Is jy ’n Swygende Sarie as dit kom by slaapkamerkaskenades? Dit is nou die een plek waar jou tong moet los wees (om verskeie redes…)
Dis só stil in die slaapkamer dat jy ’n speld kan hoor val. Karin staar plafon toe terwyl Dawid in die sendelingposisie werskaf waar hy dink sy gewerskaf wil word, maar daar gebeur net mooi níks. Sy fluister: “Dawie, miskien moet jy ’n bietjie regs… eh… ja, nee… eh.” Hy verstaan nie wat sy sê nie en skuif sy liggaamsgewig na die ander kant toe. Nou lê hy haar arm dood. Só lê Karin, tot sy sien hoe Dawid se gesig vertrek, voor sy hele lyf ontspan. Dan vra sy: “Koffie?”
Wat is verkeerd met dié scenario? Wel, as dit nie vir jou voor-die-hand-liggend is nie, vertel ons jou gou: Het jy al ooit van ’n fabriek gehoor wat tjoepstil funksioneer? Nie so gedink nie! Só ook is die liefdesfabriek ’n ráserige plek en wat jy graag hier wil hoor, om seker te maak die masjien loop vlot, is uitroepe soos: “Jaaa!”, “Wow!”, “Oe!” en “Aaaah”. Nog frases wat dui op goeie wisselwerking tussen die masjiene is: “Bietjie vinniger!” of “Lek bietjie jou vingers nat”. Dit is mos after all spanwerk, en solank die fabriekswerkers planne beraam om die liefde nog lekkerder, sappiger, vinniger en beter te laat vloei, is dit tot almal se voordeel en is bonusse aan die orde van die dag!
Alles wat gesê moet word, moet gesê kan word. Hoekom? Dit is nódig vir die masjien om seepglad te werk. Seks is veronderstel om lékker te wees, vir albei partye, maar ’n gebrek aan kommunikasie kan lei tot ’n system failure! Kommunikasie in die slaapkamer of óór die slaapkamer (en nou praat ons nie van die kleur van die lakens nie!), hou talle voordele vir julle in.
Maar hoekom is dit steeds, in die huidige, allermins heilige samelewing, vir ons moeilik om dié onderwerp aan te raak? Dit voel half asof ons teen dié tyd gedesensiteer moet wees vir die onderwerp. “Om oor seks met jou maat te praat as ’n persoonlike, intieme ervaring, is ’n heel ander soort gesprek,” verduidelik Barry McCarthy, sielkundige, seksterapeut en skrywer op die webtuiste van Wallstreet Journal. “Jy moet openlik wees oor hoe ver jou waardes en jou weerloosheid strek.”
Kenners meen dat die aanvanklike romanse-fase hou tot op 18 maande na drie jaar en dat ons hormone gedurende dié tyd buite beheer is, wat dit makliker maak vir ons om met ons maats oor seks te praat. In ’n langtermyn verhouding is dit egter moeiliker. Daar is egter soveel redes waarom jy nie jou sekslewe aan blote genade (en hier-en-daar ’n kolskoot) moet oorlaat nie.
“Vroeg in ons huwelik het James gedink ek is mal oor seks in die doggy-style posisie,” vertel Marinda (32). “Ek het een keer in daardie posisie ’n baie kragtige orgasme bereik as gevolg van die hoek waaruit hy my gepenetreer het. James was baie trots op homself en daarna het hy my elke keer in die hande-viervoet posisie gedraai. Maar om die waarheid te sê: Ek hou net mooi niks van daardie posisie nie – dit voel vir my degraderend en ek het nog nooit weer ’n orgasme ervaar nie. Daardie een keer was net danksy die hoek van penetrasie. Ek kon dit egter nie oor my hart kry om vir James te sê hoe ek regtig voel nie en het vir amper ’n jaar lank orgasmes gefake en seks in doggy style ‘verduur’ tot ek met hom eerlik was. Sy antwoord? Hy het self nie van dié posisie gehou nie, maar volgehou daarmee omdat hy gedink het dit is wat ek verkies!”
Hoe raak jy ’n losbekkie?
