Is dit moontlik om ‘n hele jaar lank, élke liewe dag seks te hê? Paartjies wat al ons seks-uitdagings aangepak het, sal hieroor verskil, maar die meeste kom ooreen – dis nie maklik nie! Ons staan egter verstom oor dié INTIEM-paartjie wat reeds op dag 459 van die uitdaging trek…

Promosie

Tom (44) werk by ‘n groot maatskappy as tegniese bestuurder. In sy vrye tyd werk hy graag met sy hande en doen dekoratiewe spuitverf-kuns (airbrushing). Hy het ook ‘n diepsee-boot en hulle geniet die buitelewe. Hulle kampeer graag. “Ons het ‘n karavaan waarmee ons gaan kamp en daar moet altyd water wees waar ek die boot kan lanseer om vis te gaan vang. Anna is baie oulik met die sleep-ding en sy sleep die karavaan al die pad af see toe, en ek dan die boot. Ek is ‘n perfeksionis en dit is soms moeilik om aan te pas by dinge wat nie eenhonderd persent reg is nie, maar ek het die wêreld se geduld en sal nooit opgee nie.”

Anna (43) het haar eie ontwikkelaar/ bou-onderneming.  Hulle bou lae-koste behuising en is betrokke by ander projekte waar nuwe ontwikkelings gebou word. Hulle besigheid is verlede jaar as die beste kontrakteurs-maatskappy in hul provinsie aangewys en sy is baie passievol oor haar werk. Tommie vertel trots dat sy vrou ‘n uitstekende organiseerder is. “Sy laat my soms verstom oor hoe sy al die ysters in die vuur hou. Sy laat my altyd soos ‘n koning voel en is emosioneel so stabiel. Sy is altyd sterk en skerp met besluitneming,”gesels hy. “Sy is ‘n helikopter-ma wat heeltyd bo die twee girls hover! Ons oudste is 19 en klein sus is 14 jaar oud.” Hy vertel dat sy die perfekte maat vir hom is. “Anna is alles wat enige man ooit kan begeer. As ma, besigheidsvrou en mý vrou. En natuurlik ook in die slaapkamer!”

Op haar beurt is Anna ewe trots op haar “Godvresende, hardwerkende man.” Hy is lief vir sy gesin en familie en eerlik en opreg, met ‘n sagte hart. Tom is fisiek, emosioneel en geestelik ‘n sterk man, maar hy is ook liefdevol. Hy is vir seker die sexyste man en beste minnaar ooit! My man is een van min woorde, maar baie dade. Ek weet dat hy my werklik liefhet. Hy is die mees veelsydige mens wat ek ken en kan die beste steak in die hele wêreld braai!”

Promosie

Wanneer sy oor hom gesels, is dit met bewondering oor veral sy inspirasie, liefde, ondersteuning en vermoë om balans te bring in chaos en moeilike tye. “Hy het die vermoë om objektief te bly en my te ondersteun.” Anna vertel dat hy ook ‘n wonderlike pa is en moeite doen om homself te versorg en dat daar niks is wat hy nié kan doen nie. “Wat my man so onweerstaanbaar maak is dat hy die prins of koning in ons huis is wat my soos ‘n prinses behandel. Hy is my beste vriend…”

Skool-liefde tot ewige liefde

As jy dink dat skool-liefde nie hou nie, dink weer. Tom en Anna het in dieselfde dorp grootgeword, maar was in verskillende laerskole. Aangesien die dorp net een hoërskool het, is dít waar hulle mekaar ontmoet het. In standerd ses en sewe het ek nie eers regtig van haar geweet nie. “Sy was maar ‘n regte koek en die laaities neem mos nie notisie van die koeke op skool nie,” terg hy en sy voeg by: “En koeke hou nie van wintie laaities nie!”

