’n Emosionele affair is dikwels nie iets wat haarfyn beplan word nie. Nee, dis iets wat jou onverhoeds betrap. ‘Ag asseblief,’ dink jy waarskynlik wanneer jy dié woorde hoor. Maar lees dié artikel wat deur lesers aan INTIEM gestuur is en jy sal besef: Niemand, nie eers gelowiges, word gevrywaar van versoekings nie.

Promosie

 Amanda vertel …

Die afgelope paar maande was veronderstel om my beste ooit te wees. Ek het ’n wonderlike man, pragtige kinders, goeie familie en vriende. Ek is geseënd met gesondheid, ’n loopbaan wat ek geniet en al die nodige aardse besittings om gemaklik te kan funksioneer. Weekliks bedien ek mense met God se woord en beklee ’n leiersposisie in die kerk. My lewe is perfek. Ek het ’n man wat my op die hande dra, maar . . . ek het nietemin my hart op iemand anders verloor.

Ek het vir Paul ontmoet toe ek by ’n nuwe maatskappy begin werk het. Wat my eerste opgeval het, was sy mooi glimlag en die manier waarop hy my naam gesê het. Hy het uitgestaan bo ander. Hoekom kan ek nie sê nie, maar ek het nie veel aandag daaraan gegee nie.

Promosie

Een oggend het ons begin gesels oor iets wat ek oor Radio Kansel gehoor het. Daar en dan het ek besef hoekom ek hom so aangenaam gevind het. Hy was ’n passievolle kind van God. Ek onthou dat ek gedink het hoe lekker dit gaan wees om iemand by die werk te hê met wie ek betekenisvolle gesprekke oor my verhouding met die Here en Sy Woord kon hê.

Ons kon ure lank gesels oor ons geloof, opinies daaroor, ons geestelike ervarings, verwagtinge en drome. Paul se passie vir die Here en sy bediening was vir my ’n aansporing en die grootste aantrekking was waarskynlik dat ek met hom oor Bybelse waarhede en beginsels praat – en dat hy regtig na my geluister het.

Ek kon sien dat ons ’n verskil in mekaar se geestelike lewens maak. Ons gesprekke was vars en nuut en ek het die geleentheid gehad om te praat oor dit wat soms agterweë gelaat word tussen die skoolwerk, kerkwerk en huiswerk deur . . .

Mettertyd het ons besef dat ons baie tyd op kantoor saam bestee en ons het probeer om ons tydsbesteding te bestuur deur buite die kantoor te gaan koffie drink. Nooit het ek gevoel dat dit verkeerd was nie omdat dit, myns insiens, nie gegaan het oor waar ons kuier nie, maar waaróór ons kuier. Ons intensies was tog suiwer . . .

Wat begin het as ’n wonderlike geestelike verbintenis, het verander in ’n vae bewuswording van iemand wie se geselskap ek meer as enige ander kollega s’n geniet het. Ek het meer en meer na ons kuiers begin uitsien en wanneer ek nié by hom was nie, het ek sy geselskap gemis. Toe hy vir twee weke met verlof was, het ek besef dat ek geheg geraak het aan hom en regtig uitsien daarna dat hy terugkom.

Ek het baie respek vir Paul as ’n senior kollega gehad en ek was bewus van die professionele verhouding wat ons moes handhaaf, maar die koffie-afsprake buite die kantoor het my gemaklik gemaak om meer van myself te deel. Ek het myself ook begin toelaat om meer aan hom te dink en net daar, in my gedagtes, het ek myself oopgemaak om emosioneel meer betrokke te raak. Ons geselsies was steeds hoofsaaklik geestelik, maar ons het al meer oor ander dinge ook begin gesels.

Die Bybel leer ons dat die duiwel rondloop soos ’n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind. Hy weet hoe om ’n mooi, onskuldige situasie te neem en dit tot sy voordeel te manipuleer. Ek het die maande wat gevolg het, myself toegelaat om te wonder oor Paul se doen en late en ek het myself gereeld gevang dink aan ons gesprekke. Hy het definitief ’n spesiale plek in my hart ingeneem, maar ek het daarin geslaag om dit te regverdig met twee feite: Ons vriendskap was gebaseer op ons gemeenskaplike liefde vir God en ons het fisiek ’n veilige afstand tussen ons gehandhaaf.

