Dit gaan oor wie jy is, hoe jy lyk, hoe jy ruik … Jou parfuum speel ’n baie spesiale rol as dit by verleiding kom. Moet nooit hierdie liefdesdoepa onderskat nie…

Promosie

Dit is nou al jare lank wat die Adamsgeslag ons probeer oortuig dat hulle eintlik baie eenvoudige wesens is; dat die pad na hul harte beslís nie deur hul mae loop nie, en dat hulle (aanvanklik) met hul oë, en nie op jou persoonlikheid nie, verlief geraak het; dat hulle nie ’n idée het wat die verskil tussen ’n bikini en ’n French Cut is nie, maar solank daar kant by betrokke is, dra dit hul goedkeuring weg. Hy weet egter nie dat jy hom ewe lekker ‘aan die neus’ kan lei nie …

Coco Chanel het gesê: “Jy behoort parfuum te dra waar jy graag gesoen wil word.” Slim. Sy het ’n punt beet gehad. Parfuum is magies, en is tradisioneel as ’n liefdesdoepa beskou. Vanuit die staanspoor het begeerte en passie tussen man en vrou die ontwikkeling van parfuum geїnspireer. Dit is sensueel, en die reuk van ’n vrou se parfuum verander wanneer sy seks het. Dit trek die aandag.

Het jy al verby iemand gestap, ’n uitsonderlike ‘snuf in die neus gekry’, en gaan stilstaan om uit te vind wie dit dra? Sommige studies toon dat reuke en geure veel langer as visuele beelde in ’n mens se geheue bly draal. Dit kan sy hart vinniger laat klop.

Promosie

Die neus kan tot en met 10 000 verskillende reuke onderskei. Alan Hirsch, uitvoerende direkteur van Chicago se Smell and Taste Treatment and Research Foundation, sê: “Aangename reuke kan dele van die brein wat direk met seksuele begeerte verband hou, direk stimuleer.” Die internasionale tydskrif, Cosmopolitan, het ’n eksperiment onder 463 ouens gedoen en 84% van hulle het gesê hulle glo dat parfuum die mag het om hulle seksueel op te wek, of af te skakel. Daar is bevind dat lekker geure die meeste stemme onder die Adams gekry het. “Soet en smaaklike geure is bekend. Deur dit te ruik, word die ouens aan hul kinderdae herinner, so hulle voel ‘veilig’ genoeg om hul aangetrokkenheid en gevoelens te wys.” Altesaam 27% hou van vrugtereuke, terwyl ongeveer 18% blomreuke verkies.

Parfuum kry sy naam van die Latynse woord per furnum, wat ‘deur rook’ beteken. Vroeër is parfuum gedurende religieuse seremonies gebruik en uit geurige kruie, boomgom en mirre onttrek. Vandag hoef jy nie meer die woud plat te trap om soos ’n godin te ruik nie. Trek voordeel uit die verskeidenheid moderne parfuumsoorte op die rakke om jou man mee te verlei.

Hier is ’n paar wenke:

• Besluit watter beeld jy wil uitstraal en watter sy van jou persoonlikheid jy graag wil beklemtoon.
• Sitrus- en blomreuke werk goed in die somer, terwyl ‘warmer’ reuke meer gepas vir die winter is.
• Groen blomreuke werk goed vir oggende en middae, terwyl swaar, Oosterse parfuums beter vir die aand werk.
• Kry ’n reuk wat eie aan jou is. Hy moet jou in ’n kamer vol mense kan uitken as hy geblinddoek is.
• Kies jou parfuum in die oggend wanneer jou sintuie op hul skerpste is, en besoek ’n winkel met ’n verskeidenheid keuses.
• Moenie meer as drie parfuums op een slag uittoets nie, en moenie die parfuum toets wanneer jy pas klaar geëet het, gedurende jou maandstonde, of wanneer jy gespanne is nie (dit het ’n effek op die reuk).
• Onthou, die reuk van parfuum, hang van die chemiese samestelling van jou lyf af. Wat vir een vrou werk, is ’n ramp op ’n ander vrou.
• Parfuum kan ook op jou lyf verander, na aanleiding van jou dieet, die medisyne wat jy gebruik en die droogheid of olierigheid van jou vel.
• As jy daaraan gewoond is om ’n blomreuk te dra, sprei ’n meer komplekse, speseryagtige geur op jou lakens, of jou kussing. Die onverwagse reuk sal sy verbeelding op hol jaag.
• Jy kan nie altyd jou eie neus vertrou nie. Die reuk-reseptore in die brein raak na vyftien minute immuun teen die meeste reuke, daarom kan jy nie self bepaal of jy dit oordoen het of nie …
• Sprei twee ‘wolke’ in die lug waardeur jy twee keer per dag loop – een keer in die oggend en een keer in die aand.
• As jy dringend met hom oor iets wil gesels, skryf ’n nota en spuit jou parfuum daarop. Dit sal sy behoefte om jou te sien, sterker maak.
• As Manlief vir ’n ruk moet weggaan, ‘leen’ ’n klere-item soos ’n baadjie by hom. As jy dit vir ’n paar uur aangehad het, sal dit jou liggaamsreuk absorbeer en hy sal aan jou dink wanneer hy alleen in ’n hotelkamer aan die ander kant van die wêreld sit.

Dra jou parfuum hier:

• Aan jou nek. Hierdie plek stel met elke polsslag ’n bietjie geur vry.
• Die agterkant van jou nek. Dit is ’n erogene sone wat die mans (wat hul sout werd is) ken.
• Jou haarwortels. Gooi jou hare vooroor en spuit teen jou wortels, voor jy jou hare teruggooi. Een enkele beweging van jou kop, is al wat nodig is om jou reuk te versprei.
• Agter jou ore. Dit is ’n intieme plek waar Manlief jou kan soen net nadat hy jou vertel het hoe lief hy jou het.
• Tussen jou borste. Dit is ’n volronde area, weggesteek vir sy oë (vir solank jy wil) en die geheim tot algehele verleiding!
• Jou gewrig. Die hitte van jou vel sal die parfuum se ondertoon beklemtoon en hom uitnooi om jou handpalms te soen.
• Agter jou knieë. ’n Soen op hierdie deel van jou lyf is onweerstaanbaar …

En wanneer jou begroting knap is?
Navorsing toon dat ‘au naturel’ dalk die beste reuk kan wees om jou man mee te verlei. Maak op jou natuurlike geur staat. Mans se testosteroonvlakke verhoog in reaksie op ’n vrou se natuurlike reuk as sy op haar vrugbaarste is.

Addisionele bronne: www.cosmopolitan.com; www.gracenglamour.com; www.datingspirits.com; www.festivals.iloveindia.com; www.aboutaphrodisiacs.org