In hierdie stadium lyk dit dalk vir jou onmoontlik om die man wat jou vertroue geskend het, te vergewe, maar as jy jou huwelik wil laat heel word, is dit noodsaaklik dat jy hierdie stap neem. Hoe doen ’n mens dit?

Promosie

Karien en Jacques was die perfekte paartjie. Ná sewe jaar se getroude lewe het hulle twee kinders, ’n huisie in die Ooste van Pretoria en standvastige poste gehad. Min was sy voorbereid op wat in daardie jaar sou gebeur.

Jacques het ’n verhouding, van korte duur, met die ontvangsdame by die gimnasium aangeknoop, maar hierdie verhouding het aanleiding gegee tot besoeke aan ontkleeklubs, internetpornografie en die een leuen na die ander. Vir twee jaar het Karien nie haar man geken nie. Hy was ’n vreemdeling wat geen respek vir haar, óf vir dit waaraan hulle deur die jare gewerk het, gehad het nie.

’n Besoek aan ’n mannekamp het egter Jacques se lewe omgekeer. Hy het alles teenoor haar bely en werklik berou gehad oor die man wat hy geword het. Karien het besluit om hul huwelik ’n tweede kans te gee. Sy sou hom vergewe, hulle sou die gebreekte stukke van hul huwelik optel, en vorentoe beweeg. Maar vergifnis is ’n lang woord…

Promosie

“In my werk as huweliks- en gesinsterapeut, kom ek dikwels in kontak met huweliksmaats wat dit moeilik vind om hul maats vir jare se pornografiegebruik en ander seksuele verslawingsgedrag te vergewe. ’n Huweliksmaat ervaar woede, verwerping, verwarring, onbevoegdheid en selftwyfel, sowel as ander kragtige emosies. As dit nie op ’n gesonde en produktiewe manier hanteer word nie, kan hierdie emosies giftig word, die gesondheid en welstand van die maat wat dit koester, beskadig en ’n wig in die verhouding dryf,” waarsku Bernell Christensen op die webtuiste www.candeocan.com.

Miskien staan jy in Karien se skoene, maar kon jy nog nie by die punt van vergifnis uitkom nie. Geen huwelik is vry van oortredinge nie. Almal sê soms, in die hitte van die oomblik, iets wat hulle nie bedoel nie, maar as jy so iets kwytraak, moet jy bereid wees om jou maat om verskoning te vra en die gevolge te dra.

Soms doen jy iets waaroor jy later berou het, of is daar die buite-egtelike verhouding, passievolle soen of ander vorm van verkulling wat soveel paartjies moet trotseer. Die mense wat ons die liefste het, is dikwels húlle wat ons die seerste maak en deur wie ons seergemaak word. In baie huwelike is vergifnis ’n daaglikse proses.

Wat is vergifnis en wat is dit nie?
Christenskap, sowel as die meeste geloofsvorme regoor die wêreld, promoveer vergifnis. Dit is ’n Goddelike opdrag en Psalm 32:1 dui vir ons aan hoe om te vergewe. Dit is egter een ding om te sê jy vergewe jou maat, en ’n ander ding om jou maat werklik te vergewe. Om te sê: “Ek kan vergewe, maar nooit vergeet nie”, is nie ware vergifnis nie, en as jy dit nie kan regkry om te vergeet en dinge agter jou te plaas nie, kan ware vergifnis nie plaasvind nie.

“Vergifnis is om jouself vry te stel van ‘n vrag negatiewe emosies en energie. Dit gaan daaroor om bitterheid, woede en frustrasie vry te laat en dit met dankbaarheid – vir jou eie gawes, talente en seëninge, en vir jou innerlike eiewaarde, te vervang, asook vir die goeie en positiewe dinge van jou maat wat nié aan sy verslawing [of oortreding] verwant is nie.”

’n Mens kan vergifnis met ’n motor-enjin vergelyk. Dit plaas jou in beweging en keer jou om in die verlede vas te haak waar jy herhaaldelik nuwe emosies beleef. Sodra die motor beweeg, neem dit jou uit die omgewing weg waar jy deur herinninge aan jou seerkry omring word. Onthou, jy vergewe jou maat vir dit wat hy jou aangedoen het, maar dit is nie jou taak om sy verslawing of probleem te oorkom nie.

