Hy sit terug teen die kussings en hou sy vrou dop terwyl sy regmaak om in die bed te klim. Al die tekens is daar dat sy in die mood is, maar om die een of ander rede is sy penis traag om na die partytjie te kom. Gewoonlik het die bloed teen dié tyd al sterk deur sy are gepomp!
Sy kruip langs hom in die bed in en druk haar sagte rondings teen sy lyf. Maar in plaas daarvan om sy hande onder haar nagrok in te druk, gooi hy net een arm oor haar en hou haar vas. Hy hoor hoe haar asem saggies jaag in afwagting vir sy aanraking. Hy lê ook en wag vir die ou bekende styfheid om in te skop.
Niks.
Sy beweeg na ’n paar minute haar hand na sy onderlyf en masseer sy penis.
“Lyk my ek gaan iemand so bietjie moet wakker skud,” sê sy speels.
Haar poging lewer egter geen resultate en na ’n tydjie vra sy verbaas wat fout is. Hy trek sy skouers op. Sy dink onmiddellik dat dit iets is wat sy verkeerd gedoen het en begin hom peper met vrae. Is dit haar parfuum? Wil hy hê hulle moet die ligte aansit tydens seks? Moet hulle ’n nuwe posisie probeer?
“Hokaai, die fout lê nie by jou nie,” moet hy naderhand keer. “Hy wil net nie op nie.”
Sy stel voor dat sy hom met haar mond stimuleer en hy stem gretig in. Dit spark ’n reaksie!
Hy lê vroulief op haar rug neer, reg om haar te penetreer, net om te vind dat sy penis soos ’n skaam skilpad weer terug in sy dop begin kruip.
“Nou wat nou!” roep hy hardop uit en sy gooi sy hande in die lug.
Sy skakel die bedlampie aan en kyk met groot oë hoe hy dikbek op die voetenent van die bed gaan sit.
“Dalk is jy net te haastig,” sê sy versigtig. “Ek gee nie om as ons weer probeer nie.”
“Dit gaan nie help nie,” grom hy. “Die ouens by die werk het gesê dit gaan gebeur!”
“Wat gaan gebeur?” vra sy oorbluf.
“Wel, jy weet. Ouderdom.”
Sy vrou kry haar “ah-ha!” oomblik. Natuurlik, hy word aan die einde van die maand 45.
“Ek is geen dokter nie, maar ek dink nie jy moet jou ore uitleen aan alles wat jou kollegas sê nie.”
“My lief, ek wil nie een van daardie losers wees wat pille moet drink om ’n ereksie te kry nie,” sê hy kortaf.
“En selfs al moet jy, wat is verkeerd daarmee? Ek gaan nie minder van jou dink nie.”
“Ja, maar . . .”
“Maar se voet! Daar is niks om voor bang of skaam te wees nie. Jy onthou vir Donald, Karlien se man?”
Hy rol sy oë. “Ja, die een wat julle almal dink só sexy is.”
“Hy het ereksieprobleme gehad ’n geruime tydjie gelede. Sy werk was verskriklik stresvol en hy het boonop straf gerook ook. Hy het egter die nodige hulp gekry en vandag gaan alles weer goed.”
“Regtig? Daardie ou is soos Superman, en hy is jonger as ek! Ek sou dit nooit kon raai nie!” sê hy verbaas.
“Jy sien! Enige iemand kan dit oorkom en daar is baie dinge wat dit kan veroorsaak – nie net ouderdom nie. Kom ons kry eerder ’n kundige se mening as jou pelle s’n, wat sê jy?”
Wat kan jou verhoed om ’n ereksie te kry?
Depressie: Dit kan jou begeerte demp en lei tot erektiele disfunksie. Ironies genoeg kan baie anti-depressante middels ook jou seksdrang onderdruk en ereksie bemoeilik.
Performance anxiety: Bekommernis dat jy nie in staat gaan wees om te perform in die slaapkamer nie, kan juis maak dat jou penis nie wil saamspeel nie.
Medikasie: Daar is baie soorte medikasie (byvoorbeeld vir bloeddruk, pyn of angs) wat erektiele disfunksie kan veroorsaak. Raadpleeg jou dokter.
Lae selfbeeld: As jy nie hou van wat jy in die spieël sien nie, gaan jy bang wees dat jou maat ook nie gaan nie. Vir sommige mense beteken dit ekstra stres om goed te doen in die slaapkamer om op te maak daarvoor.
Lae libido: Dit is nie rocket science nie – as jy bloot nie lus is vir seks nie, gaan dit moeilik wees om ’n ereksie te kry. As jou lus dikwels geblus voel, is dit tyd om na jou fisiese- en psigiese gesondheid te kyk.
Lae testosteroonvlakke: Testosteroon is die petrol vir jou seksdrange. As jy om een of ander rede sonder “petrol” is, gaan jou penis ook nie net regop spring as jy sê Go! nie.
Alkohol: ’n Paar drankies kan jou in die mood kry, maar neem te veel en jou penis kry ’n hangover nog voor jy doen. Hou matigheid voor oë.
Oorgewig: Ekstra vet aan die liggaam verlaag jou testosteroonvlakke en jou selfbeeld, en kan bye-bye libido en ereksie beteken.
Rook: Nikotien vernou die are en belemmer bloedvloei na die penis.
Gesondheidsprobleme: Verskillende gesondheidsprobleme kan die senuwees, spiere of bloedvloei wat benodig word vir ’n ereksie beïnvloed. Dit sluit in diabetes, hoë bloeddruk, verharding van die are, rugstring-beserings en veelvuldige sklerose.
Deur Thalia Brüssow