Die woord “seks” hou beslis verskillende betekenisse vir elke persoon in! Vir een bring dié einste woord skaamte, vrees, skuldgevoelens, emosionele pyn of: “Kom ons verander net die onderwerp, want netnou kom ek in die moeilikheid!” Dalk het jy net goeie herinneringe met ’n mooi betekenis van dié swaar gelaaide woord!
Seks is vir seker ’n onderwerp waaroor sommige van ons se ouers nie gewaag het om te praat nie, en die bekende boekie Wat seuns wil weet of die weergawe vir meisies is in ons hande geplaas met die woorde: “Lees dit en indien jy vrae het, vra jou pa of ma!”
Maar die feit is: Seks is ’n onderwerp waaroor almal moet gesels – klein, groot, jonk of oud. Jy is nooit te jonk om daaroor te praat nie! Ons moet wel ons wysheid gebruik wanneer ons oor hierdie onderwerp gesels om perversie en verkeerde persepsies te vermy. God het seks geskep, dis Sy soewereine idee. Die verkeerde persepsie vertroebel dit wat mooi is, vervreem dit wat intiem behoort te wees en pynig die lekker tussen paartjies!
Laat my toe om ’n paar gedagtes te deel sodat ons as mense kan gesond word van hierdie “taboe”-onderwerp en die vrymoedigheid kan kweek om ons geliefdes op ’n gesonde wyse te bereik, en genesing te bring vir dié wat steeds vandag gebonde voel oor die verlede of daarin vasgevang is!
ONS IS SEKSUELE WESENS – GOD HET GESÊ LAAT DAAR SEKS WEES!
Ek sal seker nooit die dag vergeet toe ons as teologiestudente semi-geskok gesit en luister het na ’n spreker wat juis oor dié onderwerp uitgebrei het nie! Kon dit wees? Is ons op die regte plek, het ek gedink? Die onderwerp was seks!
Ons klompie so-te-sê “‘heilige” Bybelskool-studente het alles probeer in hul dag-tot-dag lewe om die onderwerp te vermy en om ons liggaamsgevoelens te probeer bestraf. Die grootste hiervan wat ons moes verwerk, was seker die feit dat ’n onderwerp wat die kerk heeltemal probeer vermy het letterlik en figuurlik oop en bloot in die Bybel staan! In die Bybel van alle plekke!
Vriend, daar is niks fout met seksualiteit as die daad vir die huwelik bedoel is nie, want in die huwelik kan man en vrou mekaar bedien, beskerm en bemin. Seks is en was nog altyd bedoel om plesier, intimiteit en genot te verskaf.
Soos ek nou weet, is seks toe nou nie die “sies, los uit, gagga, ons praat nie daaroor nie” onderwerp nie, maar wel iets besonders wat God gemaak het om emosie, passie en liefdesgevoelens op ’n hoogtepunt en vir ’n kort en intieme oomblik te kan beleef.
DAAR IS NIKS VERKEERD MET DIE SEKSDRANG NIE
Daar is gevalle waar individue kom met vreemde konsepte of persepsies soos: “Stephen, vandat ek ’n Christen geword het, het ek my seksdrang verloor en ek weet dit eer die Here as ek só voel.”
Ek kan nie help om dadelik te korrigeer en te verduidelik dat God nie jou seksdrang wegneem nie, maar dat die belewenis meer fisiologies of psigies/emosioneel van aard is en spanning ’n groot rol speel in ons as seksuele wesens. Onthou, ons persepsies, gevoelens, woorde en gesondheid dra by tot ’n gesonde seksdrang.
PRAAT MET MEKAAR OOR SEKS
Kommunikasie, kommunikasie en kommunikasie is die top drie punte waarmee twee partye enige seksuele ervaring se spyker op die kop kan slaan. Jou geliefde kan nie jou gedagtes lees nie – moenie verwag dat sy dit doen nie. Maak jou geliefde se plesier jou doelwit, hoor wat sy geniet, doen dit en speel saam. Ek sê altyd: “Mates who play together stay together!”
Komaan, begin weer met vars idees en laat die tiener in jou los. Jy het lank genoeg jou gevoelens en begeertes weggesteek. Onthou as jy seksuele gevoelens wegsteek, word die einste gevoelens korrup. Perversie en geheimenisse veroorsaak skuldgevoelens, skaamheid en vrees. Kom vry van dié gedagtes en laat toe dat die Here deur waarheid jou voorwaar vrymaak!
Die Woord is duidelik en op die man af oor seks. Sommer al in Genesis is die Bybel duidelik oor seks (seker omdat God seks as baie belangrik ag) en gee dit vier duidelike riglyne vir die seksdaad:
Gedagte 1: Seks is vir voortplanting bedoel en om kinders in die wêreld te bring wat soos jy is – die wêreld het meer mense soos jy nodig!
Gedagte 2: Seks is bedoel vir mededeelsaamheid – onthou, nie net vir jou plesier nie, maar ook vir jou geliefde se plesier. Hoor wat vir mekaar lekker en aanvaarbaar is. Dan dink ek dat jy op die pad van 100% herstel is!
Gedagte 3: Seks is vir emosionele bevrediging en vervulling. Seks is nie alles nie, maar wanneer iets fout is in jul seksuele belewenis, het dit wel ’n uitwerking op alles!
Gedagte 4: Groei in jou seksualiteit en in die seksdaad. Elke paartjie se hoogtepunt en doelwit moet wees om hul sekservaring na ’n volgende vlak te stuur.
Só manne en vroue, op julle plekke, gereed . . . en hê seks op ’n vlak wat julle toelaat om saam ’n stukkie van die hemel op aarde te kan beleef!
Deur Stephen Claassens