Affairs verswelg huwelike. Derduisende verhoudings verdrink en uiteindelik laat dit net brokstukke oor van wat eens opregte liefde was… en steeds is daar mense wat dit nie weet nie.

Promosie

Ek wil skei, dinge kan nie so aangaan nie,” was die woorde wat Elna de Wet* se wind uit haar seile geneem het. Terwyl sy haar ore nie kon glo nie, het haar man na ’n huwelik van deka­des vir haar vertel dat daar niks meer tussen hulle is nie. “Op daar­die selfde dag het ek gesien hoe my man verby ’n vrou stap wat saam met hom werk en sy hand effens oplig, asof hy aan haar wou raak.” Dinge het vir Elna sin gemaak. Sy ken die vrou en het na haar toe gestap en gevra of sy romantiese gevoelens vir Frik* het. Asof die skok vroeër daardie dag nie genoeg was nie, het die vrou Elna geantwoord: “Ja, ons is beste pelle. En ons wil dit na die volgende vlak neem. Ek moet net keer, want hy wil net seks hê,” het die vrou haar geantwoord, sonder om te blik of te bloos.

“Ek het vermoed dat sy intensies met my man het, maar ek het nooit gedink dat my man daarvoor te vinde sou wees nie.” Die skok was vir Elna te groot. “Toe ek bykom, was die paramedici besig om my te behandel. Ek het my man gevra of dit só is en sy antwoord was: ‘So what ás dit só is…’ Hoekom? Hy het nie geantwoord nie.

Elna en Frik was beide bekommerd oor hul finansiële situasie, maar behalwe hiervoor, was daar geen teken van ongelukkigheid nie, beslis nie dat haar man ’n affair kon gehad het nie.

Promosie

Elna vertel dat sy dood binne-in was toe sy van die affair uitvind. Dat sy nie meer wou lewe nie, want alles in haar lewe het om hom en hul kinders gedraai. “Ek het verneder gevoel omdat almal daarvan geweet het, ek het my vrouwees bevraagteken, ek het my moederskap bevraagteken… my hart was verpletter! En skielik het ek gevoel dat ek niks werd is nie. Ek het eensaam gevoel, want my man is my beste vriend, hoewel my vriendinne my bygestaan het. Ek huil steeds elke dag. Ek is bang en sukkel om te slaap. Ek is verward.”

Was daar wrokgevoelens? “Ek het haar gehaat en wou wraak neem, al is aggressie glad nie in my aard nie. Ek het my toevlug tot die Here geneem, want net Hy het geweet hoe groot my pyn en hartseer is. Dit is toe dat ek besef het dat ek slegs ’n Christen was en nie ’n gelowige nie. Ek het Psalms gelees en gelees, en elke dag het ek ’n boodskap van die Here gekry uit Sy Woord, of deur iemand dat ek geduldig moet wees. ’n Pastoor het kom bid en hy het my huis kom salf. Baie kere was die boodskap direk van hom af, en dis juis spesifiek op dié tye wat ek dit nodig gekry het. My geloof het gegroei en gegroei. Ek het ook duidelik die boodskap gekry dat ek móét vergewe as ek vergifnis wil hê. Ek doen dit dus elke dag en ek vra ook die Here om haar en haar kinders in Sy sorg te neem en dat die Heilige Gees ook in hulle moet werk. Jesus het ook sy vyande geseën. Soms as ek weer bitter voel oor die verlies in my lewe, dan bid ek vir vergifnis oor my gedagtes.” Frik het vir ’n maand lank saam met hul seun uitgetrek en by sy ma gaan bly…

Dit is nou ’n jaar later en die verhouding duur steeds voort – in die ope. “Dit is baie seer en ek bid omtrent 24/7 dat die Here my asseblief nou sal hoor, dat my man se oë sal oopgaan. Ek ken hom en weet dat hy eintlik bitter ongelukkig is. Maar dit is sy eie skuld. Die seer het nie verminder nie en ek voel steeds soos ’n jaar gelede. Toe ek hom vra hoe hy my na soveel jare kon seermaak, het hy geantwoord: ‘Ek weet nie, want ek wil nie.’”

