle mekaar se belangrikste persone is. Soos wat die kinders kom, moet hulle gekoester en geliefd word, maar nooit meer as jou maat nie. Dan, wanneer hulle groot en uit die huis is, is dit weer net twee mense. Wanneer hierdie twee verlief bly, skep dit ’n stabiliteit en ’n nalatenskap vir die kinders, ongeag hul ouderdom.”
In sy boek To Raise Happy Kids, Put Your Marriage First skryf David Code dat ouers meer aandag daaraan moet gee om die perfekte eggenoot te wees as die perfekte ouer.
Is dit reg as my kinders eerste kom?
Elanie* het ’n paar weke ná hul troudag vir die eerste keer met Ernst* se skadukant kennis gemaak. As sy nou daaroor terugdink, het sy hom eintlik nie baie goed geken toe hulle verloof geraak het nie, vertel sy, maar eerder vasgekyk in ’n paar aantreklike eienskappe.
“Ernst is ’n mooi man, ’n go-getter, ’n tipe ou wat nie gras onder sy voete laat groei nie. Hy is charismaties en joviaal, en bring genoeg geld huis toe,” vertel Elanie. “Maar hy het ook ’n lelike, geniepsige kant. Hy is sarkasties, beterweterig en kraak ander se menings af. Dis baie subtiel, maar dis genoeg om enige iemand stadig maar seker af te breek.”
Hulle kinders het gereeld deurgeloop onder sy skerp tong en onbillike verwagtinge. “Ek het vir die kinders probeer opkom, maar hy het my telkens daaraan herinner wie die hoof van die huis is,” sê Elanie. Uiteindelik het Ernst nie meer saam met sy gesin kerk toe gegaan nie en Elanie het gevoel dat hy sy Christelike plig as ouer versuim.
“Op papier klink hy soos ’n ridder op ’n wit perd,” vertel Elanie, “maar hy het eintlik voete van klei.” Een aand, ná een bier te veel, het Ernst sy humeur verloor en hul tienerseun deur die gesig geslaan. Kort daarna is hulle geskei en agt jaar later is Elanie glad nie spyt oor haar keuse nie.
Die rol van die Skeppingsorde
“Elanie het voor ’n baie moeilike keuse te staan gekom,” verduidelik ds Piet Venter, predikant van die Gereformeerde Kerk in Potchefstroom. “Die huweliksverhouding word gesien as die primêre verhouding in die gesinstruktuur – dit word só in Genesis 1 tot 2 met die Skeppingsorde vasgelê en word deur die res van die Skrif ook só hanteer.”
Dit beteken egter glad nie dat die egpaar se kinders minder belangrik as die ouers is nie, beaam ds Venter. As ouers ontvang beide man en vrou die aanspreeklikheid om hulle kinders met verantwoordelikheid groot te maak en aan hulle die nodige geestelike, emosionele en fisiese leiding gee. “In die lig van die Skrif het kinders beide ouers se toewyding, versorging, koestering en aandag nodig, en mag die een party hom of haar nie van daardie verantwoordelikheid onttrek nie.”
“Wanneer een huweliksmaat in enige opsig volhardend sondig – in hierdie geval, die man – en dus nie meer optree soos God van ’n ouer en eggenoot verwag nie, behoort die ouer wat dan moet oordeel oor die beste belang van die kinders wel aan God meer gehoorsaam te wees as aan die huweliksmaat, en die beste belang van die kinders te kies.”
Tree jou maat op volgens God se wil?
Carien du Toit, pastorale berader en voorligtingsielkundige wat spesialiseer in huweliksterapie, deel ds Venter se mening. “As Ernst nie sy huweliksbeloftes en doopbelofte nakom nie, kan ons argumenteer dat hy nie binne God se wil optree nie. As sy gedrag boonop voortdurend die kinders se welstand bedreig, is dit Elanie se plig om haar kinders se veiligheid en belange eerste te stel,” verduidelik Carien.
Waar die vrou bo wil en dank en rasionele denke haar man se kant kies bó dié van hul kinders – as hulle dan voor só ’n keuse te staan kom – moet gevaarligte begin flikker, waarsku Carien.
“Hoekom sal God daarop aandring dat ’n vrou haar man se keuses en aksies ondersteun as hulle kinders daardeur beskadig word? Dis beslis ’n deal breaker. In só ’n geval behoort die vrou vir haar kinders in die bresse te tree, en selfs die volhoubaarheid van haar huwelik te bevraagteken.”
Is dit reg as my man eerste kom?
