’n Groei-en-leef-plan vir elke huwelik
Vir jou huwelik om te oorleef, moet die wortels van jul geloof diep wees. Hier is ’n agt-week-lange plan hoe jy en jou maat dieper geloofswortels kan kweek. Dís hoe jy daardie wortels sterker en dieper laat groei sodat julle enige uitdaging kan oorkom.
Lees elke dag van die week die teksgedeelte hardop saam en kyk met verwagting hoe die Skrif elke dag nuwe insigte in jul verstaan bring. Lees dit uit verskillende vertalings en gebruik die gebedswenke om saam daaroor te bid. Maak aantekeninge en merk belangrike gedeeltes soos wat julle aangaan.
Week 1: Anker jul geloof in die Skrif
Delf dieper: Hebreërs 11
Ds Stephan van Heerden sê: Hebreërs 11:1-40 beskryf die beginsels van geloof. Daar is drie beginsels ter sprake: Die definisie van ons geloof in vers 1, ’n beskrywing van hoe geloof mense in die verlede aangespoor het om te glo (verse 2-38) en die belofte dat God nog groter dinge beloof vir elkeen wat glo (vers 39-40). Onthou ook altyd: Geloof is nie om net te soek na die tasbare en sigbare nie – dit is om God op Sy woord te neem, ook vir jou verhouding. Dit is om God se Woord in geloof sigbaar te maak in julle omgee vir mekaar!
Bid vir: Julle as paartjie se gesamentlike Bybelstudie en gebedslewe.
Week 2: Gee ons méér
Delf dieper: Lukas 17:5-6
Ds Stephan van Heerden sê: Lukas was ’n dokter, wat saam met Paulus gereis het. Hy beskryf ook die wonders en gelykenisse op sy eie deeglike manier. In verse 5-6 van Lukas 17 vra die apostels vir die Here om hulle “meer geloof te gee”. Jesus antwoord hulle nie direk nie, maar Hy gebruik die beeld van die mosterdsaadjie in vers 6. Uiteindelik gaan dit nie oor ’n sterker geloof nie, maar dit gaan daaroor om wel in God te glo en om saam in God te glo! Dit is nie ’n voorgee-godsdiens nie, maar ’n nederige afhanklikheid van die Here as twee mense wat saam trou beloof het.
Bid vir: Geloof waarin julle mekaar en ander kan dra.
Week 3: Vertrou God
Delf dieper: Genesis 15
Ds Stephan van Heerden sê: Geloof is om te bly glo wanneer ander begin moed opgee. Abraham is by ’n kruispad in sy geloof. Hy wonder oor ’n nageslag. Ek en jy beleef dit ook in die lewe. Tog bly Abraham vashou aan die beloftes van die Here, ten spyte van twyfel en vrae. Hy bly net ’n mens, wat soms soos ek en jy met die moeilike kwessies van die lewe herinner word aan die beloftes van God.
Bid vir: ’n Geloof soos Abraham s’n.
Week 4: Bou ’n stellasie vir die bogrond
Delf dieper: Johannes 20:26-31
Ds Stephan van Heerden sê: Geloof begin groei in jou binneste. Dit is die Gees van God wat jou en my by geloof bring. Deur die Heilige Gees is God ’n werklikheid wat saam met jou en my ’n pad in die lewe wil stap. Thomas wou Jesus sien en aan Hom raak. Ek en jy wil soms ook net vir ’n oomblik vir Jesus sien en aan Hom raak. Tog gaan dit nie oor die sigbare nie, maar oor wat in jou binneste leef. Dit wat jy glo en wat jy uiteindelik in jou lewe met ander deel.
Bid vir: Die Thomas binne jouself, asook om te kan glo wanneer julle nié kan sien nie.
Week 5: Dis reën, dis wind, dis water
Delf dieper: Markus 4:35-41
Ds Stephan van Heerden sê: Die verhaal skuif na die See van Galilea. Die see is so 18km lank en 9km breed. Die wind het gewoonlik van die land af na die see se kant toe gewaai. Dit het hewige storms veroorsaak, en die dissipels raak bang en paniekerig. Ons kan soms saam met Jesus leef, maar Hom nie ten volle vertrou nie. Die storms sal daar altyd wees, maar dit gaan oor die inhoud wat ek en jy daaraan gee. Die vraag sou wees: Glo ons te midde van reën, wind en water?
Bid vir: Die storms in jul lewe en die geloof om dit te kan deurstaan.
Week 6: Dapper in die leeukuil
Delf dieper: Daniël 6
Ds Stephan van Heerden sê: Skielik sien ons die God van Daniël wat oor alle volke heers. Tog is die tema van die verhaal dat Daniël meer gehoorsaam aan God is as aan die mense rondom hom. Volharding in geloof gaan oor jou en my keuses, en aan watter waardes ons vashou in ons huwelik ten spyte van dit wat rondom ons aan die gang is. Die vraag sou wees: Glo ons in die Here en lééf ons dit wat ons glo?
Bid vir: Volharding in die geloof en ook in jul huwelik.
Week 7: Sonde knaag aan die wortels
Delf dieper: Lukas 7:36-50
Ds Stephan van Heerden sê: Jesus gaan eet by die Fariseër. Mense het nie met die suinige godsdienstige leiers en slegte vroue gemeng nie, wat nog om saam met hulle te eet. Jesus daag die bestaande manier van veroordeling uit. Hy bevestig die beginsel dat God jou en my vergewe as ons ons liefdeloosheid (Matteus 22) bely. Liefdeloosheid, en met ander woorde sonde, breek verhoudings af. Jesus vergewe ons ook as ons ons stukkende en seer verhoudings bely. Die oomblik wanneer God ons vergewe, moet ons mekaar ook vergewe – dit is ook wat dit beteken om in geloof te leef!
Bid vir: Die vergifnis van sonde wat jul geloofswortels bedreig.
Week 8: Lééf deur die geloof
Delf dieper: 1 Johannes 3:18-24
Ds Stephan van Heerden sê: Die skrywer van die brief is Johannes, die apostel en skrywer van die vierde Evangelie. Hy skryf hier oor geloof en dade. Dit sluit aan by die brief van Jakobus. Ware liefde is nie teorieë en mooi woorde nie, maar dit is die manier hoe ek en jy teenoor mekaar optree. Dit is om vir mekaar om te gee waar ander moed opgegee het. Dit is om uit te deel, waar ander hulle hande toehou. Dit is ’n leefwyse van vergifnis en liefde, waar ’n huwelikspaartjie voortdurend soek na maniere om mekaar lief te hê.
Bid vir: Uitleef van jul geloof na jul familie, vriende en naastes.
Julle voel dalk al ’n roering . . . Dieper geloofswortels het iets van ’n “belê nou en geniet later”-belofte. Wanneer storms en moeilike tye kom, gaan jy en jou maat dankbaar wees vir elke stukkie bewustelike energie en werk wat julle ingesit het in jul huweliks- én geloofswortels.
Deur Lize Groenewald
Ds Stephan van Heerden is ’n leraar by die Klipkerk-gemeente in Bloemfontein.