Wanneer hy na die ander vrou toe gaan, sê hy hy gaan “dorp” toe. Soms stuur hy ’n boodskap om nag te sê. “Ek lewe maar vir die tye wat hy by die huis is – dit is tans vyf uit sewe nagte. Hulle stuur saans vir mekaar boodskappe, maar gewoonlik eers ná 22:30. Dan gaan ek maar kamer toe en huil of bid.” Elna vertel dat hulle nou in ’n huwelik is met soveel geheime, sonder enige vertroue. “Maar ek weet dat ek hom sal vergewe en ek sal dit te bowe kom wanneer hy omdraai…”

Dit het ’n baie groot uitwerking op die gesin gehad. “Ons oudste is getroud en sukkel om alles te verwerk. Sy is maar die een wat meestal by my is en op wie ek steun. Die jongste dogter het nie eers daaroor gepraat nie en summier na ’n ander provinsie verhuis, nou sien ek haar maar bitter min. Ons seun is betrokke by die ander vrou se dogter en as hy tyd saam met hulle deurgebring het, is hy bitter ongeskik met my. Wat ’n mooi tyd in sy lewe moes wees, ’n tyd wat hy met my en sy pa kon deel, is by my gesteel. My kinders, wat eens my man se trots was, is nou bitter, verward, kwaad, geheimsinnig en sukkel met vertroue.” Elna vertel dat daar nog nooit probleme met hul sekslewe was nie. In haar oë is dit steeds mooi en opwindend. “In my nederige opinie, dink ek sy affair is ’n mengsel van middeljarekrisis en die feit dat hy gevoel het hy kon ons nie versorg nie omdat hy al meer in die rooi beland het, maar hy weier om dit te erken.”

Praat hulle oor sy openlike affair? “Ja, hy sê net dat hy nie weet wat hy wil hê nie, nie wil kies nie en dalk eerder alleen wil gaan bly… maar hy doen dit nie. Soms dink ek hy wil uit en dat sy ’n houvas op hom het, maar dan is daar die opgewondenheid wan­neer sy hom soms bel. Wanneer ek hom vra waar hy rustig voel, antwoord hy dadelik: ‘Hier, by die huis.’ Maar niks verander nie.” En die ander vrou? “Ek dink ek haat haar totdat ek vergifnis moet vra. Ek haat dit wat sy aan ons gesin doen. Ek haat die feit dat sy dink sy kan my lewe oorneem en in my skoene staan. Sy beskou haarself as my man se vrou. Sy het hierdie affair doelbewus begin, want ’n jaar voor die tyd het sy vir iemand vertel dat sy my man gaan kry.”

Eindelik sê Elna: “Maar ek glo niks is oor tot die Here sê dit is oor nie. Die huwelik is ’n heilige instelling van God en ek het ’n eed voor Hom afgelê… ek sal nooit daardie eed verbreek nie.”

Is Elna se situasie uniek?

Vroeër het INTIEM ’n Stop Affairs-veldtog gehad met die doel om soveel moontlik handtekeninge in te samel van mense wat opstaan vir hul huwelike. Dit is na aanleiding van die webtuiste AshleyMadison, ’n webtuiste met 15 miljoen lede wat getroude mense aanspoor om affairs aan te knoop. Binne ’n week het 14 000 Suid-Afrikaners op hierdie webwerf geregistreer en ten tye van druk kon INTIEM net skraps duskant 12 000 handtekeninge invorder? Hoekom? Neem ons werklikwaar ons huwelike só ligtelik op? Dit is moeilik om ware syfers op te spoor, maar daar word geskat dat meer as een derde van mans en ongeveer ’n kwart van vroue minstens een buite-egtelike daad gepleeg het. En sover dit emosionele ontrouheid aangaan (waar jy intiem, maar nie seksueel met iemand van die teenoorgestelde geslag omgaan), is die syfers veel hoër – nader aan 50%! Natuurlik speel tegnologie ’n groot rol in die toename van affairs. Dit is deesdae net soveel makliker omdat jy jouself kan geniet met die voordeel van anonimiteit. Ongeveer een uit tien Internetgebruikers rapporteer dat hulle verslaaf is aan kuberseks of ander aanlyn-versoekings soos pornografie. En omdat baie aanlyn-affairs nie fisieke kontak behels nie, oortuig deelnemers hulself dat dit nie werklik ontrouheid is nie.

Is dit so skadelik vir my huwelik?

Ja, dit is. En hier is nog ’n paar redes hoekom affairs net nie die moeite werd is nie.

