Hy is tien jaar jou junior, maar die liefde laat hom mos nie voorskryf nie. Het ‘n verhouding waarin die Eva heelwat ouer as die Adam is, ‘n kans op sukses en hoe laat jy dit werk?
Het jy al ’n paartjie gesien en verbaas gedink: “Sy kon sy má gewees het?”. Waarskynlik. Daar is talle huwelike in die wêreld waar ’n ouer vrou vir haar ’n toyboy nadergetrek het, of ná ’n suksesvolle ontmoeting toevallig uitgevind het dat sy ’n paar jaar haar minnaar se senior is. Meer algemeen is die ou-bok-jong-blaar-scenario. Húlle moet weer hoor: “Sy’t seker net met hom getrou vir sy geld!”. Tog, talle van hierdie verhoudings, hoe onwaarskynlik dit ook mag voorkom, deurstaan die toets van die tyd … Kan dit werk?
Waarom is daar verhoudings waarin die ouderderomsverskille so groot is?
Dr. Joyce Brothers, ’n Amerikaanse sielkundige en ‘agony aunt’ verklaar hierdie ouderdomsverskynsel soos volg: “Die jong man word tot die ouer vrou aangetrek, waarskynlik vanweë haar selfversekerdheid, haar sosiale grasie en haar kontakte. Sy het ’n glans wat hy nog nie verkry het nie,” verduidelik sy. “Sy weer, kan aangetrek word deur hul gesamentlike strewe – in hierdie geval Hollywood, of dalk sy geesdriftigheid en sy vars manier om na die wêreld te kyk.”
Hoe dit ook al sy, in Hollywood verskil die realiteit dramaties van die ‘regte lewe’. Soms gebeur dit dat mense mekaar bloot ontmoet en agterkom dat hulle baie goed oor die weg kom. Sommige 20-jariges is volwasse vir hul ouderdom en sal veel eerder saam met ’n ouer lewensmaat sit en boek lees, as om saam met vriende klub toe te gaan. So is daar ook vroue in hul 40s wat ’n Saterdagaandbraai vervelig vind en veel eerder blink toppies en hoëhakskoene wil aantrek om te gaan boogie!
Soms maak dit sin
Baie mense meen dat die som van ’n ouer vrou en ’n jonger man meer sin maak as verhoudings wat deur die die samelewing voorgeskryf word, aangesien ’n vrou se seksuele piek heelwat later in haar lewe is. Sy en ’n jonger man is seksueel dus beter op mekaar ingestel as sy en iemand van haar ouderdom.
Dit gebeur al hoe meer dat ouer vroue jonger mans uitsoek, omdat albei geslagte langer aktief, lewenslustig en gesond bly, en die ouer maat hom/haar nie meer daaroor hoef te bekommer om die ouer persoon jare lank te versorg nie.
In Kammaland is verhoudings met groot ouderdomsverskille ’n gewilde fliektema, soos byvoorbeeld in The Graduate, Something’s Gotta Give, Prime en How Stella Got Her Groove Back.
In die ‘regte wêreld’
Tim Robbins en Susan Sarandon se liefde het al meer as twee dekades deurstaan, ongeag die feit dat hy 12 jaar jonger as sy is. Julianne Moore is met Bart Freundlich (nege jaar haar junior) getroud; Geena Davis met Reza Jarrahy (11 jaar haar junior), en Ralph Fiennes het jare lank met Francesca Annis (19 jaar sy senior) uitgegaan.
Lisa en Eduan, twee Pretorianers, is ’n Suid-Afrikaanse voorbeeld van hierdie scenario. “Ons het mekaar ontmoet toe ’n gemeenskaplike vriend vir my kom kuier en Eduan saamgekom het. Ek het gedink: ‘Wat ’n oulike ou!’, maar ons het albei besluit dat ons nie ‘bymekaar gebring’ wil word nie. ’n Week later het ons in ’n groep uitgegaan. Eduan het my heeltyd laat lag. Hy het uitgevind dat ek mal daaroor is om pastageregte te maak en het my grappenderwys gevra om te trou. Ek het gevra hoe oud hy is, en hy het gesê hy is 24. Ek was 30 … en het effens aan skok gely!”
Hul skedules het net daarvoor voorsiening gemaak dat hulle middernag met mekaar oor die telefoon kon gesels.
Hulle het vir ure gesels en die ouerderdomsverskil was nooit ’n probleem nie …
Vandag is die paartjie steeds dolgelukkig saam. “Soms voel ek ’n bietjie ouer as die ander in die groep, maar dit is ’n vlietende gevoel. Dit is gewoonlik wanneer ek musiek, flieks en opvoerings herken waarvan my vriende nie weet nie. Ek dink nie huweliksgeluk het enigiets met ouderdom te doen nie, dit gaan eerder oor hoe goed jy jou maat ken.”
