Die artikel word met trots aan jou gebring deur Marriage Capsule… Your Marriage Matters! Vir nog idees, sowel as inligting oor die INTIEM-Marriage Capsule 7 weke uitdaging, volg die skakel aan die einde van die artikel.

Promosie

Die grootste verskil tussen huismaats en huweliksmaats is die manier waarop paartjies hul huwelik se emosionele bankrekening bestuur. Hoe lyk julle bankbalans?

Een van die gevaarlikste foute wat ’n mens kan maak, is om te dink dat jou huwelik vanself gaan “gebeur”. Voor jy jou oë uitvee ontdek jy dat julle skielik meer huismaats as huweliksmaats is. Baie paartjies beplan hul troudag tot in die fynste besonderhede om seker te maak dat niks skeefloop nie. Hulle glo dat wat volg, vanself sal gebeur en al wat hulle hoef te doen, is om in die huweliksbootjie te dryf sonder enjin of spaan. Ja, ’n huwelik het wel baie genade nodig, maar as jy jou huwelik nét aan genade oorlaat, gaan jy jou lelik huwelik vasloop. Ons vertel jou hoe om hierdie probleem te vermy en weg te beweeg van die gevaarsone waar julle huismaats in plaas van huweliksmaats is.

Promosie

Dink oor die lang termyn

Die meeste mense wat ryk word, het ’n strategie. Mense wat slim belê, verstaan die langtermyn-vooruitsig van hul doelwitte en wy hulself daaraan deur gereeld te belê. ’n Finansiële adviseur sal ’n mens ook aanraai om jou rykdom te bou deur oor die lang termyn met gereelde tussenposes te belê, ongeag wat op die aandelemark plaasvind.

Of daar groei of ineenstorting plaasvind, jy moet aanhou belê – dit maak nie saak wát gebeur nie. Só sal jy nie kop uittrek wanneer dit oor die kort termyn sleg gaan nie, want dan verloor jy in elk geval alles wat jy belê het. Die huwelik werk ook só. Ongeag van die onderstrominge, of dit goed of sleg gaan, julle móét bly belê om seker te maak jul huwelik is oor die lang termyn suksesvol.

Paartjies se grootste probleem

Die grootste oorsaak van konflik is: Niks. Ja, jy het reg gelees. Mense skryf gereeld hul probleme toe aan seks, geld of skoonfamilie, maar uiteindelik is die grootste probleem ’n onvermoë om emosioneel met mekaar te konnekteer.

Die sielkundige, navorser, spreker, outeur en professor John Gottman, wat meer as vier dekades lank navorsing oor egskeiding-voorspelling en huwelikstabiliteit gedoen het (hy het sowat 3 000 paartjies oor dié tydperk bestudeer), het gevind dat jy ’n belegging in jou huwelik maak elke keer wanneer jy met warmte teenoor jou maat optree, julle ooreenkomste deurvoer, positiewe toekomsplanne skep en mekaar met liefde, waardering en dankbaarheid ophef.

Maar elke keer wat jy versuim om hierdie dinge te doen, raak jy oortrokke op jou rekening. ’n Positiewe balans in jou huwelik se emosionele bankrekening kan jou egter deur ’n krisistydperk help.

Hoe balanseer jy jou huwelik se emosionele bankbalans?

John het die volgende bevind: Om suksesvol in julle huwelik te wees, moet julle jul deposito’s vermeerder en jul onttrekkings minimaliseer. Wanneer julle baklei, is vier positiewe interaksies nodig om een negatiewe interaksie uit te kanselleer. Maar in jul alledaagse bestaan (buite ’n konfliksituasie) is 20 positiewe interaksies nodig vir elke een negatiewe interaksie.

Hoekom? Want wanneer daar konflik is, kan ’n negatiewe reaksie verwag word. Maar op ’n doodnormale dag betrap ’n negatiewe interaksie jou onverhoeds en het dit dus ’n groter impak op jul emosionele bankrekening. Daarom is gereelde beleggings in die vorm van daaglikse gewoontes noodsaaklik.

1. Maak van emosionele beleggings ’n gewoonte

Emosionele intimiteit is een van die belangrikste pilare waarop ’n huwelik rus. Julle kan ’n warm sekslewe hê, diensbaar teenoor mekaar optree en ’n sosiale lewe hê wat deur ander paartjies beny word – as daar egter nie emosionele intimiteit tussen julle heers nie, is daar groot moeilikheid.

