Hoe handig sou ’n kitsgids vir Christene wees? Een wat op die huweliksnag oopgemaak kan word met duidelike reëls van wat goed en reg is in die slaapkamer en wat vermy moet word…

Promosie

Bybelkenners, predikante, sielkundiges en seksuoloë word op ’n gereelde basis met hierdie vraag gekonfronteer: “Wat mag ons as Christene in die slaapkamer doen en wat nié?” Het daardie vraag maar ’n klinkklare antwoord gehad, sou dit soveel mense soveel kopseer gespaar het. Ongelukkig is dit meer kompleks as ’n antwoord bestaande uit ’n paar sinne.

Verskeie gemeentes het verskillende begrippe oor seksuele praktyke wat almal gebaseer is op Bybelse beginsels. Daar is waarskynlik nie ’n lys op hierdie aarde wat deur alle Christene aanvaar sal word nie. Een ding is seker: Ons is as seksuele wesens geskep – dis Hy wat aan ons ons seksuele begeertes en vervulling geskenk het! God is ’n kreatiewe skepper en ons passie en plesier pas in by God se kreatiewe aard. Só meen die skrywers Melissa en Louis McBurney.

Hoekom het ons net riglyne en nie vaste reëls nie? Want die Bybel is nie ’n gids oor seksuele tegnieke nie. Ja, Hooglied is ’n wonderlike poëtiese liefdeslied, maar daar is steeds nie spesifikasies nie. Daar is wel ’n paar grense wat ons deur Sy Woord kan raaksien en wat daar gestel is om hierdie spesiale geskenk te beskerm en optimaal te geniet. “Ons dink dit is soos om ons kinders fietse as geskenk te gee. Ons sal hulle dadelik veiligheidsreëls leer sodat hulle die rit kan geniet sonder om deur ’n bus in ’n besige straat raakgery te word.”

Promosie

REËL #1: Julle moet een word…

Die beste en enigste aanvaarde raamwerk vir bevredigende seksuele intimiteit is wanneer twee maats een word in vlees. Dit beteken dat seks nie ’n nommer-game is nie. Daar mag nie meer as een maat wees nie, geen groep mag hierby betrek word nie en seks sonder enige dieper betekenis kan nie daardie vlak van intimiteit bereik waarvoor dit gemaak is nie. ’n “Toetslopie”, ’n threesome en groepseks is dus duidelik wêrelde verwyder van wat God met hierdie kosbare gawe beoog het.

REËL #2: Julle moet versoekings weerstaan

Ons lewe in ’n tyd van uitdagings deur die sosiale media. ’n Emosionele affair kan net soveel skade aan ’n huwelike aanrig as ’n seksuele affair. Die Bybel in Praktyk verduidelik aan die hand van Spreuke 5:15-18 dat dié gedeelte huwelikspare aanmoedig om hulle lewe lank hul kameraadskap en seksuele bevrediging by mekaar te vind. God het die huwelik geheilig en daarom behoort daar net binne hierdie heilige (en veilige) instelling na ware liefde en vervulling gesoek te word.

REËL #3: Jou liggaam moet ’n tempel wees

’n Mens moet jou liggaam oppas en versorg. Dit is nie ’n beginsel wat nét van toepassing is op jou seksuele leefstyl nie, maar is ’n baie belangrike bousteen daarvan. Beide maats moet hul eie liggame versorg en respek daarvoor hê, maar selfs meer respek hê vir hul maat se liggaam. 1 Korintiërs 6:19 sê: “Ons liggaam is ’n tempel van die Heilige Gees.” Die gedeelte in 1 Petrus 3:3-4 word dikwels gebruik om te sê dat ’n vrou nie sexy mag lyk nie. Dié verse bedoel nie dat die vrou vaal en vervelig moet lyk nie. Dié verse verbied glad nie uiterlike skoonheid en die mooimaak van jouself nie. Trek dus mooi aan vir jou man – en haal daardie fyn goedjies in die slaapkamer uit!

