Die moderne mens is soms besig om weg te beweeg van ’n lewe saam met God. Hierdie vleeslike lewe onder die vaandel van sogenaamde “vryheid” kan jou huwelik totaal vernietig. Gelukkig het ons Almagtige Vader die antwoord op hierdie tameletjie, naamlik die vrug van die Gees.
Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22). Daarteenoor stel Paulus die kenmerke van ’n lewe sonder die vrug van die Gees genaamd onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en dergelike dinge (Gal 5:21).
Hoe kan jy dus die vrug van die Gees in jou huwelik toepas, sodat jy die nagevolge van ’n vleeslike lewe kan vermy?
Liefde
Die dag toe jy voor die kansel gestaan het in jou droomrok met jou Adonis aan jou sy, het jou hart oorgeloop van liefde. Dis tog immers hoekom jy “ja” gesê het.
Volgens die Bybel is die liefde verdraagsaam en bedek dit alles. Dit laat nie plek toe vir onverdraagsaamheid nie (1 Korintiërs 13). Wanneer jy lief is vir iemand, is dit maklik om hulle foute mis te kyk en nie om te gee dat hulle vergeet het om die tandepasta se proppie terug te sit nie. Wat is ’n tandepasta-proppie nou immers tussen twee mense wat mekaar liefhet?
Die liefde hou ook nie boek van die kwaad nie. Hoe moeilik is dit nie om iemand ’n onreg te vergewe indien jy glad nie van die persoon hou nie?
Liefde laat mens nie toe om kwaad te gaan slaap nie. Liefde laat jou sê: “Jammer, ek was verkeerd.” Liefde laat jou ook sê: “Ek verstaan en ek vergewe jou.”
Die liefde is nie afgunstig nie en soek nie sy eie belang nie. Het jou maat ’n meer suksesvolle loopbaan as jy? Het hy ’n groter vriendekring en is hy meer gewild onder mense? Liefde is groter as jaloesie en nydigheid. Indien jou maat se prestasies jou pla, bespreek dit (in liefde) met mekaar. Indien die situasie omgekeerd is, moenie jou maat se bekommernisse aflag nie.
En die grootste hiervan is die liefde! Sonder liefde as jou hoeksteen, sal die res van die vrug van die Gees moeilik wees om toe te pas in jou lewe. Liefde (nie geld nie) makes the world go round!
Vreugde
Jy kom moeg en geïrriteerd van die werk af. Jy jaag die kinders nors sitkamer toe, want hulle is onder jou voete, en jy groet manlief met ’n strak gesig. Selfs die hond kry amper ’n skop. Ná ete voel jy beter omdat jy uiting kon gee aan jou frustrasies, maar nadat julle die tafel afgedek het, verdwyn manlief en die kinders stil-stil kamer toe. Jy sit alleen in die kombuis en wonder – wat nou?
Ongelukkigheid is aansteeklik. Maar raai wat, vreugde is ook!
Niks is so mooi soos ’n vrolike en gelukkige vrou nie. Mense is onmiddellik aangetrokke tot ’n vriendelike persoon en geniet dit om in só ’n persoon se geselskap te wees.
Vind jou vreugde in die Here, en hy sal jou gee wat jou hart begeer (Ps 37:4).
Dit is nie altyd maklik om opgewek te wees nie. Ons het baie bekommernisse, waarvan die meeste om ons gesin draai – die einste mense wat ons gelukkig wil maak. Vreugde is egter só ’n belangrike aspek in ons algemene welstand, dat ons dit nie kan afskeep nie. Sielkundiges het gevind dat vrolike mense fisies gesonder is as diegene wat konstant depressief en gespanne is. Om nie eers te praat van die uitwerking wat ’n klakous op die mense rondom haar het nie!
Maak tyd vir jou en jou gesin om vrolikheid te ervaar, hetsy deur na ete vir mekaar grappies te vertel of na ’n pretpark te gaan. Dit smee blywende gesinsbande. God se wens vir ons is om gelukkige mense te wees en ons vreugde met mekaar te deel.
Vrede
Liewer ’n stukkie droë brood met vrede daarby as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby (Spr 17:11).
