Elke paartjie beleef soms ‘n afsluiting, maar wat as jou maat se geaardheid of ‘n fase in sy/haar lewe dit vir jou moeilik maak om met hom of haar te konnekteer? Kan jy ‘n emosioneel afsydige maat nader lok?

Promosie

“Soms, al sit hy reg langs my, voel dit asof daar ‘n oseaan tussen my en my maat lê,” sê ‘n vriendin onlangs. Jy kan hoor daar is ‘n verlange in die manier waarop sy dit noem en ek besef meteens dat dit ‘n maak-of-breek situasie in hul huwelik kan wees. Sy is ‘n warm kletskous wat haar hart op die mou dra. Hy is ‘n inkennige ingenieur wat net praat wanneer hy meen dit is werklik nodig. Woorde is nie noodsaaklik vir emosionele intimiteit nie, maar dit is sy lyftaal, sy weerbaarheid wat soms ‘n uitdaging kan wees.

“Hy is ‘n toe boek,” sê sy. “Soms voel dit asof ek keer op keer teen ‘n muur vashardloop wat maar net nie wil meegee nie.” Ja, hulle het lank uitgegaan voor hulle sewe maande gelede getroud is. Sy het hom goed geken en geweet wie hy is, maar sy het vasgehou aan die oomblikke wat sy menslikheid wel deurgeskemer het. Sy het geglo dat as hulle eers getroud is, dinge sal verander en hy sal weet hy kan haar met sy diepste gedagtes vertrou…

Waarom is my maat emosioneel afsydig?
Emosionele afstand is ‘n algemene probleem in verhoudings. Daar is gevalle soos dié wat een van die partye bloot emosioneel afsydig is as gevolg van wonde uit die kindertyd, seerkry uit die verlede, blootstelling aan kritiek of bloot omdat dit hul geaardheid is. Emosionele afsydigheid ontstaan gewoonlik as gevolg van vrees – vrees vir spot, skaamte of swakheid. Om emosioneel oop te wees, is om jouself weerloos te maak vir oordeel. Ja, elkeen het sy eie persoonlikheid, maar soms moet ‘n emosioneel afsydige persoon uitgedaag word om sy wapenrusting te laat sak, aangesien so iemand baie gemaklik kan raak met ‘n bewapende hart.

Promosie

Daar is heelwat redes waarom ‘n paartjie wat eens emosioneel intiem was, uit mekaar kan dryf: Een party smag dalk na alleentyd, is gespanne of depressief of het belangstelling begin verloor in die huwelik. Dit gebeur ook soms dat daar ‘n ongesonde dinamika in die verhouding bestaan waar ‘n siklus van voortsetting en vermyding plaasvind. Jou maat voel dalk jy is te ‘needy’ en tree terug. Jy raak bekommerd, maar hoe nader jy kom, hoe verder tree jou maat terug.

Kritiek en onttrekking is nog ‘n vorm van ongesonde dinamika wat kan ontstaan: Omdat jou maat emosioneel afsydig is, voel jy seergemaak en reageer deur meer krities en gegrief op te tree as wat jy besef. Jou maat lees hierin dat jy voel hy/sy is ‘n mislukking, of nie goed genoeg nie. Dan onttrek hy/sy uit vrees dat interaksie jou selfs méér krities of ontevrede sal laat optree. Die onttrekking maak jou net meer gespanne en so ontstaan ‘n bose kringloop.

Is jou maat emosioneel onbeskikbaar?
Jy is moontlik getroud met ‘n emosioneel afsydige maat as die volgende vir jou bekend klink:
* Hy/sy tref reëlings sonder om jou in te sluit. Jy hoor eers teen Donderdagmiddag dat hy van plan is om Saterdag gholf te speel saam met sy pelle en dat hy laas jaar al planne vir ‘n jag naweek (wat oor ‘n maand gebeur) gemaak het. Jy is salig onbewus van die feit dat sy beplan het om haar Sondag in die winkels deur te bring en haar vriendin sommer vir ete ook te kry…
* Emosie is onsigbaar. Dit beteken nie dat jou maat krokodiltrane hoef te stort nie! Maar as jou maat nooit enige warmte of emosie teenoor jou toon nie, is hy/sy emosioneel onbeskikbaar.
* Dit voel asof jy die enigste een in die verhouding is. Dit mag lyk asof jou maat glad nie committed tot jul huwelik is nie. Hy/sy doen niks om dit te onderhou nie, inisieer nooit ‘n gesprek nie en toon geen belangstelling in jou lewe nie.
* Hy/sy is altyd ágter ‘n muur waar jy nie kan uitkom nie. Daar is mense wat bang is om hul ware self te wys. Jou maat is dalk ‘n ekstrovert wat die een grap na die ander uitryg, maar dit is bloot ‘n masker waaragter hy/sy wegkruip.
* Dit voel soos ‘n eenrigtingstraat. Jy stort jou liefde, jou toewyding, jou opoffering, jou waardering… maar jy kry niks terug nie. Dit voel asof jy oorvloedig gee maar niks terug ontvang nie.