  1. ’n Buite-egtelike verhouding het ’n dramatiese uitwerking op die persoon wat verkul word se selfbeeld. Dit is onvermydelik dat daardie persoon die fout by hulself soek, net soos kinders hulself blameer vir hul ouers se egskeidings.
  2. Dit het ’n uitwerking op die slagoffer se vermoë om ander te vertrou. Skielik is daar die onsekerheid of sy/hy hul hele lewe lank mense verkeerd beoordeel het. Dit is ’n swaar sak bagasie wat daardie persoon vir baie lank met hom/haar saam moet dra.
  3. Ook die kinders dra swaar. Hulle is veral die weerlose party wanneer ’n ouer ’n affair het en is baie sensitief vir veranderinge in die gesinstruktuur.
  4. Daar is die effek op iemand se gevoel van stabiliteit/seku­riteit. ’n Persoon wat verkul word, voel asof sy/haar lewe onderstebo gekeer is. Dít wat eens sekuriteit gebied het, is nou aan’t skerwe en dit voel asof die mat onder jou uitgeruk is.
  5. Daar kan ’n finansiële impak wees. Geld wat op die gesin spandeer moet word, word vermors op geskenke vir die ander party en wegbreeknaweke… dit het ook ’n groot invloed op vertroue wanneer geld vir die gesin spandeer word op intieme plesiertjies saam met ’n vreemdeling.
  6. Vrede is iets van die verlede. Konflik is onvermydelik – dalk gouer en dalk later. Die huis wat eens pal vredig was, word nou ’n oorlogveld van argumente. Alles wat verkeerd loop, word iets om oor te baklei.
  7. Daar is ’n warboel van emosies. Jy voel dalk lus om te skreeu, om te huil. Dalk plaas jy die skuld op hom. En die volgende dag op haar. Die volgende dag op jouself…
  8. Daar is ’n rippel-effek. Skielik kyk die slagoffer van ’n affair anders na hom/haarself in die werkplek, tussen vriende en beskou lewenskeuses uit ’n ander perspektief. Dit kan positief of negatief wees, maar hoe dit ook al sy – dit bring verandering.
  9. Dit het ’n uitwerking op die pad wat jou huwelik stap. Dit is heeltemal moontlik vir ’n huwelik om na ’n affair te herstel, maar die pad is lank en moeilik omdat daar diep wonde is wat moet heel.

En nommer 10… Dit lei tot egskeiding.

Corlia van der Walt, ’n regsgeleerde van Johannesburg, meen dat egskeidings as gevolg van affairs ongelukkig iets is waarmee prokureurs baie te doen kry. “In my ondervinding blyk dit dat mense soms te jonk trou en te vinnig kinders kry en dan, op ’n dag, voel hulle die lewe het by hulle verbygegaan en dan begin hulle skielik die opwinding soek wat hulle voel hulle gemis het. Dit kan enige vorm aanneem – dalk het die een party ’n verhouding met ’n werkskollega begin, maar in die meeste gevalle is Facebook of ander sosiale netwerke die sondebok.”

Sy sê dat mense vertel hoe hulle by mekaar verbyleef, en dan een aand ’n WhatsApp of Facebook-boodskap van ’n eksmeisie of -kêrel kry. Die boodskap word beantwoord, die boodskappe word meer en voor die persoon sy oë uitvee, is daar ’n affair. “Of dit nou ’n sek­suele affair is of net ’n emosionele affair, die skade is groot. Ek het al ’n hele paar keer daarmee te doen gekry dat emosionele affairs tot egskeiding lei, want die ander party kan dit doodeenvoudig nie verwerk nie. Soms gebeur die egskeiding eers ’n jaar of twee ná die tyd, want in dié tyd het die onskuldige party probeer werk aan die verhouding en probeer vergeet, maar dan agtergekom dit is iets wat hy of sy nooit kan vergeet nie. Só voel baie kliënte dan dat egskeiding die enigste uitweg is.”

So wat nou?

As julle tans worstel deur die vloedskade van ’n affair, het julle waarskynlik die uitwerking van nommer een tot nege ervaar (indien nie heelwat meer nie). ’n Affair hoef nie tot nommer tien te lei nie. Hier is vier reddingsboeie wat die huwelikskenner en outeur Steven W Harley gee en wat julle nou prioriteitsreëls moet maak:

  1. Die reël van beskerming: Moenie die oorsaak van jou maat se ongelukkigheid wees nie.

Bou liefdesbank-rekeninge en vermy love busters soos woede-uitbarstings, disrespekvolle oordeel, irriterende gedrag, selfsugtige eise en oneerlikheid. Oorweeg die beleid van gedeelde ooreenstemming – moet nooit enigiets doen sonder entoesiastiese ooreenstemming tussen jou en jou maat nie. Dit beskerm julle teen oorhaastige besluite. Jou affair was ’n voorbeeld hiervan, want jy het geweet dit sou jou maat seermaak, maar jy het in elk geval voortgegaan. Die beleid van gedeelde ooreenstemming is ’n manier om die reël van beskerming te volg. Dit help jou besef: Enigiets wat jy doen wat jou maat seermaak, is off limits. As jy hierdie reël gevolg het, sou jy nooit ’n affair aangeknoop het nie, maar die beleid sal jou help om jou maat in ander opsigte ook nie seer te maak nie.