In Efesiërs 5:22-23 is die opdrag egter duidelik dat vroue aan hul mans onderdanig moet wees aangesien die man die hoof van die huis is. As jy jou man eer en dien en met respek behandel, sal jul huwelik floreer. En met ’n huwelik wat soos ’n geoliede masjien is, sal jul kinders ook geborge voel. As ma en pa saam werk as ’n span, hoef die kinders nie minderwaardig te voel nie. Inteendeel: Tweede in die ry beteken nie afgeskeep of minder belangrik nie. Dit is die natuurlike orde voortspruitend uit ’n liefdevolle huwelik.
Gesonde huwelike sorg vir gesonde gesinne
Vir ds Reynold Fourie, ’n leraar van Bellville, is dit moeilik om reguit te sê jy moet jou kinders bo jou man stel of andersom, want dit is twee verskillende verhoudings. “Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons huweliksmaats én ons kinders,” sê hy.
“Daar word gesê die boustene vir ’n gesonde gemeenskap is gesonde gesinne. Maar waar begin gesonde gesinne? By God natuurlik. God is en moet die fondasie van ons huwelike wees. Dan is huwelike gesond, want dit word op God gebou, en kinders word weer op hierdie huwelike gebou. God sê vir ons dat die huwelik vir Hom bitter belangrik is en dat man en vrou een wese is (Genesis 2:24), en dat hulle mekaar moet dien en liefhê soos Christus die kerk lief het (Efesiërs 5:22-25) en soos die kerk Christus dien.
“Toe God die mens in Genesis bymekaar gebring het, het hy vir hulle die opdrag gegee om vrugbaar te wees en op die aarde te vermeerder (Genesis 1:28). So vanuit die huwelik wat vir God belangrik is en eerste is, het die opdrag gekom om kinders voort te bring. Ek glo dit is binne die verstaan van die huwelik dat kinders na vore kom en grootword. As huwelike nie gesond is nie, dan ly kinders daaronder, want hulle leef onder spanning van ’n stukkende huwelik. Kinders kry ook die verkeerde beeld van Jesus se verhouding met sy kinders, want deur die huwelik wys God vir ons iets van sy liefde vir ons.
“Dus is ek sterk van mening dat as jou huwelik op God gebou is, sal jy weet dat jou huwelik vir God baie belangrik is, maar dat jou kinders ook vir God belangrik is, en dat hulle sal floreer as jou huwelik tot God se eer is,” verduidelik hy.
Eerder ’n ander benadering
Miskien moet ’n mens nie kyk na wie eerste kom nie, maar na die rol van liefde, ‘rang en behoefte, asook hoe om hierdie begrippe te onderskei en te prioritiseer. As jou man aandring op seks, maar dit is tyd vir jou baba se voeding, wat maak jy? Natuurlik kies jy jou baba. Maar as jou man ’n behoefte het aan ’n paar minute se gehaltetyd saam met jou en jou kinders eis dat jy saam met hulle moet DSTV kyk, kies jy uiteraard jou man (en gevolglik jou huwelik). As Pappa raas omdat Boetie vir sussie ’n taai klap gegee het, gaan jy jou man kies en agter hom staan met dissiplinering, maar as jou maat jou kind molesteer, gaan jy beslis nie jou oë toeknyp en jou huwelik kies nie.
Volgens prof Gert Breed, rektor van die Teologiese Skool GKSA in Potchefstroom, moet ’n mens nie vra wie eerste gestel moet word nie. Dit dui daarop dat iets stukkend is.
“Hoekom sal ek moet kies tussen my man en my kinders? Ja, man en vrou se verhouding is die meer permanente een, en ons maak ons kinders groot om hulle onafhanklik van ons te maak. As pa en ma mekaar lief het en mekaar dien, bied dit sekuriteit vir die kinders en is hulle ook gelukkig. Maar die wêreld is stukkend en mense is stukkend. Wat daarvan as my man se optrede ’n gevaar vir my kinders inhou? Wat moet ek dan doen?
“Ons kan hier praat van ’n botsing van pligte. Ek moet my man eer en hom liefhê, maar ek moet ook my kinders beskerm. Albei is my plig, maar ek word gedwing om ’n keuse te maak. Dan moet ek teen die kwaad kies. Ek mag nie toelaat dat die verkeerde aanhou nie. As ek die verkeerde waarmee hy nie wil ophou nie uitbring en hulp soek, kan hy dalk ook genesing kry. Agter verkeerde optrede lê dikwels ’n diep seer. Wanneer ons met mekaar saamleef soos die Bybel ons leer, sal ek nie hoef te kies tussen my man en my kinders nie.”
*Skuilname is gebruik.
Deur INTIEM Redaksie