Indien jy ooit met jou kind se onderwyser daaroor praat of selfs met ’n maatskaplike werker, sal hulle vir jou ontstellende verhale kan vertel oor kinders in wie se huise daar nie vrede is nie. Sodra vrede by die voordeur uitstap, stap woede, twis en onverdraagsaamheid by die agterdeur in. Die konflik lei net tot meer konflik. Hierdie kinders gaan slaap elke aand in trane en sommige loop selfs weg van die huis af.
Om vrede in jou huis te kan hê, is dit belangrik om konflik positief te kan hanteer. Dit gaan dikwels behels dat jy die minste moet wees en jou trots moet sluk. Dat jy moet om verskoning kan vra en ook kan vergewe.
Vrede beteken ook nie: “Ek het vrede met wat jy wil hê, ek doen my eie ding” nie. Daardie tipe vrede gaan jou nêrens bring nie.
Dit gaan nie altyd maklik wees nie, want geen twee mense is dieselfde nie. Jy wil eendjie-stensils op julle slaapkamermuur aanbring, maar manlief dink eendjies hoort as ’n maaltyd op jou bord. Of sussie, die klein snip, kom vertel vir jou pappa het eintlik gesê daardie wit romp laat jou boude vet lyk.
Jy kan kies hoe jy gaan reageer. Skreeu jy op manlief oor die eendjies of soek julle saam na ’n stensil waarvan julle altwee hou? Gooi jy jou wit romp in die asblik en praat vir twee weke nie met enigiemand nie?
Maak vrede ’n saak van gebed.
As die Here tevrede is met ’n mens se lewe, laat Hy selfs só ’n mens se vyande in vrede met hom lewe (Spr 16:7).
Bid vir krag en verdraagsaamheid teenoor jou gesin. Of as dit moet, dat jy nie die krag het om pappa met ’n pan oor die kop te slaan nie!
Geduld
Geduld is sonder twyfel die moeilikste van die vrug van die Gees om toe te pas.
Daar is nie genoeg tyd in ’n dag nie. Ons wil kitsoplossings hê vir alles. Ons koop kitskos, gebruik die kitsbank en staan in die kitslyn by die kruidenierswinkel. As die motoris voor ons te stadig bestuur, skreeu ons en wys vir hom vinger. As boeta te lank swoeg met sy wiskunde-huiswerk, raak jy vies en sê hy moet sy pa gaan vra vir hulp.
Ons kinders sien wat ons doen en aanvaar dit as die norm.
Ongeduldigheid laat niks vinniger gebeur nie. Soos die ou gesegde lui: hoe meer haas, hoe minder spoed. Tog kan ons nie help om dinge aan te hits nie, net om gefrustreerd en dikmond op te eindig met halwe resultate.
Met geduld kan iemand in ’n magsposisie tot ander insigte gebring word; met ’n versigtige benadering word weerstand afgebreek (Spr 25:15).
Ongeduld veroorsaak net opstandigheid en woede en lei tot dom besluite en onverantwoordelike aksies.
Geseënd is die persoon wat Job se geduld het, want hy sal waarlik vrede in sy huis hê! Onthou, selfs al sukkel jy met geduld, sal jou geliefdes dit raaksien en waardeer as jy ’n daadwerklike poging aanwend om jouself te beteuel.
Vriendelikheid
Vriendelikheid en vreugde loop hand aan hand. Dit is maklik om vriendelik te wees as jy van nature ’n vriendelike persoon is. Vir sommige mense is dit egter ’n pynlike ervaring om ’n glimlag op hulle bakkies te plak – hulle lyk of hulle bang is dat hul gesigte gaan kraak.
Die probleem is: ’n Nors en onvriendelike persoon se lig kan nie vir God skyn nie. Mense voel nie aangetrokke tot só ’n persoon nie en vermy hulle geselskap.
Het jy ’n huweliksmaat wat onvriendelik is? Dan sal jy weet hoe swaar dit is om daardie persoon na sosiale funksies te neem of selfs na jou familie vir die naweek. Naderhand los jy jou maat by die huis en gaan alleen, en dit skep ’n slaggat vir rusies of selfs ontrouheid.
Hoe lekker is dit nie om by die huis in te stap ná ’n lang dag by die werk en jou man en kinders groet jou vrolik nie?