Klein jakkalsies word groot
Dit kan dus beslis werk – daar is geen twyfel nie, maar daar is ook gevalle waar ’n paartjie nié so gelukkig soos Lisa en Eduan is nie. Ouderdomsverskille raak gewoonlik eers ’n probleem wanneer die paartjie lank getroud is. Wanneer mense trou, oorweeg hulle nie altyd die langtermyngevolge van hul besluite nie. Die jong vrou wat byvoorbeeld met ’n ouer man trou, dink nie daaraan dat ’n tien jaar verskil groot is nie, omdat sy deur die liefde verblind is, maar ná tien jaar, wanneer hy nie meer daartoe in staat is om dinge te doen wat sy geniet nie, en op sy kierie moet steun terwyl sy inkopies doen, word die ouderdomsverskil skerper verlig. ’n
Ouer man kan ook dink dat sy jeugdige vroutjie prettig en aantreklik is, maar die feit dat sy dink ‘n sekere popgroep is “so nóú”, en nie ’n idee het wie die hooflid van die Rolling Stones is nie, kan tot simpel argumente lei.
Soms is die verskille nie so eenvoudig nie en lei verskillende waardes en idees tot groot probleme. Die ouer huweliksmaat wil byvoorbeeld vir aftrede begin spaar, terwyl die jonger persoon eerder geld op reis, vermaak en ’n nuwe huis wil bestee. Baie mense is ook al diep seergemaak as hulle eers ná die troumars ontdek dat hul ouer huweliksmaat (wat reeds drie kinders uit ’n vorige huwelik deur universiteit gesien het), nie vir ’n nuwe pienkvoet in die huis kans sien nie.
Ontrouheid kan ’n probleem wees
Outeur en ontrouheidskenner, Ruth Houston, meen een van die grootste gevare by ekstreme ouderdomsverskille tussen mans en vroue is dat dit tot ontrouheid kan lei.
Volgens Ruth, die outeur van Is He Cheating on You, is die grootste gevaar in huwelike waar daar ’n ouderdomsverskil van 15 tot 20 jaar of meer is, dat daar in ’n stadium ’n onversoenbaarheid tussen die seksdrange van die twee betrokke mense kan wees. Die verskil kan ’n bydraende rede vir ontrouheid wees, aangesien dit die een party daartoe kan dryf om seksuele vervulling buite die primêre verhouding te gaan soek.
Volgens haar kan morele waardes en nietighede, soos uiteenlopende smake in musiek, lees of vermaak ook daartoe lei dat die paartjie, vanweë die ‘generasiegaping’, nie daarin kan slaag om sinvol met mekaar te kommunikeer nie. As een party iemand van sy of haar eie ouderdomsgroep begin opsoek, omdat hulle meer in gemeen het, kan dit tot probleme lei, veral as daardie persoon van die teenoorgestelde geslag is, meen Ruth. “’n Vrou moet goed dink voordat sy ’n verhouding met ’n man aanknoop wat aansienlik jonger as sy is. Hoe groter die ouderdomsverskil, hoe groter die risiko vir ontrouheid.” Indien jy in so ’n verhouding staan, beveel sy aan dat jy die tekens van ontrouheid moet leer ken. “Hou die kommunikasielyne oop. As jy ervaar dat daar afstand tussen julle ontwikkel, of as jy moontlike tekens van ontrouheid opmerk, praat dinge uit, sodat julle jul huwelik op die regte spoor kan hou.”
Hou jul huwelik só op die regte pad
Soek na dinge om soms saam en soms afsonderlik te doen. As daar byvoorbeeld ’n plaaslike klub is wat aktiwiteite aanbied waarin julle albei belangstel, gaan saam soontoe. Julle kan ook byvoorbeeld ooreenkom om een week iets te doen waarvan jou maat hou, en die volgende week iets waarvan jy hou. Soms gaan dans hy saam met jou, en ander tye gaan fliek jy weer saam met hom.
Kry ’n stokperdjie waarvan julle albei hou en wat julle saam kan beoefen. Een van die grootste gevare is om die frustrasie te laat opbou wanneer jul ouderdomsverskil ’n probleem raak.
Dit is ’n probleem as die jonger maat voel dat die ouer maat hom oud voor sy tyd maak. Kommunikeer jou behoeftes aan jou maat. Om die kwessies te ignoreer, gaan dit nie laat verdwyn nie.
Dit is moontlik om ’n huwelik waarin die ouderdomsverskil groot is, te laat werk. Jy moet net van die gevare bewus wees en doelbewuste besluite neem om jou maat tegemoet te kom, sodat die ouderdomsverskil nie ’n tameletjie word nie.
Addisionele bronne: http://happytogetherforever.com; http://www.bridalassociationofamerica.com; www.msnbc.msn.com; http://www.stbotanica.co.uk