Hoe skep jy hierdie emosionele intimiteit? Deur elke dag bewustelik teenoor jou maat op te tree. Kyk jou maat in die oë wanneer hy met jou praat. Reageer op wat sy sê. Doen moeite om jou maat te help as hy/sy hulp nodig het. Luister met ’n sagte hart. Gesels oor koeitjies en kalfies, maar moenie nét oor koeitjies en kalfies gesels nie (belê dus gereeld kommunikasie in jou huwelik). Gee jou maat komplimente.

Die lys van maniere waarop jy dit kan doen, is eindeloos, maar hier is een praktiese wenk wat jy vandag kan toepoas:

  • Gee jou maat elke dag minstens tien minute van jou onverdeelde aandag. Tyd is een van die belangrikste beleggings wat jy in jou huwelik kan maak. Ja, natuurlik streef elke paartjie daarna om elke dag ure lank te gesels, maar in ons dolle gejaag is dit nie altyd haalbaar nie. Skep dus ’n ritueel waar julle byvoorbeeld smiddae ná werk net tien minute lank afskakel van alle tegnologie of die kinders se versoeke, en net saam ’n glas wyn ingooi of in die kamer sit en gesels terwyl julle jul werksklere uittrek. Kyk na mekaar, luister na mekaar en maak mekaar jul eerste prioriteit bó absoluut álles.

2. Maak van geestelike beleggings ’n gewoonte

’n Mens is só geneig om jou geestelike toewyding vir Sondae te los, dit in ’n afsonderlike “Sondag-boksie” te pak en die res van die week daarvan te vergeet. Maar geestelike beleggings is iets wat jy elke dag behoort te doen, eintlik elke enkele sekonde van die dag. Omdat jou verhouding met God jou hele lewe bepaal, behoort dit deur te sypel in elke besluit wat jy neem, elke kyk wat jy gee en elke woord wat jy spreek. Die huwelik is ’n heilige instelling en daarom kan geestelike beleggings jou huwelik ’n ontsettende kragtige groei-inspuiting gee.

Hier is ‘n spesifieke manier waarop jy dit kan doen:

  • Leef met dankbaarheid teenoor God vir jou maat. Jou huweliksmaat kom van nêrens anders nie, as direk uit God se hand. Dank Hom daarom vir die wonderbaarlike manier waarop Hy julle paaie laat kruis het. God het ook ’n spesifieke plan in gedagte gehad toe Hy julle saamgevoeg het. Julle is dalk teenoorgestelde pole (wat ’n magdom konfliksituasies tot gevolg het), maar só vul julle mekaar op ’n baie spesiale manier aan. Dank God dus vir alles aan jou maat wat vir jou kosbaar is, maar ook vir alles wat jou irriteer. Maak ook ’n punt daarvan om God vir jou maat te bedank in sy/haar teenwoordigheid.

3. Maak van fisieke beleggings ’n gewoonte

Fisieke intimiteit is nodig vir julle om nader aan mekaar te groei en naby aan mekaar te bly, maar passie en romanse is net so belangrik om julle huwelik te onderskei van ’n doodgewone vriendskapsband.

Hier is hoe jy vandag op ’n fisieke vlak in jou huwelik kan belê:

  • Verminder die sentimeters tussen julle. Maak ’n punt daarvan om mekaar nié te veel persoonlike ruimte te gee nie! Ja, enige mens het soms sy persoonlike ruimte nodig, maar maak seker daar is nie te veel daarvan tussen julle nie. Wanneer julle die opsie het om op verskillende rusbanke televisie te kyk of saam op ’n klein bankie te sit, kies eerder die oënskynlik ongemakliker opsie sodat julle lyf teen lyf kan sitlê. Staan by mekaar in ’n sosiale omgewing in plaas van elkeen in sy eie hoek van die vertrek.

4. Maak van finansiële beleggings ’n gewoonte

Ja, jy móét finansieel in jou huwelik belê. Dit kan ook help om in bogenoemde drie afdelings van jul huwelik te groei. Soms sal jy die keuse moet maak – gaan jy ’n geleentheid by jou werk nastreef en nog ’n paar rande inwin, of gaan jy eerder daardie geld van die hand wys en die tyd op jou maat spandeer?