Voel dit nie asof daar ’n las van jou skouers af val nie? Jy wil sommer uitroep: “Ag lekker, ek is by die huis!” Maak dit ’n gewoonte om mekaar vriendelik te groet, dit laat die harte sommer warm klop!
Goedhartigheid
Want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade (Jak 3:16).
Wat beteken die woord “goedhartig” vir jou? Is dit om geld te gee vir ’n bedelaar, ’n ouer persoon oor die straat te help of jou tyd op te offer om te help met die uitdeel van kospakkies vir behoeftiges?
Glo dit of nie, goedhartigheid hoef nie skouspelagtige dade te behels nie. Selfs ’n vriendelike glimlag kan as goedhartigheid gesien word. Enige vorm waarin jy iets van jouself gee, hetsy geld, tyd, hulp of ’n gedagte, is goedhartigheid.
Vra jou gesin om ’n lysie te maak van gevalle waar hulle (en jy) selfsugtig was teenoor mekaar, asook waar julle goedhartig was. Moenie verbaas wees as die selfsuglysie langer is nie. Hoekom? Want selfsug maak seer, en daardie seer steek in jou hart vas. Selfsug teenoor ’n ander beteken: “Sy is nie lief vir my nie, want sy stel haarself bo my.” En die liefde is nie selfsugtig nie.
Neem daardie lysie en bespreek die betrokke gevalle met jou gesin. Kinders sien dikwels weerhouding van hulle begeertes as selfsug van hulle ouers se kant af. Verduidelik aan hulle dat dit nie die geval is nie, maar as jy wel verkeerd opgetree het, erken dit. Gesels met jou maat en vra hom/haar om jou daarvan bewus te maak as jy selfsugtig optree en nie sy behoeftes ook in ag neem nie. ’n Mens tree soms onwetend selfsugtig op.
Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê. Geen vorm van goedhartigheid is te groot of te klein nie, en goedhartigheid (net soos slegte dade) kom altyd terug na diegene wat dit verdien.
Gee goedhartigheid ’n kans – dit is wonderlik om die dankbaarheid op jou maat se gesig te sien as jy aanbied om die swartsakke uit te vat of eerder sy gunsteling gereg te maak in plaas van joune.
Getrouheid
Getrouheid in die huwelik is vanselfsprekend. Indien jy nie seksueel getrou kan bly aan jou maat nie, gaan jul huwelik met ’n bitter slag op die rotse beland.
Getrouheid is egter nie net verwant aan seks nie. Dit behels ook dat jy getrou moet wees aan jou maat op ’n dieper vlak. ’n Vertrouensbreuk is ’n goeie voorbeeld van ontrouheid.
Jy en manlief het ’n hewige geveg oor hy ’n nuwe duur motor wil koop. Jy voel julle kan dit nie bekostig nie, maar hy voer aan dat julle huidige motor op die punt is om vir goed te breek. Hy storm by die huis uit om te gaan afkoel met tuinwerk en jy bel jou ma. Jy vertel haar die hele storie en kla steen en been oor hoe onverantwoordelik en selfsugtig jou man is en sê hom só sleg dat die see hom nie kan afwas nie.
Later die aand sit julle in die bed en kyk na julle bankstate. Tot jou verbasing kom jy agter dat, hoewel dit bietjie broekskeur gaan wees vir ’n paar maande, julle tog die motor se paaiement kan bekostig. Tevrede dat julle die saak kon uitsorteer, gaan slaap julle rustig. Ongelukkig bel jy nie weer jou ma om haar te vertel dat jy so bietjie oorreageer het nie.
’n Week later gaan eet julle by jou ouers en sommer met die intrapslag lees jou ma vir manlief die leviete voor. Arme manlief weet nie waar om sy kop in te druk nie en jy sit met ’n bloedrooi gesig en verwens jouself dat jy ooit die storie uitgeblaker het.
Na ’n ongemaklike ete ry julle terug huis toe met julle nuwe motor.
