Miskien interesseer blokraaisels hulle meer as Facebook (of miskien nie!), maar dit beteken geensins dat ouer vroue deesdae hul ure agter kant-gordyntjies slyt nie. Al meer senior vroue erken dat hulle seksueel aktief en trots daarop is!

Promosie

Verby is die dae wat ’n ouer dame in ’n boksie geplaas kon word saam met haar breipenne, haar dikraambril, haar koeksister-resep en ’n etiket waarop staan: ‘Vervaldatum verstryk’. Deesdae stel baie ouer vroue ’n voorbeeld vir hul dogters en kleindogters. Hulle let op na hul voorkoms, oefen gereeld, bly by met veranderinge en draf selfs ’n halfmarathon of twee.

Ook in die slaapkamer gaan dit nie te sleg nie. ’n Sweedse studie het bewys dat mense in hul vroeë sewentigs meer gereeld seks het en dit ook meer geniet as hul tydgenote van 30 of 40 jaar gelede. In die artikel “Older Women Talk About Sex” (www.selfhelpmagazine.com) skryf Beverly Johnson dat sy as assistent-professor in verpleegkunde by die Universiteit van Vermont, lesers van 50 jaar en ouer genooi het om anoniem aan ’n studie van ouer volwassenes en seksualiteit deel te neem.

Oor die algemeen het die vroue hulself as kundig oor seksualiteit beskryf en liberaal betreffende hul seksuele siening. Altesaam 85% van die volwassenes het hul seksuele belangstelling en aktiwiteit tot laat in hul lewe uitgeleef en beoefen, mits hulle gesond was. Altesaam 90% het gesê hulle glo nie seks is net vir jongmense bedoel nie en dat seksualiteit dwarsdeur ’n mens se lewe voortduur. Twee derdes van die vroue het gesê hulle is baie geïnteresseerd in seksuele omgang en slegs 35% het gesê hul seksuele belangstelling het verminder! Nie sleg nie, nè?

Promosie

Seksuoloog Elmari Craig en Bybelkenner Hennie Stander, skryf in hul boek A-Z van Seks dat sekere liggaams-veranderinge en kwale wat met ouderdom gepaardgaan, met bedsake kan lol. “Die opwekkingsfase behoort langer te duur en meer stimulasie mag nodig wees. Vroue bo 50 benodig dikwels bykomende smeermiddel en daarom kan orale seks met groot welslae gebruik word. Die plato-fase wat lei tot orgasme duur ook langer by ouer mense. Omdat die sensasie nie meer so intens soos voorheen is nie, kan die seksdaad langer duur. Die paartjie kan dus tyd neem om die reis te geniet. Orgasmes mag dalk nie so intens wees soos voorheen nie en die ouer man sal langer tyd nodig hê voor hy weer ’n ereksie kan kry. Ten spyte van al hierdie aanpassings kan seks steeds ’n genotvolle en vervullende ervaring wees.”

Marlene (56), ’n INTIEM-leser, beaam dat daar absoluut niks met ouer vroue se libido’s skort nie. As daar wel ’n afplatting plaasvind, is dit by die manne, meen sy. “Die feit dat ons seks kan geniet is heeltemal waar!” Sy lag as sy vertel dat ouer vroue natuurlik nie so soepel soos die jongeres is nie. “Ek lees hierdie tydskrif van julle gereeld. Julle het ’n artikel gehad oor vrugte in die bed. Ek het dadelik gedink: Nee, ons kan dit nie op die bed doen nie want my beddegoed gaan vlek en definitief nie op die grond nie want my lyf gaan dit nie hou nie,” lag sy. “En die artikel oor die striptease … ek wou, maar ek kom nie eers tot by my kuite by nie!” Daarom glo sy daar moet ’n bietjie meer voorsiening gemaak word vir ouer mense omdat hulle dikwels uit die prentjie gelaat word wanneer seksposisies en dies meer aanbeveel word.

Seks self is egter fantasties, meen Marlene. “’n Mens ken mekaar se lywe so goed. Of jy ’n tan het en of jy nou nie ’n tan het nie, as ’n mens ouer is, is dit is nie meer van belang nie. Dan strek seks dieper as net die oomblik se genot en ek hou daarvan om die woord ‘koestering’ te gebruik. Jy stap miskien die een dag in die dorp rond en jy dink: Ai, ek is nou nie meer so mooi nie, en ek het plooie … maar as julle twee saam is, voel jy weer soos ’n jong vrou, omdat ’n mens mekaar kan koester. Vir my is my man die wonderlikste man in die wêreld. Boepens, moesies en plooie maak nie saak nie. Dit is nie wat jy sien nie, jy sien die man wat vir jou lief is.”

Marlene meen dit is bevrydend dat ’n mens nie meer wonder of jy voorbarig of koekerig gaan voorkom as jy die voortou in die slaapkamer neem al dan nie. “Want op ons ouderdom kan ons heerlik stuitig wees, dit is daardie stuitigheid wat nuwe lewe inblaas vir die week wat voorlê. Dit gee jou guts. Jy hoef ook nie meer te praat om uit te vind of iets aan jou maat genot verskaf nie. Jy voel dit so in jou weefsel aan …” Marlene meen dat ’n ouer getroude paar – sy en haar man is nou 30 jaar getroud – amper telepaties kommunikeer in die slaapkamer, iets wat met die jare kom.

