Volgens kenners eindig ongeveer 75% van huwelike wat finansiële druk ervaar in ’n egskeiding. ’n Egpaar wat alles gehad het en toe alles verloor het, het ten spyte van finansiële ondergang besluit om nie deel van die statistiek te word nie. Maar dit was nie altyd so maklik nie . . .
Santie Botha* het net die beste van alles gehad. Sy en haar man, Johan, was lief daarvoor om vriende in hulle ruim woning te onthaal. Oesters en kaviaar as voorgereg, met net die duurste vleissnitte as hoofgereg, was die norm in die Bothas se huis. Sy het haar eie gimnasium gehad, sommer in die huis, met ’n persoonlike instrukteur wat haar op die regte oefenpad gehou het. Hoewel Johan gereeld op sake transaksies oorsee gegaan het, het hulle net so gereeld langs die kus en by vyf ster reservate uitgehang. Hul huwelik was sterk en aangevul met twee uitblinker kinders. Hulle woning was ’n paleis van ’n huis en in een van die beste voorstede van Johannesburg geleë. Dit is volgens Santie se duur smaak gemeubileer. Van armoede of sente omdraai, het die Bothas niks geweet nie …
INTIEM ontmoet vir Santie in haar ma se huis in Pretoria. Sy en die seuns kuier vir die dag hier terwyl Johan opleiding by ’n vriend se firma kry. Die Bothas leef die afgelope twee jaar nie meer in weelde nie. Inteendeel . . . Santie glimlag wrang en sê dis altyd vir haar moeilik om na foto’s van hulle vorige lewe, soos sy dit noem, te kyk.
Die huis op die foto’s slaan ’n mens se asem weg. ’n Dubbelverdieping woning met geelhout spiraaltrappe wat die twee vlakke met mekaar verbind. Groot goue spieëls pronk oral teen die mure en dit is duidelik: Hier het net die bekendste name in skilderye gehang. Op een foto glimlag ’n sjef in ’n droom kombuis. In die hoek van die kombuis lê bykans 2 000 bottels wyn en wag om gedrink te word.
Santie lyk vir ’n oomblik droomverlore. “Johan het hard gewerk vir dit wat ons gehad het. Hy was gereeld weg op sakereise, maar net so betrokke by ons wanneer hy in Suid-Afrika was,” vertel Santie. Omdat Johan sy eie onderneming bestuur het, kon hy op verlof gaan wanneer dit hom pas. Sy onthou hoe hy hulle altyd ná ’n sakereis op ’n vakansie sou neem. “Parys, Mauritius en Amerika het ons gereeld gesien.” Hul twee tienerseuns was in een van die beste privaatskole in die land en het graag saam met hul ouers die wêreld verken. Santie moes nooit ’n vinger lig om kos op die tafel te sit nie. “Danté was ons opgeleide sjef en kon enigiets onder die son maak.”
Die eerste tekens
Santie onthou die gewraakte dag soos gister. “Johan het by die huis gekom en was nie soos elke ander middag vrolik nie. Hy het bekommerd gelyk.” Hy het Santie meegedeel dat sy onderneming pas een van sy grootste kliënte verloor het. “Ek het nie dadelik die impak daarvan besef nie en het hom moed ingepraat. Hy was bang sy ander kliënte spring ook van die wa af wanneer hulle hiervan hoor.” Die sestig dae wat gevolg het, was een van die stresvolste tye in hulle lewe. Johan se kliënte het een na die ander vir hom die trekpas gegee. “Ek wou later nie meer die deur oopmaak wanneer hy by die huis kom nie, omdat ek te bang was om sy gesigsuitdrukking te sien.” Johan vertel hoe hy op sy beurt gevoel het Santie verstaan nie die erns van die situasie nie. “Sy was vrolik en het in haar oefenpakkie rondgeloop en partytjies gereël, terwyl ek gevoel het hoe die grond onder my begin meegee.”
In dié stadium het hulle huis nog van weelde geblink, maar hulle huwelik het agteruit begin gaan. Johan het destyds groot bedrae skuld aangegaan om die besigheid op die standaard te kry wat dit was. In twee maande het hy meer as 40 kliënte verloor. Hy het eers begin om een na die ander personeel af te dank, ook vir Danté, hul persoonlike sjef. “My grootste bekommernis daardie tyd was wie nou die kos gaan maak, kan jy dit glo?” Santie huil en lag deurmekaar.
Die paartjie het al minder gepraat en hy was min tuis. Hul seuns het die spanning bespeur en gereeld by vriende oornag. Johan sê hy het soos ’n mislukking gevoel. “Geld was wat my en my gesin gedefinieer het. Dit het bepaal saam met wie ons kuier, hoe ons lyk en wie ons was. Ek kon nie my lewe daarsonder indink nie.” Santie het geweet die koeël is deur die kerk toe sy een oggend na Johan se onderneming bel en hy self die foon optel. Al sy ontvangsdames en personeel was weg. “Ek onthou die dag toe ek die kantoor oopsluit en hope lêers wat rondlê al geselskap vir my was. Dit was tjoepstil in die kantoor. Al die lewe was weg. Al ons geld ook.”. Dieselfde middag het Johan se voertuig vroeër as gewoonlik by die huis ingery, met ’n gevolg agterna. “Ek het nog gedink ons het vriende wat kom kuier, tot vreemde mense die skilderye van die mure begin afhaal het.” Santie was geskok. Ná die balju daardie aand daar weg is, was daar net een voertuig in die motorhuis oor. “Ek het op Johan begin skreeu. Ek wou weet wat aangaan en hoekom my goed weg is,” onthou Santie. Sy was só kwaad en het hom met enige voorwerp wat sy in die hande kon kry begin gooi.
