Al ooit daaraan gedink dat julle jul vriende se huwelik kan help red – selfs al is julle nie beraders nie? Die dae is lankal verby dat ons op die kantlyn mag staan en sê: “Hul sake het niks met ons te doen nie.”
“Hmmm, ek kan sien dinge is nie lekker by die Meyers nie,” sê jy op pad terug van die verjaardagpartytjie. “Het jy gesien hoe Danielle haar oë gerol het toe Dawie gesê het oom Boet is ’n goeie oupa? Hulle het die hele aand oogkontak vermy en dit gaan nou al ’n ruk lank so.” Manlief huiwer ’n paar oomblikke en sê dan: “Bly jy net doodstil. Dis nie ons plek om in te meng nie. Daardie twee moes nooit getrou het nie en jy weet dit.”
Is dit hoe die woorde van goeie vriende klink? Miskien nie, maar dit is hoe ons grootgemaak is. Om nie in te meng nie, oftewel “nie ons neuse in ander mense se sake te steek nie”. En ja, om nie betrokke te raak nie, is ’n baie gerieflike en veilige uitweg. Maar dink mooi daaroor – julle het vriende geraak omdat julle van mekaar hou, sieninge deel en waarskynlik dieselfde tipe mense met dieselfde geloof is. Na wie toe draai ’n paartjie in nood, vóór dinge só ernstig raak dat dit huweliksberading verg – of erger, in die skeihof eindig? Op heartcouncilllors.blogspot.com sê die outeur Bill Rush immers: “I believe the future of marriage depends upon more people being willing to say: ‘I love you enough to risk offending you’.”
Op drurywriting.com skryf Keith Drury dat ons samelewing ’n probleem het met commitment (toewyding) teenoor ons huwelike en dat die begrip accountability (toerekenbaarheid of aanspreeklikheid) kan bydra daartoe om huwelike te red. “Ongeveer twaalf jaar gelede het ek ’n groep besige Christen-sakemanne ontdek wat versigtig was daarvoor om hul beloftes teenoor God en hul gesinne te verbreek. Hulle wou verander. So, hulle het besluit om een keer per maand bymekaar te kom en te kyk hoe dit met mekaar gaan – om seker te maak hulle het gedoen wat hulle gesê het hulle gaan doen. Hulle sou dinge lys wat hulle beplan het om in die daaropvolgende maand te doen en elke ou het notas geneem oor die ander se commitments. Wanneer hulle dan ’n maand later bymekaar gekom het, is elke sakeman gevra hoe hy gevaar het. Hulle het besluit om elke man taai te hanteer – as hy nie sy beloftes nagekom het nie, is hy tereggewys as onbetroubaar en hy sou deur die ander op ’n korrektiewe plan geplaas word. Hierdie mans het met eenvoudige dinge begin – soos om ’n gebreekte kombuisdeur in die kombuis reg te maak of die garage skoon te maak. Dit het baie jare se bymekaarkom geneem voor hulle gevoel het hulle het ‘mans van hul woord’ geword.”
Volgens Keith kan toerekenbaarheid ook verskeie vorms aanneem. Jy kan ’n mentor-toerekenbare verhouding met iemand hê (waarin die mentor en die persoon wat gementor word toerekenbaar gehou word). Jy kan ook spousal accountability hê, waarin jy en jou maat mekaar toerekenbaar kan hou, en jy kan ook een-tot-een toerekenbaarheid hê, maar, sê Keith, een van die lekkerste toerekenbaarheid-ervarings wat hy nog gehad het, was double-date accountability. “My vrou en ek het verskeie ander paartjies op ’n maandelikse of kwartaallikse basis ontmoet om te deel en vir toerekenbaarheid. Hierdie dubbel-afsprake is fellowship-tye en die toerekenbaarheid is nie baie taai nie, maar daar lê ’n spesiale krag in toerekenbaarheid as ’n paartjie.”
