Jaloesie het verskeie oorsake. As jou maat uitermatig jaloers is, kan dit wees omdat emosies soos vrees, woede, hartseer en selfbejammering by hom spook. Volgens huwelikskenner en skrywer Sheri Stritoff word jaloesie veroorsaak deur:
- Onrealistiese verwagtinge oor die huwelik in die algemeen (“My maat moet hééltyd aan my sy wees, en mag nie met ander mense praat nie.”)
- Onrealistiese verwagtinge oor ‘n huweliksmaat (“My maat moet haarself onaantreklik maak sodat niemand ooit in haar rigting kyk nie”)
- ‘n Foutiewe gevoel van ‘eienaarskap’ oor ‘n huweliksmaat (“Sy is mýne en as ek haar nie kan kry nie, mag niemand haar kry nie”)
- Die herlewing van ‘n seer ervaring of verwerping in die verlede (“Wanneer hy weggaan sonder om my te bel, voel ek soos ek gevoel het in my eerste ernstige verhouding, toe daardie ou dit ook gedoen het en my agter my rug verkul het.”)
- ‘n Gevoel van onsekerheid of swak selfbeeld (“Ek haat dit as hy so met Diana gesels. Sy is mooier én maerder as ek – en sy het boonop ‘n sterker persoonlikheid. Wat as hy haar kies bo my?”)
- ‘n Vrees vir verwerping (“My pa het my verwerp as ‘n jong dogtertjie en ek sal nie toelaat dat ‘n man my ooit weer so verwerp nie.”)
- ‘n Vrees om iemand te verloor wat vir die persoon bealngrik is (“Ek wil nie hê sy moet te veel tyd met haar sussie deurbring nie. Nou-nou praat dié haar om om my te los en ek kan nie sonder haar klaarkom nie.”)
- ‘n Intense gevoel van besitlikheid en begeerte na beheer. (“Sy is mý vrou en ék sal bepaal wie sy sien, wat sy aantrek en hoe sy haar in die openbaar gedra.”)
Vir die volledige artikel oor jaloesie in die huwelik kliek hier.