Teen die einde van standerd agt het hy haar een pouse saam met sy sussie by die aantree-blad sien staan en nader gestap om dié meisie uit te kyk. Hy was 17 jaar oud. “Ek het nogal van haar voorkoms gehou. Sy het ‘n bolla op haar kop gehad en dit het my geprikkel. Ons het begin gesels en ek het meer belangstelling getoon. Ek het ‘n paar keer tussendeur ook met ander meisies gekuier, maar kon net nie die vonk voel wat ek gevoel het wanneer ek vir Anna gesien het nie. So het die een ding tot die volgende gelei en ek het briefies begin skryf tot dit by my ore uitloop (Sy het vandag nog al die briewe). Ek was kunstig en het altyd die briewe met allerhande goedjies versier.”

Anna lag wanneer sy oor Thomas se voorkoms gesels. “Pienk skipants met pointer skoene en gekleurde veters was nou nie juis die in-ding nie. Maar dit was vir seker sy boude (hy het die mooiste boude in die wêreld) wat my oog gevang het. Eers was hy my beste vriend. Ek dink dit was die blom wat ek elke dag voor skool gekry het, wat my hart gesteel het…”

Tom val in: “Ek klop myself op die skouer hier. Ek was ‘n regte charmer en het seker gemaak ek hark hierdie girl nader. Hulle het toe oorkant ons in ‘n huis ingetrek en daar het ek vir die eerste keer by hulle gaan kuier – in die Februarie van my standerd nege jaar (sy was in standerd 8). Ek het ‘n splinternuwe motorfiets by my pa gekry. ‘n Honda MBX 50cc. Kyk, ek was toe die menéér, hoor!” lag hy. Toe hy die fiets gaan haal het, het hy heel eerste na Anna toe gery om te gaan af show. En dit het gewerk! Sy was beïndruk… maar het gevra wat hy nie wou hoor nie: “Mag ek ‘n draai met jou bike gaan ry?” Doodbang het hy ingestem. As sy fiets iets oorkom, sou sy pa hom laat les opsê. Maar hy wou die meisie nie verloor nie en het ingestem. Terwyl hy gou in die huis ingehardloop het, het sy al in die ronde in die tuin gery, maar toe hy uitkom, kon hy die skrik op haar gesig lees: “Die fiets lê in die blombedding! Darem ongedeerd!” het sy geroep. “Ons lag vandag nog daaroor!”

“So het ons verhouding net al hoe meer versterk en in April 1992 het ons begin uitgaan. Sedertdien is ons nog net so verlief soos daardie dag.”

Oor seks voor die huwelik

Hulle het wel voor die huwelik seks gehad, bieg Tom. “Ons het dit nog nooit met ons kinders gedeel nie, aangesien ons hulle wil aanspoor om nié voorhuwelikse seks te hê nie en as maagde te trou. ‘n Mens kan baie daaroor debateer, maar Bybels is dit nié reg nie. Daarom keur ek dit glad nie goed nie. Ek probeer om my twee girls te laat verstaan dat dit só ‘n spesiale oomblik en gebeurtenis tussen twee mense is, dat dit slegs mag gebeur as jy eenhonderd persent seker is dit is jou maatjie vir ewig.”

Hy was vasbeslote om nié oor die tou te trap nie en wanneer die vryery warm geraak het, het sy gewete hom gepla. Hy en Anna was albei maagde. “Die dag toe ek daardie keuse maak om haar te ontneem van haar maagdelikheid, het ek myself commit om met haar te trou – ek sou dit te alle koste doen. So ja, ons was seksueel aktief voor ons troue, maar beide van ons het saam ons maagdelikheid verloor en ek dink dit is ‘n groot voordeel vir enige huwelik en die gom wat dit aanmekaar hou. Ek wens so dat my dogters die voorreg mag hê om eendag as maagde te trou.”

Hulle ouers was streng en hulle het egter nie saamgebly voor hul huwelik nie (net per geleentheid!)

