Jou magie rys soos die suurdeeg in jou ouma se vetkoek skottel, en jy kan nie help om te wonder of jy eerder baba booties moet brei as om aan seks te dink nie. Relax, hier is wat jy moet weet.

Promosie

Seks tydens swangerskap is wel veilig. Moet nou net nie aan die chandeliers gaan hang of ander aapstreke uithaal nie. Vat dit rustig. Die baba sal nie seerkry of eers weet dat mamma en pappa ‘stout’ is nie.

Seks is wel taboe indien jou swangerskap nie normaal is nie. Indien jy komplikasies, ’n geskiedenis van miskrame, of plasenta-verwante probleme het, raadpleeg eers jou dokter. Maak ook seker of jy net van penetrasie moet weerhou, of orgasmes ook.

Die eerste (en soms ook derde) trimester gaan ’n trying tydperk wees vir seks, want jou liggaam gebruik al jou hulpbronne om die nuwe lewe in jou te vorm. Jy gaan moontlik moeg voel en vol pyn bekommer oor die veranderings aan jou liggaam, die geboorteproses, die babakamer, julle finansies en dies meer. Dit is okay om dan die breinaalde uit te haal.

Promosie

Die tweede trimester is jou babymoon. Indien jy wel kans sien vir seks (dit gaan heeltemal van jou afhang) kan julle maar “ooh baby, yeah!” tussen die lakens asof dit ’n tweede wittebrood is.

Die vermeerderde bloedvloei na jou pelvis veroorsaak dat jou geslagsdele effens vergroot en dus meer sensitief is vir aanraking. Jou vagina is ook klammer wat die natuurlike slip-and-slide aksie net beter kan maak.

Sommige vrouens ondervind vir die eerste keer in hulle lewens multi-orgasmes en beskryf dit as die beste seks ooit. Ander beskryf weer swangerskapseks as pynlik en ongemaklik en wil dit liefs nooit weer ervaar nie.

Jou borste gaan meer gevoelig wees. Hoe jy die stimulasie daarvan ervaar, verskil van vrou-tot-vrou. Een persoon wil geen aanraking naby haar borste hê nie, terwyl dit vir ’n ander een ’n instant turn-on is.

Jou beste seksposisies tydens swangerskap is:

  • Jy bo en manlief onder. Dit hou die gewig van jou maag af en laat jou toe om die diepte van penetrasie te bepaal. En dit gee manlief ’n smeulende view van jou nuwe, groter borste.
  • Handeviervoet. Weereens plaas dit nie gewig op jou maag nie en gee dit manlief die kans om jou voluptuous figuur van agter te bewonder. Jy kan kussings onder jou pak vir ekstra ondersteuning.
  • Lê op die voetent van die bed met ’n kussing onder jou boude en jou knieë opgetrek terwyl manlief voor jou staan. Dit is ook ’n baie sexy posisie vir orale seks.
  • Spooning was nog nooit so lekker nie. Jy en manlief lê op julle sye met jul gesigte in dieselfde rigting gedraai terwyl manlief jou van agter penetreer.
  • Reverse cowgirl laat toe dat jou maag nie tussen jou en manlief is nie, maar eerder jou rug. Manlief kan op ’n stoel sit of op sy rug lê – wissel dit sommer af vir die pret.
  • Speel “polisieman”. Hierdie posisie word so genoem omdat jy in dieselfde posisie sal staan as wanneer ’n polisiebeampte jou ondersoek. Jy staan voor ’n muur met jou bene gesprei, jou hande teen die muur en manlief agter jou. Om dit gemakliker te maak, kan jy verder vooroor buig en jou voorarms en kop teen die muur laat rus. Indien jou baby bump dit toelaat, kan jy selfs jou een voet ’n entjie van die grond af op ’n objek laat rus om penetrasie te vergemaklik.

Het jy geweet dat jy nou meer flexible is? Selfs al was jy nie die mees buigsame persoon voor jou swangerskap nie, kan jy nou vind dat jou gewrigte jou toelaat om interessante seksposisies te probeer. Dit gebeur omdat jou liggaam tydens swangerskap (ter voorbereiding vir die geboorte proses) ’n hormoon afskei wat jou liggaamsdele meer “los” maak en jou help om te strek.

Krampe gedurende en na seks/orgasme is normaal, asook ’n bietjie bloeding. As die krampe egter na ’n paar minute nie weggaan nie, of jy ervaar pyn en hewige bloeding, kontak dadelik jou dokter.

Jou reuksintuig is amper soos ’n bloedhond s’n. Dit is nie net die reuk van kos wat jou kan afsit nie, maar die reuk van jou maat ook. As persoonlike higiëne nog altyd vir jou ’n teer saak was, kan dit nou meer so wees. Waarsku tog maar vir manlief van jou reuk sensitiwiteit vóór hy toenadering soek.

