Almal weet hoe die grafiek van ’n hartklop lyk – jy sien dit dikwels in romantiese tranetrekker-flieks, waar die een party by die ander party se sterfbed in die hospitaal sit terwyl die hart vir oulaas klop.
Koop ’n stukkie dun draad by jou naaste hardewarewinkel. Die draad moet dun genoeg wees om met ’n tangetjie te buig, maar dik genoeg om sy vorm te behou. Maak nou ’n ring of ’n armband vir jou maat deur die bokant te vorm soos ’n hartklop se grafiek. Die punte moet mekaar oorvleuel sodat die grootte verstelbaar is. Vou ook die punte om sodat dit nie skerp is en jou maat kan seermaak nie.
Koop ’n mooi boksie hiervoor en gee dit vir jou maat saam met ’n nota wat sê: “Jy is my hartklop.”