Sukkel jy om te verstaan waarom jou eggenoot van harde musiek hou en jy nie? Hoekom hy nie van cuddle hou as jy net saam hom op die bank wil lê nie? Waarom besige winkelsentrums vir hom ’n bron van frustrasie is terwyl dit vir jou terapeuties is? Lees hier en dit sal dalk vir jou duidelik word…

Die senuwees in jou brein interpreteer konstant boodskappe wat hulle uit die omgewing en vanaf jou liggaam ontvang. Jy ervaar jou omgewing deur jou vyf sintuie te gebruik: sig, gehoor, reuk, smaak en tas. Jou liggaamlike posisie word deur propriosepsie (spier- en gewrigbeweging) en die vestibulêre sisteem (kopbeweging) geïnterpreteer. Dus gebruik jy sewe sintuie om die wêreld om jou te ervaar.

Ons het almal ’n sekere sensoriese drumpel wanneer dit by die verskillende sintuie kom. Party mense vind genot deur groot hoeveelhede sensoriese stimulasie terwyl ander vinnig oorweldig voel. Jou gedrag rakende elke sintuig bepaal jou sensoriese profiel. Ons is dus biologies aanmekaar geweef om op ’n sekere manier te reageer.

Alhoewel sensoriese prosessering grootliks in die brein plaasvind, wat dit moeilik maak om te beheer, kan jy jou omgewing en aktiwiteite aanpas om jou sensoriese sisteem te reguleer.

HOE BEÏNVLOED JOU SENSORIESE PROFIEL JOU HUWELIK?

Kennis oor jou en jou maat se sensoriese profiele kan moontlik konflik verminder waar dit kom by misverstande, seks, irriterende gewoontes en verskillende belangstellings. As jy bewus van jou maat se sensoriese profiel is, kan jy met meer gemak sy/haar sensoriese behoeftes raaksien. Onnodige konflik kan dan vermy of opgelos word of met insig en begrip hanteer word. Al is julle sensoriese profiele verskillend het julle die potensiaal om mekaar te komplimenteer en uit te balanseer.

VIND UIT WAT JUL SENSORIESE PROFIELE IS…

Jou sensoriese profiel is uniek en geensins ’n aanduiding van ’n diagnose nie. Daar is nie ’n reg of verkeerd nie. Elke profiel het sy voordele en uitdagings en ’n begrip daarvan sal jou vaardighede gee om makliker in jou huwelik en omgewing te funksioneer. Hierdie is ’n informele vraelys om jou ’n aanduiding van jou sensoriese profiel te gee.

Dit is maandeinde en jy ontvang ’n bonus. Jou reaksie is:
a) Om dadelik na daardie nuwe, interessante winkelsentrum te gaan waaroor jy gelees het.
b) Geen reaksie. Jy besef eers ’n week later dat jy wel ’n bonus ontvang het.
c) Om deur internet bankdienste die bonus na jou spaarrekening oor te plaas.
d) Jy is angstig omdat jy twyfel oor die mees verantwoordelike manier om jou bonus te gebruik.

In ’n vergadering is jy die een wat:
a) Nie kan konsentreer nie want die omgewing trek jou aandag af, soos ligte wat flikker, sterk reuke en so meer.
b) Vroetel en prentjies teken.
c) Dagdroom.
d) Pligsgetrou notas neem.

Jou voorkeur vir intimiteit is:
a) ’n Cuddle
b) Niks onverwags nie, asseblief!
c) Nuwe posisies en speelgoed.
d) Enigiets, solank dit intiem is.

Jou kind kom met ’n nuwe troeteldier by die huis aan. Jou eerste emosie is:
a) Onverskillig/middelmatig.
b) Om versigtig te wees.
c) Angstigheid.
d) Opgewondenheid.

Hoe verkies jy kuiers saam met vriende?
a) Groot kuier! Nooi wie jy wil.
b) Maak nie saak nie. Solank almal hulself geniet.
c) Nooi ’n paartjie vir ete.
d) Ek sal eerder my gunsteling DVD by die huis wil kyk.

Jou idee van die perfekte date is:
a) Jou gunsteling gekookte ete by die huis.
b) Valskerm spring.
c) ’n Musiek kunstefees.
d) ’n Piekniek in die tuin.

Jou droomvakansie is:
a) ’n Wildsplaas.
b) ’n Houthut langs ’n rivier.
c) ’n Ski-oord.
d) ’n Pretpark.

KYK NOU NA JOU ANTWOORDE. IN WATTER VAN DIE VOLGENDE KATEGORIEË VAL DIE MEESTE VAN JOU ANTWOORDE?

Soekend: 1a / 2b / 3c / 4d / 5a / 6b / 7c
Hierdie persoon het ’n hoë drumpel vir sensoriese insette wat aktief na meer soek.

Lae registrasie: 1b / 2c / 3d / 4a / 5b / 6c / 7d
Hierdie persoon het ’n hoë drumpel vir sensoriese insette, maar soek nie aktief daarvoor nie.

Sensitief: 1c / 2d / 3a / 4b / 5c / 6d / 7a
Hierdie persoon het ’n lae drumpel vir sensoriese insette, maar soek nie aktief vir verligting daarvan nie.

Vermydend: 1d / 2a / 3b / 4c / 5d / 6a / 7b
Hierdie persoon het ’n lae drumpel vir sensoriese insette wat aktief by hul omgewing aanpas om dit te verminder.

PASMAATS: HOE VERGELYK ONS SENSORIESE PROFIELE?