In ’n INTIEM-onderhoud het die akteurspaar James en Anel Alexander gesels oor die accountability couples (toerekenbare paartjie) sisteem. Dit behels dat jy as huwelikspaartjie ’n ander paartjie in jul lewens het met wie julle openhartig kan gesels oor jul huwelik. Sou een party in die versoeking kom om byvoorbeeld ’n buite-egtelike verhouding aan te knoop, kan hy/sy betyds met vrymoedigheid daaroor met sy/haar vriend (wat deel vorm van die accountability couple) praat, sonder om veroordeel te word. Daardie vriend rig en lei hul dan deur hulle te herinner daaraan hoekom dié huwelik te kosbaar is om prys te gee. Wat die stelsel suksesvol maak, is dat die toerekenbaarheidspaartjie vooraf gekies word en dat dit ’n vice versa-situasie is (deurdat julle as paartjie ook weer op bystand is vir die ander paartjie, sou dit nodig wees). Dit is ook heeltemal deursigtig en al vier partye weet dat daar ’n oop kommunikasiekanaal is tussen die twee mans en die twee vroue sodat daar nie oor die huwelik “geskinder” word nie, maar dat die vryheid heers om te “bieg” wanneer probleme voorkom met die oog op hulpverlening.
Die webtuiste tolovehonourandvacuum.com meen dat ons as Christene moet seker maak dat alle paartjies in hul eerste twee jaar van die huwelik ’n mentor het. “Huweliksberading is amper meer belangrik ná die huwelik as vooraf, want voor die tyd dink almal ‘dit sal nooit met ons gebeur nie – ons is regtig lief vir mekaar!’ Dit is eers ná die troue wat jy uitvind jy is menslik en dit is juis dán wat ondersteuning in die vorm van ander suksesvolle (maar menslike) paartjies so goed kan werk.”
Wanneer jy in ’n huwelik staan, het jy soms ’n ander perspektief op jou huwelik nodig. “Dit kan moeilik wees om tyd te kry om liefdevol (om nie te praat van belustig) in mekaar se oë te staar terwyl jy een kind potty-train, probeer om woorde vir die ander een te klank en wegkruip vir ’n redakteur wat wil weet wanneer jou alreeds-laat rubriek gelewer sal word,” skryf Catherine Rosman in haar artikel “Why friends help strenghen a marriage” op die Wall Street Journal se webwerf. “Vriende trek jou aandag na die groter prentjie. As ’n vriend vir my sê: ‘Ek het vir Joe en jul dogtertjie in die parkie gesien en sy draai hom om haar pinkie,” word my aandag getrek vanaf die vuil sokkies op die vloer en na die feit dat ek getrou het met ’n fantastiese ou vir wie almal liefhet.”
Het jy al agtergekom hoe lekker dit is om te hoor van ander paartjies wat suksesvolle verhoudings het? Dit is lekker om te lees van bekendes wat aan hul huwelike werk. “Couple root for other couples – there is an unspoken cosmic connection, a sense that we’re in this together,” word geskryf op die webtuiste strenghtenyourrelationship.com. En ons almal het mentors nodig.
Smallgroups.com meen daar is twee maniere waarop vriende vir mekaar se huwelike kan intree. Eerstens is daar die paartjie-tot-paartjie sisteem, waar hoofsaaklik op die huwelik gefokus word en onderwerpe soos kommunikasie of konflikbestuur bespreek word. Dit behels dat die man en vrou saam aan ’n oplossing werk. Die goue reël hier (en met enige toerekenbaarheidstelsel) is om nooit die persoon van die teenoorgestelde geslag alleen te ontmoet nie.
Die tweede manier waarop paartjies mekaar kan ondersteun, is deur middel van geslag-spesifieke groepe, wat meer fokus op geslag-spesifieke kwessies. Mans hou ander mans toerekenbaar en vroue tree in die toerekenbaarheidstelsel met ander vroue. Die webtuiste praat spesifiek van “groepe”, maar jy kan hierdie stelsel met een paar goeie vriende ook ontwikkel. Dit sal vereis dat daar ’n baie sterk vertrouensband tussen julle heers. Dit sal ook vereis dat beide pare dieselfde visie vir hul huwelike het, asook dieselfde waardestelsel en dieselfde vlak van geestelike rypheid in pag het.
Maar hoe gemaak as jy sien jou vriende se huwelik is reeds in die moeilikheid? Wanneer het jy die reg om in te gryp? As jy by ’n paartjie se troue was, is jy verplig om in te gryp wanneer jy sien hulle gaan deur ’n moeilike tyd. Jy as vriend gaan dalk nie daardie paartjie kan help om deur hul issues te werk nie, maar jy kan en moet hulle oortuig om vir professionele hulp te gaan en hulle accountable daarvoor hou om altyd vir hul huwelik te baklei.
