Jy en jou mansvriend is al jare lank vriende. Julle ken mekaar se geheime, voltooi mekaar se sinne en is ware sielsgenote. Maar jou man hou nie hiervan nie. ’n Platoniese vriendskap tussen mans en vroue is onmoontlik, meen hy. Het hy ’n punt beet?
“Ek het my lewe lank nog altyd closer seuns/mansvriende gehad as vriendinne, Liezl du Plessis, ‘n enkellopende onderwyser van Kaapstad, sê: “Op skool was my vriendskap met my heel beste vriend ook baie hegter as met dié van vriendinne. Ons kon soveel saam doen en hartsgeheime deel en dit was nooit romanties nie. Nie eens één keer nie. Almal het altyd gedink daar is meer, maar ons was werklik net beste vriende. Tans is my heel beste vriend en vertroueling ook ’n man. Ons is nou al amper vir ’n jaar beste pelle en deel absoluut alles. Ons weet wat die ander een dink voor dit gesê word, verstaan mekaar se kop en hart… hy voel werklik soos ’n boetie vir my en sielsgenoot. Ons kan ure lank op dieselfde bed lê en gesels oor enigiets en daar is, of was, of sal ook nooit, romanse wees nie.”
Dit klink ideaal. ’n Ou wat jou sy eerlike opinie kan gee, saam met jou na troues toe kan gaan en met wie jy nooit ’n cat-fight oor onbenullighede sal hê nie, reg? Miskien. Maar sal so ’n vriendskap die toets van ’n huwelik deurstaan?
Liezl vertel: “Hy vra my nou die dag of ek dink dinge altyd so tussen ons sal bly al trou ons eendag, en ons kon beide tot ’n vergelyk kom. Ek glo dat ’n mens jou sielsgenoot in ’n vriend ook kan vind en dat dit nie noodwendig met romanse gepaard gaan nie en dat platoniese vriendskappe met mans beslis bestaan. En die lekkerte is daar is ook baie minder hang-ups en drama as tussen vriendinne. My beste vriend is tans in ’n vaste verhouding met ’n meisie en selfs dít is nie ’n faktor nie.” Dis wat jy dink, Liezl, sal sommige lesers sê, terwyl ander heelhartig met haar saamstem.
Ja, dit is heeltemal moontlik!
In vandag se tye het mans en vrouens baie meer interaksie met mekaar op ’n platoniese vlak as ooit tevore. Ons beweeg daagliks in gemengde groepe in professionele en sosiale omgewings. Soos wat geslagsgrense afbreek in die kantoor, word mans en vrouens gedwing om deur nie-seksuele brille na mekaar te kyk. Hierdie tipe interaksie vestig en bevestig die idee dat platoniese verhoudings tussen mans en vrouens wel moontlik is, meen sommige lesers.
Die lewe gaan nie net oor seks nie – dit is iets wat ons ook in perspektief moet hou. Net omdat jy dink jou vriend of vriendin is aantreklik, beteken nie jy gaan daarop reageer nie. Baie getroude paartjies het enkellopende of getroude vriende van die teenoorgestelde geslag sonder dat dit in ’n probleem ontaard. Paartjies wat cheat, verkul hul maats met vriende sowel as vreemdelinge, dus is dit nie te sê dat ’n vriendskap noodwendig aanleiding gaan gee tot so iets nie.
Dit is ook nie onmoontlik vir mense om (wedersyds) te voel dat ’n vriend van die teenoorgestelde geslag werklik die boetie of sussie is wat hulle nooit gehad het nie, meen diegene wat pro-vriendskappe met die teenoorgestelde geslag is.
Op die ou end kom alles neer op jou as ’n individu en hoe ver jy jou gedagtes en gedrag toelaat om te gaan.
In sommige gevalle…
Volgens Stefan van Zyl, ‘n enkellopende man en dosent van Potchefstoom, hang dit af van hoe seker die verhouding is en tot watter mate die twee partye mekaar vertrou. “Dit is ook so dat die platoniese vriendskap nie die funksies van die verhouding moet oorneem nie – jou maat is veronderstel om jou beste vriend/vriendin te wees en daarom mag platoniese vriendskappe nie daardie funksie inneem nie. Dit hang ook natuurlik af van die definisie van platonies en hoe dit verstaan word deur beide partye. Ek dink egter dit is gesond om platoniese vriendskappe buite ’n verhouding te hê aangesien dit verseker dat die verhouding nie ’n kokon word nie.”
Stefan sê voorts: “Ek het baie vriendinne wat meer mansvriende het en vice versa. Dit is dikwels baie minder gekompliseerd en selde lei daardie goeie vriendskappe tot iets romanties omdat mense die vriendskap wil oppas en bang is dat enige romanse dit wat hulle het, kan bedreig. Ek dink dit is moontlik en selfs noodsaaklik, maar beide partye het ’n verantwoordelikheid om die grense van sulke vriendskappe proaktief te stel. Dit is ook belangrik om te onthou dat ’n suksesvolle huwelik uit drie sfere bestaan. Die man se lewe, die vrou se lewe en hul lewe saam. Elkeen met sy eie funksies moet onderhou word. Maar nooit ten koste van nie, eerder ter wille van en ten spyte van.”
Nee, dis ’n resep vir ’n ramp!
Daar is talle mense wat glo dat ’n platoniese vriendskap tussen mans en vroue onmoontlik is. ’n Sosiologiese studie (Benefit or burden? Attraction in cross-sex friendship; Journal of Social and Personal Relationships) het gevind dat dit moontlik is vir ’n vrou om platoniese vriende met ’n man te wees, maar dat dit moeiliker is vir mans om platoniese vriende met vrouens te wees. Mans se self-gerapporteerde aangetrokkenheid tot hulle vriendinne was hoër as dié wat vrouens teenoor hulle mansvriende gevoel het. Vrouens het weer geglo dat hul manlike vriende nié so aangetrokke tot hulle was as wat die manne werklik was nie.