Twee maande verloof…

Op 17 November 1996 het Tom en Anna verloof geraak (die dag na haar verjaardag) en aangekondig dat hulle oor twee maande wil trou. “Almal het seker gedink ons het ‘n broodjie in die oond!” lag Tom.  In Januarie 1997 is hulle getroud en hulle het gaan wittebrood hou in die (destydse) Oos-Transvaal. Almal wat gewonder het oor die broodjie in die oond, se borrel is gebars en eers vyf jaar later is hul dogter gebore.

Elke jaar  vier hulle hul huweliksherdenking op vakansie by die see. “Dan doen ek en Anna en die twee girls iets spesiaals. Ons voel dat hulle deel is van ons huwelik en dat hulle daarom moet deel wees van ons spesiale dag. So, ek gaan vang nié vis op daardie dag nie!”

Hulle vertel dat hulle saam besluit het om jonk te trou, maar nie gou kinders te hê nie. “Ons het geen verantwoordelikhede gehad, behalwe om te oorleef nie. Ons het lekker vakansies gehou en die mooiste plekke in ons land besoek.” Anna voeg by: ‘Ons het mekaar goed leer ken op emosionele en seksuele vlak. Dit was die beste tyd van ons lewens en ons kon (en het!) vir seker van liefde en water geleef. Elkeen het mos maar sy of haar eie idee van hoe die huwelik moet werk. Ek het gou agtergekom dat ‘n mens nie met twee sweetpakbroeke, drie truie en ‘n kleinbroekie mag slaap nie. Dan word jy glo die slaapkamer verban!” lag sy. “Ons sekslewe was nog altyd fantasties.”

Die uitdagings wat ons al moes trotseer

Tom is ‘n self-erkende werkoholis en het hom altyd met los projekte besig gehou. Een van sy passies is om karre te restoureer en mooi te maak.

Hulle lewens was ongekompliseerd en lekker as jong getroudes, maar na drie jaar het hulle probeer swanger raak. Dit het nie gewerk nie…  Hulle is dokter toe en daar is vasgestel dat Tom slegs 20% aktiewe spermselle het.

Toe hul eerste dogter wel wonder bo wonder gebore is, was dit die beste gebeurtenis ooit. Hulle het nie vooraf geweet wat haar geslag sou wees nie. “Toe baba uitkom en ek sien dit is ‘n dogtertjie was ek só bly. Ek wou nog altyd dogters gehad het en die Here het dit behaag dat ek net twee dogters het. Ek is ‘n girlie-pappa!” Maar daar was komplikasies met ons eersteling  se hart…”

“Ons het eers op tweejarige ouderdom uitgevind sy het Noonan sindroom. Dit was vir seker die moeilikste tyd in ons lewens. Die onsekerheid…” vertel Anna. “Sy was in daardie stadium maar die tweede geval in Suid-Afrika. Noonan was nie aan ons bekend nie en die inligting op die internet in daardie stadium was maar min.” Verstandelik is daar niks met haar verkeerd nie, maar sy het wel fisieke komplikasies gehad, soos laer oortjies, ‘n ogie wat hang, ‘n linker hartkamer wat nie mooi ontwikkel is nie en ‘n ingeduikte borsie. Sy was ook nog altyd bitter kort.”

Tom vertel:  “Tot op vyf jarige ouderdom het sy áltyd ‘n oppasser gehad. Sy het by ons in die kamer geslaap tot sy ses was, omdat sy so siek was. Haar longe was baie swak en sy was hiper-allergies vir eier. Ek het vir ‘n haar ‘n klein bed gebou wat langs my kant van die bed gestaan het en ons het haar nagte lank opgepas.” Sy het ook baie tyd in die hospitaal deurgebring. Anna voeg by: “Ek besef vandag dat ek my man afgeskeep het. Geen kind behoort by ouers in ‘n slaapkamer te slaap nie.” Dit was ‘n moeilike tyd, maar hulle kon die druk absorbeer.

Finansieel het dit ook nie altyd goed gegaan nie, maar hulle kon die mas opkom en het nooit ‘n sent geleen nie. Hulle het besluit om ousus vol selfvertroue groot te maak. En toe kleinsus kom (met die Here se beplanning), het hul lewens normaliseer. “Ons is so geseënd.”

