Paartjies verval maklik in ’n gemaksone. Seks raak ’n roetine en jy en jou maat weet presies waar julle met mekaar staan. As julle twee só voel, is dit miskien tyd om die grense so ’n paar sentimeter te verskuif.

Seksuoloë en diégene wat elke dag van oor tot oor glimlag, glo almal in een leuse: Eksperimenteer in die slaapkamer! Stel jouself oop om ongewone, soms ’n bietjie onortodokse idees te probeer. Jy dink dalk dat dit glad nie die ding vir jou nie is, maar sodra jy jou voete in die water gedoop het, is jy moontlik mal daaroor!

“Wanneer jy jou definisie van die woord ‘sexy’ verbreed en iets buite jou gewone arsenal toertjies probeer, kry jy nie alleenlik die voordeel van fenomenale nuwe sensasies nie, jy wen ook selfvertroue, wat jou meer aanmatigend en avontuurlik in die bed maak,” sê Barbara Keesling, outeur van die boek Getting close.

Elke mens het sy grense. In die slaapkamer werk dit ook so. En almal se grense verskil. Een vrou sit byvoorbeeld haar voet neer wanneer haar man seks wil hê met ’n aan lig en ’n ander vrou dink niks daarvan om ’n French maid uitrusting aan te trek en haar geliefde op allerlei plekke ‘af te stof’ nie.

Natuurlik is daar sekere lyne wat ’n Christen nie behoort te oorskry nie en jy is nie veronderstel om enigiets te doen wat jou ongemaklik laat voel nie, maar as dít wat jy in gedagte het nie pyn, morele of spirituele konflik, ’n derde party of dwang van enige aard veroorsaak nie, probeer dit gerus!

As jy …

… nie in die openbaar gesien word sonder jou Gucci en jou pêrels nie

As jy waarlik prim en proper is, jou vriendinne jou ken as die staatmaker wat nóóit ’n traan pik of op jou kinders gil nie, klaarblyklik ’n man het wat jou nooit kwaad maak nie en ’n perfekte Jodetert vir die skool se koekverkoping bak, gaan dit dalk vir jou moeilik wees as ons jou vra om een aand ’n halwe bottel gin weg te slaan en in jou spykerhakke en jou pêrels (nét dit) op die eetkamertafel vir jou man op die Rolling Stones se Start me up te dans …

So, doop eers jou tone in die water deur …

… vanaand bed toe te gaan terwyl jou man nog wakker is, alles uit te trek (ja, álles), behalwe vir jou pêrels. Vir ’n ekstra sexy twist, wend ’n laag bloedrooi lipstiffie aan. Klim dan onder die lakens in en wag vir manlief. Glo ons, vir hom het pêrels nog nooit so sexy gelyk nie. “Om iets heeltemal onverwags te doen, is een van die grootste turn ons wat daar is,” bevestig Lou Paget, outeur van How to be a great lover. Gee hom ’n oomblik om jou te waardeer en draai dan jou rug en vra hom om die pêrels vir jou af te haal. Neem dit by hom en inkorporeer dit in julle bedpret. Streel met die string pêrels oor sy lyf en terg hom deur dit af te beweeg van sy bors, oor sy maag en al met sy binnedye langs. Rol dit dan in ’n bal en knie sy lyf tot hy dit nie meer kan uithou nie!

As jy …

… gedink het ’n Brazillian wax is slegs vir pasgetroudes en prostitute bedoel

…glo jy waarskynlik God het aan ons hare op sekere plekke gegee met ’n rede. Jy besoek jou haarkapper getrou vir jou weeklikse droogblaas (en natuurlik om die nuutste skindernuus oor die Van Heerdens se skoondogters te hoor), jy pluk jou wenkbroue in ’n netjiese boog, net soos die tydskrifte jou stap-vir-stap gewys het. En skeermesse? Jy het ’n versameling soos min. Elke handelsnaam in elke kleur – van dié met drie lemmetjies tot dié wat elke haartjie uitpluk (eina!). En dan is daar minstens twee tweezers, drie buisies bleikmiddel, vier buise haarverwyderingsroom en vyf kannetjies skeerroom in jou badkamerkassie. Daar mag nie ’n haar op jou bene agterbly nie, maar jy raak nie dáár nie, want jy glo ’n “vroutjie moet mooi ‘toehou’ en altyd met gekruisde bene sit!”

