Is jou oulap se rooi uitgewas? ’n Detoks kan net die ding wees om weer die blush op jou wange en die va-va-voom in jou sekslewe te sit.
In vandag se moderne en gejaagde lewe maak ons ons dikwels skuldig daaraan om ons liggame te besoedel. Dit is nie altyd bewustelik nie – soms eet, drink en neem ons onwetend gifstowwe in wat die huppel uit ons stap en die wind uit ons seile neem. ’n Gesonde liggaam is nodig vir ’n gesonde en aktiewe sekslewe. As jy egter stressed out, traag en oorwerk voel, is seks die laaste ding op jou to-do list. En as jy boonop die spieëls in jou huis begin toegooi omdat jy vir jouself soos die bride of Frankenstein lyk, gaan jou libido permanent verskrik in die hoekie sit en huil.
Hoekom ’n detoks?
’n Detoks gee jou liggaam daardie Kit Kat-break van die inname van gifstowwe sodat jy op ’n natuurlike manier daarvan ontslae kan raak. Jy sal nooit nalaat om jou vullissakke uit jou huis te verwyder nie – doen dus dieselfde vir jou liggaam en wend ’n daadwerklike poging aan om jou binnegoed te spring-clean.
Wat kan ’n detoks vir my doen?
’n Suksesvolle detoks kan jou help om jou gesondheidsdoelwitte te bereik deur die volgende moontlik te maak:
Meer energie
Jy gaan tonne meer energie hê om met die kinders te speel, oefening te doen en gereeld die bedvere te laat kraak.
Beheer oor jou gewig
Om te detoks kan help met gewigsverlies en verminder selluliet. Jy gaan nie net weer in jou gunsteling denim pas nie, maar kans sien om daardie verleidelike kantgoedjies te probeer.
Hormonale gesondheid
As die lewer nie in staat is om hormone doeltreffend af te breek nie, kan dit aanleiding gee tot hormonale kwessies soos PMS, ’n “estrogeen-maag”, buierigheid en moegheid. ’n Toksiese lewer kan ook sukkel om hormone te produseer, en dit kan lei tot ’n hormonale wanbalans en die groei van ongesonde selle. Dit alles het boonop ’n direkte invloed op jou libido. “Dokter” jou lewer met ’n detoks en jy gaan stukke beter voel.
Verhoogde immuniteit
’n “Skoon” liggaam is beter toegerus om siektes te beveg en gesonde selle te produseer. Ingewande wat nie sluggish is as gevolg van gifstowwe nie, kan optimaal funksioneer. Foutiewe werking van die niere en lewer word gesien as een van die grootste oorsake van Alzheimer’s-siekte. ’n Detoks kan jou help om skete soos artritis en gewrigspyn, sowel as chroniese siektes soos kanker en allergieë, die loef af te steek.
Verminder verslawing
Enige vorm van detoksifisering kan help om cravings vir stowwe soos suiker, sout, hoë glukemiese koolhidrate, alkohol, gemorskos en nikotien te verminder.
Hoe detoks ek?
Jy kan dit ’n korttermyn proses maak deur (gereeld) ’n detoksdieet te volg, of jy kan ’n meer langdurige opsie kies deur blywende veranderinge aan jou lewenstyl te maak. Enige iemand kan dit doen! Die geheim is om “klein” te begin en jou liggaam geleidelik aan die veranderinge bloot te stel. Onthou dat jy jou omgewing (huis en kantoor) ook moet detoksifiseer vir optimale resultate.
Elimineer verfynde suiker
Verfynde suiker maak van jou ’n brombeer met ’n seer tand. Dit voeg ekstra sentimeters om jou middellyf, ontwrig jou slaappatrone, skep chaos in jou hormone en maak dat jy vinnig verouder.
Eet groen plante
Neem ownership van jou eie lewenslus met groen plante. Die chlorofil in groen plante help om jou bloed te reinig van swaar metale en om kanker te beveg. Soos wat jy detoks en jou energievlakke styg, só sal jou sekslus ook.
Let op na jou skoonheidsmiddels
Dit sal ideaal wees om geen parfuum of grimering te gebruik nie, maar die meerderheid van ons is doodbang ons sal die manne scar for life as ons nie ons gesigte kan verf en lekker ruik nie. Die minste wat jy kan doen, is om op te let of daar sintetiese chemikalieë in jou skoonheidsmiddels is. Lees etikette en vermy produkte met bestanddele waarmee jy nie bekend is nie. Geen etiket? Los die produk. Vermy beslis enige iets wat die volgende bevat: parabens, diethanolamine (DEA) of ftalaten.
Moenie motbolle in jou klere gebruik nie
Motbolle bevat paradichlorobenzeen, wat giftig is. In plaas daarvan kies sakkies met natuurlike kruie en essensiële olies soos roosmaryn, laventel, tiemie en kruisement, wat ’n natuurlike mot-afskrikker is.
Los kunsmatig gekleurde versnaperinge
Gekleurde lekkernye lyk alte fraai, maar navorsing toon dat kunsmatige kleurmiddels ’n giftige uitwerking op die brein en senuweestelsel het, veral onder kinders.
Eet detoksifiserende kos
Neem gesonde kos in. Eet baie vesel, insluitende bruin rys en organiese vars vrugte en groente. Beet, radyse, artisjokke, kool, broccoli, spirulina, chlorella en seewier is uitstekende detoksifiserende kos, asook knoffel, spinasie, spruite, bloubessies, gemmer en borrie.
Gee mekaar masserings
Maak beurte en gee mekaar masserings. Hoekom? Massering help met sirkulasie en om limf te skuif. (Limf is die liggaam se Gautrein, wat skadelike stowwe in die liggaam ’n rit na buite gee.) En natuurlik is dit baie sensueel en stimulerend!
Sexercise
Oefening help om die hartklop te versnel en vinniger van gifstowwe in die liggaam ontslae te raak. Sexercise is die ideale manier om jou bietjie te laat sweet, die oortollige vetjies te verbrand en gifstowwe vinniger uit te skei.
De-stres gereeld
Stres is skadelik vir jou gesondheid, nie net omdat dit yo-yo speel met jou emosies nie, maar ook omdat stres hormone vrystel wat jou liggaam vergiftig. Terwyl die hormone die adrenaline rush kan verskaf sodat jy ’n wedloop kan wen of by deadlines hou, skep hulle ook in groot hoeveelhede gifstowwe wat detoksifiserende ensieme in die lewer vertraag. Maak dus gereeld tyd vir ontspannende aktiwiteite soos om manlief te kielie of skop ’n bal saam met die kinders in die tuin.
Bespreek altyd ’n verandering in jou lewenstyl met jou dokter. Vind uit watter detoksprogramme of diëte geskik is vir jou unieke behoeftes en of daar enige newe-effekte aan verbonde is.
Deur Thalia Brüssouw
Addisionele bronne: energiseforlife.com, life.gaiam.com, tlc. howstuffworks.com en livlong.ca