Wat ek wel geweet het, was dat Paul die eerste persoon was vir wie ek dinge wou vertel. Die Here het met my begin praat oor om my hart te bewaak, maar ek het myself verontskuldig. Dit was aanvanklik relatief maklik om dit te regverdig, maar ’n mens kan ook net sóveel met die Here redeneer. Daarna moet jy oorgee . . .

Hy het ernstig met my begin praat oor wat in my hart aangaan en eindelik moes ek erken dat my gevoelens vir Paul meer was as net dié van ’n geestelike vriend. Ek het hom emosioneel nader aan my toegelaat as wat ek moes en dit was tyd vir my om terug te tree en die saak reg te stel.

Eindelik het ek die moed bymekaargeskraap om die gesprek te begin. My vermoede is bevestig: Hy het dieselfde gevoel. Ons het op ’n volwasse manier hieroor gesels en besluit dat ons nie die vriendskap verder sal laat gaan as wat dit reeds het nie. Ons sou onsself beperk tot ’n gesonde vriendskap.

Maar helaas . . . dis makliker om jou emosioneel te distansieer wanneer jy weet die gevoel is nie wedersyds nie. Dis makliker om gehoorsaam aan God se woord te wees as jou emosies saamwerk, maar moeiliker wanneer elke greintjie van jou fisieke bestaan na iets anders smag.

Dit was ’n tyd van emosionele worsteling. Ek het geweet dis verkeerd om só oor ’n ander man te voel terwyl ons albei getroud was. Ek het geweet die regte ding om te doen was om nie so baie aan Paul te dink nie. Om ons persoonlike gesprekke te beperk. Om my emosionele betrokkenheid te beperk.

Meer as een keer het ek gewonder hóé ek my in só ’n situasie kon kry en ek het rondgeval tussen skuldgevoel en desperaatheid om myself reg te ruk. Ek sou byvoorbeeld in die oggend opstaan en myself belowe om nie daardie dag toe te laat dat my emosies weghol nie, net om weer my hart te moes tem die eerste keer wanneer Paul vir my geglimlag het. My gees en vlees was gedurig in konflik en dit het energie en wilskrag gekos om my vlees, tot ’n groot mate, gehoorsaam te hou aan God se woord.

Die feit dat ons verhouding nooit oorgegaan het tot ’n fisieke een nie, beteken nie dat die begeerte nie daar was nie. Genadiglik het ons werksomstandighede dit nie toegelaat dat ons alleen laat moes werk nie, maar ek onthou een spesifieke middag toe ek later as gewoonlik op kantoor was. Ons was alleen in die kantoor en het gesit en gesels. Dit was baie lekker om alleentyd met hom te hê en ek het elke oomblik ingedrink tot ek myself eindelik gedwing het om op te staan en ewe braaf aan te kondig dat ek moes ry. Hy het saam met my tot by die deur geloop en “tot siens” gesê.

Die fisieke spanning tussen ons was tasbaar. Ek het besef dat my weerstand op daardie oomblik uiters laag is. Met niemand daar nie, sou dit so maklik wees om in die oomblik weggevoer te word. Ons het gegroet en ek het gery, maar met ’n hart vol emosie. Ten volle bewus van reg en verkeer, het ek besef dat ek baie graag daardie oomblik by die deur wou hê dat hy my in sy arms moes neem en vashou. Ek het daardie middag langer as wat nodig was huis toe gery en al die pad met gemengde gevoelens gedink aan wat kon gebeur het.

Met ’n skok het ek besef dat ek in die voorafgaande maande myself steselfmatig in my gedagtes emosioneel gemaklik gemaak het met die idee van ’n meer intieme verhouding tussen ons. Eindelik moes ek erken dat ek werklik lief geword het vir Paul.

Daar was tye wat ek so gesmag het om hom nader te trek, sy arms om my lyf te sit en my styf teen hom vas te druk. Ek het dit nooit oorweeg om my man te los nie en nooit van hom verwag om sy vrou vir my te los nie. Tog het ek gereeld gewonder hoe ’n lewe saam met hom sou wees. Hoe dit sou wees om vir hom ’n lekker bord kos voor te sit, ’n fliek saam met hom te kyk of langs hom aan die slaap te raak.

