Jy het in een week uit ongeduld jou vrou se kar gestamp, jul huweliksherdenking vergeet en jou ouers vir ete oorgenooi sonder om dit vooraf met haar te bespreek. Om te sê jy is in die moeilikheid is ’n understatement!

Promosie

As Vroulief dink dat jy net om verskoning vra om voordeel uit die make up-seks te trek, gaan die warm water waarin jy reeds is, begin kook! So, onthou om opreg te wees en regtig ’n poging aan te wend om nie weer dieselfde fout te maak nie. As jy keer op keer vir dieselfde oortreding verskoning moet maak, wys dit nie net dat jy níé jammer is nie, maar ook dat jy nie regtig omgee wat haar ontstel nie. As jy weet waaroor sy kwaad is, vra direk daarvoor om verskoning, nie net oor die algemeen nie. En as jy regtig nie weet hoekom sy kwaad is nie, vind uit! Hier is nog ’n paar wenke:

  • Moet nooit oor die telefoon om verskoning vra nie, ook nie in ’n boodskap of in ’n e-pos nie. Dit is kil.
  • Moenie toelaat dat jou verskoning in ’n woedeuitbarsting ontaard nie. Die kwessie is nie haar aandeel in die rusie nie, maar jou verskoning. As jy ’n oulike vroutjie het, sal sy ook om verskoning vra – mits jy opreg is.
  • Moenie toelaat dat daar te veel tyd verbygaan voor jou verskoning nie. As jy te lank wag, gaan sy dink jy vra net om verskoning om uit die moeilikheid en in haar goeie boekies te kom. Moet egter ook nie in die hitte van ’n argument om verskoning vra nie. (Die kans is goed dat jy jouself in elk geval nie gaan hoor praat nie!)
  • Koop ’n paar mooi skoene vir Vroulief (hou die strokie!). Draai dit in geskenkpapier toe (nie dié met balonne, babas, ’n trouring, of ‘happy birthday’ op nie). Skryf ’n nota wat lui: “Ek het ’n paar minute in jou skoene probeer staan, maar ek sien nou dat ek verkeerd was. Jammer ek het jou seergemaak en nie die situasie vanuit jou perspektief gesien nie. Sal jy my vergewe?”
  • Wees baie spesifiek. As jy in konkrete terme kan beskryf wat jy verkeerd gedoen het, sal jou vrou weet dat jy jou sondes verstaan.
  • Wees nederig en wys dat jy die minste kan wees. As jy hierdie kenmerk ook teenoor jou vriende en jou kinders kan toepas, gaan dit jou ver bring. ’n Sterk man weet wanneer om te sê dat hy jammer is.
  • Spring haar voor. As julle albei ’n aandeel in die probleem gehad het, sorg dat jy die een is wat eerste om verskoning vra. Jy is die hoof van die huis. As jou vrou jou ook ’n verskoning skuld, sal haar verskoning volg.
  • As sy nie jou verskoning aanvaar nie, moet jouself nie vererg en van voor af kwaad word nie. Probeer later weer. Dit wys vir Vroulief dat jy regtig ernstig is en dat dit vir jou belangrik is dat sy dit weet.

Bronne: www.exinearticles.com; www.ehow.com

Redakteur Nota:Daar is volgens Gary Chapman 5 Tale van Verskoning Vra (5 Languages of Apology). Doen die toets hier:  https://www.5lovelanguages.com/quizzes/apology-language

Promosie

Lees ‘n artikel deur Focus on the Family daaroor: https://www.focusonthefamily.ca/content/5-languages-of-apology