Voor jy die onderwerp aanroer, stel eers vas wat jou intensies is. Jou doel moet wees om jul sekslewe te verbeter en nie om jou maat te “straf” omdat hy nie die baba se laaste paar doeke wou omruil nie! Besin nou vooraf oor wat jy wil sê en hoe jy dit gaan sê. Oorweeg jou maat se gevoelens en dink aan wat jy regtig in die slaapkamer wil hê.
Maak dit jou missie om enige ongemak uit die weg te ruim. Dalk is jou maat ’n baie inkennige mens wat gou oor die onderwerp bloos. Gee hom ’n sensuele soen en fluister in sy oor sodat hy nie oogkontak hoef te maak nie. Nog ’n idee is om vir julle ’n lekker warm bad te tap en só ’n “veilige, nie-bedreigende” atmosfeer te skep. Die laaste idee wat jou maat moet kry, is dat daar iets fout is.
As jy graag iets wil wysig aan die huidige stand van sake, benader dit vanuit ’n positiewe hoek. In plaas daarvan om vir hom te noem wat hy verkeerd doen, vertel hom wat hy alles rég doen in die katel. Sê: “Ek is gek daaroor as dit vir my voel asof jy my borste die main event maak.” Vermy dinge soos: “Oe, ek haat dit as jy my in my ore soen!”
As daar iets spesifieks is waaroor jy met jou maat wil praat, soos erektiele disfunksie en die uitwerking daarvan op jul sekslewe, slaan ’n bron na. Plaas sticky notes op sekere bladsye en skryf daarop: “Ek kry skaam om met jou hieroor te praat, so ek het gedink ek sal jou eerder wys.” Met ’n smiley face daarby.
Jy kan jul sekspraatjie ook los vir in die slaapkamer. Die enigste voorwaarde is egter dat hier niks negatiefs geopper mag word nie. Jou idee is om aanwysings te gee (in die vorm van dirty talk – die meeste mans het geen besware hierteen nie). Fluister iets soos: “Kyk in my oë terwyl jy my toppie se knope losmaak…” Of: “Wys my van watter ritme jy hou…” Jy kan ook selfs jou hande gebruik om jou maat s’n na plekke te lei waar jy graag wil hê hulle moet “wei”. En as hy iets doen waarvan jy hou, sê dit reguit en wees spesifiek. Vertel hom hoe jy wil hê hy sy hande, tong, penis en liggaamsgewig moet gebruik om die hitte aan te draai. Sê ook of jy dit harder, sagter, meer na die linkerkant of meer na die regterkant toe verkies… manlief sal gehoorsaam.
Vertel hom wanneer jy op die punt is om ’n orgasme te bereik. Daar is twee redes hiervoor: Eerstens laat dit hom verstaan hy is ’n fantastiese lover, dat jy ongelooflike plesier ervaar en dit alles te danke aan hom. Jy sal op daardie oomblik voel hoe hy sy beste gee omdat dié positiewe gedagte hom boost om hom nog verder aan jou te bewys. Probeer dit eenkeer en ervaar hoe jul albei se orgasmes meer intens word! Tweedens gee dit hom toestemming om self te klimaks. Die kans is goed dat manlief terughou en wag vir jou om eerste te “jubel”.
Moet nooit seks bespreek direk ná ’n stomende sessie nie – tensy jy net goeie dinge het om te sê, in welke geval die stroopblik altyd welkom is! Seksterapeute meen die beste plek om seks te bespreek is buite die slaapkamer – byvoorbeeld in die kombuis (tensy julle dikwels die kombuisblad vir ’n bed gebruik).
Gebruik sex talk om manlief te komplimenteer. As jy weet hy bestee ure in die gimnasium om sy bo-armspiere te bou, komplimenteer hom in die hitte van die oomblik daarop. Jy hoef ook nie te wag vir die hitte van die oomblik nie en kan die komplimente vryelik uitdeel enige tyd van die dag. Elke positiewe woord van jou kant af sal sy selfvertroue (in die slaapkamer ook!) bou.
Moet nooit jou maat die skuld gee nie, moet hom nooit laat skuldig voel nie en moet nooit aantygings maak nie. Seks is liefde maak, nie oorlog maak nie, en jy wil dit nie geassosieer hê met allerhande negatiewe gevoelens nie. As jy dus op die punt is om jou koel te verloor en gif te spuug, stel eerder voor dat julle weer later die onderwerp aanspreek.
