As jy binnekort jou tiende huweliksherdenking vier, gaan groot! Want as jy kyk na Suid-Afrika se skeistatistiek, ís dit iets om te vier.
Is jy besig om jou troudag te beplan? Jy en jou maat het dalk lank besin en besluit dat dit wel tyd is om die knoop deur te haak. Dis ‘n opwindende, maar spanningsvolle tyd in jou lewe. Is jy benoud vir wat ná jou troudag wag? Is daar ‘n stemmetjie in jou kop wat jou laat wonder of julle dit gaan maak tot die dag wat julle grys is en met kieries loop? Dalk is jou gedagtes rede tot kommer, maar dit kan ook wees dat jy die realiteit in die gesig staar. Egskeidings is volop. Wat asl julle vrywaar hiervan? Die huwelik word bedreig. En vir jou en jou maat om jul huwelik ewig te laat hou, gaan harde werk, gebed en genade verg. Tog is daar soveel paartjies wat hul huwelike met goeie intensies binnestap, net om jare later die trauma van egskeiding deur te maak.
Kom ons draai nie doekies om nie: Meer as vier uit tien huwelike in Suid-Afrika haal nie tien jaar nie. Skokkend, né? Stats SA se nuutste statistiek is onlangs vrygestel en presies 44.4% van 2016 se egskeidings kom uit huwelike wat nie ‘n dekade geduur het nie. Die meeste egskeidings was onder paartjies wat vyf tot nege jaar getroud is. Wat ‘n mens laat wonder of daar wel waarheid steek in die sogenaamde seven year itch…
Hoe lyk die nuutste statistiek rakende troukoors? Volgens 2016 se statistiek was daar ‘n 12.3% toename in burgerlike huwelike sedert die vorige jaar, met sowat 37.1% hiervan wat in Gauteng voltrek is. Dit is goeie nuus, veral omdat dit wil voorkom of millenials ietwat skugter is vir die ring aan die vinger. As ‘n mens kyk na ouderdom, is bruidegomme steeds gemiddeld 36 jaar oud wanneer hulle trou. Maar dit lyk asof bruide effe haastiger is. Of hulle dapperder is of minder loopbaangedrewe is, weet mens nie, maar waar hulle in 2015 op gemiddeld 34-jarige ouderdom getrou het, trou vroue in 2016 op ‘n gemiddelde ouderdom van 32 jaar.
Sover dit ouderdomsverskille tussen die twee partye aangaan, wil dit lyk asof Suid-Afrika steeds tradisioneel is en 76% bruidegomme was in 2016 ouer as hul bruide. Met slegs 16% bruidegomme jonger as hul bruide. Die meeste manne stap nie dieselfde paadjie as Prins Harry en sy Meghan nie – sowat 94% van mans het in 2016 getrou met vroue wat nog nooit voorheen getroud was nie.
En nou vir die slegte nuus: Waar 25 260 egskeidings in 2015 toegestaan is, het 25 326 paartjies in 2016 geskei. Dis ‘n styging van 0.3%. So, hoe vergelyk 2016 se skeisyfer met vroeër jare? As ‘n mens die afgelope dertien jaar se statistiek in ag neem, het die meeste egskeidings in 2005 plaasgevind (met 32 484!) Die laagste skeisyfer was in 2011 met 20 980 gevalle.
In 2016 het die ouderdom van mans en vroue wanneer hulle skei onveranderd gebly – onderskeidelik 44 en 40 jaar. Die nuutste statistiek toon dat ‘n raps meer as die helfte van alle egskeidings deur vroue geinisieer word. En ongelukkig affekteer dit steeds die kinders van Suid-Afrika dramaties. Altesaam 55% van al 2016 se skeisake impakteer kinders onder die ouderdom van 18 jaar. En die effek van egskeiding op kinders is verreikend. Navorsing toon dat kinders uit geskeide gesinne meer geneig is om ‘n agterstand te hê op akademiese, gedrags-en psigologiese vlak.
