Hardlywigheid (konstipasie) word gekenmerk deur min of ongereelde en moeilike dermlediging en stoelgange wat hard en droog is. In sommige gevalle kla mense ook van ‘n opgesette buik en maagpyn en mag selfs naar voel en opgooi.
Daar is baie redes vir hardlywigheid. Die meeste daarvan is nie ‘n rede vir kommer nie. Dit is dinge soos veranderinge in ‘n mens se gebruiklike dieet, onaktiwiteit, te min vesel en water in jou dieet, stres, prikkelbare dermsindroom, ‘n dieet hoog in suiwelprodukte, die gebruik van anti-suurmiddels wat kalsium en aluminium bevat en ook ander medikasie (sterk pynverdowers, antidepressante en ysterpille), swangerskap en terughouding van ontlasting as gevolg van die vrees vir pynlike en bloeiende aambeie.
Daar is egter ook siektetoestande wat hardlywigheid kan veroorsaak, wat uitgeskakel moet word as die probleem langdurig is en wisselvallig voorkom. Dit is dinge soos kolonkanker, eetversteurings, senuweesiektes (Parkinson se siekte en multipulo-sklerose), ‘n onderaktiewe skildklier en die misbruik van lakseermiddels.
Genoegsame voginname, dieetaanpassings en oefening help vir die meeste mense om hardlywigheid om te keer. Soms is dit ook nodig om ‘n stoelgangversagter soos laktulose vir ‘n tyd te gebruik. Dit is ‘n tipe suiker wat in die dikderm afgebreek word en dan water daar intrek en die stoelgang versag.
Laktulose word gewoonlik goed verdra, maar dit sou opgeblaasdheid, winderigheid, maagpyn, diarree, naarheid en braking in ‘n klein groepie mense kan veroorsaak. Dit moet nie gebruik word waar ‘n dermobstruksie of perforasie vermoed word nie. Mense moet hulle dokter konsulteer as laktulose nie na ‘n paar dae die verlangde effek gehad het nie.
Dit kan met veiligheid in swanger vrouens, babas, kinders en volwassenes gebruik word in ‘n enkele of verdeelde daaglikse dosering. Die hoeveelheid laktulose wat geneem word, word deur die individu se ouderdom bepaal.
Vir meer inligting besoek gerus: www.duphalac.com
Artikel deur Dr. Etienne Kok