Son, see en sand . . . Swembaddens, storieboeke, luilekker wandelings, baie pret en kuier. Vakansietyd is ’n mens se ontlaaityd, en in Suid-Afrika wil jy buite wees en die warm son benut. Sorg dat jy en jou gesin behoorlik gehidreer bly in die skroeiende son.
Die son kan baie gevaarlik wees, selfs op bewolkte dae wanneer jy dit nie noodwendig so gou agterkom terwyl jy en manlief strandtennis speel nie. Dehidrasie is die sluwe dief van vakansie-vreugde en jy kan dit dikwels eers opmerk wanneer jy reeds gedehidreer is. Help jou gesin om die tekens betyds raak te sien en eerder voorsorg te tref.
Waarskuwingstekens van dehidrasie
• ’n Droë mond en daarmee saam gebarste lippe. Jy kan ook sukkel om te sluk en dit kan voel asof jou tong aan jou skurwe verhemelte vasklou, of selfs ’n swaar tong wat onder in jou mond vasplak.
• ’n Rooi vel. Indien jou vel effens rooi is, kan dit ’n teken van dehidrasie wees. Maar kyk vir ander simptome wat hiermee gepaard gaan, want as jy oefen of in die son was, kan jou vel ook rooi vertoon.
• Vinnige asemhaling en ’n verhoogde harttempo is simptome van erge dehidrasie.
• Ongewone dorsheid klink na een van die natuurlikste tekens van dehidrasie, maar dit is bloot jou liggaam se manier om jou te dwing om meer vloeistof in te neem.
• Uitermatige moegheid. As jy baie moeg voel nadat jy geoefen het of selfs in die middae voel dat jou energie baie laag is, kan dit ’n teken wees dat jy nie genoeg vloeistof inneem nie.
• Ongemak om die badkamer te besoek. Hardlywigheid en ongemak om te urineer is twee algemene simptome van dehidrasie. Vir kinders en volwassenes beteken dit as jy agt ure of meer nie geürineer het nie,en vir babas is dit drie ure of meer sonder ’n nat doek. Hierdie simptome tesame met krampe is ’n algemene teken van dehidrasie.
• Hoofpyn word dikwels deur dehidrasie veroorsaak. Wees veral bedag daarop met tieners en kinders.
• Duiseligheid, lighoofdigheid en gebrekkige konsentrasievermoë is simptome van dehidrasie en word dikwels veroorsaak deur ’n gebrek aan bloed na die brein. Erge dehidrasie kan ook veroorsaak dat ’n mens deurmekaar raak. Dit is belangrik om mediese hulp te kry as jy enigsins bekommerd is.
• Naarheid. Wanneer jy naar is, sukkel jy om enigiets in te neem, maar probeer om water of elektroliete in te neem.
• Donker urine. Hou die kleur van jou urine dop – as dit baie donker is, is dit ’n teken dat jy te min vloeistof inneem.
Hoe kan ek dehidrasie voorkom?
Jy moet baie vloeistof inneem om dehidrasie te voorkom, hoofsaaklik water. Rehidrasie-drankies soos Nudrate se WHO osmolariteit-formule is noodsaaklik om te verseker dat jy die regte minerale en soute inkry en die balans in jou liggaam herstel. Ysies en elektroliete is baie belangrik, veral vir kinders. Dit is belangrik om stadig te drink, anders kan jy jouself naarmaak. As jou kind gedehidreer is, kan jy hom of haar met ’n lepel vloeistowwe voer.
Maak seker jou somervakansie is ’n tyd van groot jolyt en dat jy en jou maat (en jul kroos) water en rehidrasiedrankies byderhand het.
Vir meer inligting besoek nudrate.co.za