Die hoogtepunt in hul huwelik was beslis hul dogters se geboortes.

Daar was uitdagings, laagtepunte… Anna is ‘n epilepsie-lyer. Haar medikasie laat haar gewig optel. Voor haar troue het sy haar dokter gevra of sy haar medikasie kon staak, aangesien sy vir vyf jaar nie ‘n aanval gehad het nie. Hy het ingestem.

Maar Tom onthou die aand toe sy, drie maande na hul troue, vyftien aanvalle in een nag gekry het.  Hy het telefoonhokkie toe gehardloop om haar ma te bel om te kom help en daar gekom, het iemand die draad afgesny.  Hy het haar van hul woonstel op die derde verdieping af gedra en in daardie stadium het sy reeds gedeeltes van haar tong afgebyt. Dit het ‘n jaar geneem om haar epilepsie weer onder beheer te bring en sy sal die res van haar lewe op medikasie moet bly, maar vir die afgelope 21 jaar het sy nog nie weer ‘n aanval gekry nie.

Ons verhoudingsgroei vóór die INTIEM-uitdaging

Anna het nooit ‘n uitgawe van INTIEM gemis nie. Anna het die eerste uitgawe in 2006 met vakansie gekoop en daarna was hulle intekenare. “So het dit ook maar uit verveling aan Tom afgesmeer om die tydskrif deur te blaai. Hy het op die 30 Dae Seksuitdaging afgekom en Tom het die opskrif hardop gelees en kliphard gelag. Gesê dat dit ‘n klomp gemors is en dat hy 95% van die boek se inligting glo, maar nie saamstem met dié artikel nie.

“Weet jy hoe lank is 30 dae? Elke aand seks? Geen man sal dit maak nie, ek gee nie om wat mense sê nie. Ek sê jou, dit sál nie gebeur nie. Iewers moet ‘n breuk wees.” Hy sê toe dat hy kans sien vir een week, maar dit is hoe lank hy dit sal kan maak. So gesê, so gedaan. Een week kaf gedraf en nie weer daaraan gedink nie.

Intussen het die paartjie emosioneel al nader aan mekaar beweeg. “Ek dink dit is omdat ek meer verstand gekry het,”vertel Tom. “Ek wou altyd in beheer wees en het altyd die finale sê gehad. Maar soos tyd aanstap en jy groei, kom jy agter dat jou vrou eintlik jou beste buddy is en die persoon is met wie jy gelyk is. So het ons verhouding al hoe beter geraak in die paar maande ná die artikel. Ons het INTIEM saam gelees en opinies oor artikels gedeel. Die Christen-aanslag het my van die tydskrif laat hou en baie bygedra daartoe dat ek onthou dat God ons dra.”

Hy vertel hul dogters het ook ‘n groot rol gespeel in hul strewe na ‘n gesonde huweliksverhouding. “’n Mens voel jy slaag in jou plig om jou kinders met die regte waardes groot te maak en in die proses het ek en Anna al hoe nader aan mekaar beweeg.”

Die uitdaging wat ons huwelik verander het

Alles het begin met ‘n werks-verwante reis wat Tom na die Oos-Kaap moes onderneem. Hy het Anna gevra om saam met hom te ry. Hulle het met ousus gereel om kleinsus skool toe te vat en hulle het vir die eerste keer ooit alleen weggegaan!

Anna vertel: “Dit was baie moeilik vir dié mamma, maar vir seker die beste besluit van my lewe.” Hulle het dit verskriklik baie geniet en een aand oorgeslaap in Keimouth. “Daar het die vonk vlam gevat vir ons en vir die uitdaging – ek dink eerder dit was ‘n ontploffing!”