Onthou dames, jou man se fynbesnaarde ego is gesetel in sy penis en een kras woord van jou af kan hom in sy hok laat kruip om nie gou weer daaruit te kom nie. Hou dit positief. Dit is tyd om jou Oscar op die verhoog te gaan haal. So moan, groan, gil, krap hom met jou naels in sy rug (soos in die flieks!) en wys hom wat jy waarlik geniet. Geez, gee hom ’n high five as dit is waarvan hy hou! Wanneer hy iets doen wat nou nie so oulik is soos wat hy dink dit is nie, keep it shut. Hy behoort die boodskap te kry.
’n Lekker, stoute leer-ken-mekaar…
Miskien is julle pas getroud. Miskien is julle oud getroud en is daar net mooi niks fout met jul sekslewe nie, maar julle kan doen met ’n bietjie opwinding. Miskien is alles perfek, maar ken julle mekaar op ’n intieme vlak nie so goed soos julle graag sou wou nie. Hier is ’n lekker speletjie. Dié enetjie speel jy nie wanneer die vriende kom kuier nie. Ook nie wanneer die ouers kom eet nie! Besluit saam op ’n datum en stuur die kinders om te gaan uitslaap. Kuier saam, spring in die stort, skink vir julle elkeen ’n glas wyn en gaan klouter op die bed met… dié vraelys, twee penne en twee skryfblokke.
Julle kan dit op vier maniere doen:
Vir die super-skaam outjies: Beantwoord die vraelys, gee dit dan vir jou maat om te beantwoord en los dit saam op jul bedkassies voor julle die lig afskakel – só kan elkeen van julle dit op jul tyd lees en bestudeer.
Vir die effens versigtige maats: Beantwoord die vraelys, gee dit dan vir jou maat om te beantwoord en gaan sit oorkant mekaar op die bed om dit te lees.
Vir die brawer duo’s: Vra die vrae hardop, voor julle elkeen dit op papier beantwoord. Daarna kan julle mekaar se antwoorde ook hardop lees.
Vir die dapper muise: Vra die vrae hardop en skryf jul antwoorde neer. Daarna kry elkeen die kans om sy eie antwoord hardop te lees, terwyl die ander een kan kommentaar gee of hierop reageer.
Dit is nie net ’n baie praktiese, nuttige oefening nie, maar ook fantastiese voorspel!
Vraelys vir ’n super hot sekslewe!
- Wat is jou gunsteling posisie?
- Op watter deel van jou lyf wil jy die graagste aangeraak word?
- Van watter deel van my lyf hou jy die meeste om aan te raak?
- Vertel my presies hoe voel ’n orgasme vir jou?
- Wat is jou gunsteling deel van voorspel?
- Wat is vir jou ’n turn-on waarvan ek dalk nie weet nie?
- Is daar dalk ’n toneel uit ’n fliek wat jy graag wil hê ons moet probeer nadoen?
- Hoe voel jy wanneer ek ’n orgasme bereik?
- Op watter plek sal jy die heel graagste wil seks hê?
- Wat dink jy van rolspel? Watter “rolle” sal jy graag wil hê ons moet speel?
- Hou jy van seks met die ligte aan of af?
- Verkies jy oggendseks of aandseks?
- Hoe kan ek jou wys dat ek jou onweerstaanbaar sexy vind?
- Vertel my van die eerste seksuele gedagte wat jy oor my gehad het?
- Waarin wil jy graag hê moet ek slaap?
- Wat dink jy van seks in die openbaar – dink jy ons moet dit probeer?
- Wat wil jy my graag vertel wat ek nie weet nie?
Waarskuwing: Ongetroude pare wat seks voor die huwelik wil vermy, moet beslis nie dié vraelys beskou as deel van huweliksvoorbereiding nie. Vermy die lys ten alle koste!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: livescience.com, jezebel.com, sexualityandu.ca, newlyweds.com, marriedandhappy.co, yahoo.com, intimacyinmarriage.com, glamour.com