Die idealistiese ding om te sê, is dat liefde nie geld kos nie, maar kom ons wees eerlik: Dit ís noodsaaklik vir jou om geld in jou huwelik te belê. Dit is nodig om te spaar vir julle toekoms en dit is nodig om finansieel stabiel te wees om jou huwelik te vrywaar van onderliggende spanning.

Maak vandag die besluit om op ’n finansiële vlak in jou huwelik te belê:

  • Stel ’n begroting vir date night. Dit moet deel van jul maandelikse uitgawes wees, soos boet se tennislesse en sussie se dramaklasse. Maak die begroting ook ruim genoeg sodat julle verskillende tipes dates kan beproef (nie elke keer pizza en wyn op die sitkamerbank nie – hoewel daar niks fout is hiermee nie!).

5. Maak van positiewe gedagtes ‘n belegging…

Dr Caroline Leaf, ‘n Christen-neurowetenskaplikes wat fokus op die verskille tussen manlike en vroulike breine en hóé om jou brein te leer hoe om positief te dink, vertel dat giftige denke in fisieke, emosionele en verstandelike spanning kan ontaard, wat weer ‘n voorloper tot siekte kan wees. Dit kan ook jou huwelik vergiftig. Giftige gedagtes sluit in: Onvergewensgesindheid (bitterheid, verwyt, woede, haat en geweld), passief-aggressiewe gedrag (om een ding te dink en ‘n ander ding te doen, om nie te sê hoe jy voel nie, om ‘n vrees vir konflik te hê), om ‘n vrees vir ander te hê (om alles altyd te analiseer en krities op ander of jouself te wees), selfhaat (om te dink jy is nie goed genoeg nie), skuldgevoelens (gevoelens van waardeloosheid en skaamte te koester), om negatiewe woorde te uiter (soos “ek kan nie”… ). Volgens Caroline het God egter ‘n meganisme in ons breine ingebou wat ons die vrye wil gee om inligting te aanvaar of te verwerp. Ons het die opsie om negatiewe inligting uit ons gedagtes te verwerp voor dit ons houding en emosies skade doen. Daar is twee groepe emosies: positiewe, geestes-gebaseerde emosies en negatiewe vrees-gedrewe emosies. Geloofsgebaseerde emosies soos liefde, vreugde, sagmoedigheid, selfbeheersing en vergewensgesindheid het goeie houdings en gedagtes tot gevolg.

John praat van ‘Positive Sentiment Override’’ (PSO) of die Positiewe Perspektief. Dit is iets waaraan paartjies elke dag kan werk. Om ‘n Positiewe Perspektief op jou maat en verhouding te hê, help jou om probleme beter op te los in ‘n konfliksituasie, meer pogings tot herstel aan te wend en jou maat oor die algemeen in ‘n meer positiewe lig te sien.

  • As jy ‘n positiewe houding jeens jou huwelik het, is die stryd halfpad gewonne. Moenie saam-kla oor jou maat langs die braaivleisvuur of by die girls night wees positief oor jou huwelik. Om die waarheid te sê, skep ‘n daaglikse gewoonte om positiewe interaksies met jou maat te hê. Sê dankie, gee komplimente, en neem tyd om dinge uit te lig wat jou maat goed sal laat voel.

En laastens: Belê in jouself. Wees die optimale jy wat jy kan wees. Jy kan nie aan jou maat petrol voorsien as jou eie tenk nie vol is nie. Bly nuuskierig en groei. Jaag jou drome ná en doen wat jy kan om innerlik gelukkig te wees sodat jy daardie geluk weer terug in jou huwelik kan ploeg.

Onthou ook om gereeld jul huwelik se bankbalans na te gaan. Jy dink dalk dat dinge gesond lyk, maar met nadere ondersoek is julle diep in die skuld. Die goeie nuus is egter: Met ’n bietjie toewyding kan julle gou uit jul negatiewe situasie kom. Volg ons wenke en sien hoe jou huwelik se waarde groei – en kort voor lank is julle huweliksbiljoenêrs!

Hoe lyk jou “prentjie” as jou huwelik vandag uitgevee sou word? KLIEK hier en vind uit!

(Aan jou gebring deur INTIEM en Marriage Capsule)

Addisionele bronne: www.projecteve.com, www.all4women.co.za, www.focusonthefamily.com, www.msn.com. www.thriveglobal.com