Hulle het besef dat net een klein verandering in jou daaglikse roetine en ‘n kopskuif ‘n reuse verskil kan maak. Tom het voorgestel dat hulle die 30 Dae Seks-uitdaging moet aanpak… die aand in Keimond, was dus dag 3 van hul uitdaging. “Dit was 9 April 2018. Ons het weer gevoel soos twee pasgetroudes en ek het my eie naked chef gehad,” lag Anna.

Albei was vuur-en-vlam. “Ons was honderd persent oortuig dat ons dit vir dertig dae kon volhou!” En hulle het. Die 30 dae en 60 dae geword! Was dit die tipe goed wat hulle gewoonlik sou aanpak? “Nee”, antwoord Tom. “Ons was baie konserwatief wat seks aan betref. Ons was nie die avontuurlustige tipe nie. Seks was nog altyd fantasties maar op ‘n konvensionele manier.”

Tom vertel dat hy egter vas oortuig was daarvan dat hulle 30 dae sou kon volhou na hulle alleen weg was. Maar dat hy nie in sy wildste drome gedink het hulle sal 60 dae aaneen kon seks hê nie. Toe hulle egter wéér hul uitdaging verleng het na 80 dae, het hulle heeltemal na ‘n ander vlak beweeg en besluit om die volgende uitdaging ‘n halwe jaar te maak.

“Na ‘n jaar het ek geweet ons sal ‘n volle jaar kan volhou! Ongetwyfeld.” Anna was ook vol selfvertroue, maar bieg dat sy nie dink hulle het geweet waarvoor hulle hulself inlaat nie.

Op 6 April vanjaar het hulle die uitdaging voltooi. “Dit was een baie spesiale dag, al kon ons nie iets spesiaals reel nie. Maar die volgende dag het ons groot gegaan!” Hulle wou nie daar stop nie en was ten tye van die onderhoud op dag 459. “Ons mik vir 500 in hierdie stadium, wat ek 100% seker is ons gaan maak.”

Die effek van 459 dae se seks!

Dit verg beslis dissipline, deursettingsvermoë en kreatiwiteit! Ons praat oor eksperimentering en hoe Tom en Anna hul persoonlike grense geskuif het. Die uitdaging het hulle bietjie meer mak met mekaar gemaak en oop om nuwe dinge te beproef. “Ons is nie meer skaam om uiting aan genot te gee en mekaar te vertel wat lekker is nie!”

Daar was  die kere op hul boot, in die middel van die rivier met net die blou lug daarbo (die boot het nie ‘n kajuit nie!). “So, die dek, ‘n matrassie en kombers is al wat jy het!”.  Daar was die rivier-oewer, en die karavaan wat baie opwindend was…

Hulle vertel van die keer wat hulle in Johannesburg verkeerd gery het en voor ‘n seksspeelgoedwinkel geland het. Tom het voorgestel dat hulle gaan kyk wat daar binne aangaan (‘n eerste vir beide van hulle!). “My hart het geklop en ons is saam daarin. Dit was só awkward!” Anna voeg by: “Ek het nog nooit so skaam gekry nie. Seksspeelgoed was heeltemal taboe – ons het dan mos oulike liggaamsdele by ons Hemelse Vader gekry.” Maar Tom het gevoel hy het inspirasie nodig en Anna het geweet sy sal uit haar gemaksone moet beweeg om die uitdaging te laat werk. Hulle het daar uitgestap met ‘n klein herlaaibare vibrator. Anna lag: “Tipies man – ek gaan dood van die verleentheid en Tom worry net of sy gadget met batterye of met krag werk!”

Die vibrator het gou gewys dat hy sy geld werd was. “Vir my was dit nog altyd belangrik om my vrou ‘n orgasme te gee, ek is mal daaroor!” Die addisionele instrument het bietjie woema tot hul sekslewe bygevoeg en hulle het hul versameling vergroot. “Ons het natuurlik een ding dadelik uitsorteer – dat dit selektief gebruik word in albei se teenwoordigheid.” Hulle het nou ‘n hele arsenaal – ‘n hele tassie vol, maar is verby daardie fase en die tassie word net so een of twee keer per week uitgehaal. “Hy gaan natuurlik altyd saam viswaters toe as ons gaan kamp!”