Hoë en lae drumpel

Ongelukkig kan die verskille in sensoriese drumpels soms konflik en irritasie veroorsaak. Die lae drumpel individu mag die hoë drumpel individu as oorweldigend en bedrywig ervaar terwyl die hoë drumpel individu die lae drumpel individu as voorspelbaar en afgestomp kan ervaar.

Die verskillende profiele kan mekaar goed komplimenteer en waarde toevoeg tot die verhouding. Aangesien die lae drumpel individu meer geneig sal wees om tuis te wil bly sal die hoë drumpel individu hom/haar aanmoedig om meer sosiaal te verkeer.

Die soekende individu help die vermydende individu om uit hulle gemaksone te klim en nuwe ervarings aan te pak terwyl die lae drumpel individu weer kalmte en stabiliteit skep.

Albei lae drumpel (sensitief en/of vermydend)

Julle het min-of-meer dieselfde sensoriese behoeftes. Julle verstaan waarlik wat die ander een nodig het. Julle georganiseerde huis is julle veilige hawe. Julle verkies dit om tuis te bly en na jul gunsteling musiek te luister. Julle geniet die stilte terwyl julle in mekaar se geselskap is. Wees versigtig om nie heeltemal te onttrek van die samelewing tot so ’n mate dat julle uitmis op nuwe geleenthede nie.

Albei hoë drumpel (lae registrasie en/of soekend)

Julle twee het baie pret saam! Julle neem deel aan alles wat moontlik is en meer! Julle daag mekaar uit. Julle bakleiery en opmaak seks is ewe passievol! Julle is geneig om onwetend mekaar se grense te oorskry en weet nie altyd wanneer om op te hou nie. Dit kan lei tot uitbranding of te min kwaliteittyd met mekaar.

HANTEER SÓ JOU MAAT VOLGENS SY/HAAR PROFIEL:

Soekend

Hierdie mense soek aktief na sensoriese insette, soos verskillende teksture, kleure, speserye en so meer. Hulle is energiek, aan-die-gang en goed met multi-tasking. Hulle hou nie van ’n rigiede roetine nie en pas goed aan by verandering. Hulle is impulsief en neem risiko’s, kan maklik belangstelling verloor en het ’n sterk behoefte om konstant tussen ander mense te wees.

Wat kan jy doen om jou maat te akkommodeer?

  • Verras hom/haar met kreatiewe date nights en geskenke…
  • Stel verandering voor. Skuif byvoorbeeld die sitkamer se meubels rond of maak ’n nuwe resep vir aandete.
  • Moenie hom/haar keer om nuwe dinge te probeer nie.
  • Wees bereid om saam met hulle dinge te doen waaroor hulle passievol is.

Bedpret wenk: Eksperimenteer met ‘body chocolate’ en gegeurde smeermiddels.

Lae registrasie

Hierdie mense kan baie sensoriese insette duld, maar sal nie aktief daarvoor soek nie. Hulle is pligsgetrou, buigbaar en gemaklik. Hulle kan goed fokus in ’n besige omgewing, maar kan soms details mis wat vir ander ooglopend is.

Wat jy kan doen om jou maat te akkommodeer:

  • Sterk gegeurde kosse of lekkers soos pepermente is aktiverend.
  • Behou oogkontak wanneer jy belangrike inligting oordra.
  • Sit kleurvolle notas op die yskas of in die studeerkamer.
  • Herinner jou maat aan belangrike afsprake.

Bedpret wenk: Dra kleurvolle/neon onderklere om sy/haar aandag te trek.

Sensitief

Hierdie mense kan sensoriese insette verdra alhoewel hulle ’n lae drumpel het. Hulle word geken as pligsgetrou, analities en noukeurig. Hulle merk fyn besonderhede op, is ingestel op ander se emosionele welstand en veranderinge in die omgewing. Hulle kan soms krities wees, maar kan ook skaam voorkom.

Wat jy kan doen om jou maat te akkommodeer:

  • Skep struktuur en orde.
  • Netheid is noodsaaklik!
  • Betrek jou maat by nuwe aktiwiteite, maar moet dit nie oordoen nie.
  • Hou by dit waarvan hulle hou, byvoorbeeld hul gunsteling restaurant of gereg.

Bedpret wenk: Dowwe beligting of kerslig, en maak seker die deur is gesluit om bekommernisse te

voorkom.

Vermydend

Mense wat in hierdie kategorie beland voel vinnig oorweldig of gespanne deur te veel sensoriese stimulasie en hulle sal aktief veranderinge maak om dit te vermy. Hulle is gewoonlik logiese en gevestigde mense wat uitblink met hul beplanningsvermoë, maar hulle kan ook maklik angstig of rigied raak in hulle gedrags- en denkpatrone.

Wat jy kan doen om jou maat te akkommodeer:

  • Respekteer sy/haar behoefte vir rustige omgewings en eie ruimte.
  • Berei hom/haar vroegtydig voor vir nuwe, onbekende situasies.
  • Neem deel aan die aktiwiteite wat in sy/haar roetine inpas.
  • Kies om eerder met min mense op ’n slag te kuier as met groot groepe.

Bedpret wenk: Berei jou maat voor op wat vanaand wag deur ‘sexy’ boodskappe deur die dag te stuur of ’n spesiale briefie in sy/haar kospakkie te los.

In die geval waar jou sensoriese drumpel jou daaglikse funksionering negatief beïnvloed, is dit ’n goeie idee om ’n arbeidsterapeut te raadpleeg. Kontak die Arbeidsterapie Vereniging van Suid-Afrika (OTASA) by www.otasa.org.za vir meer inligting.

 

Deur Alet-Mari Kunz en Chanette van der Merwe
Addisionele bronne: Sensoriese Intelligensie deur Annemarie Lombard, mysenseblog.wordpress.com