Daar wás ’n tyd wat jy nie geweet het wat die woorde suicide hour, co-sleeping en happy meals beteken het nie. Dit was die tyd toe jy nie ’n baba-oppasser met oortydtariewe probeer omkoop het net om in stilte in ’n restaurant anders as die Spur of McDonalds te gaan sit en eet nie.

Promosie

Hulle is jou lief en leed. Die suiker in jou koffie en die spookasem op jou kar se agtersitplek, maar jy verruil jou kroos vir niks. Soms weet jy net nie hoe om ’n huwelik én kinders te laat werk nie. Dit voel of jy óf gelukkige kinders óf ’n gelukkige maat kan hê, maar gewis nie albei nie. Vóór jy jou kan kry, het jou driejarige Pappa se Ferrero Rocher uit die kas gekrap. En net sodra jy dink jy bederf vroulief met ’n laatslaapoggend, kom die kreet uit die babakamer (een wat net luider word hoe nader jy aan daardie cot stap!). Daar is mense wat beweer die fout lê by ’n mens se poging om jou kinders en jou huwelik te skei. En dat die enigste manier hoe jy romanse kan laat leef of herleef, is deur die kinders in te span. Klink dit absurd? Kom ons wys jou hoe:

  1. Koop vir jou maat ’n houer van haar gunsteling sjokolade. Haal dit uit die papiertjies en help jou kinders om klein hartjies uit papier te knip. Die hartjies moet ongeveer vier sentimeter in deursnee wees. Nou moet hulle blokkies van 7 x 7 sentimeter uit sellofaan sny. Skryf op elke hartjie ’n rede neer hoekom julle lief is vir daardie persoon. Byvoor­beeld: “Jou lekker soenmond” of “Mamma se pannekoekresep” of “Die manier wat jy my dokter wanneer ek siek is”. Plaas nou ’n sjokolade op die hartjie en bind dit saam in ’n sellofaanpakkie toe (met ’n stukkie raffia). Pak dit in ’n mooi houer en gee dit vir haar – van julle almal af.
  2. Pak ’n lekker vuurtjie in jul agterp­laas en vra die kinders om jou te help. Kry komberse, marshmallows, sosatiestokkies en smeltsjokolade. Wanneer vroulief by die huis kom, los vir haar ’n teken teen die deur (wat deur die kinders gemaak is) en sê: “Ons is buite.” Nou kan julle almal saam malvalekkers braai en saam gesels tot slaaptyd. En wanneer die kinders in die bed is, kan julle twee die klaar gesnyde aarbeie in die yskas gaan haal en mekaar voer.
  3. Vra die kinders om jou te help om ’n skatte­jag vir manlief te beplan. Elkeen moet geskenkies met die hand maak. Neem hulle na ’n craft shop toe en stop elkeen R100 in die hand. Vra hulle nou om te kyk hoeveel oulike, betekenisvolle goedjies hulle bymekaar kan maak met behulp van daardie R100. Die geld moet egter aangewend word om goed te koop soos blinkers, verf, mosaïekteëls en so meer. By die huis moet hulle op hul eie skat­tejag gaan deur “skatte” uit die tuin te soek om in hul projek te gebruik. Hulle kan byvoorbeeld klip­pies verf met ’n mooi boodskap of ’n mobile maak uit duifvere waarvan die punte in silwer blinkers gedoop is. Daarna kan julle almal saam dit vir hom in die tuin en huis versteek met leidrade om dit te soek. Teen slaaptyd kan hy sy laaste skat in die kamer kry!
  4. Maak papierskoenlappers vir haar kar se ruit. Help jou klein kindertjies om papierskoen­lappers uit te sny. Neem ’n papier, vou dit in die helfte en sny ’n hart uit sodat die onderste punt van die hart een sentimeter breed is en op die vou van die papier lê. As jy die papier oopvou, is dit ’n vlinder. Hulle kan die skoenlappers verf of met blinkers versier. Julle kan ook van scrapbook-pa­pier gebruik maak met mooi kleure en patrone op. Sodra julle elkeen ’n mooi skoenlapper gemaak het, skryf jul name daarop (jy ook) en gaan plak dit met Prestik teen haar kar se ruit, asof die vlinders vlieg. Los dan vir haar ’n nota teen haar stuurwiel wat sê: “Jy gee ons vlerke…”
  5. Gee elkeen van jou klein kinders ’n A5-stuk karton, stukke papier, foto-afdrukke, lint en gom. Dit hang af van hoe groot jou kroos is (julle sal dalk elkeen twee moet maak), maar saam met jou kunswerk moet daar altesaam minstens ses kunswerke wees. Vra hulle nou om ’n prentjie van die liefde te teken of te maak. Sodra hul kunswerke klaar is, neem dit na ’n winkel toe wat lamineerwerk doen en laat elkeen lamineer. Nou gee julle dit vir haar as ’n stel plekmatjies en skryf ’n briefie wat dit vergesel. Skryf in die briefie hoeveel jy haar waardeer en sê vir haar dankie dat sy julle so mooi versorg, sulke lekker kos maak en jul kinders so mooi grootmaak. En laastens hoe lief jy haar het.
  6. Koop een van daardie plastiekhouers met die afskortings. Neem die kinders saam winkel toe om oulike hoeke, aas en vliegies uit te soek. Pak vir hom ’n mandjie met ’n nuwe visserstelletjie, toebroodjies, ’n six pack en sy visstok, en skryf vir hom ’n briefie met die volgende woorde (wat julle teen slaaptyd op sy kopkussing los): “Liewe Pappa en manlief. Van al die derduisende visse in die see, het ons drie die heel grootste een uitgetrek! Hier is alles wat jy gaan nodig kry om môre die hele dag te gaan visvang. Geniet dit!”

Hier is nog ’n paar wenke:

  • Laat neem mooi foto’s van jou saam met die kinders, laat raam die mooiste een en stuur dit werk toe vir manlief (vergesel van ’n briefie wat deur elke lid van die gesin geskryf is).
  • Maak ’n gipsafdrukkie van jul baba se handjies (jy kry oulike gipsstelletjies aan­lyn of by uitgesoekte handelaars), raam dit en laat graveer ’n mooi plaatjie wat jy bo-op die raam vassit met ’n boodskap soos: “Dankie vir ons engelkind.”
  • Bak vir manlief koekies en gebruik ’n hartjie-koekiedrukker. Span jou kinders in om vir hom die koekies te versier en skryf jou eie spesiale boodskap met versier­suiker op een van hulle.

Daar is soveel maniere waarop jy die kinders kan betrek by projekte om jou maat te wys hoeveel hy/sy vir jou beteken. Die enigste geheim is om die kinders hul vryheid te gee en nie die projek te streng te probeer beheer nie. Jou maat sal ’n traan wegpink en weet: Julle is daar vir mekaar – deur dik en dun, en suicide hours!

Promosie