Tom vertel dat hy op sy een hand die kere kan tel wat hulle, weens tyd, nie kon oorgaan tot orgasme nie. Ook Anna meen sy het meer oor haar man se liggaam in die laaste jaar geleer as in 22 jaar. “Ek het ook meer moed en selfvertroue gekry – en dalk ‘n bietjie meer waagmoed. Sy liggaam was nog altyd myne om mee te maak wat ek wou, maar ‘n vrou is mos maar bietjie minder waaghalsig. So, ek het begin met ‘n hand job en later met orale seks. Ek het hom nou skoon permanent uit sy slaapbroek en in sy Adamspakkie!”

Die uitdagings van die uitdaging

Afgesien van die geestelike uitdaging wat daaglikse seks inhou, is die uitdaging ook natuurlik fisiek. Veral vir ‘n man, meen Tom. Hy het nie gedink dit is biologies moontlik vir ‘n man om so ‘n uitdaging te kan volhou nie. “Ek dink terug aan ons jonger dae, toe dit meer gegaan het oor die seks en die genot daarvan as oor die intimiteit van die daad. As ‘n mens dit baie gereeld gedoen het, het jy later belangstelling verloor, want jy het al die posisies beproef en al die geluide geken tot dit naderhand dieselfde begin voel het. Hoekom? Want ons mans is nie bereid om ‘n bietjie ekstra moeite te doen nie…” Natuurlik het hy wyser geraak en gedurende die uitdaging selfs nog meer oor die wonder van seks geleer. En nee, dit ís nie altyd kinderspeletjies nie.  “’n Man moet só gefokus wees en jou gedagtes moet sterk wees om net selfs tien dae lank elke dag seks te hê. Om nie te praat van ‘n orgasme nie! Kyk, laat ek maar vertel… jy moet fiks wees. Dis harde werk!” lag hy.

“Gelukkig is ek liggaamlik baie fiks en ek het ‘n gesonde lyf. My uithouvermoë laat baie toe!” Hy bieg dat ‘n daaglikse orgasme hom nie altyd beskore is nie en glo dat dit is hoe ‘n man waarskynlik aanmekaargesit is. Hoewel hy daagliks ‘n ereksie kan kry, is ‘n orgasme nie noodwendig gewaarborg nie. “Maar as ek een aand se orgasme oorgeslaan het, gaan die poppe dans die volgende dag!”

Een van hul geheime wanneer die orgasme hom ontwyk, is ‘n interne “vibrating bullet” wat beide van hulle gelyktydig stimuleer.

Vra jy hulle watter dae die moeilikste is, antwoord hulle: “Die dae wat ons moeg is van gym. Hulle het ‘n tuis-gimnasium en oefen elke aand saam as ‘n gesin.” Soms verlaat hy die gimnasium eers teen 23:30. Dan is dit stort-tyd en daarna is daar eers tyd vir seks. “Maar ons maak dit werk – partykeer kom ek gou etenstyd huis toe vir ‘n vinnige quicky!”

Anna voeg by dat dag-tot-dag uitdagings dit moeilik gemaak het om soms by die uitdaging te hou. “Ons het mekaar vir seker daardeur gedra. Wanneer die een áf of moeg was, was die ander een daar om leiding te neem. Goeie spanwerk het ons gered!”

Maar hoe gemaak wanneer hulle baklei en te kwaad is om die uitdaging deur te sien? Tom antwoord: “Jy sal nie glo nie… ons het nog nie een dag baklei vandat ons die uitdaging aangepak het nie. Dit het baie kalmte oor ons gebring. Ek moet ook se dat ons al bitter min rusies in ons lewens gehad het. Ons kinders ken dit nie. Ons sê ons sê en kry klaar. Vanaand klim ons in die bed en alles is okay.” Anna voeg by: “Daar is nie tyd vir baklei nie – hy vry te lekker!”

