Sommige mans het geen probleem met ’n sekshulpmiddel hier en daar nie, party moedig dit selfs aan. Jy moet egter verstaan dat dit vir hom moeilik is om ongeërg teenoor ’n vibrator te staan wat sy eie gereedskap soos ’n vuurhoutjie teen ’n flitslig laat vertoon!

Promosie

Jeanine (42) vertel dat sy na haar kinders se geboorte tevergeefs geworstel het om ’n bietjie vuur in hul sekslewe te blaas. Sy het vir die eerste keer ’n sekswinkel besoek en ‘n mediumgrootte vibrator aangeskaf. Sy kon nie wag om die reaksie op haar man se gesig te sien na die stukkie inisiatief nie. Groot was haar verbasing later die aand toe die kinders slaap. “Ek het vir my ’n sexy nommertjie aangetrek en vir my man gesê ek het vroeer die dag ’n verrassing gekoop waarby ek en hy gaan baat vind. Toe ek egter die vibrator agter my rug uithaal, het sy gesig strak geword. Ek kon sien hy is geskok en het gedink: ‘Waar kom my prim en proper vrou hieraan, en wat sê dit van my?’ “Ons het dit daardie aand probeer gebruik, maar die hele storie was so ongemaklik dat ek dit maar agter in my laai bêre en net uithaal wanneer hy op sakereise is.”

Kate (27) se eerste ervaring met seksspeelgoed het ook nie goed afgeloop nie. “Ek het een keer ’n vibrerende ring huis toe gebring. Dit was eintlik meer ’n grap as ’n poging om dinge in die bed te verbeter. ’n Vriendin van my het daarop aangedring dat ek vir my man een koop vir ons huweliksherdenking. Sy eerste reaksie was: “‘Ek gaan nie daarin pas nie! Ek’s heeltemal te groot! Dit sal breek!’ Dit het my histeries aan die lag laat gaan,” vertel sy met ’n glimlag. “Eindelik moes ek hom in die huis rondjaag om dit aangesit te kry en toe dit aan was, het ons albei amper gehuil van die lag. Dit het belaglik gelyk en het vreemde buzz-geluide gemaak.

Vir my was die sensasie lekker, maar hy was bietjie vies en het gevoel: Three is company! Ek dink mans is bang dat hulle nie ‘genoeg’ vir hul vroue is nie. Die ring het wel gebreek – en hy het Grootmeneer na my gekyk en gese: ‘Sien, ek is te groot!’”

Promosie

Elkeen het sy eie voorkeure

Baie vrouens wil hul maats se gevoelens spaar en is bang dat hul maats ‘uitgelaat’ sal voel as hulle seksspeelgoed in die verhouding sou inbring. Die meeste vroue sukkel egter om ’n orgasme met omgang alleen te bereik en het klitorale stimulasie nodig. Te wyte aan kulturele druk, algemene mites en ’n begeerte om hul mans te laat goed voel, verkeer baie vroue onder druk om slegs deur middel van penetrasie ’n klimaks te bereik.

Is seksuele hulpmiddels ‘reg’?

Baie mense twyfel of seksuele hulpmiddels Christelik aanvaarbaar is. Die Bybel praat egter op etlike plekke van seksopkikkers, verduidelik die Bybelkenner, prof. Hennie Stander, in die boek Die A-Z van Seks, maar uit die aard van die saak word daar nerens na vibrators verwys nie. So, wat moet ons Christene se houding oor die gebruik daarvan wees?

“Daar is Christene wat reken dat daar niks mee verkeerd is om dit te gebruik nie, maar dan moet altwee maats net gemaklik met die gebruik daarvan tydens die liefdespel wees. Jy mag jou maat nooit forseer om dinge te doen waarvan hy of sy nie hou nie. Dit is doodgewoon liefdeloos, en sal in elk geval net ’n demper op die liefdespel plaas. Daar is ook Christene wat voel dat hulle nie die gebruik van vibrators kan goedkeur nie. Albei kante reken dat hul oortuiging Bybelgefundeerd is.

Die belangrike beginsel is om ruimte vir mekaar se standpunte te laat. Erken dat daar geen direkte uitsprake hieroor in die Skrif is nie, en dat jou standpunt op jou interpretasie van die Skrif berus. Moenie ander paartjies veroordeel op grond van jou oortuigings nie, watter kant toe ook al,” verduidelik hy.

Wat sê die sekskenners?

Seksuoloë meen dat seksuele hulpmiddels presies dit is: hulpmiddels om ’n paartjie se seksuele lewe interessant, opwindend en anders te maak, verduidelik die seksuoloog, Elmari Craig, ook in die boek Die A-Z van Seks. “Seksuele en sensuele hulpmiddels kan nuwe lewe in ’n sekslewe blaas wat in ’n voorspelbare, gemaklike roetine verval het. Om avontuurlik in die liefdespel te wees en jou maat af en toe te verras, kan jul sekslewe dinamies en interessant hou. Dit is egter belangrik om hieroor te kommunikeer. Enigiets is in die liefdespel toelaatbaar, mits dit nie jou maat enige fisiese of emosionele pyn berokken nie, en mits albei maats daartoe instem. Albei moet dus gemaklik met die ondervinding wees en dit as positief en genotvol ervaar.

“Dit is verder belangrik dat enige seksuele hulpmiddel bloot as ’n hulpmiddel gesien behoort te word. Dit kan as deel van die totale liefdespel gebruik word, maar behoort nie as ’n plaasvervanger vir die tradisionele liefdespel gebruik te word nie.”

Miskien het julle nou al met die jare besluit dat julle jul slaapkamerlewe vry van die tegnologie wil hou, vry van hasies wat vibreer en in die rondte draai. Miskien het julle al ’n speelgoedkissie waarvan die inhoud (hopelik!) agter slot en grendel weggebere word. En miskien wil jy kyk wat ’n stap in hierdie rigting vir julle sekslewe kan beteken. Hoe dit ook al sy, wees sensitief vir jou maat se gevoelens. As daardie waterdigte, kragtige multispoedinstrument julle van plesier laat ril, geniet dit! As enige batterygedrewe apparaat jou koud laat of jou maat laat bewe (van vrees!), moenie daaroor wroeg nie, want daar is allerlei ander prettige maniere waarop jy en jou vlees-en- bloed-maat die ekstase van seks kan beleef! Wees kreatief, lê terug en geniet die rit …

***

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!