Wanneer ras in ag geneem word, is bevind dat blanke mense se huwelike die kortste duur en dat 22.6% van blankes se huwelike skaars die vyfjaarmerk haal. Maar waar sowat 40% van alle egskeidings in 2003 onder die blanke bevolking was en 24,3% onder die swart bevolking, het dié situasie bykans omgekeer. In 2016 is 42% van alle geskeides swart Suid-Afrikaners en 24.8% is blank. Gedurende dié dertien-jaar periode ter sprake het die skeisyfer onder gekleurde en die Indies/Asiese groep min of meer onveranderlik gebly.
Toenemende egskeidings is ‘n wêreldwye tendens, met een Amerikaanse paartjie wat elke 13 sekondes skei. Maar dit is Suid-Afrikaanse statistiek wat ‘n mens onrustig stem.
Onder die 1979 Egskeidingswet word egskeiding op grond van drie redes toegestaan: 1. Die onherstelbare verbrokkeling van’n huwelik, 2. Ongeneeslike verstandelike siektes vir ‘n aaneenlopende periode van minstens twee jaar en 3. Aaneenlopende onbewustelikheid vir ‘n periode van minstens ses maande. Natuurlik is daar talle onderafdelings en is elke skeiverhaal meer kompleks as dit.
Volgens www.riette-oosthuizen-attorneys.co.za sluit redes vir die hoë skeisyfer die volgende in: Bemagtiging (vroue bly nie meer in ongelukkige huwelike of situasies waarin hulle mishandel word nie), rolverwarring (partye ervaar verwarring aangesien rolverdeling nie meer tradisioneel is nie), finansiele onafhanklikheid (vroue bly nie meer in ongelukkige huwelik ter wille van finansiele versorging nie omdat hulle onafhanklik in dié verband is), daar is minder stigmas (die samelewing, en ook familie, is meer verdraagsaam teenoor egskeiding as vroeer), verandering in die gemeenskap en in kultuur (mense streef onmiddelike bevrediging ná en die moderne samelewing se verbruikersmentaliteit maak van die huwelik ‘n slagoffer. Hier word ook aangevoer dat mense deesdae later kinders kry en daarom nie die druk voel van wat egskeiding aan hul kinders gaan doen nie.
‘n Studie wat deur Pew Research in 2014 gedoen is, het getoon 40% van Suid-Afrikaners steeds ‘n morele stryd met egskeiding het, maar steeds het dit nie ‘n positiewe effek op ons skeisyfer nie. Ook nie die feit dat egskeiding een van die stresvolste ervaringe ooit is nie. Volgens www.divorceattorneycapetown.co.za het dit ‘n omvattende impak op die verstandelike, emosionele en fisieke en psigologiese welstand van al die familielede wat daarby betrokke is. Daarom het elke party in ‘n huwelik ‘n gelyke verantwoordelikheid om aan die sukses van hul huwelik te werk, meen Wilmé. “As net een persoon in ‘n verhouding werk, gaan die ander een ongelukkig wees. Elkeen se behoeftes is geldig. Daarom is eerlikheid en onderhandeling die sleutel tot sukses.”
Wilmé meen dit is belangrik vir ‘n paartjie om te vra: “Wat is die doel van ons huwelik?” En om dan te doen wat nodig is om fokus op hierdie doelwit te behou. Deur eerstens aan onsself as individue en tweedens aan ons huwelike te werk.
Wanneer julle weer voor die volgende bult te staan kom, vra jouself af: Is dit waarlik die moeite werd om nou handoek in te gooi? Of kan julle sáám die bult oor? Die uitsig aan die ander kant is soveel beter…
Wilmé is tans in die buiteland werksaam, maar werk steeds in Suid-Afrika deur Skype-sessies. As jy met haar wil kontak maak, stuur ‘n epos aan Wilme5555@gmail.com
Addisionele bronne: www.statssa.gov.za; www.blog.instsantcheckmate.com; www.businesslive.co.za; www.divorcestatistics.org