Die voordele is legio…

Die paartjie vertel dat daar sóveel voordele aan ‘n seks-uitdaging verbonde is. Dat hulle baie van hulself geleer het en ook van hul vennootskap. Hulle beskryf die gevoel toe hulle dag 356 van die uitdaging bereik het, as onbeskryflik. En hulle gaan steeds voort, sonder enige planne om op te hou. “Dit het ‘n saak van behoefte geword en is nie meer net ‘n uitdaging nie. Ons noem dit nou maar ons uitdaging, maar dit is glad nie waaroor dit gaan nie. Jou liggaam smag na daardie intieme gevoel met jou lewensmaat en dit raak later ‘n kwessie van behoefte. Jou liggaam vra daarna. Daagliks? Jip!”

Anna vertel: “Ek het buite my gemaksone leer beweeg en werklik geleer om my man eenhonderd persent met my liggaam te vertrou. Ek het meer van hom liggaamlik en emosioneel geleer in een jaar as wat ek in 22 jaar geleer het.”

Vóór die uitdaging sou hulle hul huwelik ‘n 6/10 gee. Dit was goed en hulle het niks kortgekom nie, maar hulle reken as hulle tóé gevra sou word, sou hulle hul huwelik volpunte gee. “Jy kan nie oordeel of kies as jy nie alle opsies of moontlikhede voor jou het nie. Nou, waar ons vandag staan, weet ek eenhonderd persent dat ons ver van ‘n 10/10 af was. Ek voel ons is nóú op ‘n tien, maar wie weet wat ons nog gaan ervaar in die tyd wat kom wat ons huidige syfer weer kan afdruk. Dit voel nou soos ‘n warm tien!” gesels die paartjie.

“Die sekerheid in mekaar is iets wat nie vervang kan word met enigiets in die wereld nie. Ons het soveel respek vir mekaar gekry. Ons beweeg nou op ‘n heel ander vlak as man en vrou. ‘n Mens leer om te gee – verdraagsaamheid, liefde en respek. Ek wens ek kon woorde vind om ons konneksie te beskryf … maar selfs al het ek die perfekte woorde, sou dit niks beteken vir iemand wat dit nog nie self beleef het nie. Dit het ons huwelik waterdig gemaak en ons bootjie dryf hoog bo die water. Ons het geen bailing toestel nodig om die water uit ons bootjie te skep nie, ons is só geseend…”

Tom en Anna deel hul wenke:

  1. Kommunikasie: Dit is die heel belangrikste element tussen ‘n man en ‘n vrou. Dit is noodsaaklik vir jou maat om te weet waarvan jy hou en waarvan nie. Wat is jou voorkeure en jou verwagtinge?
  2. Tyd: Maak áltyd tyd vir mekaar. Daardie een ekstra minuut wanneer jy vir jou maat glimlag of jou maat vashou, maak die wêreld se verskil!
  3. Eerlikheid: Wees altyd eenhonderd persent eerlik op alle vlakke. Daar is géén geheime in ‘n huwelik nie.
  4. Respek: Wees áltyd respekvol teenoor jou maat. Julle is immers gelyk en julle albei is deur God geskape. Elkeen het sy eie sterk punte en swakhede.
  5. Gee om vir mekaar. Laat mekaar spesiaal voel en se vir mekaar hoeveel julle mekaar liefhet. Dra mekaar se belange op die hart en vervul mekaar se behoeftes. Staan op vir jou maat as hy of sy jou nodig het – sonder enige huiwering.
  6. Gee mekaar erkenning en laat mekaar verstaan hoeveel die ander een vir jou werd is.
  7. Geloof: Maak tyd vir God in jul lewe. Met geloof kan jy ver kom. Dit skep hoop en uithouvermoë in die lewe wanneer dinge begin druk. Saam met mekaar en met jul geloof in God kan julle dinge afweer wat jou kan onderkry.

 

  • Skuilname is gebruik

Artikel deur Annelize Steyn