“Couples who play together, stay together,” lui die gesegde. Ons herinner INTIEM-lesers gereeld aan hoe belangrik dit is om gehaltetyd saam met jou geliefde deur te bring. Soveel paartjies het egter geen idee hoe, waar en wat nie. Ons gee jou ’n les in Romantiese Reis 101.

Promosie

“Wanneer ek en my man alleen weggaan, is dit asof ons vir die eerste keer in ’n lang tyd weer van die kinders af wegdraai om op mekaar te fokus. Ons het ons kinders baie lief, maar dit is só maklik om vasgevang te word in hulle welstand en die dag-tot-dag roetine dat dié kere wat ons wel alleen wegbreek, dit só lekker is dat ons besef hoe belangrik dit is. Dit voel soos toe ons pas getroud was. Ons lag saam, speel saam en is sommer net lekker laf – en soms onverantwoordelik! ’n Mens het dit nodig – om te onthou met wie jy eens getroud was. Sodra ons terugkeer van hierdie wegbreeknaweke af, is ons herlaai en gereed om weer volstoom ouers én lovers te wees,” vertel Micha Vermaak, ’n 35-jarige ma van twee.

Ja, dink jy dalk. Die meeste paartjies besef hul huwelike is gelukkiger wanneer hulle tye maak, maar wanneer die eise ophoop en die ekonomie druk, is dit nie altyd moontlik nie…

Wat as ons vir jou sê dit is! Die probleem is dat ons só geneig is om wegbreeknaweke te sien as ’n luukse wat ons nie kan bekostig nie. Maar wat as jy dinge soos tandepasta, vrugte en doktersafsprake begin sien as “luukses” in plaas van noodsaaklikhede? Jou liggaam sal agter­uitgaan. Dit is hoekom jy van hierdie items ’n prioriteit maak. Wat keer jou om van jou huwelik ook só ’n prioriteit te maak?

Promosie

Besluit wat julle kan bekostig (tydsgewys en geldgewys). Om een keer per maand weg te breek, tweemaan­deliks, vier keer per jaar of drie keer per jaar? Daar is paartjies wat net twee keer per jaar saam kan wegkom en ander wat slegs van hul huweliksherdenking ’n weg­breeknaweek kan maak. Hoe dit ook al sy, besluit vooraf hoe gereeld julle kan weggaan, maak dan die datums vas in jul dagboeke en begin beplan.

Die 10 reëls van romanties reis…

REËL NOMMER 1: Dit is natuurlik om sonder die kinders weg te gaan. Hoe lief jy ook al jou bloedjies het, dit is nodig vir jou en jou man om alleentyd saam te spandeer en so lank as wat julle wil om ’n kersligtafel te sit en eet. As die twee van julle na aan mekaar voel, sal jul kinders veilig voel.

REËL NOMMER 2: Kies jul bestemming baie fyn en kies dit sáám. Romantiese reis gaan oor die bestem­ming! Vergeet dus die gesinsoorde en kies ’n plek waar aktiwiteite nie rondom jillende kinders gereël word nie.

REËL NOMMER 3: ’n Romantiese reisplek kan goedkoop of duur wees. Wissel julle romantiese reisplekke af. Onthou, twee nagte in ’n tentjie onder die sterre kan mál romanties wees!

REËL NOMMER 4: Eksperimenteer met plekke en dinge wat vir julle ongewoon is. Die onbekende is opwindend en dinge wat jou bloed kan laat bruis. Outeur John Gottman stel voor dat julle elkeen vooraf ’n lys maak van aktiwiteite wat julle graag sal wil probeer. Ruil dan lysies en kies een item van jou maat se lysie (en vice versa). Skeduleer dan daardie aktiwiteit vir jul wegbreeknaweek.

REËL NOMMER 5: Deel van die pret lê in die be­planning. Beplan saam. Julle kan elke wegbreeknaweek beurte maak om die reëlings te tref of julle kan die reëlings verdeel. Jy kan byvoorbeeld plek soek en die bespreking maak, ter­wyl manlief die nommers van oulike restaurante in die omgewing moet opspoor.

REËL NOMMER 6: Bly binne die begroting. As julle nie nou ’n langnaweek by ’n vyfster lodge met al die trimmings kan bekostig nie, maak dit hierdie keer ’n kampnaweek en spaar vir die luukse naweek. Of kies ’n duur plek na aan die huis en gaan slaap slegs een aand daar oor. Daar is min dinge wat so ’n demper op romanse kan plaas as spanning oor finansies!

REËL NOMMER 7: Moenie skaam wees nie. As daar ’n spesiale geleentheid met jul weg­breeknaweek saamval (soos ’n huweliksherdenking of verjaardag), maak seker dat die hotel waar julle bly bewus is hiervan. Sommige goeie wegbreekplekke doen baie moeite vir só ’n geleentheid en dit kan jul aand ekstra spesiaal maak. As daar niks spesiaals gebeur nie, vra in elk geval die hotel om jul kamer ekstra spesiaal te maak (teen ’n koste natuurlik) deur ’n bottel sjampanje soontoe te stuur. Julle kan dit self ook opzoosh!

REËL NOMMER 8: Beplan alles fyn, maar laat ook ruimte vir spontaneïteit. Kry behoorlike aanwysings, sorg dat julle ’n bewys van betaling byderhand het en kyk goed na resensies voor julle plek bespreek om onaangename verrassings te vermy. Daarby gesê, moenie jul skedule só vol vooruit beplan dat daar nie tyd is vir impromptu aktiwiteite nie!

REËL NOMMER 9: Die road trip is deel van die pret. Julle romanse begin die oomblik wat julle die huis sluit. Maak ’n playlist van al die liedjies wat vir julle as paartjie baie beteken. Stop by mooi (en veilige) uitkykpunte en hou mekaar se hande vas.

REËL NOMMER 10: Moet jul naweek nie té ernstig opneem nie. Ja, julle wil graag hê alles moet perfek wees, maar as julle ’n pap band kry of per ongeluk die boskamp bespreek het in plaas van die wittebroodsuite, lag daaroor en maak die beste van slegte omstandighede – dit is dié dinge wat julle gaan onthou! Slim mense meen dat die beste manier vir enigiemand om te cope is om lekker te lag. “Humor maak alle dinge draaglik,” meen die prediker Henry Ward Beecher op die webtuiste focusonthefamiliy.com.

Navorsers aan die Universiteit van Denver meen om oomblikke te vind om by mekaar te wees, is nie ’n indulgence nie. “Hoe meer tyd jy in pret, vriendskap en ‘daar wees vir jou maat’ belê, hoe gelukkiger raak die verhouding oor tyd,” meen Howard Markman, ’n sielkun­dige aan dié universiteit. “Die korrelasie tussen pret en huweliksgeluk is hoog en merkbaar.” So trek nou die kalender nader en sit geld opsy vir wegbreeknaweke soos wat jy vir jou tandepasta, vrugte, vitamienes en mediese uitgawes begroot. Dit is die prettigste noodsaaklikheid waaraan ’n mens moontlik kan dink!