Maar wat as jul vriende reeds in die moeilikheid is? Dit is nodig vir julle, as goeie vriende, om in te gryp. Onthou egter die goue reël en moenie die rol van Samaritaan inneem teenoor die persoon van die teenoorgestelde geslag nie. Iemand wat deur ’n moeilike tyd in hul huwelik gaan, is broos en jou hulp kan lei tot emosionele bande, mag verkeerdelik geïnterpreteer word en omgekeer word in ’n ramp.
Hoe gryp julle in? As jy nie die nodige kennis het nie, is dit dalk nie ’n goeie ding om persoonlik betrokke te raak by raadgewing nie. Jy wil graag help, maar onthou dat jou rol as “luisteraar” dalk meer waardevol is as wat jy dink. Wees daar wanneer sy wil gesels, maar maak ook seker dat haar behoeftes nie jou eie huwelik insluk nie (dit is ook waarom dit beter is as julle as paartjie betrokke is, sodat julle met mekaar daaroor kan praat en daar nie ’n wanbalans ontstaan nie). Hier is nog ’n paar wenke:
- Bid vir hulle op hul naam en vra God om in te gryp in hul huwelik. Vra Hom ook om jou en die mense om hulle die wysheid te gee om hulle te help.
- Luister. Dit beteken nie net om te hoor nie, maar om empatie te wys, te probeer verstaan en regtig belang te stel in hoe dit met hulle gaan.
- Moenie raad gee nie, want jou hoofsaaklike werk is om te luister. Wees beskikbaar op jou telefoon, epos en vir persoonlike afsprake wanneer hulle jou nodig het.
- Wees versigtig vir jou eie bagasie! Onthou, die meeste van ons het ons eie gevoelens, geloofstelsel en ervarings, wat ons bevooroordeeld maak as dit by ander se verhoudings kom. Dit is soms moeilik om heeltemal objektief te bly, en daarom is dit beter om die berading aan ’n professionele persoon oor te laat.
- Onthou dat jul huwelik veral broos is wanneer julle ’n ander paartjie bystaan met huweliksprobleme omdat julle deur dieselfde worstelings moet werk as hulle.
- Moenie die probleem vererger nie. Moenie toelaat dat jou ondersteuning gesien word as aanmoediging om ’n egskeiding te kry nie. Jou werk is om hulle te lei om die regte hulp te kry.
- Help hulle om buite die boks te dink. Dra goeie navorsingsboeke en webadresse aan sodat al die feite mooi oorweeg kan word wat hulle nodig mag kry om hul huwelik weer op die regte pad te bring.
- Onthou altyd dat die oorlewing van hul huwelik nie van jou afhang nie. Jy het hulle nie by mekaar gebring nie en jy kan hulle ook nie by mekaar hou nie.
- Moenie skinder nie. Dit klink voor die hand liggend, maar dit is só belangrik. Onthou dat die persoon jou in haar vertroue geneem het deur haar diepste seer met jou te bespreek.
- Help hulle om die regte hulp te kry by goeie beraders. Kyk ook na INTIEM se platform, ekenjy.net. Soveel INTIEM-lesers skryf aan ons omdat hulle nie weet waar om die regte berader/seksuoloog/terapeut op te spoor nie. Soek na die regte kenner in hul omgewing om hulle te help. Bel jou kerk, of skryf vir INTIEM om te hoor watter goeie beraders daar is.
Die doel van ’n toerekenbaarheidstelsel is egter om dáár te wees vir mekaar om potensiële probleme te voorkom, en sou julle en vriende besluit om die stelsel te beproef, gaan dit dalk nie eens nodig wees om krisisbestuur toe te pas nie. Onthou, dit maak nie saak hóé sterk jou huwelik is nie, jy en jou maat leef nie in ’n vakuum nie en wat jou omring, sal ’n impak op jou hê. Omring julle dus met positiewe huwelike. As julle besluit het om ’n ondersteuningsnetwerk vir jul huwelik te skep, het julle ’n belangrike stap geneem om die bedreigings van verhoudings-isolasie teen te werk.
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: focusonthefamily.com, blog.smallgroups.com, marriagemissions.com, powertochange.com