Sy lag wanneer ons praat oor posisies en sê dat INTIEM so dan en wan ook ’n posisie vir ouer pare moet voorstel. “Onthou ook nou, dit is nie net die heupe, die knieë en die rug nie – dit is ook die skouers en die elmboë! Ek dink baie keer besluit ’n mens: Kom ons gaan nou maar oor na orale seks, want hiervoor moet jy die minste joints inspan. Maar ons kan alles doen. Net stadiger as die jong klomp. En nog ’n ding … ons kan baie meer goed dínk as wat ons kan doen. Op ons ouderdom help die denke baie. As jy dínk saam met die bietjie wat jy kan dóén, is jy net so blinkoog en stuitig soos die volgende ou.”

Onthou

Onthou dus, al voel jy nog soos die sosiale vlinder van jou prille jeug, jou lyf het al meer myle (en natuurlik ook meer karakter) as die gemiddelde vrou wat nog nie van senior-afslag gebruik mag maak nie. Moet allermins nie afskaal nie, maar maak ’n paar aanpassings aan jou sekslewe om seker te maak jy kan vir jare lank nog die vrugte daarvan pluk:

  1. Praat met jou maat en aanvaar ouderdom as deel van die lewe.

Dit geld nie slegs vir ouer vroue nie – openlike kommunikasie is broodnodig vir goeie seks. Maar nou, meer as ooit, is dit belangrik om probleme uit te stryk en kreatiewe oplossings te soek.

  1. Fokus op positiewe denke.

Herinner jouself gereeld aan al die positiewe aspekte van ouer word. Kry dinge wat jy geniet om te doen en spandeer meer tyd daaraan om dit te doen.

  1. Besluit dat jy sensueel en seksueel aktief sal bly.

Doen sensuele dinge saam soos om saam te bad, erotiese gedagtes te deel en mekaar komplimente te gee. Dit is ook nou die tyd wat julle met meer gemak kan eksperimenteer.

  1. Gebruik smeermiddel.

Onthou, hoe ouer jy word, hoe meer neem jou natuurlike smeermiddel af. Dit kan egter maklik oorkom word deur ’n water-gebaseerde smeermiddel te gebruik.

  1. Eksperimenteer met posisies en tye.

Jy kan dalk pyn ervaar wat teweeg gebring word deur artritis of ander toestande wat met jou sekslewe kan mors. Probeer verskillende posisies. Onthou ook dat artritis en ander pyn-toestande minder seer is gedurende sekere tye van die dag en probeer om seks te hê wanneer jou pyn op sy ligste is.

  1. Konfronteer erektiele disfunksie.

As dit met jou maat gebeur, help hom om daardeur te werk. Dit beteken nie die einde van jul sekslewe nie – sekere leefstyl-aanpassings en medikasie kan wondere verrig.

  1. Voel pragtig.

Dit is soms moeilik wanneer jy daagliks gekonfronteer word deur prentjies van jeugdige, pragtige vroue. Soos wat jy ouer word, voel jy dalk seksueel minder aantreklik en dit kan jou seksuele begeerte beïnvloed. Moenie jouself deur hierdie boodskappe laat beïnvloed nie. Ja, jou liggaam verander dalk soos jy ouer word, maar dit het geen effek op jou waarde of jou begeerlikheid nie.

  1. Pas jou gesondheid op.

Onthou dat gesondheidsprobleme met seksuele bevrediging kan inmeng. As jy ’n gesondheidstoestand het, maak seker jy beheer dit. Volg jou dokter se raad en luister as jy moet gewig verloor, oefen of gesonder moet eet.

  1. Moenie dat operasies jou sekslewe steel nie.

Die kans dat jy waarskynlik al ’n mastektomie, histerektomie of soortgelyke operasie op jou voortplantingsorgane moes ondergaan, is goed. Dit kan ’n vrou se selfbeeld dramaties beïnvloed. Onthou egter dat dit niks te doen het met ’n vrou se vermoë om seks te hê nie. Praat openlik met jou maat oor jou gevoelens hieroor.

  1. Gesels met jou dokter oor probleme wat jy met jou sekslewe ervaar.

 Soms is daar eenvoudige aanpassings wat gemaak kan word, soos om jou medikasie op ’n ander tyd van die dag te neem, wat ’n aansienlike verskil aan jou lewe kan maak.

  1. Mans het ’n laer lewensverwagting as vroue en dit beteken dat soveel meer ouer vroue as weduwees of enkellopende vroue agtergelaat word.

Seks en orgasmes is goed vir jou liggaam en jou emosies. Vroue behoort nie skuldig te voel oor masturbasie nie en vibrators is handige instrumente!

Bykomende bron: www.longevity.com

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!