Net mits albei partye betrek word…
Karien van der Berg, ‘n getroude dosent van Potchefstroom, se mening is dat dit baie moeilik is om dit werklik net platonies te hou. “Die een party voel altyd in ’n stadium méér as die ander. Selfs al word dit nooit aangespreek nie, ek dink dit kan tog dinge moeilik maak as die ander party byvoorbeeld in ’n verhouding is, of getroud is. Daar is natuurlik ruimte vir ou vriende, maar ek glo dan moet die persoon met wie jy in ’n verhouding betrokke is, betrek word by daardie vriendskap. Selfs tussen getroude pare, of ’n paartjie wat bevriend is met ’n enkellopende persoon, is daar sekere perke sover as wat vriendskappe tussen mans en vrouens aangaan. Ek dink egter daar is nie regtig ’n toekoms vir goeie vriendskappe tussen mans en vrouens sonder dat dit op ’n stadium meer ingewikkeld raak nie.” Karien se man, Daan, sê dit is slegs moontlik vir ’n man en vrou om regtig vriende te wees wanneer hulle getroud is.
Annari Combrink, ‘n getroude tuisteskepper van Heilbron, vertel dat sy ’n vriend het vir wie sy baie lief is, maar dat sy ewe lief is vir sy vrou. “En dieselfde geld ook vir my man teenoor hulle twee. So in hierdie opsig, ja. Die moelikheid ontstaan egter wanneer ek byvoorbeeld getroud is en my vriend nie. Natuurlik kan ons platoniese vriende wees, maar die duiwel is listig. Hy loop soos ’n brullende leeu opsoek na ’n prooi om te verskeur en sy gunsteling happie is huwelike! Voor jy sien, oorreed hy jou man dat jy en jou platoniese vriend hierdie week nou net een koppie koffie te veel saam drink. En dan ly ’n vriendskap en huwelik groot skade. Dit is ook baie makliker vir twee enkellopendes om ’n platoniese vriendskap te hê, want daar is nie ’n ander party wat deur die vriendskap bedreig word nie. So ek dink regtig die sukses van ’n platoniese vriendskap hang van die situasie en omstandighede af.”
Wat sê die kenners?
Stephen Claassen, een van ons kenners, meen dat platoniese vriendskappe tussen ongetroude studente en jong volwassenes gesond is en dat hy dit sterk aanbeveel. “Vriendekringe en sosialisering tussen beide geslagte is baie belangrik en krities om gesonde perspektiewe en interpersoonlike verhoudings te ontwikkel. Vandag word duisende rande spandeer op ‘dating clubs’ om vaardighede aan te leer en verhoudings tussen teenoorgestelde geslagte so gebalanseerd moontlik weer op dreef te kry.”
Hy voel egter anders oor platoniese vriendskappe waar een of beide van die partye in ’n verhouding of huwelik staan. “Platoniese vriendskappe binne die huwelik kan ernstige verhoudingsprobleme veroorsaak en emosionele bande vorm wat ’n negatiewe inwerking op enige verhouding plaas, want hierdie tipe vriendskappe lei altyd na iets meer. Vir jou het platoniese vriendskappe miskien geen bybedoeling nie, my vraag is wel… voel jou vriend regtig dieselfde? Ek en my vrou, Elmien, moes die besluit maak om platoniese vriendskappe met teenoorgestelde geslag vriende tot niet te maak nadat ons getrou het en nie één was gekant teen daardie belangrike besluit nie!”
Volgens Mari Nel, navorsingsielkundige en berader, is daar nie ’n klinkklare antwoord op die vraag of veral getroude mense ’n platoniese vriendskap met ’n persoon van die teenoorgestelde geslag kan hê nie. Mense en menseverhoudinge is kompleks en huwelike verskil. Wat moontlik van meer belang is, is hoe jy ‘platonies’ definieer. Wat sal byvoorbeeld jou eerlike antwoord op die volgende vrae wees?
- Tree jy anders teenoor die persoon op as wat jy teenoor ander vriende en vriendinne optree?
- Tree hierdie persoon anders op teenoor jou as wat enige van jou ander vriende of vriendinne teenoor jou optree?
- Is jou eggenoot bewus van hierdie vriendskap?
- Sal jy ongemaklik voel indien jou man/vrou saam met jou en hierdie persoon sou kuier?
- Bespreek jy jou huwelik met hierdie persoon? Vra jy hom/haar byvoorbeeld raad of kla jy by hulle oor dinge wat in jou huwelik krap?
- Sou dit jou pla indien jou man/vrou ’n soortgelyke ‘platoniese’ verhouding met ’n ander man/vrou gehad het?
- Is jy aangetrokke tot hierdie persoon?
Indien jy ‘ja’ op enige van hierdie vrae geantwoord het, is dit moontlik nodig dat jy jou vriendskap met die persoon heroorweeg. Jy sal self waarskynlik ‘weet’ as ’n persoon wat jou bevriend, eintlik meer vir jou voel of jy vir hom of haar. As jy in hierdie stadium ’n platoniese vriendskap met iemand van die teenoorgestelde geslag het, dink mooi oor die aard van jul verhouding. Wees eerlik met jouself, want geen vriendskap is jou huwelik werd nie.
Deur die INTIEM REDAKSIESPAN
Addisionele bronne: bleske.rechek.com; pshycologytoday.com