Sy laat sak haar kop en sê hoe skaam sy kry om daaraan terug te dink. “’n Baie spesiale bak wat hy vir my in Egipte gekoop het, het hom teen die kop getref. Hy het inmekaar gesak en op die vloer gelê en huil. Dit was verskriklik,” sê Santie sag. Sy het daardie aand in ’n ander kamer gaan slaap en die seuns laat weet hulle moet eerder nog ’n nag by vriende slaap. Johan het vir ’n week nie die huis verlaat nie en ook nie sy foon geantwoord nie. Hy het ook in ’n ander kamer gaan slaap. Santie wou een aand by hom inkruip, maar hy het sy rug op haar gedraai. “Dit het gevoel of ek in my taak as man gefaal het,” sê Johan. Die dae wat verbygegaan het, is vir haar vaag en vir Johan ook. “Ek kan nie onthou wat ek alles gedoen het nie. Ek het die meeste van die tyd omgehuil,” sê sy. Johan onthou hoe hy een oggend oorkant haar by die ontbyttafel gesit het. “Santie het onversorg en ongelukkig gelyk. Ek het vir haar gevra wat ons kan eet en sy het gesê ek moet in die kaste kyk. Daar was niks oor nie, behalwe ’n botteltjie Marmite en ou brood.” Johan sê hy kan die gevoel wat hy daardie oggend gekry het moeilik in woorde beskryf. “Ek het gevoel of al my moed in my skoene sak. Ek het leeg gevoel, moedeloos en hulpeloos. Bang.” Vir Santie was dit verskriklik om haar man so broos te sien. “Hy was altyd die steunpilaar in ons huwelik.”
“Hy het verslons begin lyk en die plek was ’n gemors.” Santie het een nag wakker geword, alleen, en besef dit kan nie so aangaan nie. Sy het teruggedink aan die dae toe sy Johan vir die eerste keer ontmoet het. “Ek het op my knieë neergeval by Johan se bed en begin bid. Hy het vir my geskreeu om op te hou. Sy lyf het geruk soos hy huil.” Daardie nag het Johan en Santie ’n keerpunt bereik. “Ek het vir hom gesê ek het hom lief soos hy is en dat ons planne sal moet maak.”
Drie weke later het die Bothas sak en pak voor Santie se ma se huis gestop. Die vriende wat hulle vroeër gehad het was nou stil. Die seuns het in die sitkamer geslaap en Santie en Johan op twee enkelbeddens in ’n spaarkamer. “Dinge kon regtig nie erger as dit nie.” Hulle het alles verloor. “Al ons besittings is verkoop om die skuld aan die bank terug te betaal.” Haar ouers was hulle kruk in dié tyd. “Ons het baie skaam gekry. Dit was erg om weer terug in my ouers se huis te wees.”
Die egpaar het ’n berader begin sien wat hulle gehelp het om die seer te verwerk. Die seuns is by ’n staatskool ingeskryf en intussen het Santie se ouers hulle gehelp waar hulle kon. “Al my klere-rekeninge is gesluit.” Toe Santie een middag na skool vir die seuns ’n roomys wou koop en vir haar ma geld moes vra, het die kil gebeure haar opnuut soos ’n nat vis deur die gesig geklap. “Ons het niks gehad nie, behalwe ’n paar kledingstukke en een kar.” Sy het deur haar eie verwerking gegaan en was by tye baie kwaad vir Johan. En hy vir haar. “Ek het gevoel hy moes die skuld beter bestuur het. Die berader het my gehelp om te onthou dat Johan se intensies goed was.” Santie moes werk daaraan om Johan nie deur ander mense se oë te sien nie. “Vir baie was hy nou ’n mislukking. Ek het na ons kinders gekyk en teruggedink aan die liefde wat ek in die laaste twintig jaar van hierdie man ontvang het.” Sy het geweet hy is nie vir haar ’n mislukking nie. “En ons moes baie bid.”
“Ek het werk begin soek. Ek het vir twintig jaar nie gewerk nie,” onthou sy verslae. Santie het gelukkig na ses maande werk as ’n kleuterskoolonderwyseres gekry. “Die salaris was min, maar dit was iets. Ten minste kon ons vir my ouers ’n bydrae begin gee.” Haar en Johan se verhouding het op en af gegaan. Sommige dae het hulle nie gepraat nie en ander dae het hulle in mekaar se arms gehuil. Johan het by die huis gesit. “Hy het depressief geraak.”
