Ek en my man is ’n jaar en ’n paar maande getroud en ons het al drie kinders verloor weens my “onbevoegde serviks”. Ons eerste baba is op 28 weke gebore en oorlede na 14 ure, en ek het weer swanger geraak met ’n tweeling – ons het hulle verloor op vyf maande. Nou is my vraag: Wat kan ek doen om oor die situasie te kom? My man het vir my gesê dat ek hom wegstoot – ek kom dit nie agter nie. My libido is baie laag en ek het nie die seksdrang wat ek vóór die swangerskappe gehad het nie.

Promosie

 Is daar enigiemand wat vir my raad kan gee?

Wilmé Steenekamp, ’n mediese dokter, antwoord:

 Jou situasie is baie kompleks – daar is so baie dinge daarby betrokke. As julle nog nie professionele hulp gekry het om die dood van jul kinders te help verwerk nie, stel ek voor dat julle dit beslis doen. Dit gebeur baie dikwels dat ’n man en vrou nie op dieselfde manier treur oor kinders wat dood is nie en dit veroorsaak gewoonlik groot skade in ’n verhouding.

Promosie

Dis só ’n moeilike situasie dat min mense dit op ’n konstruktiewe manier sal kan hanteer sonder professionele hulp. Die dood van ’n kind het ook ’n geweldige groot impak op die onderbewussyn. ’n Mens kan verstaan dat jou libido beïnvloed is deur alles met jou gebeur het.

Kry vir jou en vir jou man individuele professionele hulp en wanneer julle reg voel daarvoor, gesamentlike verhoudingsterapie.