“Ek kan nie glo jy het jou ma van ons bakleiery vertel nie, ek het soos ’n skurk gevoel,” sê jou man seergemaak. “Dit is mos tussen ons! Jy het net sulke beledigende dinge kwytgeraak, maar ons het dit uitgepraat. Nou dink jou ma ek is die slegste ding onder die son. Dit is nie regverdig nie!”
Nou is daar klaar een klein jakkalsie in julle wingerd. Selfs al maak julle vrede oor die saak en haal dit nie in ’n volgende geveg op nie, gaan dit tog maar vir ’n wyle in albei se onderbewussyn vassteek.
Waak daarteen om nie in enige opsig ontrou te wees aan jou maat en jou huwelik nie, sodat julle vreugde nie kwyn nie.
Nederigheid
Hoogmoed bring ’n mens tot ’n val; nederigheid bring eer (Spr 29:23).
Hoe tree iemand op wat nederig is? Só iemand vat nooit die eer vir homself wat iemand anders toekom nie. Hy is nie aggressief, selfsugtig of onverdraagsaam nie. Dit is iemand wat maklik aan ander erkenning gee vir goeie prestasies, wat graag komplimente uitdeel en wat nie maklik oor sy eie prestasies praat nie.
Hoe het dit betrekking op die huwelik?
Kom ons kyk weer na die voorbeeld van jou prestasies teenoor jou maat s’n. Vrouens word vandag die geleentheid gegun om hoë poste in die sakewêreld te beklee. In sommige gevalle verdien hulle ’n groter salaris as hulle mans. Vir baie mans is dit ’n bitter pil om te sluk, want ons het grootgeword in ’n samelewing waar die man as die broodwinner gesien word. Dit ontlok soms gevoelens van minderwaardigheid en nutteloosheid by mans. Veral as hy die een is wat opeindig om by die huis te bly en na die kinders te kyk.
Die grootste fout wat jy as die persoon met die meer suksesvolle loopbaan kan maak, is om daaroor te spog voor jou maat. Of nog erger, om grappe te maak oor die feit dat jou maat minder verdien as jy. Selfs al bedoel jy dit nie sleg nie, is dit vir jou maat ’n groot vernedering en kraak dit sy selfbeeld af.
Nederigheid is nie papbroekerigheid nie. Dit vat baie guts om die minste te wees in enige situasie. Jesus is die volmaakte voorbeeld van nederigheid. Hy was nie bang om vriende te wees met mense wat deur die samelewing verstoot is nie en Hy het nooit spesiale behandeling geëis omdat Hy die Seun van God is nie.
Kan ons dieselfde sê?
Selfbeheersing
Ons pas daagliks, bewustelik of onbewustelik, selfbeheersing toe in alle fasette van ons lewens. Nie almal van ons het dieselfde “probleemareas” wat ons monitor nie. Vir een persoon kan dit wees hoeveel sigarette hy rook en vir ’n ander hoeveel sjokolade sy eet. Sommige sukkel om hulle seksuele drange in toom te hou en ander moet konstant hulle humeur onderdruk.
Die verloor van selfbeheersing plaas baie druk op ’n huwelik, veral waar vernietigende dinge soos alkohol en fisiese geweld voorkom.
Een van die dinge waarmee vrouens sowel as mans sukkel, is die beheersing van die tong. Jy kan dit maar net nie help om iets venynigs kwyt te raak wanneer manlief alweer laat van die werk af kom nie. Soms dink ons nie voor ons praat nie en beskuldig boetie van onnoselheid omdat hy sy snoepiegeld verloor het by die skool.
Sodra jy voel dat jy in ’n situasie is waarin jy jou selfbeheersing gaan verloor, verwyder jouself daaruit en gaan haal diep asem. Dink mooi oor die gevolge daarvan – dit gaan niks goeds wees nie. Bespreek ook enige selfbeheersingsprobleme wat jy het met jou gesin sodat hulle jou daardeur kan help, eerder as wat jy hulle lewens versuur.
Niemand het ooit gesê dit is maklik om ’n Christen te wees nie. Dankie tog dat ons ’n wonderlike God het wat ons genadig is. Gebruik die vrug van die Gees as ’n gids om jou huweliks- en gesinslewe ’n gelukkige een te maak, en jy sal die vrug daarvan pluk.
Yes, we can!
***
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?
Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!
n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!