Wat maak jy met ‘n emosioneel afsydige maat?
Kenners meen dit is moontlik om ‘n goeie huwelik met ‘n emosioneel afsydige maat te laat werk, mits jy realistiese verwagtinge van die situasie het. Dit is moeilik! Veral wanneer julle teenoorstaande pole is. Eerstens: Erken julle verskille. Die feit dat julle verskillend geskape is, beteken nie een party is verkeerd en die ander is reg nie. Dit beteken wel dat julle iewers in die middel sal moet ontmoet.

Moenie op die probleem broei nie en spreek dit aan sodra dit spanning in jul huwelik skep. Stel vas wat is die rede vir sy/haar optrede en as jy nie agter die kap van die byl kan kom nie, vra reguit. Kyk watter effek jou optrede op jou maat se gedrag het. Hoe meer jy jou maat se openheid ‘eis’ hoe meer kan hy/sy onderbewustelik besluit om daarteen te rebelleer.

Gee jou maat die ruimte wat hy/sy nodig het – dit het dalk net die effek waarna jy smag. Huwelikskenner Harriet Lerner sê dit is belangrik om ‘n balans te kry tussen verwydering en saamwees, wat vir beide jou en jou maat sal werk. Hoewel die rol van ‘naderkommer’ en onttrekker nie noodwendig geslagsverwant is nie, is mans en vroue so bedraad dat dit dikwels die vrou is wat nader wil beweeg en die man wat na spasie mag. Kenners meen dat hierdie dinamika só ‘n punt kan bereik dat dit ‘n huwelik in ‘n gevaarlike situasie kan plaas.

Wat moet gebeur is herstelwerk, met beide partye wat hul rol in die probleem erken en werk aan ‘n oplossing. Verwoord jou gevoelens so duidelik as moontlik, deur byvoorbeeld te sê: “Wanneer jy nie met my praat oor wat in jou kop aangaan nie, voel ek uitgelaat – asof jy my nie vertrou met jou gedagtes nie.” Of “Dit maak my seer as jy ure op Facebook deurbring in plaas daarvan om met my te gesels oor jou dag.”

Jou eerste reaksie (uit vrees of benoudheid) is om jou maat aan te val oor sy/haar afsydige gedrag (omdat jy dit na jou toe aantrek) maar sien jou maat soos ‘n kruidjie-roer-my-nie. Jou woorde of aanval, gaan hom/haar waarskynlik net dieper in die dop laat kruip. Jou maat se onttrekking het waarskynlik te doen met ‘n diep vrees of onsekerheid en dit gaan nie oor jou nie. Weerstaan jou impuls om uit woede op te tree en kommunikeer jou ongelukkigheid op ‘n liefdevolle manier.

Wat ook al jy doen, moenie kerm of argumenteer nie. En moenie jou maat probeer verander nie. Verwoord jou ongelukkigheid en kyk wat jy aan jouself kan verander om dit te laat werk, maar moenie dink jy gaan ‘n emosioneel onbeskikbare maat verander nie (behalwe as die gedrag nie deel is van wie hy/sy is nie).

Erken jou rol in die ongesonde dinamika waarin julle julself bevind. Sien die patroon raak wat reeds ontstaan het en werk daarna om die patroon te verander. Gesels hieroor wanneer julle albei uitgerus voel en in staat is daartoe om die saak rasioneel en kalm te benader.

Doen wat jy kan om van jouself ‘n veilige toevlugsoord te maak. Wie is jy in jou maat se oë? Die persoon wat gaan misbruik maak van sy/haar swakhede of dit as wapens gaan gebruik? Iemand wat so onmoontlik ‘perfek’ is dat niemand ooit by jou kan uitkom nie? Daarby sê ons geensins dat wie jy is die skuld moet kry vir jou maat se afsydigheid nie, maar wel dat jy moet seker maak jou maat voel veilig genoeg om weerloos by jou te wees.
Wanneer jou maat iets met jou deel, wys hom/haar dat jy dit hoog op die prys stel en dit respekteer. Delf dieper en vind uit hoe jou maat oor sy/haar emosionele afsydigheid voel. Is dit iets waarmee hy/sy worstel, of is dit ‘n doelbewuste keuse?

Wat jy ook al doen, maak seker jy plaas nie te veel druk op jou maat nie. Ja, jy wil graag hê jou maat moet oopmaak, maar die druk van jou kant af kan die teenoorgestelde uitwerking hê. Probeer om op jou eie lewe te fokus, jou eie talente te ontwikkel en die fokus vanaf jou maat te verskuif.

Leer ken jou maat se liefdestaal en ‘lees’ hom/haar reg. Onthou dat alle mense nie op dieselfde manier liefde bewys nie. Jou maat het waarskynlik ‘n unieke manier waarop hulle hul gevoelens tentoonstel. Dit kan ‘n subtiele aanraking wees of ‘n rare glimlag. Waardeer dit en die groter gebare sal volg.

Wanneer ‘n paartjie hulself in dié situasie bevind, kan dit moeilik wees om die drade op te tel en weer by mekaar aan te sluit. Dit is wel moontlik, met geduld, tyd en sagmoedigheid.

Addisionele bronne: www.psychologytoday.com; www.beliefnet.com; www.momjunction.com