Het julle iewers die konneksie verloor en slegte gewoontes gekweek? Raak ontslae daarvan deur opnuut ’n konneksie met mekaar te vestig. Dit is nie onmoontlik om weer in voeling met mekaar te kom nie. Ons wys jou hoe!
Jou kinders is uit die huis en jou nes is leeg. Skielik mis jy daardie geklap van ’n slaapkamerdeur waaroor jy so gepreek het. Jy verlang na die wasgoed op die badkamervloer en om na jou gunsteling-koekies in die kas te soek – net om te ontdek dat dit reeds verorber is!
Jou fokus verskuif. Skielik is jou kinders nie meer daar om al jou aandag op te eis nie en jou maat speel weer die hoofrol, maar dit is effens ongemaklik, want iewers langs die pad het julle ontkoppel . . . en jy weet nie presies hoe om weer daardie konneksie te hervestig nie. Ons wys jou hoe om weer by jou maat aan te sluit – op vyf vlakke.
Vir ’n emosionele heraansluiting
1. Moenie toelaat dat die spasie groei nie. Dis normaal om soms ’n bietjie verby mekaar te leef. En dit is ook normaal om jou ruimte te wil hê wanneer onmin tussen julle broei, maar moenie toelaat dat dit té lank draal nie. Steek die stilstuipe in jou sak.
2. Weet hoe, waar en wanneer om berou te toon. Het jy jou maat skerp gekritiseer, ’n onnodige bakleiery begin of haar verjaardag vergeet? Sê jy is jammer. En as dit vir jou moeilik is om daardie woorde te uiter, sê vir jou maat dat die woorde in jou keel bly vassteek. Só weet jou maat jy het berou.
3. Moenie gevaarlike speletjies speel nie. As julle baklei en jy brand om jou maat te dreig, skuldig te laat voel of voor ’n ultimatum te stel, weerhou jouself hiervan. Dit is negatiewe emosies waarvan die uiteinde meer skadelik is as goed.
Vir ’n geestelike heraansluiting
1. Gesels oor die groot vrae! Praat met jou maat oor hoekom ons op aarde is, wat jy dink God se lewensdoel met jul huwelik is, hoe die Hiernamaals lyk, die gebede wat al deur God beantwoord is. Moenie bang wees om diep te delf nie – nie net sal dit jou nuwe insig oor jou eie geloof gee nie, maar dit sal jou ook help om jou maat en sy/haar manier van glo beter te verstaan.
2. Neem saam ’n stap in geloof! Is daar iets wat julle nog altyd wou waag, maar te bang was om te doen? Tiffany Fletcher sê op Familyshare.com: “Soos wat ’n paartjie uittree in onsekerheid, met niks anders nie as hul geloof in God en hul vertroue in mekaar, leer hulle om in geloof te stap en kan hulle ontdek dat enigiets moontlik is.” Sy sê ook: “Daar is geen beter manier om spiritueel te herkonnekteer met jou maat as om jul geloof te kombineer en ’n wonderwerk in jou lewe te skep vir die verbetering van jou huwelik en gesinslewe nie.”
3. Gee mekaar grasie. Onthou, julle is twee individue, elkeen op ’n afsonderlike pad van geloof. Dalk is julle nie nou op presies dieselfde plek wat jul geloof aanbetref nie. Net soos wat God sy genade teenoor jou betoon, wees ook genadig met jou maat om op sy eie tyd en pas te groei – ook op die manier wat vir hom natuurlik kom. Wees geduldig en ondersteunend.
Vir ’n intellektuele heraansluiting
1. Wanneer laas het julle oor die toekoms gepraat? Die toekoms waaroor julle destyds gepraat het, is dalk nou hier en dit lyk heel anders as wat julle julself voorgeneem het. Julle het nou die tyd – gaan sit saam in ’n koffiewinkel en gesels oor jul doelwitte vir die jaar wat gesondheid, opvoeding, politiek, besigheid en geldsake aanbetref.