Intussen is Johan se ma met kanker gediagnoseer. Hul gesin het die waarde van goeie gesondheid begin besef. Johan se vriend, wat by hom bly staan het deur die gebeure, het oplaas vir hom werk by sy firma aangebied. Die salaris was soortgelyk aan waarmee Johan twintig jaar gelede begin het. “Maar ons was net dankbaar dat Johan weer soggens kon opstaan om êrens heen te gaan.”
Die Bothas kon nou ’n tweeslaapkamer meenthuis huur. Dit was die eerste keer in maande wat die lewe so bietjie normaal gevoel het. “Die kerk het vir ons skenkings gegee.” Hulle het die eerste ruk nie ’n wasmasjien gehad nie. “Ek kon nie glo hoe bederf ek eintlik geraak het nie.” Sy het een middag op haar knieë voor die bad gesit en klere was, met haar hande, toe sy ook haar breekpunt bereik het. “Ek het nie geskreeu of gehuil nie, maar net voor my uitgestaar. Ek kan nie onthou vir hoe lank nie, maar Johan het my die aand daar gekry.”
Die Bothas staan vandag weer op hulle eie voete. “Ek weet dinge sal nie weer wees soos dit was nie. Tog ervaar ons nou ’n nuwe gevoel van geborgenheid. Ons gesin is nader aan mekaar. Dit wat ons nou het, kan geld nie beïnvloed nie.”
Volgens ’n huweliksterapeut, Kobus van der Merwe, is die volgende stappe belangrik om te volg wanneer jy en jou gesin op ’n finansiële krisis afstuur of reeds in een is:
1. Maak jou huwelik jou eerste prioriteit. Al lyk alles anders meer dringend, is die huwelik steeds die belangrikste basis om hierdeur te kom.
2. Die finansiële krisis is nie jou huwelik nie. Om die finansies reg te kry, gaan nie jou huwelik regkry nie.
3. Word bewus van wat elkeen se talent in krisisse is en gebruik dit as ’n gesamentlike bron vir emosionele stabiliteit. Een sal byvoorbeeld gefokus kan werk, maar sukkel om van plan te verander. Die ander een is dalk minder gefokus, maar het toegang tot ’n wye sosiale netwerk vir ondersteuning of selfs net ontspanning.
4. Maak gebruik van die verskille tussen julle om die groter prentjie te sien. Een sal soms die groter prentjie sien en die ander een die detail.
5. Vertel mekaar daagliks wat jy van mekaar waardeer as mens. Wees mekaar se spieël van dit wat steeds werk, al is daar ’n krisis.
6. Moenie mekaar probeer red of troos nie. Dit voel baie onvervullend as jy ’n bekommernis in jou hart het en die ander een jou vertel om beter te voel. Wees net ’n oor en hoor jou maat se bekommernisse.
7. Waak daarteen om jou spanning op maklike plekke buite die huwelik te verlig. Dit is plekke soos verslawings of buite-egtelike verhoudings. Voer eerder dialoog oor jou vrese as om dit te probeer verdoof.
8. Doen ook lekker dinge saam. Jy sal verbaas wees om te sien hoe baie pret mens kan hê met min of geen geld.
9. Wees sag op mekaar se swak punte in krisisse. Gaan teen jou instinktiewe reaksie in om meer krities te wees en werk hard om juis dáár meer ondersteunend te wees.
10. Maak gebruik van ondersteuning as jou huwelik uitmekaar val.
“Dit is altyd wonderlik om in tye van voorspoed gelukkig te wees, maar ware geluk lê daarin om in armoede meer gelukkig te wees,” sê die sielkundige, dr Hermann Liebenberg. Om in tye van trauma, wat juis die verlies aan sekuriteit insluit, te kan oorleef, is om letterlik “sakke sout saam op te eet”. Dit is nie vreemd dat die primitiewe gedrag van die mens dikwels veroorsaak dat ons ons slegste en mees onsekere emosies projekteer op diegene die naaste aan ons nie. Vandaar Johan se gedrag, maar ook dieselfde word weerspieël in Santie se gedrag in die sin dat haar sekuriteit tot só ’n mate aangetas was dat sy haar onsekerheid op haar man geprojekteer het, selfs met woede.
Dit is ironies dat verhoudings dikwels op die swakker fondamente van finansiële sekuriteit begin word, en dan ’n krisis soos die verlies aan welvaart kan oorleef, waar die teenoorgestelde juis meer algemeen voorkom en waar die verhouding op welvaart begin is. Die impak van ’n finansiële krisis moet nooit onderskat word nie. Dié tendens bevestig hoe weerloos en soms emosioneel ons kan reageer op die impak van geld as ’n vorm van sekuriteit en status. Heelwat mense wat finansieel ondergaan, is minder bekommerd oor die werklike impak van die trauma van verlies aan inkomste en meer bekommerd oor die verlies aan status in die samelewing. Ongelukkig verdwyn vals vriende net so vinnig soos die geld verdwyn, terwyl ware vriende bly staan en jou ondersteun.
Artikel deur LOUISE POSTHUMA