Jy staan op die vooraand van ’n nuwe huwelik, maar dit is asof kettings jou boei. Jy voel net nie optimaal gelukkig nie en weet nie wat die oorsaak is van jou somber gemoed nie. Miskien moet jy eers jou eks vergewe . . .  

Michelle en Juan is geskei ná ’n huwelik van nege jaar toe Juan ’n buite-egtelike verhouding met een van Michelle se kollegas, Sonja, aangeknoop het. Juan en Sonja is getroud en Michelle het baie seergekry. Die egskeiding was hittig en lelik. Kort ná die egskeiding het Juan ’n betrekking in Amerika gekry en daarna was die kontak tussen hulle minimaal. Michelle en haar skoonma, Jo-Anne, het egter ’n besondere verhouding gehad en gereeld gekuier – met die voorwaarde dat daar nooit oor Juan of hul mislukte huwelik gepraat sou word nie.  

Drie jaar het verloop. Intussen het Michelle ’n wonderlike man ontmoet en hulle is twee jaar ná haar egskeiding getroud. “Ek het vir myself vertel dat die egskeiding agter my lê, dat ek Juan vergewe het en dat ek nou net vorentoe kyk, vertel sy. Michelle was vier maande swanger met haar eerste baba toe sy die skoknuus kry dat Jo-Anne aan ’n hartaanval oorlede is.  

“By die begrafnis het Juan en Sonja by die kerk ingestap en skielik het dit gevoel of my hart middeldeur skeurOp daardie oomblik het al die emosies wat ek drie jaar gelede ervaar het, weer soos ’n tsunami oor my gespoel. Ek het onbedaarlik aan die huil gegaan, nie net omdat ek die seer van sy verkulling opnuut beleef het nie, maar ook omdat ek ’n liewe vriendin verloor het . . . die vrou wat ook die enigste skakel tot my verlede was.”   

Hierdie gebeurtenis het só ’n groot impak op haar gehad dat haar nuwe huwelik daaronder gely het. Tot Michelle se man voorgestel het sy gaan vir terapie. Sy het ingestem en ’n pad van vergifnis saam met die terapeut gestap. Hoewel sy nie die dag van die begrafnis of daarna weer met Juan gepraat het nie, voel dit vir haar vir die eerste keer asof sy régtig vrede gemaak het en ontslae is van die kettings wat haar verhoed het om ’n vervulde tweede huwelik te hê.  

Hierdie verhaal is verteenwoordigend van soveel ander vroue wat sukkel om van die verlede ontslae te raak ná ’n egskeiding.   

Is vergifnis ooit moontlik ná jy so seergekry het?  

Ja, dit is. En dit is nodig. Daarsonder dra jy wraak met jou saam of is jy  weerloos dat jy gereed is om wéér deur daardie persoon seergemaak te word. Soms is dit makliker as jou eks jou vergifnis vrá. Daar is mense wat nooit vergewe en vergeet nie en ongelukkig bly hulle slagoffers vir die res van hul lewens. Nie net slagoffers van dit wat gebeur het nie, maar ook slagoffers van die wond wat hulle toekomstige verhoudings en sin van identiteit impakteer, meen Mark R Banschick, sielkundige en skrywer van die boek The Intelligent Divorce  

As jy nie vergewe nie, bly jou mislukte huwelik ’n wond wat aanhou bloei. En onthou, jou vergifnis behoort nie af te hang van jou eks se berou nie. Al bely jou eks nie dit wat hy/sy verkeerd gedoen het nie, moet jy nog steeds kan vergewe.   

Hoekom is vergifnis ná ’n egskeiding so nodig?  

Want dit is deel van elke geskeide persoon se genesingsproses. Dis noodsaaklik om te verhoed dat jou verlede jou toekoms word! Navorsing toon dat ekse wat vergewe, minder woede, bitterheid, depressie en angs ervaar en groter spirituele gesondheid en langtermyn fisieke gesondheid beleef as ander (Rye, Heim, Olszewski & Traina, 2004).   