Eers was dit onbewustelik, maar later het ek doelbewus met hom begin flankeer. Niks opmerkliks vir enigiemand anders nie, maar klein, suggestiewe opmerkings en e-posse. Ek het geweet dis verkeerd, maar my vleeslike begeerte ná sy reaksie daarop het my oordonder.

Kort ná die middag wat ons alleen op kantoor was, het Paul gesê hy wil graag met my gesels en ons het tyd gemaak vir koffie. Ons het lank gesels oor ons verhouding, ons aangetrokkenheid tot mekaar en die feit dat ons dit sal moet bestuur. Dit was nie noodwendig ’n maklike gesprek nie, maar ons het saamgestem dat ons onsself nie weer in só ’n situasie sou plaas nie. Om nie meer koffie buite die kantoor te gaan drink nie en om ons tyd saam te beperk. Die gesprek was nodig en ons besluite was reg, maar in my hart het dit gevoel asof ek uit ’n verhouding gestap het, terwyl ek nie regtig wou nie…

Die besluite is geneem en ons het redelik goed daarby volstaan. Steeds wou my hart nie mooi saamspeel nie en die stryd tussen gees en vlees het my emosioneel uitgeput. Een aand het ek moedeloos vir die Here gevra hoe ek dit kon regkry om verby dié gevoel te kom?

Ek het al soveel keer probeer. Ek het gebid, goeie voornemens gehad en meer as een keer besluit om aan te beweeg, maar dit was asof ek gesukkel het om te oorwin. Die begeerte en wil om myself emosioneel van Paul los te maak, was net nie sterk genoeg nie. En net daar, in my desperaatheid, het die Here my ’n oplossing gegee: My begeerte om Hom te gehoorsaam en te eerbiedig, moes groter wees as my begeerte om my liefde vir Paul uit te leef!

Ek weet nie hoe ’n mens ophou om lief te wees vir iemand so spesiaal soos Paul nie, maar tyd sal leer. Ek kies om God te gehoorsaam deur nie net fisiek nie, maar ook emosioneel getrou te wees aan die man wat Hy vir my gegee het.

Ek kan steeds nie sê dat ek geen gevoel vir hom (Paul) meer oor het nie. My maag draai steeds wanneer ek hom sien, sy glimlag laat my steeds soos ’n tienerdogter voel en ek is steeds lief vir hom.

Wat ek wel kan sê, is dat ek ’n besluit geneem het om my fisieke en emosionele drange opsy te skuif – hoe moeilik dit ook al is. Daar is steeds tye wat ek selfbeheersing moet toepas om eerder te werk as om saam met hom te sit en kuier. My plig is egter om elke dag, en in elke situasie, die regte besluit te neem.

Ek sal altyd lief wees vir Paul, maar ek weet dat God in staat is daartoe om die menslike liefde in my hart te neem en te verander in baie meer as wat dit op die oomblik is. Hy kan dit verander in Goddelike liefde. Dít is my gebed.

Paul vertel …

Voordat ek vir Amanda persoonlik leer ken het, het ek net geweet wie sy was en agtergekom dat sy baie oulik en sprankelend is, maar ek het my nie veel verder daaraan gesteur nie.

Eendag het sy toevallig oor ’n Christelike program begin praat en as passievolle kind van die Here het dit my aandag getrek. Ons het ontdek dat beide van ons wedergebore Christene is. Ons was ook albei aktief betrokke by die liggaam van Jesus. Ons het gereeld oor ons verhouding met die Here begin gesels en dit was wonderlik om op dié vlak met iemand in die werksomgewing dié dinge te kon deel.

Dit was ook opbouend, aangesien ons mekaar aangespoor het tot ’n meer intieme verhouding met God en ook om te volhard in ons geestelike groei. Ek het begin uitsien na ons gesprekke. Sy was intelligent en het my ondersteun. Dit het gevoel asof sy my bewonder vir wie ek is en waarvoor ek staan. Boonop het sy baie staat gemaak op my kennis van die industrie en dit het my nog beter oor myself laat voel.

Aanvanklik was ons verhouding platonies en spontaan. Dié vrou het egter vir my mooier en mooier begin word en ek wou al hoe meer van haar sien. Ons gesprekke was eers beperk tot werk en die geestelike, maar gedurende die daaropvolgende maande, het iets in my ontwaak.

