Huwelike word daagliks aangeval en in gevaar gestel deur diewe, soos onder meer ’n gebrek aan tyd, die oordondering van sosiale media en elektroniese toestelle en veeleisende beroepe. Raak só ontslae van dit wat julle seën in julle huwelik steel.

Promosie

Lees elke dag van die week die teksgedeelte hardop saam en kyk met verwagting hoe die Skrif elke dag nuwe insigte in jul verstaan bring. Lees dit uit verskillende vertalings en gebruik die gebedswenke om saam daaroor te bid. Maak aantekeninge en merk belangrike gedeeltes soos wat julle aangaan.

Week 1: Om mekaar op te bou!
Delf dieper: 1 Korintiërs 11:3-4.

Ds Stephan van Heerden sê: In die teksgedeelte kom Paulus en beskryf iets van die verhouding tussen Christus, die kerk en die man en vrou. Hy snap die kwessie van onderdanigheid. Die man en vrou is in ’n gelyke verhouding met mekaar ter wille van die gesin en die huwelik. Hier gaan dit oor respek en om mekaar op te bou. Die huweliksbelofte het inherent ’n vasstaande beginsel en dit is dat ons in ’n gelyke verhouding tot eer van die Here is!
Bid vir: Die huweliksbeloftes wat julle aan mekaar gemaak het, dat julle dit sal eer en respekteer. Bid dat dit duidelik sal sigbaar word in jul optrede.

Promosie

Week 2: ’n Gelyke wat jou aanvul
Delf dieper: Genesis 2:18-25.

Ds Stephan van Heerden sê: Die Here beskryf die eenheid tussen man en vrou. Selfs die Hebreeuse woord vir man en vrou is van die dieselfde stam. Daarom het die ou vertaling dit vertaal met “mannin”. Uit die ribbebeen van die man word die vrou gemaak. Hulle is een en na mekaar se “beeld” gemaak. Iemand wat by die man “pas”, ’n pasmaat. Niemand is ondergeskik aan mekaar nie, dit gaan eerder oor die rolle wat elkeen in die huwelik en gesin vervul. Ons is nie net vriende in ’n huwelik nie, maar ons is gelyk en vorm saam ’n eenheid, ook in ons besluite.
Bid vir: ’n Aktiewe besluit teen sonde en optredes wat skeiding tussen julle bring. Bid dat julle saam geestelik sal groei en ’n onwankelbare eenheid sal wees.

Week 3: Beskerm julle huwelik
Delf dieper: Matteus 19:1-12.

Ds Stephan van Heerden sê: Jesus ervaar die teenstand van die geestelike leiers van sy tyd. Hulle konfronteer Hom met die vraag oor egskeiding. Jesus fokus nie op die vraag oor egskeiding nie, maar Hy fokus eerder op die beginsels van die huwelik. Die oorspronklike doel van die huwelik was dat mense nie moet skei nie, maar Jesus besef dat mense van nature met verhoudings sukkel. Selfs in die seer van egskeiding moet mense mekaar met respek en liefde hanteer. Tog bly dit die beste pad om jou en jou huwelik te beskerm en te koester!
Bid vir: Beskerming van julle huwelik, dat julle sal aanhou om mekaar eerste te stel. Bid dat julle vir mekaar tot seën sal wees binne jul huwelik.

Week 4: Besing die lof van jou geliefde
Delf dieper: Spreuke 5:15-20.

Ds Stephan van Heerden sê: Hier beskryf Salomo die mooi kant van die huwelik. Hy moedig ons aan om, ten spyte van die dinge wat ons lees en wat ons op TV sien, by mekaar in ons huwelik vriendskap en kameraadskap te soek. Hy moedig ons elkeen aan om kreatief in ons huwelik te wees en nie toe te laat dat verveling in ons verhouding posvat nie. Selfs op seksuele gebied moet mense mekaar in die huwelik geniet. Hy gebruik die woord “bedwelm”. Dit beteken dat ons onsself voluit vir mekaar moet gee en heeltyd nuut moet dink oor alle aspekte van ons verhouding.
Bid vir: Getrouheid en kreatiwiteit binne jul huwelik. Bid dat julle nie sal toelaat dat wêreldse waardes julle beïnvloed nie.

