Die een oomblik sit jy en manlief nog oor ‘n draai-roomys en gesels oor baba-name en die volgende oomblik kan jy ‘n speld hoor val in die ongemaklike stilte van jul saamwees. Pasop vir dié vier gevaarsones wat jou huwelik soos ‘n dief in die nag kan bekruip…

Spreuke 22:3 (NLV) sê: “Iemand wat verstandig is, sien wanneer die onheil kom en kruip weg. Die onervare mens loop oop-oë daarin vas en boet daarvoor.” Daarom is dit noodsaaklik vir jou en jou maat om wakker te wees vir gevaartekens wat daarop kan dui dat jul huwelik bedreig word.

GEVAARSONE #1: Julle is nie meer beste vriende nie…
Julle kon ‘n hond uit ‘n bos gesels. Julle kon op die bed lê, sommer net … grondboontjies in mekaar se monde gooi en klets oor allerlei nonsens. En nou, is die woorde weg. Julle praat oor noodsaaklikhede en klink meer soos kollegas as huweliksmaats.

Julle bespreek jul kind se na-skool-aktiwiteite en die reëlings rondom die kuier by jou swaer. Jy vra hom om chloor vir die swembad te kry en hy bedank jou vir afspraak wat jy vir sy motor gemaak het. Formeel. Styf. Koud. Wanneer daar ‘n kunsmatige stilte tussen julle heers, moet jy die situasie so gou moontlik omkeer. ‘n Goeie, diepgewortelde vriendskap is absoluut noodsaaklik vir ‘n huwelik om te kan werk.

Promosie

Hoe maak jy? As julle die laaste tyd in dié sone beweeg, gesels met jou maat oor jou bekommernis. Dit is dalk tyd vir julle om die horlosie terug te draai, en daadwerklik te dink oor hoe anders jul huwelik was. Kyk foto-albums deur, hervestig ou rituele wat julle gehad het toe julle net getroud was. Begin gesels – oor enigiets. Al klink dit oppervlakkig. Begin net praat oor dít wat rondom julle aangaan, sonder om te klink of julle ‘n besigheid bestuur.

GEVAARSONE #2: Julle is nét beste vriende
Die ‘flipside’ van bogenoemde is dat julle in die vriendskapsone in beweeg het. Hoewel dit beslis één dimensie van jul verhouding moet wees en dit wonderlike voordele kan inhou vir julle verhouding, is die gevaar van die vriendskapsone dat die vonk verlore kan raak. Ja, julle is ‘n mean team.

Elkeen ken sy rol in die huishouding. Hý sny die vleis solank terwyl jy die slaai maak. Hy gaan haal die kinders by die skool terwyl jy gou die laaste inkopies vir die braai by vriende kry. Julle voltooi mekaar se sinne en borsel saam tande. Alles verloop seepglad….

Tot dit nie meer seepglad verloop nie. Die verleiding is weg, die misterie is weg en al wat oorbly is die oppervlakkige huismaats-verhouding. Onthou, jy het baie vriende, maar net een huweliksmaat. Daardie maat moet spesiaal voel. Dit is waar liefde, begeerte en passie inkom.

Hoe maak jy? Beweeg uit die ‘friend zone!’ Gaan op ‘n date met reëls. Ja, dis reg! Geen geselsies oor die huishouding nie, geen gesprekke oor die kinders nie. Julle moet iets sexy dra en daar moet beslis die vooruitsig van ‘n warm nagereg wees (in die slaapkamer!). Sodra hierdie date night verby is, skeduleer jul volgende een en maak dit ‘n gereelde instelling.

GEVAARSONE #3: Daar is nie werklik erg aan spiritualiteit nie
Ja, in die begin het julle so nou en dan saam kerk toe gegaan, maar nou dat die kinders daar is, maak die moederskamer-situasie nie meer sin nie. En ja, jy bid vir jou huwelik (ook so nou en dan) maar julle glo dat geloof iets is wat privaat is en julle praat nie regtig daaroor nie. Groot gevaarsone!

Op www.covenentkeepers.org skryf Steve Carr dat dit gevaarlik is om van geloof ‘n bysaak te maak, omdat dit ‘n effek het op elke ander aspek van jul huwelik. Julle is, ná alles, een vlees, maar om daardie volheid te bereik moet julle spirituele ‘fellowship’ met mekaar hê. En vir julle huwelik om te werk, moet elk van julle vasstaan in jul verhouding met jul Skepper. Dis ononderhandelbaar!

Steve skryf: “Sonder ‘n persoonlike verhouding met Christus, sal julle die bemagtigende krag van die Heilige Gees kortkom wat julle daartoe in staat stel om mekaar lief te hê en vir mekaar opofferings te maak.”

Hoe maak jy? Vra die Here vir ‘n gewillige hart. Ja, geloof is persoonlik en jy het jou eie, unieke verhouding met God. Maak egter seker dat hierdie verhouding prioriteit geniet en wend ook ‘n poging aan om sáám met jou maat te aanbid. Bid vir spesifieke aspekte van jul huwelik en bid vir spesifieke versoeke rakende jou lewensmaat.

GEVAARSONE #4: Julle is opponente in plaas van spanmaats
Dit is een van dié gevaarlikste sones waarin julle kan beweeg en gewoonlik gebeur dit met ‘n paartjie wat pas getroud is (na elke party lank hul eie ding gedoen het) of met ‘n paartjie wie se harte hard teenoor mekaar geraak het of wat in ‘n groef van verkeerde gewoontes verval het.

Is jy en jou maat voortdurend in kompetisie met mekaar? Baklei julle oor dissiplinerings-metodes en wie die laaste sê gaan hê? Praat jy lelik met jou maat voor jou kinders? Dan is julle waarskynlik in ‘n magstryd betrokke. Dis baie gevaarlik! Julle veg vir beheer en kyk die ware doel van die huwelik (eenheid) mis. Julle is geroep om sáám te werk, nie teen mekaar nie. En wanneer mag-spel ter sprake is, beskadig dit die vertrouensvlak wat tussen julle behoort te heers.

Hoe maak jy? Bestudeer die konsep van wedersydse onderdanigheid. Elke keer wanneer julle baklei, evalueer jul rede en doel met hierdie geveg. Is dit sodat jy kan wen? Of sodat jul huwelik kan wen? As ‘n magspel reeds lank deel van jul huwelik is, is dit die moeite werd om ‘n terapeut te gaan sien om julle te help om van hierdie gewoontes te breek.

Natuurlik is daar nog talle gevaarsones waarin julle as ‘n paartjie kan beweeg. Dit sluit kommunikasie-flaters en blootstelling aan verleiding in. Maar dié sones kan baie van ons onverhoeds betrap. Leef bewustelik en wees te alle tye bewus van jul huwelik se ondertoon, sodat julle dadelik kan retireer sodra julle ‘n gevaarsone betree!

Artikel deur Annelize Steyn

***

MARRIAGE CAPSULE METHOD: 7 STAPPE TOT ‘N HUWELIK WAT HOU! INTIEM SE BESTE PRODUK OOIT! Kliek hier!