2. Kuier gereeld saam en vra jou maat die volgende vrae:
– Wat dink jy is ’n goeie belegging vir ons huwelik hierdie jaar?
– Wat bring vir jou plesier in ons huwelik?
– Wat dink jy is beter as aardskuddende seks in ’n huwelik?
3. Bly nuuskierig oor jou maat. Vergeet van die normale vrae wat julle elke dag vir mekaar vra, soos “Hoe was jou dag?”, en vra eerder vrae met ’n oop einde wat julle ’n bietjie laat dink.
• Wat het jy vandag gedoen wat vir jou lekker was?
• Hoe gaan dit met die nuwe aanstelling by die werk?
• Wat dink jy van Hettie-hulle se besluit om Nieu-Seeland toe te trek?
• Hoe dink jy gaan dinge uitdraai met so-en-so se bedrogsaak?
Wys jou maat dat jy werklik in hom/haar belangstel.
Vir ’n fisieke heraansluiting
Vir jou en jou maat om fisiek met mekaar te herkonnekteer, het julle nodig om tyd saam te bestee en waarlik in jul volle wese teenwoordig te wees.
1. Gee mekaar gereeld behoorlike masserings. Leer die waarde van ’n sensuele massering, maar maak hiervan ’n daad wat jy uit liefde doen, met diensbaarheid, eerder as ’n middel tot ’n doel.
2. Slaap in jul geboortepakkies. ’n Onlangse studie toon dat paartjies wat kaal saam slaap meer bevrediging in hul sekslewe het. En selfs al gebeur daar niks op die aande wat julle só slaap nie, is die vel-teen-vel fisieke kontak goed vir julle – ook op ’n emosionele vlak.
3. Wees bewus van jou maat se styl wat fisieke kontak aanbetref. Onthou, almal is nie ewe fisiek nie. Terwyl sommige mense gedy op fisieke nabyheid en aanraking, voel ander “oorgestimuleer” daardeur. Jy hoef nie hande vas te hou, jou maat te soen of styf teen hom/haar te sit om fisiek te herkonnekteer nie. Gebruik lyftaal (die klank van jou stem) of gesigsuitdrukkings (soos ’n spesifieke glimlag wat net hy/sy verstaan).
Vir ’n seksuele heraansluiting
1. Om opnuut ’n seksuele konneksie op te bou, begin deur te flankeer. Dalk het jy dit só lanklaas gedoen dat jy skoon ongemaklik voel of dat jou maat onkant betrap word hierdeur, maar hoe meer jy “oefen”, hoe makliker gaan dit raak.
2. Inisieer seks as jy nie die een is wat dit gewoonlik doen nie. Deur seks te inisieer, sê jy vir jou maat dat jy bereid is om jouself broos te maak en bloot te lê ter wille van intimiteit. Jy kommunikeer ook dat jy jou maat begeer – elkeen wil begeerlik voel.
3. Gee jou maat ’n bederfsessie. Dit beteken dat julle beurte maak om mekaar ’n spesifieke hoeveelheid tyd te gee (’n halfuur of ’n uur) sonder om iets terug te verwag. Deur dit te doen, sê die verhoudingsafrigter Jordan Gray op sy webtuiste, oefen julle om terselfdertyd onselfsugtig te wees én te vra vir wat jy wil hê.
Om van mekaar afgesluit te wees, kan die paniek in jou laat groei. Weet egter dat dit omkeerbaar is, al voel dit dalk nie so nie. Dit verg meestal klein gebare (wat uit waagmoed gebore word) om groot veranderinge in jou verhouding te sien. Begin vars – julle verdien dit.
Artikel deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.crosswalk.com, www.psychologytoday.com, www.hitchedmag.com, ourpeacefulfamily.com, “Emotional intimacy: A comprehensive guide for connecting with the power of your emotions” deur Robert Augustus Masters.