In dié artikel gee ons jou inspirasie vir romantiese maar eenvoudige projekte wat jy sommer self kan aanpak om jou huis mooi te maak of jou maat mee te bederf.
Ons leef in ’n tyd waarin jy amper enigiets kan aanskaf, maar álles jou geld kos. Skielik raak tuisgemaakte geskenke en produkte kosbaar en spesiaal, nie net omdat vaardighede en crafts deesdae so skaars is nie, maar omdat jy jou kosbare tyd (waarvan ons almal deesdae min het) en moeite daaraan bestee.
INTIEM bring dus hiermee (op aanvraag van ons lesers) die doen-dit-self afdeling terug, waar jy inspirasie kan kry vir hoe om romantiese projekte met ’n knap begroting te uit te voer.
Skep ’n liefdesbottel
Neem ’n glasbottel en bind ’n lint daarom. Neem nou ’n swartbordplakker en plak dit bo-op die prop van die glasbottel. Skryf “liefdesbottel” bo-op. Neem nou mooi papier of karton en sny dit in vierkante van sowat 10 x 10cm, en skryf ’n mooi liefdesboodskappie of nota op elk hiervan.
Rol elkeen in ’n papierrol en plak dit toe met ’n plakker. Plaas die papierrolletjies saam met lekkers in die bottel. Wanneer jou maat ’n bietjie liefde of ’n opkikker nodig het, kan hy ’n papierrolletjie en lekker uit die fles haal.
Aarbeiharte
Sny aarbeie amper middeldeur sodat dit net-net steeds geheg is. Plaas op bakpapier. Giet gesmelte sjokolade bo-oor die aarbeie (plat kant na onder) en jy het die mooiste aarbeiharte.
’n Bedpret-lotery
Wat van ’n oulike krapkaartjie waarmee manlief sy kans kan waag om een van drie lekker bederwe in die slaapkamer te wen? Neem ’n A5-kaartjie of stukkie karton. Tik of skryf bo-aan: “Jou bedpret-lotery.” Tik of skryf ook ’n afsonderlike kaartjie met die instruksies: “Dis jou gelukkige dag! Hier is drie kanse op groot pret. Elke week mag jy een van die blokkies oopkrap om te kyk wat is jou prys!”
Neem nou weer die A5-kaartjie en teken drie harte (sowat 5cm x 5cm) langs mekaar. Skryf drie “gunsies” neer – een in elke hart. Byvoorbeeld: “’n Uurlange sensuele massering”, “’n Ontkleedans in ons slaapkamer” en “’n Blinddoek-ervaring”. Verf nou elke hart toe met die volgende mengsel: Twee dele akrielverf (ewe veel swart, wit en silwer, gemeng) en een deel skottelgoedseep. Siedaar – manlief se eie krapkaart!
Maak jul kampeerplek romanties
Is julle happy campers? Wanneer ’n mens weggaan vir ’n kampeervakansie, veral wanneer jy dit op ’n spesiale tyd doen (soos gedurende ’n huweliksherdenking), is dit ’n goeie idee om jou kampplek so romanties as moontlik in te rig.
Wat van ’n tuisgemaakte kandelaar? Neem ’n hula-hoop en draai ou stroke lap (soos ongebleikte linne) rondom om die hula-hoop heeltemal te bedek. Neem nou stroke lint van kant (sowat ’n meter lank) en maak sowat vyf stroke vas op verskillende plekke van die hula-hoop sodat almal bymekaargemaak kan word op een punt. Draai ’n string of twee battery-aangedrewe feetjieliggies om die hula-hoop en siedaar! Jou eie hang-kandelaar wat jy in jul tent of buite jul karavaan kan hang vir ’n romantiese atmosfeer.
Die muntstuk-afspraak
Kry ’n muntstuk uit jou beursie. Vra vir manlief om ’n getal tussen tien en 20 te kies (dit is die hoeveelheid kere wat julle die muntstuk sal opskiet). Ry tot in die hoofstraat. “Kop” is gelyk aan “draai regs” en “stert” is gelyk aan “draai links”. Ry blindelings en skiet die muntstuk op om jul roete te bepaal. As manlief byvoorbeeld 17 gekies het, kom jul roete by die 17de draai tot ’n einde.
Hou stil in hierdie straat – dis waar julle jul afspraak gaan hê! Hier moet julle ’n bietjie kreatiwiteit aan die dag lê. As hier slegs ’n garage in die straat is, koop Twinky’s en koffie vir ’n koffie-date. As daar ’n tweedehandse winkel is, snuffel daardeur terwyl julle ou klere aanpas en as daar ’n parkie is, gaan speel soos kinders. Maar, vir ingeval julle in ’n woonbuurt tot stilstand kom, hou twee glase en ’n bottel sjampanje byderhand vir ’n romantiese afspraak – sommer net daar in die kar!
Addisionele bronne: youtube.com, pinterest.com.
Artikel deur Annelize Steyn