  1. Die reël van omgee: Maak seker jy voorsien in jou maat se belangrike emosionele behoeftes.

Dit is ook hoe die affair gestook is. Die ander party het waarskyn­lik in jou emosionele behoeftes voldoen en kort-voor-lank het jy hom/haar onweerstaanbaar gevind! Gesprekvoering is ’n emosionele behoefte. Só ook toenadering, geselskap, bewondering en seksuele vervulling. Dit kom nie noodwendig vanself nie en soms verg dit harde werk om aan jou maat se emosionele behoeftes te voldoen, maar dit is soos ’n gewoonte wat jy moet kweek. Jy het ’n plan nodig en ’n gewilligheid om dit uit te voer tot jy ’n kenner op dié gebied word!

  1. Die reël van tyd: Gee jou maat jou onverdeelde aandag.

Beplan om elke week minstens 15 ure saam deur te bring waarin julle aan mekaar jul onverdeelde aandag gee. Hierdie tyd is ideaal om mekaar se emosionele behoeftes te vervul. As hierdie hoeveelheid tyd spandeer word aan mekaar, kan jy die res van jou 100 wakker ure per week enigiets doen sonder dat jul liefde vir mekaar ’n risiko loop. Skeduleer hierdie tyd en maak afsprake in jul dagboeke. Dit is ononderhandelbaar. Doen dit op dieselfde tyd elke week (sodat julle kan onthou) en doen dit op ’n tyd wanneer julle albei genoeg energie het. Sprei ook julle tyd uit sodat julle mekaar een uur van onverdeelde aandag elke dag kan gee in plaas van ’n marathon oor die naweek.

  1. Die reël van eerlikheid: Wees heeltemal eerlik met jou maat.

Dit behoort nie slegs na ’n affair te gebeur nie – maar deel te wees van jou en jou maat se daaglikse omgang met mekaar. As jy 100% eerlik was met jou maat, sou jy nooit ’n affair gehad het nie. Jou eerlikheid is jou maat se grootste beskermingsmeganisme, want dan weet hy/sy altyd wat aangaan. Dit help julle ook om aanpass­ings in julle verhouding te maak vóór ’n affair ontstaan, deur te erken wanneer een van julle ongelukkig is of afgeskeep voel.

Dit ís moontlik vir ’n huwelik om ’n affair te oorleef, maar as jy voorheen gedink het die huwelik is harde werk, wag tot jy sien wat gebeur na ’n affair! As jy egter bereid is om permanent die verhouding met die ander party te beëindig (en álle kontak te verbreek), as julle deur die kritiese tydperk kan kom en dan hierdie vier reëls tot huweliksherstel volg, waarborg dr Harley dat nie een van julle ooit weer die verwoestende golwe van ’n affair hoef te trotseer nie.

Skadevergoeding teen die derde party

Daar is deesdae nogal heelwat slagoffers van affairs wat die derde party dagvaar vir skadevergoeding, maar dit kan slegs gebeur as ’n mens bewyse het dat die derde party die oorsaak is vir die verbrok­keling van jou huwelik en dat ’n affair die enigste rede is hiervoor. “Gewoonlik is die derde party se verweer dat die huwelik reeds ver­brokkel het ten tye van die affair. Indien die derde party se verweer slaag, is daar ’n kans dat jy nog daardie derde party se kostes ook moet dra,” meen Corlia. As jy dus hierdie roete wil oorweeg, moet jou bewyse baie goed wees. “Dit sluit in WhatsApp-, Facebook- en ander boodskappe, e-posse, video’s en so meer. Die prokureur sal ook sy kliënt inlig dat sulke aangeleenthede baie selde suksesvol is en selfs al is dit suksesvol, kan dit baie duur wees.” Corlia sê die hof neem in ag hoe lank die paartjie getroud was, of hulle saam gebly het as man en vrou ten tye van die verbrokkeling van die huwelik, wat hul sosiale en finansiële situasie is, of daar bewyse is dat die derde party met opset die huwelik probeer opbreek het en of die onskuldige party enige skuld gehad het aan die verbrokkeling van die huwelik.

 

*Skuilname is gebruik

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: focusonthefamily.com; divorcesupport.about.com; livestrong.com; marriagebuilders.com