Vergifnis is daar om vir jou vrede in jou gemoed te gee en die vrag van jou skouers af te lig, maar soveel vroue wil maar net nie van die swaar las ontslae raak nie. Dit is te maklik om die grafte van ou koeie te merk, en sodra Manlief oortree het, weer na die grafte toe te gaan, die koeie uit te grawe en as ammunisie in die geveg te gebruik.

Hoekom is vergifnis so noodsaaklik?
Dit maak jou sterk. Baie vroue dink dat vergifnis hulle swakker en meer weerloos maak. Vroue is ook bang dat hul maat dan nie die gevolge sal verstaan nie en dit juis weer sal doen. Om die ‘oog vir ‘n oog’-gesegde aan te hang en te glo dat jy hom vir sy foute moet ‘straf’, is egter nie ‘n oplossing nie. Dit vervang slegs jou eie pyn met sy pyn, en dit lei nooit tot ‘n oplossing nie. Wraak het nie positiewe gevolge nie.

Mahatma Gandhi het gesê: “Die swakke sal nooit vergewe nie. Vergifnis is ’n eienskap van sterk mense.” Die onvermoë om te vergewe, word naderhand ’n tronk, verduidelik doktor Niki P. Anderson op die webtuiste www.nikianderson.com.

As jy hom nooit vergewe vir die seer wat hy jou aangedoen het nie, sal jy nooit daarvan kan vergeet nie en sal die wonde net erger word en in woede en vrees verander wat aanhou gedy. Trots staan dikwels in die pad van ware vergifnis. Sommige vroue verlaat die verhouding, maar hou aan om die woede te voed. Dit verhoog stresvlakke en lei weer tot sielkundige simptome van spanning wat van hoë bloeddruk tot beroerte kan wissel. As jy aanhou vasklou aan ou seerplekke, teleurstellings, woede en onsensitiwiteit, mors jy jou tyd en energie. Seerkry wat gekoester word, verander in haat en bitterheid, wat tot fisieke en geestelike ongesteldheid lei.

Die gesondheidsvoordele van vergifnis
Nie net gaan jy beter voel as jy jou man vergewe het nie, maar jy gaan ook gesonder wees. Navorsing toon dat vergifnis met verminderde woede, depressie en ’n verbetering van jou selfbeeld gepaard gaan. Dit kan ook jou verhouding langer laat duur.

Vergifnis stel jou vry van pyn – fisiologies en sielkundig. Fred Luskin, ’n navorser van Stanford Universiteit, het in sy navorsing, getiteld The Forgiveness Project, gevind dat vergifnis nét so effektief is as die immuunstelsel, indien nie méér effektief nie. In die studie het 260 vrywilligers ‘n dagseminaar oor vergifnis bygewoon. Hy het gevind dat die deelnemers laer stresvlakke rapporteer het, dit hul selfvertroue ’n hupstoot gegee het en dat dit hulle gehelp het om ’n verhoogde gevoel van eenheid met ander mense te beleef. Daar is ook vermindering in hoofpyn, rugpyn en omgekrapte mae aangemeld.

So, hoe doen ’n mens dit?
Jy moet dit prakties beoefen. Daar is nie ’n toweroplossing nie, maar jy moet jouself regtig vry maak daarvan. Dit impliseer dat daar ’n verandering binne-in jou, asook in jou gedagtes en gedrag plaasgevind het. Dit beteken nie dat jy hoef voor te gee dat dit nooit plaasgevind het, en dat dinge ‘normaal’ is nie, maar ware vergifnis is ’n proses en dit verg harde werk en tyd.

