Dit is een ding om jou onafhanklikheid te koester. Dit is ‘n ander ding om aparte lewens te lei. Bedreig jul leefstyl of jul omstandighede dalk jul intimiteit?
Ons almal ken die wit spasie. Soms is wit spasie op ‘n kunswerk presies wat die kunswerk sy wow-faktor gee het. Soms is asem skep nodig. Die ruspouse in ‘n musiekstuk. Die welkome stilte wat meer praat as woorde wanneer jy en jou maat met ‘n glas wyn ontspan. Maar… is daar dalk té veel hiervan tussen jou en manlief? Tot so ‘n mate dat julle emosioneel verwyderd van mekaar voel? Hier is agt waarskuwingsligte wat daarop dui dat jou en jou maat se intimiteit bedreig word:
1. Hy irriteer jou so bietjie, maar jy bly stil
Dit is goed om nie ‘n berg van ‘n molshoop te maak nie. Ons almal verval soms in die wip van konflikvermyding. En elke verhouding kan ‘n mate hiervan verduur, maar wees versigtig. As jy té lank stilbly, sneeubal jul probleem só dat dit die gevaar loop om onhanteerbaar groot te word. As jou maat jou kwaad maak, frustreer of irriteer, sê dit gouer eerder as later. Om konflik te vermy kan vinnig ‘n gewoonte raak wat intimiteitsprobleme kan veroorsaak as dit nie aangespreek word nie.
2. Ek hap jou hier, jy hap my daar en siedaar
Julle sit met ‘n probleem. Om byterig teenoor mekaar op te tree is onvolwasse. Dit beteken julle sien nie kans om werklik te luister en teenwoordig en gekonnekteerd teenoor en met mekaar op te tree nie. Dit is ‘n doellose oefening en albei voel asof die ander party hulle nie hoor nie. Kort-voor-lank ontstaan ‘n groot oorlog en dit is nié goed vir emosionele intimiteit nie.
3. Julle baklei oor dieselfde goed
Argumentering is ‘n teken van ‘n gesonde huwelik, maar as julle oor en oor oor dieselfde dinge baklei, beteken dit dat julle nie ‘n oplossing kan vind nie en sukkel om ‘n kompromie te bereik. As dit die geval is, is ‘n onafhanklike derde party (soos ‘n terapeut) nodig om julle oor hierdie huwelikshobbel te help.
4. Julle ken nie jul grense nie
Elke paartjie ken mekaar se limiete, daardie grense wat jy nie durf oorsteek nie. Maar dinge raak gevaarlik wanneer paartjies hulself die reg toe-eien om daardie grense te oorskry in ‘n poging om hul maat regtig seer te maak. As julle vreesloos baklei, is dit belangrik om paartjie-terapie te oorweeg, sodat julle mekaar nie meer intensioneel seermaak nie.
5. Seks raak die uitsondering
Seks is een van die wonderlikste middels om die afstand tussen ‘n paartjie te verminder. Daar is tye wat seks meer van ‘n uitsondering as ‘n reël raak, soos wanneer ‘n vrou swanger is, of ‘n paartjie se kinders klein is, maar duur hierdie patroon voort, kan dit groot skade veroorsaak. ‘n Paartjie verval gou in ‘n slegte gewoonte wat kan bydra tot ontrouheid of egskeiding te wyte aan die emosionele afstand wat tussen ‘n paartjie heers.
6. Julle word saaklik
Voor jy jou oë uitvee, tref jy en jou maat net reëlings. Wat gebeur die naweek, wie besorg die kinders by hul aktiwiteite, wie betaal watter rekeninge? Alles draai rondom saaklikhede en skielik is daar nie meer tyd vir humor en speelsheid nie. ‘n Gedeelde grappie hier en daar, ‘n speelse klap op die boud of kielie op die bank – dit is wat die intimiteit lewendig hou.
7. Julle gesels bo-langs
Daar is baie stiltes. En wanneer daar nié stiltes is nie, gesels julle oor die weer en allerlei koeitjies en kalfies waaroor jy eintlik met ‘n kennis gesels. Om bo-langs te gesels is een van die grootste gevaartekens wat intimiteit aanbetref, want as julle nie meer kans sien om diep onderwerpe te bespreek nie, beteken dit daar is verwydering tussen julle. Julle hoef nie élke aand ‘n filosofiese gesprek te voer nie, maar behou die balans.
8. Jou maat verstaan jou nie
Dit is belangrik dat jy en jou maat op dieselfde golflengte moet funksioneer. Wees broos teenoor mekaar, kommunikeer genoeg, luister na jou maat se standpunte en bly nuuskierig oor die een met wie jy jou lewe deel. Die oomblik wat jy en jou maat oor klein goedjies begin baklei, ophou gesels (deels omdat jy voel dat jou maat nie jou standpunt gaan insien nie) en elkeen in jul verskillende rigtings beweeg, flikker die gevaarligte.
Intimiteit is ‘n kosbare kleinood wat soos goud in jou huwelik bewaar moet word. Maak seker jy en jou maat bly bewus van die status van jul huwelik wat intimiteit aan betref en herstel ‘n probleem vóór dit ‘n dilemma word.
Addisionele bronne: www.yourtango.com; www.marriage.com