So, doop eers jou tone in die water deur …

… die apteek en die supermark te besoek – die apteek vir ’n buisie lokale verdoofmiddel en die supermark vir dit wat skoonheidsterapeute wax strips noem. Soek spesifiek vir dié met die woorde ‘for bikini area’. Sorg dat jy dié taak in die oggend aanpak, wanneer jou man nie tuis is nie en, om hemelsnaam, trim eers daardie haartjies tot ’n halwe sentimeter! Volg dan die instruksies op die pakkie ná jy die area verdoof het. En as dit alles te vreesaanjaend klink, besoek net jou naaste skoonheidsalon en vra vir ’n ‘landing strip’. Dit sal jou darem nie heeltemal so kaal laat voel nie. Jy kan ook ’n Lady Shaver probeer. Trek ’n sexy onderstukkie aan en verras manlief wanneer hy dit uittrek. As jy bykans niks het om jou te bedek nie, gaan aanraking daardie area hipersensitief maak! Lê terug en geniet!

As jy …

… nie die gedagte kan uitstaan dat manlief jou in jou Evasgewaad sien nie

… help dit nie ons vra jou om ’n sexy Latino nommertjie op die stoel wat jy by jou ouma geërf het onder een van jul kamers se downlighters uit te voer nie. Jy kan dit nie eens verdra wanneer hy die lig wil aanskakel nie, om nie eens te praat van die moontlikheid dat hy meters weg van jou af sit nie – ver genoeg om die hele nommer 22-jý in te neem en naby genoeg om elke ruwe bult op jou bobene te kan bestudeer!

So, doop eers jou tone in die water deur …

… vir hom ’n skootdans te gee. Voor jy verontwaardig uitroep dat dít is soos om hom ’n vergrootglas te gee om jou selluliet mee te bestudeer, gaan ons jou ’n wenk gee. Blinddoek hom! Jy gaan hom ’n dans gee, maar nie een wat hy kan sien nie, een wat hy kan voel! So, trek ’n stoel nader (verkieslik nie jou ouma s’n nie) en laat hom sit met ’n blinddoek oor sy oë en sy hande agter sy rug vasgebind met een van jou syserpe. Trek een van sy hemde aan (met niks daaronder nie) en gaan sit wydsbeen bo-op sy skoot. Beweeg sensueel bo-op hom en lei hom om die hemp se knope een vir een los te maak. Draai dan met jou rug na hom terwyl jy voortgaan met die bewegings en laat die hemp van jou skouers afglip. Fluister in sy oor dat jy nou nie meer ’n draad klere aan het nie en begin hom sensueel soen en met jou lyf teen hom skuur. Trek stadig sy hemp uit en lei hom bed toe. The rest is up to you, girl!

As jy …

… glo daar is een posisie en een posisie alleenlik

.. dan is jy óf deel van ’n sekte wat baie reëls en regulasies het, óf jy het nog nooit ’n ander posisie beproef nie. Niemand stry dat die sendelingposisie (vrou onder en man bo) van tyd tot tyd lekker kan wees nie, maar as dit is waar julle vashaak, is dit tyd om ’n bietjie jul avontuurlustigheid af te stof! Daar is derduisende seksposisies daar buite. Die meeste seksboeke wy minstens een hoofstuk daaraan toe, en as jy nie so ’n boek in jou huis het nie, kyk bloot na die ou kopieë van INTIEM vir inspirasie. Ons verstaan dat dit dalk vir jou ’n groot kopskuif is.

So, doop eers jou tone in die water deur …

… net effens aan jul roetine te verander. In plaas daarvan om weg te spring met doggy style, skuif eers net die seksdaad na iewers buite jul slaapkamer. Die sendelingposisie op die bank voor die televisie kan dalk kort-voor-lank net só ongemaklik raak dat julle genoop word om iets anders te probeer!

As jy …

… bloos by die blote aanhoor van die woord v-i-b-r-a-t-o-r

… gaan ons jou nie aansê om ‘n skrikwekkende nommertjie aan te skaf nie. In die eerste plek gaan dit vir jou ’n pyniging wees om met ’n koel en kalm houding by die poskantoor jou pakkie te gaan afhaal. In die tweede plek gaan jy só bang wees jou kinders ontdek dié perskleurige, bewende gedoente in jou kas dat jy permanent ’n senuweewrak gaan wees en derdens gaan jy só giggel wanneer julle eindelik die vibrator beproef dat jy enige passie-vlammetjie summier gaan blus.

So, doop eers jou tone in die water deur …

… ’n paar items uit die yskas te gaan haal. As jy bekommerd is oor jou lakens, trek een van jou oudste paslakens oor jou bed en gooi die res van die beddegoed af. ’n Goeie plan is om aandete oor te slaan en sommer vir manlief te sê julle gaan vanaand bietjie in die bed eet. Gebruik dan jou verbeelding (ook ’n baie goeie oefening om jou in die regte luim te kry) wanneer jy items kies. Goeie keuses is druiwe, aarbeie, geklopte room, heuning (slegs as jou man nie borshare het nie!), sjokolade, vonkelwyn en ysblokkies. Ons kan jou die besonderhede gee, maar die geheim is dat jy self uitvind hoe om dit te gebruik.