As jou maat iets gedoen het wat jy nodig het om te vergewe, probeer die volgende:

• Noem die oortreding en seerkry by die naam. Sê byvoorbeeld: “Jy het ’n ontkleeklub besoek en ’n skootdans versoek en daaroor vir my gejok. Dit het my só seergemaak, want dit laat my voel of jy geen respek vir my as die enigste vrou in jou lewe en vir ons intimiteit het nie.” Vra vrae, soos: “Wat is die morele reëls wat gebreek is en hoe het sy oortreding daardie reëls verbreek?” of “Wat is die betekenis van die besering en wat is die nagevolge hiervan?”
• Ervaar geneeskragtige hartseer. Jy wil dalk nie die seer beleef nie en verkies om ’n rouproses te vermy, maar jy hét seergekry en jy mag daardie proses nie oorslaan nie. Dit is ’n noodsaaklike erkenning van dít wat jy verloor het. Sê dus vir jouself: “Ek mág maar seergemaak voel, want my man het my vertroue in hom geskend, en hy het iets gedoen wat ek nie kan glo hy sou doen nie…”
• Breek die stilte. Jy kan daarby baat vind om die oortreding in besonderhede teenoor ’n vertroueling, ’n terapeut of ’n regspersoon te bely (afhangende van die oortreding). Om te genees en te kan vergewe, moet jy herken dat daar iets verkeerd is en dat dit iemand se skuld is.
• Voorkom dat dit weer gebeur. Jy moet alles in jou vermoë doen om te keer dat dit weer gebeur. As jou man ’n ontkleeklub besoek het, gaan jy voel asof dit nie in jou hande is nie, maar wat jy wel kan doen, is om hom te laat verstaan dat jy nie die hartseer sal kan hanteer indien hy weer so iets doen nie, en dat jy jou teen soortgelyke seer in die toekoms sal moet beskerm. Raak sterk en leer wanneer om hulp te soek, sonder om gehard en sinies te raak.
• Herstel die orde wat verlore geraak het. Die balans word herstel as ’n oortreder die gevolge van sy/haar aksies dra. As jou man aan internetpornografie verslaaf is, sy probleem erken het en ’n ondersteuningsgroep bywoon, dra hy die gevolge, en sal dit die balans van sy dade herstel. Jy kan dit nie op hom afdwing deur byvoorbeeld seks van hom te weerhou nie. Hy gaan waarskynlik nie die verband tussen jou weerhouding en sy eie gedrag raaksien nie. (www.marriageandfamilies.byu.edu)
• Wees opreg en vergewe hardop. Vir voldoende effektiwiteit, is dit vir jou nodig om die woorde hardop te sê en dit aan te hoor. Wees spesifiek waaroor jy hom vergewe, en vergewe hom in die hede – moenie “ek sal”, “ek wil” of “ek moet” gebruik nie. Vergewe hom vir wat hy jou aangedoen het deur dit te sê: “Ek vergewe jou vir die seer wat jy vir my veroorsaak het deur nie van jou pornografieverslawing afstand te doen nie.” Vervang jou woede met dankbaarheid deur byvoorbeeld te sê: “Ek is dankbaar dat jy nou jou probleem erken en daarvoor hulp soek.”

Onthou die volgende:
• Vergifnis is die eerste stap na herstel in ’n verhouding.
• God vergewe slegs dié wat ander vergewe.
• Ware vergifnis kan slegs gevind word deur geloof in Jesus Christus te hê.
• Vergifnis lei tot ’n hartsverandering.
• Moenie wraak soek nie, dit sal jou seer net vererger.
• Aanvaar dat jy dalk nooit die rede vir jou seer sal verstaan nie.
• Vergifnis beteken nie jy praat sy gedrag goed nie.
• Wees geduldig met jouself – vergifnis neem tyd.
• As jy sukkel om te vergewe, soek professionele hulp.

Onthou egter ook dat, hoewel die Bybel ons aansê om mekaar herhaaldelik te vergewe, dit nie beteken dat jy in ’n situasie wat vir jou skadelik is, hoef te bly nie.

Dit is wonderlik as jy dit in jouself kan vind om jou maat byvoorbeeld vir sy buite-egtelike verhouding te vergewe. Praat daardeur en besluit op ’n plan van aksie, maar sê ook vir hom dat as hy vir jou aanhou lieg, jy hom nie kan vertrou nie, en dat jy dit nie herhaaldelik gaan duld nie.

As jy deur die vergifnisproses gewerk het, maar jou maat gaan voort om jou te mishandel, te verkul of vir jou te lieg, is dit tyd om te sê: “Genoeg is genoeg” en ’n einde aan die situasie te maak deur professionele hulp te soek, of die skadelike verhouding te verlaat. In so ’n geval sal die vergifnisproses langer neem. (www.marriage.about.com).