Gevoelens soos woede en spyt neem tyd om te genees en vergifnis is deel van die genesingsproses. Jy hoef hom/haar nie te vertel dat jy vergewe het nie. Om aan te kondig dat jy jou eks vergewe het as hy/sy nie vir jou vergifnis gevra het nie, kan ’n vorm van manipulasie wees om hom/haar te laat skuldig voel. Onthou ook dat dit nie ’n liefdesdaad is teenoor die persoon wat jou seergemaak het nie, maar eerder iets wat tot jou eie voordeel strek. Jy doen dit ter wille van jou verhouding met jouself, jou houding teenoor ander en jou toekomstige verhouding/huwelik.   

Hoekom is dit so moeilik om ’n eks te vergewe?  

Want geskeide pare is dikwels bang dat vergifnis sal beteken om te moet teruggaan na die verhouding soos dit was. Dit is egter belangrik om beheer te neem en te besef dat al vergewe jy, jy nie ’n slagoffer is nie en nie hoef toe te laat dat iemand jou weer/steeds mishandel of seermaak nie. As jy vergewe, beteken dit ook nie dat jy oortredings in die verlede ontken of ignoreer nie. Sommige mense is gemeen en onbetroubaar – dit gaan nooit verander nie, maar dit is nodig vir jou om die manier waarop jy teenoor  iemand optree, te verander.   

Vergifnis is ook moeilik omdat dit jou magtig laat voel as jy vergifnis weerhou van iemand wat dit vra. Vergifnis gaan egter oor vrede. En soms is dit moeilik, want dit voel “onregverdig”. Dit voel onregverdig dat die persoon wat jou seergemaak het, ongestraf bly. Maar as jy vergewe, beteken dit nié dat jy dink jou eks hoef nie verantwoordelikheid te neem vir sy/haar dade nie. Deur te vergewe, draai jy na God om geregtigheid te laat geskied. Deur nie vas te hou aan wrokgevoelens nie, sê jy vir God dat jy Hom vertrou om die saak te ondersoek.   

Hoe doen jy die vergifnis-ding?  

Slegs deur realisties te kyk na die persoon wat jy wil vergewe en deur die hoop te laat vaar dat jy hom/haar kan verander. As jy dít besef, verander die manier waarop jy teenoor hom/haar optree of reageer. Jou verwagtinge van die persoon verander en skielik raak vergifnis makliker. Onthou egter dat vergewe nie dieselfde is as vergeet nie.   

Natuurlik is vergifnis nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Dit is ’n dinamiese proses wat met tyd gebeur en jou toelaat om jou gevoelens in perspektief te plaas. Natuurlik gaan jy herinneringe hê van wat gebeur het en hierdie herinneringe gaan jou diep raak. Sien hierdie herinneringe as ’n manier om te onthou hoekom jy in die eerste plek moes vergewe.   

En besef dat jy hom/haar nie net vergewe vir die feit dat julle nou geskei is nie, maar vir alles wat gelei het tot die egskeiding. Wees versigtig om té gou te vergewe. Soms is vergifnis soos ’n strooihalm wat jy aangryp om pyn te vermy of die situasie te manipuleer. Doen dit wanneer die tyd reg is.   

Onthou om jouself ook te vergewe  

Jy het foute gemaak en dalk ’n aandeel gehad in die egskeiding. Jy voel skuldig daaroor. Jy het geskei en nou kry jou kinders in die proses seer. Jy voel skuldig daaroor. Jou ouers is teleurgesteld en jy voel jy het God teleurgestel. Jy voel skuldig daaroor. Skuldgevoelens is goed, want dit skep empatie met ander en dit bevorder self-verbetering, maar dit kan ook jou kans op geluk saboteer.   

Dit is belangrik om ook sag met jouself te werk. Laat jouself toe om lesse te leer uit dit wat verkeerd gegaan het, maar fokus op die goeie wat daaruit gekom het en alles wat jy uit die huwelik geleer het. Besef dat jy jouself kan vergewe, al glo jy dit was jou skuld. En sien jou nuwe begin as ’n seëning, nie as ’n fout nie.   

Addisionele bronne: www.sincemydivorce.com, www.huffingtonpost.com, www.psychologytoday.com, www.goodtherapy.org, www.womensdivorce.com, www.wikihow.com, www.ciftcounseling.com.