As jy …

… jou privaatheid werklik hoog op die prys stel … is jy waarskynlik ’n vrou wat jou man net ’n kwaai kyk gee wanneer jy PMS het en hy sal weet om nie uit te vra nie. Jy steek INTIEM artikels in jou kouselaai  weg en niemand het ’n idee van wat in jou liefdeslewe aangaan nie – selfs nie eens jou tweelingsussie wat jou elke nou en dan vertel van die nuwe S&M apparaat wat sy van oorsee af bestel het nie. Dit is dus laf van ons om jou te vra om ’n seksdagboek te hou en dit hardop vir jou man voor te lees (en ’n manuskrip in te stuur vir moontlike publikasie).

So, doop jou tone in die water deur …

… jou privaatheid uit te daag. Volgende keer wanneer manlief, soos gewoonlik, tussen die lakens begin vroetel, gee hom ’n warm soen en lei hom sitkamer toe. Moenie ophou soen nie, maar gaan posisioneer julself op die koffietafel voor die venster (of enige plek vanwaar jy ’n goeie uitsig oor die tuin het). Geen toe blinders of gordyne word toegelaat nie! Gee jou oor aan die passie van die oomblik en geniet die adrenalien wat jou liggaam afskei met die wete dat iemand enige oomblik daar kan verbystap en julle betrap. As jy steeds bietjie skrikkerig is, gaan doen dit om middernag wanneer die kans vir ’n verbyganger skraler is.

As jy …

… nog altyd gedink het strip poker is net vir besope studente

… gaan ons dalk sukkel om jou aan die uittrek te kry net voor ’n aand se passie. Die ‘stoutste’ speletjie wat jy waarskynlik in jou lewe gespeel het, is dokter-dokter – toe jy vyf was! Intussen het daar baie water in die see geloop en as jy nooit dié spel beproef het nie, het jy uitgemis, dame. Toemaar, daar is tyd om in te haal. En ons gaan nie van jou verwag om saam met manlief en jul bure die ‘ongehoorde’ kaartspel te speel nie, maar ons gaan wel vereis dat jy so ’n bietjie uit jou gemaksone klim.

So, doop jou tone in die water deur …

… hom uit te daag vir ’n ander kaartspel. Neem ’n normale pak kaarte en maak van elke groep ’n seksuele simbool (diamante verteenwoordig byvoorbeeld soene, terwyl klawers orale seks beteken, harte kan ’n sensuele massering verteenwoordig terwyl grafies kan dui op handtegnieke). Laat elke nommer die vlak van daardie daad verteenwoordig. Neem dan beurte om ’n kaart te kies. As jy byvoorbeeld ’n vyf van diamante kies, gee hom ’n smeulende soen op die nek beteken. Daar is een reël – jy mag nooit presies dieselfde soort soen of daad twee keer gee of beoefen nie. Dié speletjie is gelaai met seksuele energie, want nie een van julle weet wat volgende gaan gebeur nie en die feit dat julle heeltyd ophou en weer begin, verhoog jul vlakke van opwekking (www.cosmopolitan.com).

Min dinge is so lekker soos om uitasem langs die man te lê wat jy al vir soveel jare ken en hygend te sê: “Sjoe, ons het dít nog nooit gedoen nie.” Laura Meers, ’n sielkundige van Columbus, sê: “Mense in langtermynverhoudings begeer soms opwinding en stimulasie, maar hulle weet nie hoe om dit met hul maats te kry nie.” Dit is dikwels hoekom mense groener weivelde gaan soek. “Maar jy kan dit in jou huidige verhouding kry deur jou gewone gemaksone uit te daag,” sê sy. Moenie dat ’n bietjie angstigheid om te eksperimenteer, jou gees demp nie. Onthou ook dat om jou grense te verskuif, help om vertroue tussen julle te bou, meen Anita Clayton, ’n professor aan die Universiteit van Virginia se Departement van Psigiatrie.

As jy ’n begeerte aan jou maat kommunikeer – en dit eindelik probeer, waag julle saam ’n groot risiko en dít opsigself is ’n aktiwiteit wat julle nader aan mekaar kan bring. So, of dit nou telefoonseks is terwyl manlief ver is, seks op ’n swaai of orale seks, doen wat ook al jy voel jou en jou maat se sekslewe kan bevoordeel. Dit waaroor jy dalk onseker is, kan miskien kort-voor-lank deel van jul nuwe seksroetine word!

Bykomende bron: www.lifestyle.msn.com