Dit was die manier hoe haar oë intens na my gekyk het. Haar insig, haar positiewe uitkyk oor die lewe en haar ondersteuning het iemand wat reeds ’n pragtige vrou was, beeldskoon gemaak.

Ons is egter albei getroud en het relatief jong kinders. Ek het gevoelens ontwikkel wat ek nie geweet het hoe om te hanteer nie. Ons het mekaar geestelike begin opbou, maar ook fisiek aangetrokke tot mekaar geraak. Dit het duidelik geword uit die doelgerigte pogings wat ons aangewend het om by mekaar te kon uitkom. Ek het dit aangemoedig.

Miskien het die feit dat ons albei God se kinders was, getroud was, met ons eie kinders en die feit dat ek relatief ouer is as sy, die aankomende gety effens gestuit. Die damwal móés egter breek want ons behoefte na mekaar was net te sterk.

In dié tyd het my gedagtes in absolute turmoil rondgejaag soos ’n verwilderde leeu wat opgesluit was in ’n hok.

Sy het my gebel en gesê ons moes praat. My hart het woes geklop in my keel. “Ek het nader aan jou binnekring beweeg as wat ek ooit wou, of moes,” het sy gesê toe ons mekaar ontmoet het. Sy was ongemaklik, onseker, gespanne. Ek kon dit aanvoel want ek was ook. Dit moes waagmoed geverg het, maar sy het die oortuiging van gemoed gehad om voort te gaan met die gesprek. ’n Waterskeidingsgesprek!

“Ek weet,” het ek sag gesê. “Want ek voel ook so!”

Ons het besluit dat ons dit nie mag toelaat nie en ooreengekom. Hoewel alles in my teen my besluit geskreeu het, het ek dit aanvaar, hoewel ek nie geweet het hoe ek dit gaan kan hanteer nie. Die maande wat gevolg het, was moeilik.

Ek het soms openlik met haar geflirt, gaan koffie drink of middagete gaan eet. Telkens moes ek terugtrek en bely. Dit het egter nie my gevoel vir haar doodgemaak nie en dit was ’n wipplank van onsekerheid en emosies.

Ons het nooit toegelaat dat die ‘verhouding’ oorgaan tot ’n fisieke een nie. Ek het ook alles in my vermoë probeer doen om te verhoed dat my situasie met haar ’n impak het op my verhouding met my vrou. Ek het geweet dat God my vrou vir my gegee het en Sy opdrag aan my was groter as enigiets anders.

’n Tweede waterskeiding was die middag toe ons laat gewerk het. Hoewel ons die geleentheid gehad het om ‘verder’ te gaan, het iets ons albei verlam en kon ons dit net nie doen nie. Dit het ‘reg’ gevoel, en wie sou weet? Die wete dat enige verkeerde tree onherstelbare skade tot gevolg sou hê, het bygedra tot dié verlammende gevoel.

Ons is na ons eie onderskeie huise met gedagtes en gevoelens wat ons leeg gelaat het. En baie vrae: Hoe amper was dit tog nie? Is dit hoe geestelike oorlogvoering voel? Hoe lank gaan dit aanhou? Hoe breek ons dit? O God, my God, waarin het ek my begeef . . . ?

’n Paar weke later het ons nog ’n openlike gesprek gehad. Ons was weer eerlik met mekaar en het gedink deur die probleem te identifiseer, spreek ons dit aan. Dis nie so nie. Daadwerklike stappe om ’n ding op te los – dít is deel van die oplossing.

Ons eerlikheid oor ons gevoelens vir mekaar, ons intense begeerte om ons almagtige en liefdevolle Vader nie teleur te stel nie, het die nuwe rigting aan die sneltrein van ons emosies gegee. Ons was nie blote passasiers nie, maar bestuurders van ons eindbestemming. Dit was nie wat ek wou doen nie, maar ek het geweet ek moet. In gehoorsaamheid aan God.

Ons het besluit om nie meer te wag vir die noodlot om ons rigting te bepaal nie. Geen meer koffies of middagetes in ’n restaurant nie, geen meer openlike geflirt nie. Gebed en God se genade moes enige vorm van onsekerheid vervang.