Seks gedurende week 29 – 36 vermeerder nie jou kanse op voortydige geboorte nie. Vrouens wat seksueel aktief is laat in hulle swangerskap, se kanse om geboorte te skenk voor 37 weke is minder as diegene wat seks vermy.

Orale seks is veilig, mits jou maat nie in jou vagina blaas nie. Hoewel die kanse daarvoor skraal is, kan die lug ’n bubble in jou bloedsirkulasie veroorsaak wat gevaarlik is vir jou en die baba.

Mans vind hul swanger vrouens dikwels onweerstaanbaar omdat jou kurwes vergroot en jy die sogenaamde pregnancy glow kry.

Jou hormone gaan ’n storm-in-a-tea-cup veroorsaak. Moet dus nie verbaas wees as jy die een oomblik manlief se kop wil afbyt en die volgende oomblik jou stiebeuels in hom wil slaan en hee-haa tot die hane kraai nie.

Daar is géén manier dat jou man se penis jou baba kan bereik nie. Die baba word beskerm deur ’n slymprop sowel as ’n amniotiese sak en jou baarmoederspiere. Dit beskerm jou baba teen infeksies. So ook kan persoonlike smeermiddel nie na jou baarmoeder migreer en die baba affekteer nie.

Seks het ’n interessante effek op babas in die maag. Sommige babas lê doodstil na seks – dit is moontlik omdat al die beweging hulle aan die slaap gewieg het. Ander rock and roll weer in die baarmoeder asof hulle ook besig is om oefeninge te doen. Beide reaksies is heeltemal natuurlik en niks om oor bekommerd te wees nie – julle baba dink bloot hy is uit op ’n lekker joy ride.

Julle het nou meer seksuele vryheid – gebruik die geleentheid terwyl julle kan. Paartjies vind dikwels dat hulle meer ontspanne kan wees gedurende swangerskapseks omdat die vrees vir ’n ongewensde swangerskap (of die druk om swanger te raak) nou verby is.

Jou borste kan lek tydens seks – dit kan al begin in die tweede trimester. Dit is heeltemal natuurlik en niks om oor bekommerd te wees nie. Maak seker manlief weet dit ook, anders gaan hy lekker skrik.

Diep penetrasie is dikwels baie ongemaklik vir die vrou. Probeer orale seks of wedersydse masturbasie indien penetrasie nie moontlik is nie. Of wat van net ’n lekker cuddle?

Swangerskapseks hou gesondheidsvoordele in.

  • Verbrand kalorieë: Seks is die prettigste manier om fiks te bly. Jy verbrand 50 kalorieë of meer in 30 minute seks-sessies.
  • Verlaag jou bloeddruk: ’n Goeie ding vir mamma, aangesien hoë bloeddruk nie goed is tydens swangerskap nie
  • Verminder pyn: Orgasmes stel oksitosien (die “liefdeshormoon”) vry. Studies het bevind dat dit jou pynverdraagsaamheid kan verhoog met 74%.
  • Laat jou lekkerder slaap: Seks kan mamma en baba help om lekkerder te slaap.
  • Versterk jou immuniteit: ’n Studie het bevind dat seks die vlakke van IgA, ’n teenliggaam wat help met die voorkoming van verkoue en ander infeksies, verhoog.
  • Dit maak jou gelukkig: Orgasmes stel endorfiene vry wat beide jou en baba gelukkiger maak.
  • Verhoog intimiteit: Pappas voel soms bang dat die baba hulle plek gaan inneem in vroulief se lewe – veral as dit julle eersteling is. Onthou ook dat almal om julle (jy inkluis) so gefokus is op jou en die groeiende pienkvoet in jou maag, dat manlief op die agtergrond geskuif word. Seks en intimiteit tydens swangerskap is ’n wonderlike manier om vir manlief te wys dat jy nog net so lief vir hom is soos altyd en dat hy niks het om oor bekommerd te wees nie.
  • Jy kry ’n gratis massering: Wees slim en laat manlief jou lyf masseer tydens voorspel – dis nou mos twee vlieë met een klap!

Kommunikasie met jou maat is baie belangrik. Onthou, jou lyf en emosies gaan wipwaentjie met jou speel en soms gaan die voorspel of posisies wat jy voorheen geniet het, dalk nie meer so interessant wees nie. Indien manlief iets doen wat jou die josie in maak, probeer dit maar sagkuns benader – en steek sommer by voorbaat die koekroller weg!

Indien jy bekommerd is oor enige aspekte van seks tydens of ná swangerskap, bespreek dit gerus met jou ginekoloog.

 

Deur Thalia Brüssow
Bronne: babycenter.com; ivillage.co.za; sheknows.com; whattoexpect.com