Week 5: Eer God in jul huwelik
Delf dieper: Maleagi 2:13-16.

Ds Stephan van Heerden sê: Elke teksgedeelte, moet ons altyd onthou, kan nie losgemaak word van sy eie konteks en die wêreld waarin dit geskryf is nie. Die vraag oor die huwelik en egskeiding is só ’n konteks. In dié gedeelte spreek die profeet homself uit oor die huwelik tussen die mans in die volk Israel en die heidense vroue in die omgewing. Wanneer die mans met die heidense vroue getrou het, het hulle die heiligdom in daardie konteks ontwy. Jou verhouding met jou huweliksmaat kan nie los staan van jou verhouding met die Here nie. Die eenheid tussen ’n man en vrou beïnvloed ook hulle verhouding met God.
Bid vir: Eenheid in liggaam en gees wat tot eer van God sal strek. Bid dat julle duidelik sal kan sien watter dinge skeiding tussen julle en God veroorsaak.

Week 6: Gehoorsaamheid aan God
Delf dieper: Deuteronomium 11:1-13.

Ds Stephan van Heerden sê: In Deuteronomium en Eksodus is die opdrag elke keer aan die volk dat hulle God moet liefhê met hulle hele hart, hele siel en met hul hele verstand. Dit word ook in Matteus 22 herhaal. Dit gaan eintlik oor gehoorsaamheid en die soeke na God se wil vir jou lewe en jou huweliksverhouding. Dit vra van ons dat ons God se wonder oor die eeue heen moet raaksien in die Bybel en ook in ons eie lewens.
Bid vir: Gehoorsaamheid aan God en ’n voortdurende soeke na sy wil en dat dit jul asemhaling sal wees.

Week 7: God is liefde
Delf dieper: 1 Johannes 4:7-21.

Ds Stephan van Heerden sê: Johannes besef dat mense die beginsels van liefde soms misverstaan. Liefde is nie God nie, maar God is liefde! Liefde is nie net ’n gevoel nie, maar ’n besluit. Daarom kan ek en jy nie sommer lukraak besluit dat ons mekaar nie meer lief het nie. Liefde is ook ’n “doen”-woord. Johannes beskryf die oorsprong van God se liefde vir jou en my – Hy het sy Seun vir ons aarde toe gestuur, Hy het vir ons gesterf en opgestaan. Dan gaan hy verder en gee die opdrag dat ons mekaar ook só sal liefhê. Hierdie liefde moet ons styl waarin ons mense en ons huweliksmaats hanteer, in die lewe rig.
Bid vir: God se volmaakte liefde in jul huwelik. Bid dat die liefde sal seëvier en dat dit onkeerbare strome van seën in jul huwelik sal bring.

Week 8: Skuldbelydenis en vergifnis
Delf dieper: Psalm 32.

Ds Stephan van Heerden sê: Die Here wil graag ons verkeerde optrede vergewe. Dit is deel van God se wese om te kan vergewe en nuut saam met jou en my te begin. Hy bewys dit in die koms van sy Seun. Die Psalmdigter pleit eintlik by jou en my om ons sondes voor die Here te bely, want dit maak ons vry. Dit is meer as die woordjie “jammer” – dit is om weer in hernude toewyding aan die Here en sy beginsels te leef. Soms behoort ons ook ons sondes teenoor mekaar te bly, maar dit gaan meer oor die nuut begin saam met iemand as die inhoud van die sonde.
Bid vir: Voortdurende skuldbelydenis voor God. Bid dat julle met skoon harte voor God en mekaar kan staan en Hom met opregte harte kan dien.

Maak die kaste van jul gedagtes en hart skoon. Gooi dit weg wat onnodig is en vul dit slegs met dit wat tot seën vir jul huwelik kan wees. Maak seker dat jul ontrommelingsproses vanuit jul geloof gedoen word. Gryp die geleentheid aan om seën in jul huwelik te laat floreer.

 

Deur Lize Groenewald
Ds Stephan van Heerden is ’n leraar by die Klipkerk-gemeente in Bloemfontein.