Ek moes besluit dat my vrou die een is vir wie ek moes koester. Dat sy die een is wat God vir my beplan het. Onwetend aan my, het God ook in haar lewe begin werk waar sy besig is om nader aan Hom te kom – en ons nader aan mekaar.

Dit gaan nie vandag noodwendig beter met my emosies nie. Ek weet dat die trein steeds raas en blaas, maar dat hy nou ’n bestuurder het wat hom stuur na ’n stasie wat God beplan het. Vandag word die roete van dag tot dag in gebed beplan.

Wat het ons hieruit geleer?

  • Dat ’n mens jouself nooit bo enige tipe versoeking mag stel nie en niemand gevrywaar word van só ’n situasie nie.
  • Dat versoeking nie noodwendig in sonde hoef te eindig nie. Elke versoeking het ’n uitkoms, en, as kinders van die Here, besit ons die vermoë en outoriteit om die duiwel te weerstaan.
  • Dat die Satan juis vir jou, as kind van die Here, teiken om jou sodoende ten gronde te bring.
  • Dat elke mens te alle tye ’n groter doel in die lewe moet hê. Net God is groter as enigiets en enigiemand en ’n mens is slegs bereid om op te offer as jy iets groter as jyself en jou probleem het om aan vas te hou.
  • Vir geestelike oorlogvoering het jy God en Sy Woord nodig. Vlees, gevoel en die wêreld is altyd ondergeskik aan God.
  • Dat as jy in God se Woord wil glo, en Hom wil gehoorsaam, jy nie net passief moet sit en wag nie, maar moet dóén wat reg is. Dis soos geloof wat met werke gepaard moet gaan.
  • Dat jy ’n keuse het om te besluit vir goed of sleg.
  • Dat jy altyd dankbaar moet wees en God moet loof en prys, ongeag jou omstandighede.

Wees bedag op ’n emosionele affair …

Seksuoloog en verhoudingskenner, Elmari Mulder Craig, sê:

“Ons bly mense. Mense met emosionele en fisiese behoeftes – of ons gelowiges is of nie. Amanda en Paul se verhaal is nie uniek nie. Maar soos hulle tereg uitwys het, het ’n mens áltyd ’n keuse.

“Buite-egtelike verhoudings is nie iets wat ‘oornag’ gebeur nie. Daar is gewonlik ’n stelselmatige aanloop tot só ’n verhouding waar grense oorskry word. Dis soos ’n spinnekopweb wat draadjie vir draadjie gespin word totdat jy op ’n dag besef jy’s vasgevang in die drade van ’n buite-egtelike verhouding – hetsy dit emosioneel of fisiek, of albei, is. ’n Emosionele affair is dikwels moeiliker om van weg te breek as ’n affair waar die fisieke die sentrale rol speel.

“’n Buite-egtelike verhouding begin gewoonlik deur ‘die lekker gesels’, die ‘ons is sielsgenote’-gevoel, die ‘ons kan alles met mekaar deel’-ervaring en só raak ’n mens emosioneel afhanklik van mekaar. Dan groei die aangetrokkenheid en hoe meer jy uit die spinnekopweb probeer ontsnap, hoe meer verstrengel raak jy daarin. Natuurlik is daar opwinding, en die element van verbode vrugte en soos Amanda sê, die feit dat hulle oor ‘ander’, dieper emosionele dinge kon gesels as skoolwerk of die daaglikse skeur van die lewe. Daar is natuurlik ook die element van iemand wat jou bewonder en spesiaal laat voel. Wat jou ag en erkenning gee. Die oomblik as jy meer emosionele energie of fokus in jou verhouding met iemand anders sit as in jou huwelik, moet die rooi ligte flits.

“Verliefdheid word dikwels verwar met die gevoel van liefde. Of dit by die werk, kerk of met vriende is, moet ’n mens altyd besef dat dit makliker is as wat ’n mens dink om in dié web vasgevang te raak. Stel dus gesonde grense en sorg dat jou en jou maat se behoeftes emosioneel en seksueel by die huis bevredig word. Indien daar tekortkominge is, praat daaroor of kry professionele hulp – vroeër eerder as later. Fokus dus daarop om jou binne jou huwelik emosionele intimiteit te koester, alleentyd te maak en op mekaar te fokus. Hou jou huwelik opwindend en interessant en jy sal dubbel en dwars vergoed word daarvoor.”