Dink aan ’n bottel wyn… daar is die kurkprop, die etiket, die bottel en die inhoud. So, as jy eers jou gedagtes laat gaan betreffende al dié komponente, gaan wyn drink oor veel meer as net die voggies!

Promosie
  1. Hou ’n cheesy, soppy, romantiese ete! Raak laf en dryf die spot met die verbeeldingloses deur ’n romantiese ete te maak, kompleet met kerse, uitgeknipte papierharte, ballonne, sjokolade, I love you-teddiebere, Dolly Parton-musiek, fake rose (of angeliere) en… ja, rooiwyn! Kyk hóé snaaks julle kan raak deur Hallmark-woorde in mekaar se ore te fluister en na Dolly Parton te luister.
  2. Maak ’n spesiale etiket vir manlief. Trek die etiket van die wynbottel af en gebruik maskeerband om ’n nuwe “etiket” met swartbordverf op jou bottel te verf. Skryf daarop: “Jy maak my dronk van die liefde!” en plaas dit op die tafel wanneer julle ’n romantiese ete geniet.
  3. Skep atmosfeer met jou wynbottel(s). Wynbottels maak pragtige kerskandelare. Plaas ’n standaard kers in die opening, sit ’n klein teeliggie bo-op die bottelopening neer of sny die bodem van die bottel af en plaas dit bo-oor ’n vet kers. Kyk hoeveel leë wynbottels julle bymekaar kan maak en as julle versameling stewig is, beplan ’n kersligaand in die slaapkamer. Wanneer laas het julle die ding gedoen by romantiese kerslig? Dis super-romanties!
  4. Gee vir manlief ’n message in a bottle. Skryf ’n mooi liefdesbrief waarin jy oop kaarte met jou maat speel. Vertel hom waarom jy hom liefhet en gesels oor jou beste herinneringe saam met hom. Plaas nou die brief in ’n bottel, seël dit en los dit vir hom in die bad.
  5. Maak ‘n mooi dekorelement vir jul slaapkamer. Neem vyf wynbottels, haal die etiket af en was die bottels goed. Neem nou ’n kannetjie swartbord spuitverf en spuit die bottels swart. Neem nou wit bordkryt (as jy kort-kort die letters wil verander) of gebruik wit verf as jy dit permanent so wil hou, en skryf vyf letters neer – een op elke bottel. S-M-E-U-L. Laat hulle langs mekaar staan iewers in die slaapkamer as ’n herinnering dat julle gereeld moet smeul…
  6. Maak ‘n wynbottel met ’n boodskap. Koop ’n behoorlike bottel wyn wat jy weet manlief van gaan hou. Maak nou ’n uitnodiging op ’n stukkie karton. Sny ’n gleuf in die wynbottel se prop en skuif die uitnodiging daarin. Los nou die wyn en uitnodiging op sy bedkassie. Die uitnodiging kan iets sê soos: “Ek en jy, vanaand, sonder ’n draad klere met ’n glas hiervan in die hand. Is jy in?”
  7. Maak ’n persoonlike bottel! As jy self nie handig is met ’n ontwerpprogram nie, vra iemand wat wel is om ’n persoonlike wyn-etiket te ontwerp. Op die oog af, moet dit vir manlief lyk soos net nóg ’n bottel wyn. Tot hy die etiket lees… Jy kan selfs stout en suggestief raak. Maak jou wyn se naam iets stouts soos “Don’t Blush” en hou die res van die woorde opwindend. Jou etiket kan hom laat bloos, hom lus maak of hom uitnooi – besluit jy!
  8. Begin ’n sentimentele versameling. Versamel die proppe van elke bottel rooiwyn wat julle saam gedrink het. Maak ’n mini-nota onder die prop sodat jy kan onthou watter geleentheid dit was of ’n kodewoord wat beskryf wat daarna gebeur het (soos “liplekker”).
  9. Maak ’n warm soetwyn vir die kaggelvuur… met een 750ml bottel rooiwyn, vier teelepels lemmetjiesap, 1½ eetlepel suiker, gemengde vars bessies en ’n mentblaar. Kook alles saam en drink die warm wyn op ’n skaapvelletjie voor ’n kaggel wat brand. Wat is meer romanties as dít?
  10. Trap druiwe met jou kop in die wolke! Daar is net iets aan druiwetrap wat jou herinner aan romanse, pret, verleiding en indulgence! By ’n paar wynplase in die Kaapse wynlande kan jy gedurende oesfeeste nog voel hoe dit voel om druiwe met jou kaal voete te trap… Bespreek sommer ’n naweek weg na een van die wynplase en neem deel aan dié eiesoortige aktiwiteit. Koop dan een van dié plaas se bottels wyn ter herinnering aan ’n romantiese ervaring!

 

Deur Annelize Steyn

Promosie