REËL #4: Seks mag nooit ’n wapen word nie

Jou liggaam moet nie net soos ’n tempel lyk nie, maar moet ook een wees – nie ’n wapen of instrument waarmee jy jou maat manipuleer nie. Dus mag jy nie ’n Delilah word as jy daardie paar diamant-oorbelletjies begeer waarteen manlief viervoetig vasskop nie. Jy mag nie seks gebruik om iets te kry wat jy begeer nie en en nog minder mag jy dit van jou maat weerhou om iets te bereik of om hom te “straf”. In die boek Die A tot Z van seks deur Elmari Craig en Hennie Stander verwys hulle na 1 Korintiërs 7:5, wat bedoel dat ’n man en vrou ’n verpligting teenoor mekaar het om mekaar se seksuele drange te bevredig. Die klem lê hier op “mekaar”. Die man en vrou word hier as gelyke vennote behandel. As huweliksmaats respek het vir mekaar, sal hulle ook respek hê vir mekaar se behoeftes, wat dié behoeftes ook al is.

REËL #5: Slyp jou seksuele verhouding tot iets moois

“Waarom het God mans en vroue dan so ánders gemaak?” Nóg ’n vraag wat kenners dikwels hoor – veral as dit kom by libidoverskille. Mans se begeerte en behoefte aan verskeidenheid is gewoonlik groter as vroue s’n. Vroue het weer ’n behoefte aan emosionele verbintenis. En só ontstaan botsings oor posisies, gereeldheid en spice in die slaapkamer. Maar het jy al ooit gewonder waarom opposites attract en besef dat God juis ’n baie spesifieke doel gehad het toe hy julle so verskillend geskep het? Daar is geleentheid vir aanvulling, vir julle om mekaar te leer, te rig en te lei, en dís die reël (en dit is waar orale seks, interessante posisies en wedersydse masturbasie inkom). Onthou egter ook: Elke maat behoort ook begrip te hê vir die ander een se gesondheid en gemoedstoestand.

REËL #6: Maak daarvan ’n lekker ervaring!

God het nooit bedoel vir seks om ’n straf te wees nie. Seks moet lekker wees en as een van julle nie genot ervaar nie, kan dit afstand tussen julle skep – geensins deel van God se eenwordingsplan nie. As enigeen van julle ongemak ervaar, wat probleme in jul sekslewe kan bring, moet dit medies ondersoek word. “By tye wil paartjies die gebiede van sado-masochistiese seks of bondage-fantasieë ondersoek. Ons voel dat hierdie gedrag uit die arena van onselfsugtige liefde na dié van mag of dominasie beweeg,” meen Melissa en Louis. Hier kom skaamte, vernedering en devaluasie van een of albei partye in, en dit is beslis nie deel van ’n liefdesdaad nie.

Sensualiteit en spontaneïteit is bestanddele van ’n gelukkige verhouding. Die boek Hooglied word gekenmerk deur sensualiteit. Dit is ’n natuurlike uitvloeisel van ’n gesonde huwelik. In Die Bybel in Praktyk word daar na aanleiding van Hooglied 7:10-13 verduidelik dat hoe langer twee mense getroud is, hoe meer spontaneïteit behoort daar op seksuele gebied tussen hulle te wees. Die vrou neem hier die inisiatief in die liefdespel, hoewel daar vir lank geglo is dat dit net die man se voorreg is. In ’n gesonde huwelik behoort albei huweliksmaats egter die vryheid te hê om die inisiatief te neem.

Reëls vir jul huwelik en sekslewe gaan uiteindelik nié daaroor om julle in te perk nie. Gesels gereeld met jou maat oor wat vir jou aanvaarbaar is en wat nie. Luister na mekaar, moenie jou mening op jou maat afdwing nie, maar wees ook inskiklik teenoor mekaar. Wanneer julle sekslewe gesond is, gaan die intimiteit wat julle ervaar, julle verstom. Carolyn Helbrun som intimiteit op as: “The married are those who have taken the terrible risk of intimacy and, having taking it, know life without intimacy to be impossible.”

 

Deur Lize Groenewald en Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.todayschristianwoman.co.za.